Hou jou in God se liefde!
‘Geliefdes, hou julle in God se liefde, met die ewige lewe in die vooruitsig.’—JUDAS 20, 21.
1, 2. Hoe kan jy in God se liefde bly?
JEHOVAH het die mensewêreld so lief dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat dié wat geloof in hom beoefen, die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). Hoe wonderlik is dit tog om sulke liefde te ervaar! As jy ’n kneg van Jehovah is, wil jy ongetwyfeld daardie liefde vir ewig geniet.
2 Die dissipel Judas het verduidelik hoe jy in God se liefde kan bly. “[Julle] moet julle op julle allerheiligste geloof opbou en met heilige gees bid”, het Judas geskryf, “en julle sodoende in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 20, 21). As ’n mens God se Woord bestudeer en die goeie nuus verkondig, help dit jou om jou op die “allerheiligste geloof”—die Christelike leer—op te bou. As jy in God se liefde wil bly, moet jy “met heilige gees”, of onder die invloed daarvan, bid. Om met die ewige lewe geseën te word, moet jy ook geloof beoefen in die losprysoffer van Jesus Christus.—1 Johannes 4:10.
3. Waarom is party nie meer Getuies van Jehovah nie?
3 Party wat vroeër geloof gehad het, het nie in God se liefde gebly nie. Omdat hulle gekies het om ’n sondige weg te volg, is hulle nie meer Getuies van Jehovah nie. Hoe kan jy voorkom dat dit met jou gebeur? As jy oor die volgende punte nadink, kan dit jou help om nie te sondig nie en jou in God se liefde te hou.
Lewer bewys van jou liefde vir God
4. Hoe belangrik is gehoorsaamheid aan God?
4 Toon jou liefde vir God deur hom te gehoorsaam (Matteus 22:37). “Dít is wat die liefde vir God beteken”, het die apostel Johannes geskryf, “dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). ’n Patroon van gehoorsaamheid aan God kan jou versterk om versoekings te weerstaan en kan jou vreugdevol maak. Die psalmis het gesê: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het . . . nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah.”—Psalm 1:1, 2.
5. Wat sal liefde vir Jehovah jou beweeg om te doen?
5 Jou liefde vir Jehovah sal jou daarvan weerhou om ’n ernstige sonde te pleeg wat sy naam oneer sal aandoen. “Gee my nie armoede of rykdom nie”, het Agur gebid. “Laat my die voedsel verslind wat vir my voorgeskryf is, sodat ek nie versadig word en u verloën en sê: ‘Wie is Jehovah?’ nie, en sodat ek nie in armoede verval en steel en die naam van my God skend nie” (Spreuke 30:1, 8, 9). Wees vasbeslote om nie ‘die naam van God te skend’ deur hom oneer aan te doen nie. Streef eerder daarna om altyd regskape dinge te doen wat hom verheerlik.—Psalm 86:12.
6. Wat kan gebeur as jy moedswillig sondig?
6 Bid gereeld tot jou liefdevolle hemelse Vader vir hulp om die versoeking te weerstaan om te sondig (Matteus 6:13; Romeine 12:12). Hou aan hom God se raad te volg sodat jou gebede nie verhinder word nie (1 Petrus 3:7). As jy moedswillig sondig, kan die gevolge tragies wees, want Jehovah versper figuurlik gesproke die toegang van opstandiges met ’n wolkmassa sodat hulle gebede nie tot hom kan deurdring nie (Klaagliedere 3:42-44). Openbaar dus ’n nederige gees, en bid dat jy niks sal doen wat sal maak dat jy nie meer in gebed toegang tot God het nie.—2 Korintiërs 13:7.
Toon liefde vir God se Seun
7, 8. Hoe kan dit jou help om ’n sondige weg te verwerp as jy ag gee op Jesus se raad?
7 Openbaar liefde vir Jesus Christus deur sy gebooie te gehoorsaam, want dit sal jou help om ’n sondige weg te verwerp. “As julle my gebooie bewaar”, het Jesus gesê, “sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly” (Johannes 15:10). Hoe kan die toepassing van Jesus se woorde jou help om in God se liefde te bly?
