HOOFSTUK VEERTIEN
‘’n Seën totdat daar geen gebrek meer is nie’
1, 2. (a) Watter voordelige keuses kan elkeen van ons maak? (b) Die vervulling van watter profesie hou verband met die seëninge wat ons kan geniet?
ONS lewe in ’n tyd van oordeel en van seëninge. Dit is ’n tydperk van godsdienstige verval en van geestelike herstel. Jy wil tog sekerlik die seëninge sowel as die teenswoordige en toekomstige goeie gevolge van die geestelike herstel geniet! Maar hoe kan jy hiervan verseker wees? Die antwoord hou verband met ’n profesie waarvan die grotere vervulling plaasgevind het kort nadat “die laaste dae” in 1914 begin het (2 Timoteus 3:1). Maleagi het voorspel: “‘Die ware Heer [Jehovah], na wie julle soek, [sal] na Sy tempel kom, en die boodskapper van die verbond, in wie julle behae het. Kyk! Hy sal beslis kom’, het Jehovah van die leërs gesê.”—Maleagi 3:1.
2 Hierdie profesie, wat van die allergrootste belang in jou lewe is, word in die laaste van die 12 profetiese boeke gevind. Hier, aan die einde van ons bespreking van hierdie boeke, is wat Maleagi geskryf het, van besondere belang. Sy boek sluit lewensbelangrike onderrigting in wat jou en ander knegte van Jehovah in staat stel om “’n seën” te ontvang “totdat daar geen gebrek meer is nie” (Maleagi 3:10). Kom ons ondersoek hoofstuk 3 van Maleagi se boek.
DIE TYD VIR GEESTELIKE REINIGING
3. Watter verwikkeling onder God se eertydse volk het daartoe gelei dat “die Israel van God” gekies is?
3 Omtrent vyf eeue ná Maleagi se tyd het Jehovah, verteenwoordig deur Christus (God se “boodskapper van die [Abrahamitiese] verbond”), na die letterlike tempel in Jerusalem gekom om Sy verbondsvolk te oordeel. Daardie nasie was oor die algemeen nie langer waardig om guns te ontvang nie, en daarom het Jehovah hulle verwerp (Matteus 23:37, 38). Jy kan bewys hiervan sien in wat in 70 G.J. gebeur het. Jy kan net so seker wees dat God in hulle plek “die Israel van God” gekies het, ’n geestelike nasie wat uit 144 000 bestaan en uit al die nasies geneem is (Galasiërs 6:16; Romeine 3:25, 26). Maar dit was nie die finale vervulling van Maleagi se profesie nie. Dit wys ook na hedendaagse tye en hou regstreeks verband met jou toekomsverwagtinge van ‘’n seën totdat daar geen gebrek meer is nie’.
4. Wat moes beantwoord word nadat Jesus in 1914 op die troon geplaas is?
4 Die vervulling van Bybelprofesieë bevestig dat Jesus Christus in 1914 as Koning van Jehovah se hemelse Koninkryk gekroon is. Toe het die tyd aangebreek vir Jesus om ’n groep Christene te identifiseer wat God se goedkeuring verdien het. Wie sou die toets van geestelike reinheid deurstaan? Jy kan ’n aanduiding van die antwoord in Maleagi se woorde vind: “Wie sal die dag van sy koms verdra, en wie sal standhou wanneer hy verskyn? Want hy sal soos die vuur van ’n louteraar wees” (Maleagi 3:2). Wanneer en hoe het Jehovah na sy “tempel” gekom om te oordeel?
5, 6. (a) Wat het Jehovah onder die meeste verklaarde aanbidders gevind toe hy vir inspeksie na sy geestelike tempel gekom het? (b) Wat het God se geesgesalfde knegte nodig gehad?
