Is jy in alles getrou?
“Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou.”—LUKAS 16:10.
1. Wat is een van die maniere waarop Jehovah getrou is?
HET jy al ooit gesien wat gedurende die loop van die dag gebeur met ’n skaduwee wat ’n boom op die grond gooi? Die skaduwee verander heeltyd van grootte en rigting! Mensepogings en -beloftes is dikwels so onbestendig soos ’n skaduwee. Jehovah God daarenteen verander nie met die tyd nie. Die dissipel Jakobus verwys na hom as “die Vader van die hemelse ligte” en sê: “By hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee [of, “verandering of skaduwee as gevolg van ’n draaiing”, voetnoot in NW] nie” (Jakobus 1:17). Jehovah is bestendig en betroubaar, selfs in die kleinste besonderhede. Hy is “’n God van getrouheid”.—Deuteronomium 32:4.
2. (a) Waarom moet ons onsself ondersoek om vas te stel of ons getrou is? (b) Watter vrae oor getrouheid sal ons bespreek?
2 Hoe beskou God die betroubaarheid van sy aanbidders? Op dieselfde manier as Dawid, wat van hulle gesê het: “My oë is op die getroues van die aarde, sodat hulle by my kan woon. Wie op ’n onberispelike wyse wandel, hy sal my dien” (Psalm 101:6). Ja, Jehovah skep behae in die getrouheid van sy knegte. Die apostel Paulus het tereg geskryf: “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind word” (1 Korintiërs 4:2). Wat behels dit om getrou te wees? Op watter gebiede van die lewe moet ons in getrouheid handel? Watter seëninge bring dit mee as ’n mens “op ’n onberispelike wyse wandel”?
Wat dit beteken om getrou te wees
3. Wat bepaal of ons getrou is?
3 “Moses was as ’n dienaar getrou”, sê Hebreërs 3:5. Wat het die profeet Moses getrou gemaak? Met die bou en oprigting van die tabernakel het Moses “gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Eksodus 40:16). As aanbidders van Jehovah toon ons getrouheid deur hom gehoorsaam te dien. Dit sluit beslis in dat ons lojaal aan Jehovah bly terwyl ons moeilike toetse of swaar beproewinge verduur. Maar om groot toetse suksesvol die hoof te bied, is nie die enigste faktor wat ons getrouheid bepaal nie. “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou”, het Jesus gesê, “en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig” (Lukas 16:10). Ons moet selfs in oënskynlik klein dinge getrou bly.
4, 5. Wat toon dit as ons in “die geringste” getrou is?
4 Om elke dag in “die geringste” gehoorsaam te wees, is om twee redes belangrik. Eerstens, dit toon hoe ons oor Jehovah se soewereiniteit voel. Dink aan die toets van lojaliteit waarvoor die eerste mensepaar, Adam en Eva, gestel is. Dit was ’n vereiste wat hoegenaamd geen ontbering vir hulle meegebring het nie. Terwyl hulle toegang tot allerhande soorte voedsel in die tuin van Eden gehad het, moes hulle hulle bloot daarvan weerhou om die vrugte van net een boom te eet—“die boom van die kennis van goed en kwaad” (Genesis 2:16, 17). Hulle getrouheid deur daardie eenvoudige gebod te gehoorsaam, sou getoon het dat die eerste mensepaar Jehovah se heerskappy ondersteun het. Ons gehoorsaamheid aan Jehovah se instruksies in ons daaglikse lewe toon dat ons ons aan die kant van Jehovah se soewereiniteit skaar.
5 Tweedens, ons optrede in “die geringste” hou verband met hoe ons “ook in baie” sal reageer, dit wil sê wanneer ons voor groter geskille in die lewe te staan kom. Kyk in hierdie opsig wat met Daniël en sy drie getroue Hebreeuse metgeselle—Hananja, Misael en Asarja—gebeur het. Hulle is in 617 v.G.J. in ballingskap na Babilon weggevoer. Terwyl hulle nog jonk was, waarskynlik in hulle tienerjare, het hierdie vier hulle in die koninklike hof van koning Nebukadnesar bevind. In die hof is daar “vir hulle ’n daaglikse porsie vasgestel van die lekkernye van die koning en van die wyn wat hy gedrink het, ja, om hulle drie jaar lank te voed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kon staan”.—Daniël 1:3-5.
