Eienskappe wat ons moet nastreef
“Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding [en] sagmoedigheid.”—1 TIM. 6:11.
1. Waaraan kan die woord “nastreef”, of “najaag”, ’n mens laat dink?
WAARAAN kan dit jou laat dink wanneer jy die woord “nastreef” hoor?a Miskien dink jy aan Moses se dag toe die Egiptiese leër “die agtervolging” van Israel hervat het, wat vir hulle tot ’n rampspoedige einde in die Rooi See gelei het (Eks. 14:23). Of jy dink dalk aan die gevaar waarin ’n persoon in eertydse Israel verkeer het as hy iemand per ongeluk doodgemaak het. Hy moes gou by een van die ses aangewese vrystede kom. Anders kon ‘die bloedwreker die een wat iemand doodgemaak het, agternasit en hom inhaal en hom doodslaan’.—Deut. 19:6.
2. (a) Watter prys het God party Christene genooi om na te streef? (b) Wat stel Jehovah vandag vir die meeste Christene in die vooruitsig?
2 Kyk in teenstelling met die bogenoemde Bybelse voorbeelde na die positiewe gesindheid wat die apostel Paulus gehad het: “Ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus” (Fil. 3:14). Die Bybel toon dat altesaam 144 000 gesalfde Christene, met inbegrip van Paulus, hierdie prys van hemelse lewe ontvang. Hulle sal saam met Jesus Christus gedurende sy Duisendjarige Heerskappy oor die aarde regeer. Wat ’n wonderlike doel het God hulle tog genooi om na te streef! Maar die oorgrote meerderheid van ware Christene het vandag ’n ander vooruitsig, of doel. Jehovah stel liefdevol vir hulle in die vooruitsig wat Adam en Eva verloor het, naamlik die hoop op ewige lewe in volmaakte gesondheid op ’n paradysaarde.—Op. 7:4, 9; 21:1-4.
3. Hoe kan ons waardering vir God se onverdiende goedhartigheid toon?
3 Sondige mense kan nie die ewige lewe verdien deur hulle onvolmaakte pogings om te doen wat reg is nie (Jes. 64:6). Die ewige lewe kan slegs verkry word deur geloof te stel in God se liefdevolle voorsiening vir redding deur middel van Jesus Christus. Wat kan ons doen om ons waardering vir hierdie onverdiende goedhartigheid van God te toon? Om maar een ding te noem, ons kan hierdie gebod gehoorsaam: “Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding [en] sagmoedigheid” (1 Tim. 6:11). ’n Bespreking van hierdie eienskappe kan elkeen van ons help om meer vasbeslote te wees om voort te gaan om dit “in voller mate” na te streef.—1 Tess. 4:1.
‘Streef na regverdigheid’
4. Waarom kan ons seker wees dat dit belangrik is om “regverdigheid” na te streef, en wat is van die eerste stappe wat ’n persoon moet doen?
4 In albei sy briewe aan Timoteus het die apostel Paulus eienskappe genoem wat nagestreef moet word, en elke keer het hy “regverdigheid” eerste gemeld (1 Tim. 6:11; 2 Tim. 2:22). Die Bybel spoor ons ook op ander plekke herhaaldelik aan om regverdigheid na te streef (Spr. 15:9; 21:21; Jes. 51:1). Een manier om dit te begin doen, is om ‘kennis in te neem van die enigste ware God, en van die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus’ (Joh. 17:3). As ’n persoon regverdigheid nastreef, sal dit hom beweeg tot aksie—om berou te toon oor vorige sondes en ‘om te draai’ sodat hy God se wil kan doen.—Hand. 3:19.
5. Wat moet ons doen om ’n regverdige posisie voor God te verkry en te behou?
5 Miljoene wat regverdigheid opreg nastreef, het hulle lewe aan Jehovah toegewy en hierdie toewyding deur waterdoop gesimboliseer. As jy nou ’n gedoopte Christen is, het jy al daaraan gedink dat jou lewenswyse jou volgehoue strewe na regverdigheid moet openbaar, en dit waarskynlik wel doen? Een aspek hiervan is dat jy uit die Bybel moet onderskei wat “reg sowel as verkeerd” is wanneer jy besluite in die lewe moet neem. (Lees Hebreërs 5:14.) Byvoorbeeld, as jy ’n ongetroude Christen is wat oud genoeg is om te trou, is jy dan absoluut vasbeslote om nie ’n romantiese verhouding aan te knoop met iemand wat nie ’n gedoopte Christen is nie? Jy is as jy regverdigheid nastreef.—1 Kor. 7:39.