5 Dit spreek vanself dat God nie na ’n tempel van klip en messelklei gekom het nie. Die laaste letterlike tempel van hierdie aard wat vir ware aanbidding gebruik is, is in 70 G.J. vernietig. Jehovah het eerder na ’n geestelike tempel gekom, die reëling waarvolgens mense hom op grond van Jesus se losprysoffer kan nader en aanbid (Hebreërs 9:2-10, 23-28). Die kerke van die Christendom het beslis nie daardie geestelike tempel uitgemaak nie, want hulle was deel van ’n godsdiensstelsel wat skuldig was aan bloedvergieting en geestelike hoerery, ’n stelsel wat valse leerstellings eerder as ware aanbidding bevorder het. Jehovah het “’n haastige getuie” daarteen geword, en jy weet dat sy veroordeling regverdig was (Maleagi 3:5). Maar nadat God se Koninkryk opgerig is, was daar ’n groep ware Christene wat in die voorhowe van God se geestelike tempel gedien het en wat hulle getrouheid aan God deur strawwe beproewinge heen bewys het. Nietemin moes selfs hierdie gesalfdes in sekere mate gereinig word. Die geskrifte van die 12 profete het daarop gewys, want dit bevat hartverblydende beloftes van geestelike en fisiese herstel onder God se knegte. Maleagi het voorspel dat daar ’n volk sou wees vir wie Jehovah sou “suiwer soos goud en soos silwer”. Hulle sou “beslis vir Jehovah mense word wat ’n offergawe in regverdigheid aanbied”.—Maleagi 3:3.
6 Daar is grondige bewyse dat Jehovah van 1918 af die nodige reiniging vir gesalfde Christene voorsien het deur hulle aanbidding, gebruike en leerstellings te reinig.a Hulle en die “groot menigte” wat later by hulle aangesluit het, het grootliks hierby baat gevind (Openbaring 7:9). As ’n verenigde groep gaan hulle voort om “’n offergawe in regverdigheid” aan te bied wat “vir Jehovah aangenaam” is.—Maleagi 3:3, 4.
7. Wat kan ons ons gepas afvra oor ons posisie voor God?
7 Dit is waar van God se volk as ’n groep, maar wat van ons as individue? Jy kan vra: ‘Is daar aspekte van my gesindheid en dade wat nog loutering nodig het? Moet ek nog my gedrag louter, net soos Jehovah sy gesalfdes gelouter het?’ Ons het vroeër gesien dat die 12 profete die aandag gevestig het op negatiewe beskouings en gedrag sowel as op positiewe eienskappe en dade. Die feit dat hulle dit gedoen het, plaas jou in ’n beter posisie om te weet wat Jehovah ‘van jou terugvra’ (Miga 6:8). Let op die “van jou”. Dit beklemtoon waarom elkeen van ons moet ontleed of ons persoonlik nog verdere loutering of reiniging nodig het.
‘STEL MY ASSEBLIEF OP DIE PROEF’
8. Watter uitnodiging het Jehovah aan sy volk gerig?
8 Kyk na wat Jehovah verder deur Maleagi sê in hoofstuk 3, vers 10. Daar sal jy hierdie hartlike uitnodiging vind: “‘Bring al die tiendes in die voorraadkamer, sodat daar voedsel in my huis kan wees; en stel my asseblief hierin op die proef’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie.’” Hierdie uitnodiging word aan God se volk as ’n geheel gerig. Voel jy dat dit ook ’n persoonlike uitnodiging aan jou is?
9. Watter soort offers en tiendes kan jy vir Jehovah aanbied?
9 Hoe kan jy “die tiendes” aan Jehovah gee? Jy is natuurlik nie verplig om letterlike offers en tiendes aan te bied, soos voorgeskryf onder die Wet nie. God verwag nou offers van ’n geestelike aard. Soos in die vorige hoofstuk bespreek is, het Paulus jou getuieniswerk as ’n offer beskryf (Hosea 14:2). Die apostel het toe ’n ander soort offerande gemeld en geskryf: “Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam [ten opsigte van materiële dinge] te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik” (Hebreërs 13:15, 16). Dit is dus duidelik dat “die tiendes” wat in Maleagi 3:10 gemeld word, geestelike en materiële offers voorstel. As ’n gedoopte Christen is jy ten volle toegewy aan Jehovah, maar jou tiende stel die deel voor van wat joune is wat jy aan Jehovah kan bring, of in sy diens kan gebruik. Dit sluit die tyd, energie, middele en materiële bydraes in wat jy vir gebruik in Jehovah se diens beskikbaar stel.
