Hoe Jesus Christus ons kan help
WAT Jesus Christus gedoen het om mense te help toe hy op die aarde was, was wonderlik. Dit was so wonderlik dat een ooggetuie, nadat hy vertel het van ’n hele aantal gebeure in Jesus se lewe, gesê het: “Daar is in werklikheid ook baie ander dinge wat Jesus gedoen het, wat, as hulle ooit in volle besonderhede geskryf sou word, die wêreld self, veronderstel ek, die boekrolle wat geskryf is, nie sou kon bevat nie” (Johannes 21:25). Aangesien Jesus soveel op die aarde gedoen het, kan ons vra: ‘Hoe kan hy ons helper in die hemel wees? Kan ons nou by Jesus se tere medelye baat vind?’
Die antwoord is baie hartverblydend en gerusstellend. Die Bybel sê vir ons dat Christus “in die hemel self [ingegaan het], om nou vir ons voor die persoon van God te verskyn” (Hebreërs 9:24). Wat het hy vir ons gedoen? Die apostel Paulus verduidelik: “[Christus het] nie met die bloed van bokke en van jong bulle nie, maar met sy eie bloed, eens en vir altyd in die heiligdom [“die hemel self”] ingegaan en ’n ewige verlossing vir ons verkry.”—Hebreërs 9:12; 1 Johannes 2:2.
Watter goeie nuus is dit tog nie! Jesus se hemelvaart het nie sy wonderlike werk ten behoewe van mense beëindig nie, maar hom eerder in staat gestel om selfs meer vir die mensdom te doen. Dit is omdat God, weens sy groot onverdiende goedhartigheid, Jesus aangestel het as “’n openbare dienaar”—’n hoëpriester—“aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele”.—Hebreërs 8:1, 2.
“’n Openbare dienaar”
Jesus sou dus in die hemel ’n openbare dienaar vir die mensdom wees. Hy sou ’n werk doen soos dié wat Israel se hoëpriester ten behoewe van God se aanbidders in die ou tyd gedoen het. En wat was daardie werk? Paulus verduidelik: “Elke hoëpriester word aangestel om gawes sowel as offerandes te bring; derhalwe was dit nodig dat ook dié een [die verrese Jesus Christus] iets moes hê om te offer.”—Hebreërs 8:3.
Jesus het iets gehad om te offer wat ver verhewe was bo wat die eertydse hoëpriester geoffer het. “As die bloed van bokke en van bulle” ’n mate van geestelike reinheid vir eertydse Israel kon bring, “hoeveel te meer [sou] die bloed van die Christus . . . ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig?”—Hebreërs 9:13, 14.
Jesus is ook ’n uitstekende openbare dienaar omdat daar aan hom onsterflikheid gegee is. In eertydse Israel “moes baie agtereenvolgens priesters word omdat hulle deur die dood verhinder is om dit te bly”. Maar wat van Jesus? Paulus skryf: “Hy het sy priesterskap sonder enige opvolgers . . . Gevolglik kan hy ook dié wat deur hom tot God nader volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit” (Hebreërs 7:23-25; Romeine 6:9). Ja, ons het aan God se regterhand in die hemel ’n openbare dienaar wat ‘altyd lewe om vir ons te pleit’. Dink net wat dit nou vir ons beteken!
Toe Jesus op die aarde was, het mense na hom toe gestroom vir hulp, en hulle het soms ver gereis om sy hulp te verkry (Matteus 4:24, 25). Aangesien Jesus in die hemel is, kan mense van alle nasies hom maklik nader. Vanuit sy hemelse posisie is hy altyd beskikbaar as ’n openbare dienaar.
Watter soort hoëpriester is Jesus?
Die beskrywing van Jesus Christus wat in die Evangelieverslae gegee word, oortuig ons van sy behulpsaamheid en tere medelye. Hoe selfopofferend was hy tog! By meer as een geleentheid is sy privaatheid onderbreek toe hy en sy dissipels broodnodige rus probeer kry het. Hy het nie gevoel dat hy van kosbare oomblikke van rus en vrede beroof is nie, maar hy is eerder “ontroer deur medelye” vir die mense wat sy hulp gevra het. Selfs wanneer Jesus moeg, honger en dors was, het hy “hulle vriendelik ontvang” en was hy gewillig om sonder kos te bly as hy opregte sondaars kon help.—Markus 6:31-34; Lukas 9:11-17; Johannes 4:4-6, 31-34.
Omdat Jesus deur medelye ontroer is, het hy praktiese stappe gedoen om in mense se fisiese, emosionele en geestelike behoeftes te voorsien (Matteus 9:35-38; Markus 6:35-44). Daarbenewens het hy hulle geleer hoe om blywende verligting en vertroosting te vind (Johannes 4:7-30, 39-42). Dink byvoorbeeld aan die mooi uitnodiging wat hy gerig het: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—Matteus 11:28, 29.