6. Wat is daarby betrokke wanneer regverdigheid opreg nagestreef word?
6 Om regverdig te wees, is nie dieselfde as om in jou eie oë regverdig of om “alte regverdig” te wees nie (Pred. 7:16). Jesus het gewaarsku dat ’n mens nie met dié soort regverdigheid te koop moet loop ten einde beter as ander voor te kom nie (Matt. 6:1). Wanneer regverdigheid opreg nagestreef word, is die hart daarby betrokke—die regstelling van verkeerde gedagtes, gesindhede, beweegredes en begeertes. As ons ons voortdurend hierop toelê, is dit onwaarskynlik dat ons ernstige sondes sal pleeg. (Lees Spreuke 4:23; vergelyk Jakobus 1:14, 15.) Verder sal Jehovah ons seën en ons help terwyl ons ander belangrike Christelike eienskappe nastreef.
‘Streef na godvrugtige toegewydheid’
7. Wat is “godvrugtige toegewydheid”?
7 Toegewydheid behels vurige toewyding en lojaliteit. ’n Bybelwoordeboek meld dat die Griekse woord wat met “godvrugtige toegewydheid” vertaal word, “die heilsame en sorgvuldige koestering van die vrees vir God” beskryf. Die Israeliete het dikwels versuim om hierdie toegewydheid te openbaar, soos gesien kan word uit hulle ongehoorsame dade selfs nadat God hulle uit Egipte bevry het.
8. (a) Watter vraag het as gevolg van Adam se sonde ontstaan? (b) Hoe is die antwoord op hierdie “heilige geheim” onthul?
8 Duisende jare lank nadat die volmaakte man Adam gesondig het, kon die vraag geopper word: “Kan enige mens volmaakte godvrugtige toegewydheid openbaar?” Deur die eeue heen kon geen sondige mens ’n lewe van volmaakte godvrugtige toegewydheid lei nie. Maar op sy bestemde tyd het Jehovah die antwoord op hierdie “heilige geheim” onthul. Hy het die lewe van sy enigverwekte hemelse Seun na Maria se baarmoeder oorgeplaas sodat hy as ’n volmaakte mens gebore kon word. Deur sy hele aardse lewe, insluitende sy vernederende dood, het Jesus getoon wat dit beteken om vurig toegewyd en ten volle lojaal aan die ware God te wees. Sy gebede het sy eerbied vir sy liefdevolle hemelse Vader geopenbaar (Matt. 11:25; Joh. 12:27, 28). Jehovah het Paulus dus geïnspireer om van “godvrugtige toegewydheid” te praat in ’n beskrywing van Jesus se voorbeeldige lewe.—Lees 1 Timoteus 3:16.
9. Hoe kan ons godvrugtige toegewydheid nastreef?
9 Ons kan nie in ons sondige toestand volmaakte godvrugtige toegewydheid aan die dag lê nie. Maar ons kan dit nastreef. Dit vereis dat ons Christus se voorbeeld so noukeurig moontlik volg (1 Pet. 2:21). Ons sal dus nie soos die huigelaars wees wat “’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” nie (2 Tim. 3:5). Dit beteken nie dat ware godvrugtige toegewydheid niks met die uiterlike te doen het nie. Dit het beslis. Byvoorbeeld, hetsy ons ’n trourok kies of besluit wat om te dra terwyl ons inkopies doen, ons voorkoms moet altyd ooreenstem met ons verklaring dat ons “God vereer” (1 Tim. 2:9, 10). Ja, om godvrugtige toegewydheid na te streef, vereis dat ons God se regverdige standaarde in ons daaglikse lewe in ag neem.