8 As jy ag gee op Jesus se woorde, kan dit jou help om sedelike onkreukbaarheid te handhaaf. God se Wet aan Israel het gesê: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” (Eksodus 20:14). Maar Jesus het ’n beginsel agter daardie gebod geopenbaar toe hy gesê het: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:27, 28). Die apostel Petrus het gesê dat sommige in die eerste-eeuse gemeente ‘oë vol egbreuk’ gehad het en ‘onbestendige siele verlok’ het (2 Petrus 2:14). Maar anders as hulle kan jy seksuele sondes vermy as jy God en Christus liefhet en gehoorsaam, asook vasbeslote is om jou verhouding met hulle te bewaar.
Laat Jehovah se gees jou lei
9. Wat die heilige gees betref, wat kan gebeur as ’n mens in sonde volhard?
9 Bid vir God se heilige gees, en laat dit toe om jou te lei (Lukas 11:13; Galasiërs 5:19-25). As jy in sonde volhard, sal God dalk sy gees van jou onttrek. Nadat Dawid met Batseba gesondig het, het hy God gesmeek: “Moet my nie voor u aangesig wegwerp nie; en moet tog nie u heilige gees van my af wegneem nie” (Psalm 51:11). Omdat koning Saul ’n onberouvolle sondaar was, het hy wel God se gees verloor. Saul het gesondig deur ’n brandoffer te bring en deur die kleinvee, die beeste en die koning van die Amalekiete te spaar. Daarna het Jehovah sy heilige gees van Saul onttrek.—1 Samuel 13:1-14; 15:1-35; 16:14-23.
10. Waarom moet jy selfs die gedagte om sonde te beoefen, verwerp?
10 Verwerp selfs die gedagte om sonde te beoefen. “As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het”, het die apostel Paulus geskryf, “is daar geen offerande vir sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:26-31). Hoe tragies sou dit tog wees as jy sonde so ver sou voer!
Openbaar ware liefde vir ander
11, 12. In watter opsigte sal liefde en respek keer dat ’n mens jou aan seksuele wangedrag skuldig maak?
11 Liefde vir jou medemens sal jou daarvan weerhou om jou aan seksuele wangedrag skuldig te maak (Matteus 22:39). Sulke liefde sal jou beweeg om jou hart te bewaak sodat dit jou nie in die versoeking bring om die toegeneentheid van iemand anders se huweliksmaat te steel nie. Dit kan tot die sonde van egbreuk lei (Spreuke 4:23; Jeremia 4:14; 17:9, 10). Wees soos regskape Job, wat nie ag gegee het op enige vrou behalwe sy eie nie.—Job 31:1.
12 Respek vir die heiligheid van die huwelik kan jou help om ernstige sonde te vermy. Dit was God se voorneme dat ’n eerbare huwelik en geslagsomgang die middel moes wees waardeur lewe voortgeplant word (Genesis 1:26-28). Onthou dat die geslagsorgane verband hou met lewe, wat heilig is. Hoereerders en egbrekers is ongehoorsaam aan God, verlaag die seksdaad, het nie respek vir die heiligheid van die huwelik nie en sondig teen hulle eie liggaam (1 Korintiërs 6:18). Maar liefde vir God en naaste tesame met godvrugtige gehoorsaamheid sal ’n mens daarvan weerhou om iets te doen wat tot uitsetting uit die Christengemeente kan lei.
13. In watter opsig vernietig ’n onsedelike persoon “waardevolle dinge”?
13 Ons moet sondige gedagtes onderdruk sodat ons ons geliefdes nie seermaak nie. “Hy wat met prostitute omgaan, vernietig waardevolle dinge”, sê Spreuke 29:3. ’n Onberouvolle egbreker vernietig sy verhouding met God en verwoes gesinsbande. Sy vrou het grond vir ’n egskeiding (Matteus 19:9). Hetsy die man of die vrou die oortreder is, dit kan die onskuldige maat, die kinders en ander baie seermaak as ’n huwelik verbrokkel. Stem jy nie saam dat ’n bewustheid van die vernietigende uitwerking wat onsedelike gedrag kan hê, ons behoort te beweeg om die versoeking te weerstaan om ons daaraan skuldig te maak nie?