10. In watter sin kan jy Jehovah gepas ‘op die proef stel’?
10 Hoe gepas is dit tog dat jy sulke simboliese tiendes met toegewydheid en liefde vir Jehovah aanbied! ’n Gevoel van dringendheid is ook hierby betrokke. Jy besef dat die groot dag van Jehovah vinnig nader kom en dat dit “baie vreesinboesemend” is (Joël 2:1, 2, 11). Lewens is op die spel. God rig ’n uitnodiging wat jy persoonlik kan aanneem. Jehovah vra jou om ‘hom op die proef te stel’. Geen nietige mens moet dit natuurlik waag om Jehovah op die proef te stel asof God onbetroubaar is nie (Hebreërs 3:8-10). Maar jy kan hom op ’n gepaste wyse nederig op die proef stel. Hoe? Hy het ’n seën belowe. Wanneer jy hom gehoorsaam, stel jy God op die proef, asof jy vra: ‘Sal hy my seën?’ In antwoord hierop plaas hy homself onder verpligting om dit te doen en hou hy sy belofte. Die feit dat God jou toelaat om ‘hom op die proef te stel’, versterk dus jou oortuiging dat hy jou oorvloedig sal seën.
11, 12. Watter seëninge wat Jehovah op sy volk uitstort, het jy persoonlik gesien?
11 Jy kan sien dat Jehovah se volk milde materiële offers en geestelike offerandes bring. En Jehovah stort “’n seën” uit “totdat daar geen gebrek meer is nie”. Jy sien moontlik hoe hierdie seën op God se volk uitgestort word, soos blyk uit die dramatiese vermeerdering wat Jehovah se Getuies sedert die vroeë deel van die 20ste eeu tot vandag toe geniet. Jy sien ook hoe die begrip van “die diep dinge van God” opvallend toeneem (1 Korintiërs 2:10; Spreuke 4:18). Maar dink hieraan uit ’n ander hoek: Hoe het dit jou persoonlik geraak?
12 Jy was moontlik vroeër ’n kerklidmaat of iemand wat kort tevore die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het. In watter mate het jy op daardie stadium die Bybel se grondleerstellings verstaan? Vergelyk dit nou met wat jy sedertdien geleer het en regstreeks uit die Skrif kan bewys. Of dink aan dieper dinge wat jy nou verstaan, insluitende profesieë wat tans vervul word. En dink aan die vooruitgang wat jy daarin gemaak het om sekere Bybelgedeeltes in praktiese aspekte van die lewe toe te pas. Hoe het jy tog nie vooruitgegaan nie! In jou geval kan jy soos die apostel Petrus sê: “Die profetiese woord [is] vir ons vaster gemaak” (2 Petrus 1:19). Die punt is: Jy is persoonlik “deur Jehovah geleer” en is deel van ’n volk wat die ware Christelike godsdiens beoefen en Jehovah vir ewig wil dien (Jesaja 54:13). Jy kan alreeds tereg sê dat hy jou grootliks geseën het.
JOU NAAM IN DIE BOEK VAN DIE LEWE
13. Hoe is dit moontlik om ’n mens se naam in God se gedenkboek te kry?
13 Nog seëninge van Jehovah word in Maleagi 3:16 gemeld: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink.” Die gesalfdes sowel as die lede van die groot menigte openbaar hierdie eerbiedige ‘vrees vir Jehovah’. Beskou jy dit nie as ’n voorreg om een van Jehovah se Getuies te wees nie, deel van ’n gelukkige volk wat aan Jehovah se naam dink en dit wêreldwyd verheerlik? Hoe vergenoeg kan jy persoonlik tog wees, aangesien jy die versekering het dat Jehovah jou getrouheid onthou!—Hebreërs 6:10.