‘Streef na geloof’
10. Wat moet ons doen om ons geloof sterk te hou?
10 Lees Romeine 10:17. Om sterk geloof te ontwikkel en te behou, moet ’n Christen aanhou om oor die kosbare waarhede in God se Woord te peins. “Die getroue en verstandige slaaf” het talle uitstekende publikasies voorsien. Drie uitsonderlike boeke is Die grootste mens wat nog geleef het, Leer by die Groot Onderwyser en “Kom word my volgeling”, boeke wat saamgestel is om ons te help om Christus beter te leer ken en hom dus te kan navolg (Matt. 24:45-47). Die slaafklas reël ook vergaderinge en byeenkomste, waarvan baie “die woord oor Christus” beklemtoon. Kan jy aan enige maniere dink waarop jy groter voordeel uit hierdie samekomste kan trek terwyl jy “meer as die gewone aandag skenk” aan wat God voorsien?—Heb. 2:1.
11. Watter rol speel gebed en gehoorsaamheid wanneer ons geloof nastreef?
11 Gebed is nog ’n hulpmiddel om sterk geloof te bou. Jesus se volgelinge het hom eenkeer versoek: “Gee ons meer geloof.” Ons kan God nederig smeek om dit ook vir ons te doen (Luk. 17:5). Met die oog hierop moet ons bid vir die hulp van God se heilige gees; geloof is een aspek van “die vrugte van die gees” (Gal. 5:22). Verder versterk gehoorsaamheid aan God se gebooie ons geloof. Ons kan ons byvoorbeeld inspan om meer in die predikingswerk te doen. Dit sal ons waarskynlik groot vreugde verskaf. En ons geloof sal toeneem namate ons peins oor die seëninge wat dit meebring wanneer ons “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid soek”.—Matt. 6:33.
‘Streef na liefde’
12, 13. (a) Wat is Jesus se nuwe gebod? (b) Op watter belangrike maniere moet ons Christelike liefde nastreef?
12 Lees 1 Timoteus 5:1, 2. Paulus het praktiese raad gegee oor hoe Christene liefde vir mekaar kan toon. Ons godvrugtige toegewydheid moet gehoorsaamheid insluit aan Jesus se nuwe gebod om ‘mekaar lief te hê’ soos hy ons liefgehad het (Joh. 13:34). Die apostel Johannes het gesê: “Wie hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom?” (1 Joh. 3:17). Kan jy aan geleenthede dink toe jy liefde op ’n praktiese manier getoon het?
13 Nog ’n manier waarop ons liefde nastreef, is deur vergewensgesind te wees en nie wrokke teen ons broers te koester nie. (Lees 1 Johannes 4:20.) Ons wil eerder hierdie geïnspireerde raad volg: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13). Is daar iemand in die gemeente teenoor wie jy hierdie raad kan toepas? Sal jy hom of haar vergewe?
‘Streef na volharding’
14. Wat kan ons by die gemeente in Filadelfia leer?
14 Dit is een ding om ons in te span vir ’n korttermyndoelwit, maar iets heeltemal anders wanneer die doelwit moeilik is om te bereik of verder weg is as wat ons verwag het. Om die ewige lewe as doelwit na te streef, vereis beslis volharding. “Omdat jy bewaar het wat ek oor volharding gesê het, sal ek jou ook bewaar van die uur van beproewing”, het die Here Jesus vir die gemeente in Filadelfia gesê (Op. 3:10, vtn. in NW). Ja, Jesus het mense geleer hoe belangrik volharding is—’n eienskap wat ons help om nie tou op te gooi wanneer ons voor beproewinge en versoekings te staan kom nie. Die broers in die eerste-eeuse gemeente in Filadelfia het ongetwyfeld voorbeeldige volharding tydens baie toetse van geloof getoon. Jesus het hulle dus verseker van verdere hulp gedurende ’n groter toets wat voorgelê het.—Luk. 16:10.
15. Wat het Jesus mense oor volharding geleer?
15 Jesus het geweet dat sy volgelinge deur ongelowige familielede en die wêreld oor die algemeen gehaat sou word; daarom het hy hulle by ten minste twee geleenthede soos volg aangemoedig: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matt. 10:22; 24:13). Jesus het ook getoon hoe sy dissipels gedurende daardie tyd die nodige krag kon verkry om te volhard. In een illustrasie het hy rotsagtige grond vergelyk met persone wat God se “woord met vreugde ontvang” maar wegval wanneer hulle voor toetse van geloof te staan kom. Hy het egter sy getroue volgelinge met goeie grond vergelyk omdat hulle die woord van God “vashou en met volharding vrug dra”.—Luk. 8:13, 15.