14. Watter les in verband met oortreding kan uit Spreuke 6:30-35 geleer word?
14 Die feit dat dit onmoontlik is om vir egbreuk te vergoed, moet ’n mens beweeg om hierdie uiters selfsugtige daad te vermy. Spreuke 6:30-35 toon dat mense nog met ’n dief sal simpatiseer wat steel omdat hy honger is, maar dat hulle ’n egbreker verag omdat hy ’n slegte motief het. Hy “stort sy eie siel [of, lewe] in die verderf”. Onder die Mosaïese Wet sou hy doodgemaak word (Levitikus 20:10). Iemand wat egbreuk pleeg, maak ander seer net sodat hy sy wellus kan bevredig, en ’n onberouvolle egbreker bly nie in God se liefde nie, maar word uit die rein Christengemeente gesit.
Behou ’n rein gewete
15. Wat is die toestand van ’n gewete wat gemerk is “soos met ’n brandyster”?
15 As ons in God se liefde wil bly, kan ons nie toelaat dat ons gewete ongevoelig raak vir sonde nie. Dit spreek vanself dat ons nie die wêreld se lae sedelike standaarde moet aanvaar nie, en ons moet versigtig wees wanneer dit kom by sake soos ons keuse van vriende, leesstof en vermaak. Paulus het gewaarsku dat “party in latere tye van die geloof afvallig sal word en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone, deur die huigelary van mense wat leuens spreek, wat in hulle gewete gemerk is soos met ’n brandyster” (1 Timoteus 4:1, 2). ’n Gewete wat gemerk is “soos met ’n brandyster”, is soos verskroeide vlees wat met littekenweefsel bedek is en ongevoelig is. So ’n gewete sal ons nie meer waarsku om weg te bly van afvalliges en van situasies wat ons van die geloof afvallig kan laat word nie.
16. Waarom is dit so belangrik om ’n rein gewete te hê?
16 Ons redding hang daarvan af dat ons ’n rein gewete het (1 Petrus 3:21). Deur ons geloof in Jesus se vergote bloed is ons gewete van dooie werke gereinig, “sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig” (Hebreërs 9:13, 14). As ons moedswillig sondig, sal ons gewete verontreinig word en sal ons nie meer rein mense wees wat geskik is vir God se diens nie (Titus 1:15). Maar met Jehovah se hulp kan ons ’n rein gewete hê.
Ander maniere om verkeerde gedrag te vermy
17. Watter voordeel hou dit in om ‘Jehovah volkome te volg’?
17 Soos Kaleb van eertydse Israel, moet jy ‘Jehovah volkome volg’ (Deuteronomium 1:34-36). Doen wat God van jou vereis, en moet dit nooit oorweeg om deel te hê aan “die tafel van demone” nie (1 Korintiërs 10:21). Verwerp afvalligheid. Neem met waardering die geestelike voedsel in wat slegs by Jehovah se tafel beskikbaar is, en jy sal nie deur valse leraars en bose geesmagte mislei word nie (Efesiërs 6:12; Judas 3, 4). Fokus op geestelike dinge, soos Bybelstudie, vergaderingbywoning en die veldbediening. Jy sal beslis gelukkig wees as jy Jehovah volkome volg en baie het om in die werk van die Here te doen.—1 Korintiërs 15:58.
18. Hoe sal vrees vir Jehovah jou gedrag beïnvloed?
18 Wees vasbeslote om “heilige diens aan God [te] verrig met godvrugtige vrees en ontsag” (Hebreërs 12:28). Eerbiedige vrees vir Jehovah sal jou beweeg om enige verkeerde weg te verwerp. Dit sal jou help om jou te gedra in ooreenstemming met Petrus se raad aan medegesalfdes: “As julle die Vader aanroep wat onpartydig volgens elkeen se werk oordeel, moet julle julle gedurende die tyd van julle vreemdelingskap met vrees gedra.”—1 Petrus 1:17.