14. Hoe het die 12 profete jou gehelp om te sien watter gesindhede en gebruike Jehovah verafsku?
14 Maar hoe kan jy persoonlik aan die vereistes voldoen om jou naam ingesluit te kry in daardie “gedenkboek”, wat reeds nou voor Jehovah geskryf word? Dink aan party voorbeelde van die verstandige raad wat ons in die boeke van die 12 profete gevind het. Ons het insig verkry in gedrag, eienskappe en gesindhede wat Jehovah mishaag. Die profete het byvoorbeeld ons aandag gevestig op gebruike wat God sê in stryd is met sy regverdige standaarde en ons lewe kan verwoes, soos “losbandige gedrag” en “die gees van hoerery” (Hosea 4:12; 6:9). God verfoei diegene wat verraderlik handel met ’n maat of, by uitbreiding, ander gesinslede (Maleagi 2:15, 16). Jehovah het die profete geïnspireer om te beklemtoon dat hy geen behae skep in enige vorm van geweld nie (Amos 3:10). Hy het hulle ook laat benadruk dat ongeregtigheid of oneerlikheid in sake- en finansiële transaksies vermy moet word (Amos 5:24; Maleagi 3:5). En die 12 boeke het beklemtoon hoe belangrik dit is dat manne aan wie gesag toevertrou is, nie toelaat dat hulle oordeel deur partydigheid of selfsugtige belange beïnvloed word nie.—Miga 7:3, 4.
15. Wat is ’n paar wonderlike voordele wat jy sal ontvang as jy die vermanings van die 12 profete volg?
15 Die profete het egter nie net ons aandag gevestig op dinge wat ons moet vermy nie. Hulle het ook die voordele beklemtoon wat ons kan geniet as ons God se standaarde handhaaf. Ons verhouding met Jehovah sal intiemer wees (Miga 4:5). Ons gemeente sal stabieler en bedrywiger wees wanneer regverdigheid floreer. Ons huwelik sal sterker wees, en ons gesin sal meer eensgesind wees, meer toegespits op geestelike dinge (Hosea 2:19; 11:4). Deur regverdig en eerlik op te tree, sal ons ander se respek wen. In navolging van Jehovah se barmhartigheid sal ons medelye en liefderyke goedhartigheid aan die dag lê en dit dan weer van ons broers en susters ontvang (Miga 7:18, 19). Ja, ons sal omring wees deur geestelike mense, broers en susters wat waarheid en vrede liefhet, en ons sal bowenal Jehovah se vriendskap gewen het (Sagaria 8:16, 19). Stem jy nie saam dat jy reeds hierdie seëninge geniet nie?
16. Watter onderskeid is vandag duidelik, en wat sal dit op Jehovah se dag van afrekening beteken?
16 Wat ons so pas bespreek het, toon beslis dat ‘die onderskeid tussen ’n regverdige en ’n goddelose’—tussen ware en valse Christene—duideliker is as ooit tevore (Maleagi 3:18). Ons probeer om aan Jehovah se standaarde te voldoen terwyl die wêreld oor die algemeen al hoe dieper in ’n moeras van goddeloosheid wegsink. En jy weet dat hierdie verskil ernstige implikasies sal hê wanneer “die groot dag van Jehovah” aanbreek.—Sefanja 1:14; Matteus 25:46.
17. Hoe kan jy die inligting in hierdie boek in die toekoms gebruik?
17 Dit is dus duidelik dat die raad van die 12 profete tydloos is. Wanneer jy voor spesifieke uitdagings of besluite te staan kom, kan jy gerus die praktiese inligting in die hoofstukke van hierdie boek hersien. So kan jy bewys lewer van jou volgehoue begeerte om in Jehovah se weë onderrig te word en om ‘in sy paaie te wandel’ (Miga 4:2). Maar om so te wandel, behels meer as net die huidige oomblik. Dit is jou opregte begeerte om jou naam permanent in Jehovah se gedenkboek te laat skryf, nie waar nie? Die boeke van die 12 profete kan jou in hierdie opsig help.