16. Watter liefdevolle voorsiening het miljoene gehelp om te volhard?
16 Het jy opgemerk wat die geheim van volharding is? Ons moet God se woord “vashou”, dit in ons hart en verstand lewend hou. Die feit dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif—’n akkurate Bybelvertaling wat maklik is om te lees—in al hoe meer tale beskikbaar geword het, het dít gerieflik en moontlik gemaak. As ons elke dag oor ’n gedeelte van God se Woord peins, sal dit ons help om die nodige krag te verkry om aan te hou om “met volharding” vrug te dra.—Ps. 1:1, 2.
‘Streef na sagmoedigheid’ en vrede
17. (a) Waarom is “sagmoedigheid” so belangrik? (b) Hoe het Jesus getoon dat hy sagmoedig is?
17 Dit is vir niemand lekker om beskuldig te word van iets wat hy nie gesê of gedoen het nie. ’n Algemene manier waarop mense op onregverdige kritiek reageer, is deur dit woedend te ontken. Hoeveel beter is dit tog om “sagmoedigheid” te toon! (Lees Spreuke 15:1.) Dit verg groot innerlike krag om sagmoedigheid aan die dag te lê wanneer onregverdige kritiek teen ons gerig word. Jesus Christus het ’n volmaakte voorbeeld hierin gestel. “Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Ons kan nie verwag dat ons in hierdie opsig net so goed soos Jesus sal vaar nie. Maar kan ons ons daarop toelê om groter sagmoedigheid aan die dag te lê?
18. (a) Watter goeie resultate lewer sagmoedigheid? (b) Watter ander eienskap word ons aangespoor om na te streef?
18 Mag ons, in navolging van Jesus, ‘altyd gereed wees’ om ons godsdiensoortuigings ‘te verdedig’ en dit “met sagmoedigheid en diep respek” te doen (1 Pet. 3:15). Ja, as ons sagmoedigheid aan die dag lê, kan dit verhoed dat meningsverskille in skerp woordewisselings ontaard, met mense wat ons in ons bediening ontmoet sowel as met medegelowiges (2 Tim. 2:24, 25). Sagmoedigheid help ons om vrede te geniet. Dit is miskien waarom Paulus in sy tweede brief aan Timoteus “vrede” ingesluit het by die eienskappe wat nagestreef moet word. (2 Tim. 2:22; vergelyk 1 Timoteus 6:11.) Ja, “vrede” is nog ’n eienskap wat die Skrif ons aanspoor om na te streef.—Ps. 34:14; Heb. 12:14.
19. Wat is jy vasbeslote om na te streef ná hierdie bespreking van sewe Christelike eienskappe, en waarom?
19 Ons het kortliks sewe Christelike eienskappe bespreek wat ons aangespoor word om na te streef—regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, sagmoedigheid en vrede. Wat ’n seën is dit tog in elke gemeente wanneer broers en susters hulle inspan om hierdie kosbare eienskappe in selfs voller mate te openbaar! Dit sal Jehovah vereer en hom in staat stel om elkeen van ons te vorm tot sy lof.
[Voetnoot]
a Die woord wat in 1 Timoteus 6:11 met ‘streef na’ vertaal word, beteken in die oorspronklike taal “agternasit, agtervolg; ywerig probeer bereik”.
Gedagtes vir bepeinsing
• Wat is daarby betrokke wanneer regverdigheid en godvrugtige toegewydheid nagestreef word?
• Wat sal ons help om geloof en volharding na te streef?
• Watter invloed moet liefde op ons handelinge met mekaar hê?
• Waarom moet ons sagmoedigheid en vrede nastreef?
[Prent op bladsy 12]
Jesus het gewaarsku dat ’n mens nie met jou regverdigheid te koop moet loop om ander te beïndruk nie
[Prent op bladsy 13]
Ons kan geloof nastreef deur oor die waarhede van God se Woord te peins
[Prent op bladsy 15]
Ons kan liefde en sagmoedigheid nastreef