19. Waarom moet jy die dinge wat jy uit God se Woord leer, voortdurend toepas?
19 Pas voortdurend toe wat jy uit God se Woord leer. Dit sal jou help om ernstige sonde te vermy, want jy sal onder dié wees “wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). In plaas daarvan om onverskillig te wees wat jou spraak en gedrag betref, moet jy waaksaam wees sodat jy as ’n wyse wandel, ‘terwyl jy die geleë tyd uitkoop’ in hierdie bose dae. “Gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is”, en hou aan om dit te doen.—Efesiërs 5:15-17; 2 Petrus 3:17.
20. Waarom moet ons hebsug vermy?
20 Laat geen plek toe vir hebsug nie—’n gulsige begeerte na wat aan ander behoort. Een van die Tien Gebooie sê: “Jy mag nie jou medemens se huis begeer [“hebsugtig begeer”, New International Version] nie. Jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie, en ook nie sy slaaf of sy slavin of sy bul of sy esel of enigiets wat aan jou medemens behoort nie” (Eksodus 20:17). Hierdie wet het ’n mens se huis, vrou, knegte, diere, ensovoorts beskerm. Maar van die grootste belang is Jesus se stelling dat hebsug ’n mens verontreinig.—Markus 7:20-23.
21, 22. Watter voorsorgmaatreëls kan ’n Christen tref om sonde te vermy?
21 Tref voorsorgmaatreëls sodat jou begeertes nie tot sonde lei nie. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort” (Jakobus 1:14, 15). Byvoorbeeld, as iemand in die verlede ’n drankprobleem gehad het, besluit hy dalk om nie drank in sy huis te hou nie. Om versoeking in verband met ’n lid van die teenoorgestelde geslag te vermy, moet ’n Christen dalk sy werksomstandighede verander of ’n ander werk soek.—Spreuke 6:23-28.
22 Moenie eers die eerste stap neem wat na sonde lei nie. Flankeerdery en om onsedelike gedagtes te koester, kan hoerery of egbreuk tot gevolg hê. Om sogenaamde wit leuens te vertel, kan iemand so ver laat gaan om ernstige leuens te vertel en kan aanleiding gee tot die sondige gewoonte om te lieg. Om kleinighede te steel, kan ’n mens se gewete so afstomp dat hy op ’n groter skaal begin steel. As ’n mens afvallige denke selfs in ’n geringe mate duld, kan dit ’n mens op die weg na volskaalse afvalligheid plaas.—Spreuke 11:9; Openbaring 21:8.
Sê nou jy het gesondig?
23, 24. Watter vertroosting kan uit 2 Kronieke 6:29, 30 en Spreuke 28:13 geput word?
23 Alle mense is onvolmaak (Prediker 7:20). Maar as jy ernstig gesondig het, kan jy vertroosting put uit koning Salomo se gebed by die inwyding van Jehovah se tempel. Salomo het tot God gebid: “Watter gebed, watter versoek om guns daar ook al mag wees van enige mens of van u hele volk Israel, omdat elkeen van hulle sy eie plaag en sy eie pyn ken; wanneer hy sy palms na hierdie huis toe uitstrek, mag u dan hoor vanuit die hemel, u woonplek, en u moet vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, omdat u sy hart ken (want u alleen ken die hart van die mensekinders goed).”—2 Kronieke 6:29, 30.
24 Ja, God ken die hart en is vergewensgesind. Spreuke 28:13 sê: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word.” As ’n mens sonde berouvol bely en laat staan, kan jy God se barmhartigheid ontvang. Maar wat anders kan jou help om in God se liefde te bly as jy geestelik swak is?
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan ons ons in God se liefde hou?
• Hoe help liefde vir God en Christus ons om ’n sondige weg te verwerp?
• Waarom weerhou ware liefde vir ander ons daarvan om ons aan seksuele wangedrag skuldig te maak?
• Wat is sommige maniere waarop ons verkeerde gedrag kan vermy?
[Prent op bladsy 21]
Judas toon hoe ons ons in God se liefde kan hou
[Prent op bladsy 23]
Dit kan die onskuldige maat en kinders baie seermaak as ’n huwelik verbrokkel
[Prent op bladsy 24]
Is jy, soos Kaleb, vasbeslote om ‘Jehovah volkome te volg’?
[Prent op bladsy 25]
Bid gereeld vir hulp om versoekings te weerstaan