GELOOF LEI TOT REDDING
18. Watter noodsaaklike vereiste vind jy in Joël 2:32, en wat het die apostel Paulus by hierdie vereiste gevoeg?
18 Joël het ’n belangrike faktor beklemtoon wat vir jou God se blywende goedkeuring kan meebring en gesê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” (Joël 2:32). Twee apostels, Petrus en Paulus, het hierdie noodsaaklike vereiste aangehaal (Handelinge 2:21; Romeine 10:13). Paulus het nog ’n faset by hierdie vermaning gevoeg toe hy gevra het: “Hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie?” (Romeine 10:14). Jý wil tog sekerlik die naam van Jehovah aanroep en geloof in hom beoefen, nou en vir ewig!
19. Wat behels dit om die naam van Jehovah aan te roep?
19 Om Jehovah se naam aan te roep, behels meer as om net God se persoonlike naam te ken en te gebruik (Jesaja 1:15). Die konteks van Joël 2:32 beklemtoon opregte berou en vertroue in Jehovah se vergewensgesindheid (Joël 2:12, 13). Om God se naam aan te roep, impliseer dat ons hom werklik leer ken, hom vertrou, hom gehoorsaam en hom eerste stel in ons lewe. Ja, om Jehovah te dien, word ons hoogste prioriteit. Dit dra weer grootliks by tot ’n bevredigende en permanente lewe, wat ’n seën van God is.—Matteus 6:33.
20. Watter wonderlike beloning word moontlik wanneer jy geloof beoefen?
20 Jehovah het deur Habakuk gesê: “Wat die regverdige betref, deur sy getroue geloof sal hy bly lewe” (Habakuk 2:4). Maak seker dat jy dit diep in jou verstand en hart inprent. Dit is een van die Bybel se grondwaarhede. Paulus het drie keer na hierdie teks verwys in sy geïnspireerde geskrifte (Romeine 1:16, 17; Galasiërs 3:11, 14; Hebreërs 10:38).b Hierdie waarheid verg van jou om geloof te beoefen in die offerande wat Jesus Christus vir ons sondes gebring het. Jesus het verduidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, . . . die ewige lewe kan hê.” Ons lees ook: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe” (Johannes 3:16, 36). Hierdie offerande maak die genesing moontlik wat slegs ons Verlosser kan bied. Nadat Maleagi Jehovah se verklaring opgeteken het oor wat Sy groot dag aan Satan se goddelose wêreld sal doen, het hy voortgegaan: “Vir julle wat my naam vrees, sal die son van regverdigheid beslis skyn, met genesing in sy vleuels.” Ja, Jesus sal met genesing skyn. Dit sluit die geestelike genesing in wat ons nou ervaar. Maar hoe opwindend is dit tog om te dink dat dit uiteindelik ook algehele fisiese genesing in die nuwe wêreld sal beteken!—Maleagi 4:2.
21. Waarom kan jy geloof stel in Jehovah se vermoë om sy wil te volbring?
21 Dit is ook noodsaaklik om geloof te stel in God se vermoë om sy wil te volbring. In Miga se dag was dit moeilik om ander mense te vertrou. Die profeet het gesê: “Moenie julle geloof in ’n metgesel stel nie. Moenie julle vertroue in ’n vertroude vriend stel nie.” Maar dit was glad nie vir Miga moeilik om vertroue in Jehovah te stel nie; en dit moet ook nie vir jou moeilik wees nie. Miga het gesê: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly” (Miga 7:5, 7). In teenstelling met onvoorspelbare mense het Jehovah die wil en die mag om sy voorneme te verwesenlik tot regverdiging van sy soewereiniteit en die blywende welsyn van mense van geloof.