6. Voor watter toets het Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle in die Babiloniese koninklike hof te staan gekom?
6 Die voorsienings van die Babiloniese koning het egter vir die vier jong Hebreërs ’n uitdaging gebied. Die lekkernye van die koning het waarskynlik voedsel ingesluit wat deur die Mosaïese Wet verbied is (Deuteronomium 14:3-20). Die bloed van die geslagte diere het moontlik nie alles uitgeloop nie, en om van sulke vleis te eet, sou God se Wet geskend het (Deuteronomium 12:23-25). Die voedsel was dalk ook aan afgode geoffer, soos die gebruik onder Babiloniese aanbidders was voordat hulle ’n gemeenskaplike maaltyd geëet het.
7. Wat het die gehoorsaamheid van Daniël en sy drie vriende getoon?
7 Voedselbeperkings was ongetwyfeld nie baie belangrik vir die koninklike huis van die Babiloniese koning nie. Maar Daniël en sy vriende was in hulle harte vasbeslote om hulle nie te verontreinig deur voedsel te eet wat in God se Wet aan Israel verbied is nie. Dit was ’n geskil wat hulle lojaliteit en getrouheid aan God geraak het. Hulle het dus gevra dat hulle groente en water gegee word, en dit is aan hulle toegestaan (Daniël 1:9-14). Wat daardie vier jong mans gedoen het, lyk dalk vandag vir party mense onbelangrik. Maar hulle gehoorsaamheid aan God het getoon wat hulle standpunt ten opsigte van die geskil oor Jehovah se soewereiniteit was.
8. (a) Voor watter kritieke toets van lojaliteit het die drie Hebreërs te staan gekom? (b) Wat was die uitslag van die toets, en wat lig dit toe?
8 Getrouheid in ’n saak wat dalk minder belangrik gelyk het, het Daniël se drie vriende voorberei om ’n groter beproewing die hoof te bied. Blaai na hoofstuk 3 van die Bybelboek Daniël 3 en lees self hoe die drie Hebreërs die doodsvonnis ontvang het omdat hulle geweier het om die goue beeld te aanbid wat koning Nebukadnesar laat oprig het. Toe hulle voor die koning gebring is, het hulle hulle besluit vol vertroue bekend gemaak: “As dit moet, is ons God wat ons dien, in staat om ons te red. Uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, sal hy ons red. Maar so nie, laat dit dan aan u bekend word, o koning, dat ons u gode nie dien nie, en die goue beeld wat u opgerig het, sal ons nie aanbid nie” (Daniël 3:17, 18). Het Jehovah hulle gered? Die wagte wat die jong mans in die vuuroond gegooi het, het gesterf, maar die drie getroue Hebreërs het lewend daaruit gestap—nie eens geskroei deur die hitte van die vuuroond nie! Hulle gevestigde patroon van getrouheid het gehelp om hulle voor te berei om gedurende daardie kritieke toets getrou te wees. Lig dit nie toe hoe belangrik dit is om in klein dinge getrou te wees nie?
Getrouheid met betrekking tot “onregverdige rykdom”
9. Wat is die konteks van Jesus se woorde in Lukas 16:10?
9 Voordat Jesus die beginsel gemeld het dat iemand wat getrou is in oënskynlik klein dinge, ook getrou is in belangrike sake, het hy sy toehoorders gemaan: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom, sodat wanneer dit faal, hulle julle in die ewige woonplekke sal ontvang.” Toe het hy die verklaring oor getrouheid in die geringste gemaak. Daarna het Jesus gesê: “As julle dan nie getrou was in verband met die onregverdige rykdom nie, wie sal aan julle toevertrou wat waar is? . . . Geen huiskneg kan ’n slaaf van twee here wees nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie.”—Lukas 16:9-13.