Jesus se liefde vir mense was so groot dat hy selfs sy lewe vir die sondige mensdom gegee het (Romeine 5:6-8). In dié verband het Paulus geredeneer: “Hy [Jehovah God] wat selfs nie sy eie Seun gespaar het nie, maar hom vir ons almal oorgelewer het, waarom sal hy ons dan nie ook saam met hom alle ander dinge goedgunstig gee nie? . . . Christus Jesus is die een wat gesterf het, ja, meer as dit, die een wat uit die dode opgewek is, wat aan die regterhand van God is, wat ook vir ons pleit.”—Romeine 8:32-34.
’n Hoëpriester wat kan simpatiseer
As ’n mens het Jesus geweet hoe dit voel om honger, dors en moeg te wees, asook om angs, pyn en die dood te ervaar. Die spanning en druk wat hy verduur het, het hom op ’n baie unieke manier toegerus om as Hoëpriester vir die lydende mensdom te dien. Paulus het geskryf: “[Jesus was] verplig om in alle opsigte soos sy ‘broers’ te word, sodat hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester in die dinge in verband met God kon word, om ’n soenofferande vir die sondes van die volk te bring. Want deurdat hy self gely het toe hy op die proef gestel is, kan hy dié wat op die proef gestel word te hulp kom.”—Hebreërs 2:17, 18; 13:8.
Jesus het getoon dat hy bekwaam en gewillig is om mense te help om nader aan God te kom. Maar beteken dit dat hy ’n ongevoelige en onbarmhartige God wat teësinnig is om te vergewe, moet oorreed? Nee, beslis nie, want die Bybel verseker ons dat Jehovah “goed en vergewensgesind” is. Dit sê ook: “As ons ons sondes bely, is hy getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons van alle onregverdigheid te reinig” (Psalm 86:5; 1 Johannes 1:9). Jesus se tere woorde en dade weerspieël in werklikheid sy Vader se eie medelye, barmhartigheid en liefde.—Johannes 5:19; 8:28; 14:9, 10.
Hoe bring Jesus verligting vir berouvolle sondaars? Deur hulle te help om vreugde en bevrediging te put uit hulle opregte pogings om God te behaag. Toe Paulus aan mede- gesalfde Christene geskryf het, het hy die situasie opgesom deur te sê: “Aangesien ons dus ’n groot hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons dan aan ons belydenis van hom vashou. Want ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde. Laat ons dus met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader, sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd.”—Hebreërs 4:14-16.
“Hulp op die regte tyd”
Wat kan ons egter doen wanneer ons te staan kom voor probleme wat vir ons te groot is om te hanteer—ernstige siekte, die neerdrukkende las van skuldgevoelens, oorweldigende ontmoediging en depressie? Ons kan van dieselfde voorsiening gebruik maak waarop Jesus self gereeld staatgemaak het—die kosbare voorreg van gebed. Hy het byvoorbeeld die nag voordat hy sy lewe vir ons gegee het “voortgegaan om nog ernstiger te bid; en sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val” (Lukas 22:44). Ja, Jesus weet hoe dit voel om baie ernstig tot God te bid. Hy het “smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red, en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor”.—Hebreërs 5:7.
Jesus weet hoeveel dit vir mense beteken om “verhoor” en versterk te word (Lukas 22:43). Daarbenewens het hy belowe: “As julle die Vader enigiets vra, sal hy dit vir julle in my naam gee. . . . Vra en julle sal ontvang, dat julle vreugde volkome gemaak kan word” (Johannes 16:23, 24). Ons kan God dus om iets smeek met die vertroue dat hy sy Seun sal toelaat om sy gesag te gebruik en die waarde van sy losprysofferande ten behoewe van ons aan te wend.—Matteus 28:18.
Ons kan seker wees dat Jesus in sy hemelse posisie die regte soort hulp op die regte tyd sal voorsien. As ons byvoorbeeld ’n sonde gepleeg het waaroor ons opregte berou het, kan ons vertroosting put uit die versekering dat “ons ’n helper by die Vader [het], Jesus Christus, ’n regverdige” (1 Johannes 2:1, 2). Ons Helper en Vertrooster in die hemel sal vir ons pleit sodat ons gebede wat in sy naam en in ooreenstemming met die Skrif is, verhoor sal word.—Johannes 14:13, 14; 1 Johannes 5:14, 15.
