Aan die Galasiërs
4 As die erfgenaam nog ’n jong kind is, al is hy die heer van alles, is hy glad nie anders as ’n slaaf nie, of hoe? 2 Hy is onder die toesig van versorgers en bestuurders tot die dag wat sy pa vooraf vasgestel het. 3 Net so was ons ook slawe van die basiese* dinge van die wêreld toe ons kinders was.+ 4 Maar toe die tyd aangebreek het, het God sy Seun gestuur, wat uit ’n vrou gebore is+ en onder die wet was,+ 5 om dié onder die wet los te koop+ sodat ons as kinders aangeneem kon word.+
6 En omdat julle kinders is, het God die gees+ van sy Seun in ons harte geplaas,+ en dit roep uit: “Abba,* Vader!”+ 7 Daarom is julle nie meer slawe nie, maar kinders. En as julle kinders is, is julle ook erfgename deur God.+
8 Maar toe julle God nie geken het nie, was julle slawe van dié wat nie werklik gode is nie. 9 Maar nou het julle God leer ken, of liewer, julle word deur God geken. Hoekom keer julle nou weer terug na die basiese* dinge, wat swak en waardeloos is,+ en hoekom wil julle weer slawe daarvan word?+ 10 Julle hou aan om dae en maande+ en tye en jare te vier. 11 Ek is bekommerd dat my harde werk vir julle dalk verniet was.
12 Broers, ek smeek julle: Word soos ek, want ek was ook voorheen soos julle.+ Julle het my nie sleg behandel nie. 13 Maar julle weet dat dit as gevolg van ’n fisiese siekte was dat ek die eerste geleentheid gekry het om die goeie nuus aan julle bekend te maak. 14 En al was my fisiese toestand ’n las vir julle, het julle my nie disrespekvol behandel of gedink dat ek walglik is nie,* maar julle het my soos ’n engel van God ontvang, soos Christus Jesus. 15 Waar is die geluk wat julle gehad het? Want ek weet dat julle julle oë sou uitruk en dit vir my sou gee as dit moontlik was.+ 16 Wel, het ek dan julle vyand geword omdat ek julle die waarheid vertel? 17 Hulle doen alles in hulle vermoë om julle aan hulle kant te kry, maar nie vir ’n goeie doel nie. Hulle wil julle van my vervreem sodat julle gretig sal wees om hulle te volg. 18 Dit is natuurlik altyd ’n goeie ding as iemand julle aan hulle kant probeer kry, solank dit vir ’n goeie doel is en nie net wanneer ek by julle is nie. 19 My kindertjies,+ as gevolg van julle ervaar ek weer geboortepyne totdat julle Christus se persoonlikheid weerspieël.* 20 Maar ek wens ek kon nou by julle wees en op ’n ander manier met julle praat, want ek weet nie wat ek omtrent julle moet doen nie.
21 Sê vir my, julle wat onder die Wet wil wees: Luister julle nie na wat die Wet sê nie? 22 Daar is byvoorbeeld geskryf dat Abraham twee seuns gehad het: een by die diensmeisie+ en een by die vrou wat vry was.+ 23 Die seun van die diensmeisie is op ’n natuurlike manier* gebore,+ en die seun van die vrou wat vry was, is deur ’n belofte gebore.+ 24 Hierdie dinge kan as ’n simboliese drama verstaan word, want hierdie vrouens beteken twee verbonde. Die een verbond, wat van die berg Siʹnai+ kom en geboorte gee aan kinders wat slawe is, is Hagar. 25 Hagar stel Siʹnai+ voor, ’n berg in Arabië, en sy is soos die huidige Jerusalem, want sy en haar kinders is slawe. 26 Maar die Jerusalem daar bo is vry, en sy is ons moeder.
27 Want daar is geskryf: “Wees bly, onvrugbare vrou wat nie geboorte gee nie. Roep vreugdevol uit, vrou wat nie geboortepyne het nie, want die kinders van die verlate vrou is baie meer as die kinders van die vrou wat die man het.”+ 28 En julle, broers, is kinders van die belofte, net soos Isak was.+ 29 Maar die een wat op ’n natuurlike manier* gebore is, het die een begin vervolg wat deur die gees gebore is,+ en dit gebeur nou ook.+ 30 Maar wat sê die Skrif? “Jaag die diensmeisie en haar seun weg, want die seun van die diensmeisie sal glad nie ’n erfgenaam wees saam met die seun van die vrou wat vry is nie.”+ 31 Broers, ons is dus nie kinders van ’n diensmeisie nie, maar van die vrou wat vry is.