10. Hoe kan ons getrouheid toon in ons gebruik van “onregverdige rykdom”?
10 Volgens die konteks het die oorspronklike toepassing van Jesus se woorde in Lukas 16:10 te doen met die gebruik van “onregverdige rykdom”, ons materiële middele of besittings. Dit word onregverdig genoem omdat materiële rykdom—veral geld—onder die beheer van sondige mense is. Daarbenewens kan ’n begeerte om rykdom te verwerf, tot onregverdige dade lei. Ons toon getrouheid deur wysheid aan die dag te lê in die manier waarop ons ons materiële besittings gebruik. Ons gebruik dit nie vir selfsugtige doeleindes nie, maar wil dit eerder gebruik om Koninkryksbelange te bevorder en mense in nood te help. Deur in hierdie opsig getrou te wees, maak ons vriende met Jehovah God en Jesus Christus, die besitters van “die ewige woonplekke”. Hulle sal ons in hierdie plekke ontvang en ons die ewige lewe in die hemel of in die Paradys op aarde gee.
11. Waarom moet ons nie huiwer om aan huisbewoners te verduidelik dat ons bydraes aanvaar vir die wêreldwye werk wat deur Jehovah se Getuies gedoen word nie?
11 Dink ook wat ons mense bied by wie ons Bybels of Bybellektuur laat wanneer ons die Koninkryksboodskap verkondig en aan hulle verduidelik dat ons bydraes aanvaar vir die wêreldwye werk wat deur Jehovah se volk gedoen word. Bied ons hulle nie ’n geleentheid om hulle materiële middele op ’n verstandige wyse te gebruik nie? Hoewel die oorspronklike toepassing van Lukas 16:10 te doen het met die gebruik van materiële middele, is die beginsel wat daar gemeld word, ook op ander gebiede van die lewe van toepassing.
Eerlikheid is werklik belangrik
12, 13. Op watter gebiede kan ons eerlikheid openbaar?
12 Die apostel Paulus het geskryf: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra” (Hebreërs 13:18). “Alles” sluit beslis alle sake rakende die hantering van finansies in. Ons betaal ons skulde en ons belasting stiptelik en eerlik. Waarom? Ons doen dit weens ons gewete en hoofsaaklik uit liefde vir God en in gehoorsaamheid aan sy bevele (Romeine 13:5, 6). Hoe reageer ons wanneer ons iets vind wat nie aan ons behoort nie? Ons probeer dit aan die regmatige eienaar terugbesorg. Wat ’n uitstekende getuienis het dit tog tot gevolg wanneer ons verduidelik wat ons beweeg het om die persoon se besitting terug te besorg!
13 Getrouheid en eerlikheid in alles behels dat ons eerlik is by ons werksplek. Eerlikheid in ons werksgewoontes vestig die aandag op die soort God wat ons verteenwoordig. Ons “steel” nie tyd deur lui te wees nie. Ons werk eerder hard, soos vir Jehovah (Efesiërs 4:28; Kolossense 3:23). In een Europese land word daar geskat dat ’n derde van die werknemers wat ’n doktersbrief vra sodat hulle siekteverlof kan kry, dit op oneerlike wyse doen. Ware knegte van God dink nie verskonings uit om van die werk weg te bly nie. Jehovah se Getuies word soms bevordering aangebied omdat werkgewers hulle eerlikheid en harde werk sien.—Spreuke 10:4.
Getrouheid in ons Christelike bediening
14, 15. Wat is ’n paar maniere waarop ons in die Christelike bediening getrou kan wees?
14 Hoe toon ons getrouheid in die bediening wat aan ons toevertrou is? “Laat ons . . . altyd aan God ’n lofoffer bring”, sê die Bybel, “dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Die belangrikste manier om getrouheid in die veldbediening te toon, is deur gereeld daaraan deel te neem. Waarom sal ons ’n maand laat verbygaan sonder om van Jehovah en sy voorneme te getuig? ’n Gereelde deelname aan die predikingswerk help ons ook om ons vaardighede te verbeter en bekwamer te word.