22. Hoe sal sake afloop vir diegene wat die naam van Jehovah in geloof aanroep?
22 Jy kan met vertroue soos Habakuk sê: “Ek [sal] my in Jehovah verheug; ek sal bly wees in die God van my redding” (Habakuk 3:18). Die profeet Joël meld ’n rede tot vreugde vir diegene wat Jehovah se naam in geloof aanroep: Hulle “sal veilig wegkom” of, soos Paulus dit gestel het, “gered word” (Joël 2:32; Romeine 10:13). Veilig, of gered, in watter sin? Die feit dat jy geloof beoefen, het jou reeds gered van die listige dade van Satan en die talle pynlike ervaringe wat die goddeloses nie kan vryspring nie (1 Petrus 1:18). Maar daarbenewens kan jy met vertroue uitsien na redding deur die rampspoedige einde van hierdie goddelose stelsel van dinge heen. Dit sal vir jou die weg baan om ’n menigte seëninge te geniet wat deur die 12 profete voorspel is.
VOORSKOUINGS VAN DIE PARADYS
23, 24. (a) Wat is ’n paar voorskouings van die Paradys wat deur die 12 profete gegee is? (b) Hoe is jou uitkyk op die toekoms beïnvloed deur wat die 12 profete geskryf het?
23 Daar wag blywende seëninge op diegene wat “Jehovah vrees” (Maleagi 3:16). Party van die 12 profete het lewendige voorskouings gegee van die aardse Paradys wat op hande is, beskrywings wat jou met vreugde en afwagting kan vervul. Miga het byvoorbeeld geskryf: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie” (Miga 4:4). Ja, onder God se Koninkryk sal jy veilig voel en die vrugte van jou arbeid pluk!
24 Dit is nie blote wensdenkery as jy uitsien na die einde van siekte, droefheid en selfs die dood nie. Stel jou die vreugde voor van diegene wat uit die dood opgewek sal word met die vooruitsig om menslike volmaaktheid te bereik! By uitbreiding sal hulle op die aarde ervaar waarna Hosea 13:14 verwys: “Uit die hand van Sjeool sal ek hulle loskoop; uit die dood sal ek hulle verlos. Waar is jou angels, o Dood? Waar is jou vernietigende krag, o Sjeool?” Paulus het hierdie vers op die hemelse opstanding toegepas.—1 Korintiërs 15:55-57.
25. Watter gevoelens sal jy in die nuwe wêreld ervaar?
25 Dit behoort nie te moeilik te wees om te glo dat ’n aardse opstanding sal plaasvind nie (Sagaria 8:6). Toe Amos en Miga voorspel het dat God se volk uit ballingskap sou terugkeer, was dit miskien moeilik om te glo. Maar jy weet dat dit wel gebeur het (Amos 9:14, 15; Miga 2:12; 4:1-7). Die teruggekeerdes het gesê: “Ons [het] geword soos dié wat droom. In dié tyd is ons mond met gelag gevul, en ons tong met vreugdegeroep. . . . Jehovah het iets groots gedoen deur wat hy met ons gedoen het. Ons het vreugdevol geword” (Psalm 126:1-3). Dit is hoe jy in die nuwe wêreld sal voel wanneer jy “’n seën” ontvang “totdat daar geen gebrek meer is nie”.
Jehovah se knegte is omring deur diegene wat waarheid en geregtigheid liefhet
26. Wat wag op diegene wat lewe met Jehovah se dag in gedagte?
26 Nadat “die dag van Jehovah” die aarde van goddeloosheid gereinig het, moet “die koningskap” in ’n voller sin “Jehovah s’n word” (Obadja 15, 21). Sal dit nie ’n wonderlike seën vir al sy aardse onderdane wees nie? En jy kan onder diegene wees op wie die woorde van Maleagi hoofstuk 3 van toepassing sal wees: “‘Hulle sal beslis myne word’, het Jehovah van die leërs gesê . . . ’En ek sal medelye met hulle betoon, soos ’n man medelye met sy seun betoon wat hom dien’” (Maleagi 3:17). Dit is duidelik dat jou getrouheid, wat jou nou in ’n posisie plaas om gered te word, dan vir jou ‘’n seën totdat daar geen gebrek meer is nie’, moontlik sal maak. Wat ’n wonderlike vooruitsig!
a Vir verdere inligting, sien Die Wagtoring van 15 Junie 1987, bladsye 14-20.
b Paulus het uit die Griekse Septuagint aangehaal, waar die bewoording effens van die Hebreeuse teks verskil.