Toon waardering vir Christus se hulp
Meer is nodig as om God net deur middel van sy Seun te smeek in gebed. Met die waarde van sy losprysofferande het ‘Christus ons losgekoop’ en as ’t ware “die eienaar” geword wat die mensdom “gekoop het” (Galasiërs 3:13; 4:5; 2 Petrus 2:1). Ons kan ons dankbaarheid toon vir alles wat Christus vir ons doen deur te erken dat hy ons eienaar is en deur sy uitnodiging met graagte te aanvaar: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Lukas 9:23). ‘Om onsself te verloën’, beteken nie dat ons net sê dat ons nou ’n ander eienaar het nie. Christus het per slot van rekening “vir almal gesterf, sodat dié wat lewe nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het” (2 Korintiërs 5:14, 15). Waardering vir die losprys sal dus ’n diepgaande uitwerking op ons uitkyk, doelwitte en lewenswyse hê. Die feit dat ons soveel verskuldig is aan “Christus Jesus, wat homself vir ons gegee het”, behoort ons te motiveer om meer aangaande hom en sy liefdevolle Vader, Jehovah God, te leer. Ons moet ook die begeerte hê om groter geloof op te bou, volgens God se voordelige standaarde te lewe en “ywerig vir voortreflike werke” te wees.—Titus 2:13, 14; Johannes 17:3.
Die Christengemeente is die kanaal waardeur ons tydige geestelike voedsel, aanmoediging en leiding ontvang (Matteus 24:45-47; Hebreërs 10:21-25). As enigiemand byvoorbeeld geestelik siek is, kan hy “die ouer manne van die gemeente . . . roep”. Jakobus voeg dié versekering by: “En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word.”—Jakobus 5:13-15.
Ter toeligting: ’n Man wat ’n vonnis in ’n tronk in Suid-Afrika uitdien, het aan ’n gemeentelike ouer man geskryf en waardering uitgespreek vir “al die Getuies van Jehovah wat die goeie werk doen wat Jesus Christus begin het, deur mense te help om hulle in te span om God se Koninkryk te beërf”. Toe het hy geskryf: “Ek was baie bly toe ek jou brief ontvang het. Jou besorgdheid oor my geestelike bevryding het my diep geraak. Dit is des te meer rede vir my om ag te slaan op Jehovah God se uitnodiging om berou te toon. Ek strompel al die afgelope 27 jaar voort in die duisternis van sonde, bedrog, onsedelikheid en twyfelagtige godsdienste en het die pad heeltemal byster geraak. Nadat ek met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het, het ek gevoel dat ek uiteindelik die weg gevind het—die regte weg! Al wat ek moet doen, is om dit te volg.”
Verdere hulp in die nabye toekoms
Verslegtende wêreldtoestande is ’n duidelike bewys dat ons in die kritieke tydperk lewe wat die aanvang van “die groot verdrukking” sou voorafgaan. Op die oomblik is daar ’n groot skare uit alle nasies, stamme, volke en tale wat ‘hulle lang gewade was en dit wit maak in die bloed van die Lam’ (Openbaring 7:9, 13, 14; 2 Timoteus 3:1-5). Deur geloof in Jesus se losprysofferande te beoefen, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle gehelp om ’n hegte verhouding met God op te bou—trouens, om sy vriende te word.—Jakobus 2:23.
Die Lam, Jesus Christus, “sal as herder oor [die oorlewendes van die groot verdrukking] optree en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 7:17). Christus sal dan sy pligte as Hoëpriester voltooi. Hy sal al God se vriende help om ten volle by die “fonteine van waters van die lewe” baat te vind—geestelik, fisies, verstandelik en emosioneel. Wat Jesus in 33 G.J. begin het en wat hy sedertdien uit die hemel voortgesit het, sal dan volmaak volbring word.
Moet dus nooit ophou om diepe waardering te toon vir alles wat God en Christus vir ons gedoen het—en nog steeds doen—nie. Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Verheug julle altyd in die Here. . . . Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:4, 6, 7.
Daar is ’n baie goeie manier waarop jy jou waardering vir Jesus Christus, ons Helper in die hemel, kan toon. Ná sononder op Woensdag, 19 April 2000, sal Jehovah se Getuies regoor die wêreld vergader om Christus se dood te herdenk (Lukas 22:19). Dit sal ’n geleentheid wees om jou waardering vir Christus se losprysofferande te vergroot. Jy word hartlik uitgenooi om dit by te woon en te hoor hoe jy tot in alle ewigheid baat kan vind by God se wonderlike reëling vir redding deur middel van Christus. Vind gerus by Jehovah se Getuies in jou omgewing uit presies hoe laat en waar hierdie spesiale vergadering gehou gaan word.
[Prent op bladsy 7]
Jesus weet hoe dit voel om ernstig tot God te bid
[Prente op bladsy 8]
Christus sal ons help om probleme die hoof te bied wat vir ons te groot is om te hanteer
[Prent op bladsy 9]
Christus help ons deur middel van liefdevolle ouer manne