15 Nog ’n goeie manier om getrouheid in die veldbediening te toon, is deur die wenke in Die Wagtoring en Ons Koninkryksbediening toe te pas. Vind ons nie dat ons bediening produktiewer is wanneer ons voorberei en die voorgestelde aanbiedings of ander realistiese aanbiedings gebruik nie? Gaan ons gou terug na iemand wat belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het? En wat van tuisbybelstudies wat ons met belangstellendes begin? Is ons betroubaar en getrou in die manier waarop ons na hulle omsien? As ons getrou is in die bediening, kan dit vir ons en vir dié wat na ons luister, die lewe beteken.—1 Timoteus 4:15, 16.
Bly afgeskeie van die wêreld
16, 17. Op watter maniere kan ons toon dat ons afgeskeie van die wêreld is?
16 In gebed aan God het Jesus van sy volgelinge gesê: “Ek het u woord aan hulle gegee, maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14-16). Ons is miskien vasbeslote om afgeskeie van die wêreld te bly wat groot geskille betref, soos neutraliteit, godsdienstige vakansiedae en gebruike sowel as onsedelikheid. Maar wat van kleiner dinge? Kan dit wees dat ons deur die weë van die wêreld beïnvloed word sonder dat ons dit besef? As ons nie oppas nie, kan ons kleredrag byvoorbeeld baie maklik onwaardig en onvanpas word! Getrouheid vereis “beskeidenheid en gesonde verstand” wanneer dit by kleredrag en persoonsversorging kom (1 Timoteus 2:9, 10). Ja, “in geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie; maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan”.—2 Korintiërs 6:3, 4.
17 Uit ’n begeerte om Jehovah te eer, trek ons op ’n waardige wyse vir ons gemeentelike vergaderinge aan. Dieselfde geld vir wanneer ons in groot getalle by ons byeenkomste bymekaarkom. Ons kleredrag moet prakties en fatsoenlik wees. Dit dien as ’n getuienis vir ander wat ons sien. Selfs die engele let op ons bedrywighede, net soos hulle gelet het op dié van Paulus en sy Christenmetgeselle (1 Korintiërs 4:9). Trouens, ons moet altyd gepas geklee wees. Vir party lyk getrouheid in die keuse van kleredrag dalk na iets kleins, maar in God se oë is dit belangrik.
Seëninge vir getrouheid
18, 19. Watter seëninge bring getrouheid mee?
18 Daar word van ware Christene gepraat “as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word”. As sodanig is hulle “afhanklik van die krag wat God verskaf” (1 Petrus 4:10, 11). Verder is daar aan ons, as bestuurders, iets toevertrou wat nie aan ons persoonlik behoort nie—blyke van God se onverdiende goedhartigheid, onder andere die bediening. In ons strewe om goeie bestuurders te wees, vertrou ons op die krag wat God gee, “die krag wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). Watter uitstekende opleiding is dit tog om ons te help om enige toekomstige beproewinge die hoof te bied!
19 Die psalmis het gesing: “Julle moet Jehovah liefhê, al sy lojales. Jehovah bewaar die getroues” (Psalm 31:23). Laat ons vasbeslote wees om te toon dat ons getrou is, met die volle vertroue dat Jehovah “’n Redder is van alle soorte mense, veral van getroues”.—1 Timoteus 4:10.
Onthou jy?
• Waarom moet ons “in die geringste getrou” wees?
• Hoe kan ons getrou bly
met betrekking tot eerlikheid?
in die bediening?
wat ons afgeskeidenheid van die wêreld betref?
[Prente op bladsy 26]
Getrou in die geringste, getrou ook in baie
[Prent op bladsy 29]
‘Gedra julle eerlik in alles’
[Prent op bladsy 29]
’n Goeie manier om getrouheid te toon, is om goed vir die veldbediening voor te berei
[Prent op bladsy 30]
Wees beskeie in jou kleredrag en persoonsversorging