Hoe kan denkvermoë jou beskerm?
REUSAGTIGE golwe is ’n ontsagwekkende gesig, maar vir matrose beteken dit gevaar. Daardie onstuimige water kan hulle hulle lewe kos.
So ook sal God se knegte dalk toenemende druk ondervind wat oorweldigend kan wees. Jy sien moontlik hoe Christene die een vlaag beproewinge en versoekings na die ander moet verduur. Jy wil dit ongetwyfeld met welslae die hoof bied omdat jy vasbeslote is om geestelike skipbreuk te vermy (1 Timoteus 1:19). Denkvermoë is ’n noodsaaklike deel van jou verdediging. Wat is dit, en hoe kan dit verkry word?
Die Hebreeuse woord wat met “denkvermoë” vertaal word, mezim·mahʹ, kom van ’n grondwoord wat “om te beplan of beraam” beteken (Spreuke 1:4). Daarom vertaal party Bybelvertalings mezim·mahʹ as “versigtigheid” of “voorsorg”. Die Bybelkenners Jamieson, Fausset en Brown beskryf mezim·mahʹ as ’n “behoedsaamheid waardeur ’n mens die slegte vryspring en die goeie vind”. Dit impliseer dat ’n mens die langtermyngevolge sowel as die onmiddellike gevolge van jou dade in ag neem. As ons denkvermoë het, sal ons ons opsies versigtig oorweeg voordat ons optree, veral wanneer ons belangrike besluite moet neem.
Wanneer iemand met denkvermoë besluite neem oor die toekoms of oor situasies waarin hy hom nou bevind, ontleed hy eers die moontlike risiko’s of slaggate. Nadat hy moontlike gevare geïdentifiseer het, bepaal hy hoe hy dit kan vermy, terwyl hy ook die invloed van sy milieu en omgang in ag neem. Hy kan sodoende ’n weg kies wat ’n goeie uitkoms sal hê en moontlik selfs God se seën sal meebring. Kom ons kyk na ’n paar praktiese voorbeelde wat hierdie proses toelig.
Vermy die strik van geslagsonsedelikheid
Soms waai die wind kragtige golwe teen die boeg van ’n boot. Die gevaar bestaan dat die boot kan omslaan as die matrose nie met die boeg direk in die golwe invaar nie.
Ons bevind ons in ’n soortgelyke situasie, aangesien ons in ’n wêreld lewe wat behep is met seks. Ons word elke dag met sensuele idees en beelde gebombardeer. Ons kan nie die uitwerking ignoreer wat dit op ons normale seksuele begeertes kan hê nie. Ons moet denkvermoë gebruik en vasbeslote wees om die versoeking te weerstaan en nie sommer net in gevaarlike situasies indryf nie.
Christenmans werk byvoorbeeld dikwels saam met mense wat min respek het vir vroue en hulle bloot as seksuele voorwerpe beskou. Werksmaats se gesprekke is dalk deurspek met vuil grappe en seksuele insinuasies. Hierdie atmosfeer kan uiteindelik onsedelike gedagtes in ’n Christen se verstand saai.
’n Christenvrou moet ook dalk sekulêr werk en sal dus moontlik probleme ondervind. Sy werk miskien saam met mans en vroue wat nie dieselfde sedelike standaarde as sy het nie. Dalk toon een van haar manlike kollegas belangstelling in haar. Aanvanklik behandel hy haar dalk op ’n bedagsame manier en respekteer hy haar selfs weens haar godsdiensbeskouings. Sy volgehoue aandag en nabyheid kan die begeerte by haar laat ontstaan om nadere omgang te hê.
Hoe kan denkvermoë ons as Christene in sulke omstandighede help? Eerstens kan dit ons bewus maak van die geestelike gevare, en tweedens kan dit ons beweeg om ’n gepaste weg in te slaan (Spreuke 3:21-23). In sulke gevalle sal ’n mens medewerkers dalk baie duidelik moet laat verstaan dat ons standaarde anders is as gevolg van ons skriftuurlike oortuigings (1 Korintiërs 6:18). Deur ons spraak en gedrag kan ons dan toon dat ons bedoel wat ons sê. Daarbenewens sal ons ons omgang met sekere kollegas dalk moet beperk.
Maar dit is nie net by die werk waar ons onder druk geplaas word om onsedelik te wees nie. Dit kan ook ontstaan as ’n egpaar toelaat dat probleme hulle eenheid ondermyn. ’n Reisende opsiener het gesê: “’n Huwelik verbrokkel nie net skielik nie. Die egpaar raak dalk geleidelik van mekaar vervreemd omdat hulle selde met mekaar praat of tyd saam deurbring. Hulle jaag dalk materiële besittings na om op te maak vir die leemte in hulle huwelik. En omdat hulle mekaar selde komplimenteer, voel hulle dalk aangetrokke tot ander lede van die teenoorgestelde geslag.”
Hierdie ervare bedienaar het verder gesê: “Huweliksmaats moet van tyd tot tyd gaan sit en kyk of daar enigiets is wat hulle verhouding skaad. Hulle moet beplan hoe hulle saam kan studeer, bid en aan die predikingswerk kan deelneem. Hulle sal baie daarby baat vind as hulle met mekaar praat ‘in die huis, op die pad, wanneer hulle gaan lê en wanneer hulle opstaan’, net soos ouers en kinders daarby baat vind.”—Deuteronomium 6:7-9.
Hoe om onchristelike gedrag te hanteer
Buiten dat denkvermoë ons help om sedelike versoekings te weerstaan, kan dit ons ook help om probleme met mede-Christene die hoof te bied. Soms waai die wind golwe teen die agterstewe van die boot. Die golwe kan die agterstewe oplig en dit sywaarts draai. Dit beteken dat die golwe direk teen die kant van die boot slaan, wat die boot kan beskadig.
Ons kan ook blootgestel word aan gevaar wat uit ’n onverwagte rigting kom. Ons dien Jehovah “skouer aan skouer” saam met al ons getroue Christenbroers en -susters (Sefanja 3:9). As een van hulle op ’n onchristelike manier optree, voel ons dalk dat ons vertroue geskend is en kan dit ons baie ontstel. Hoe kan denkvermoë keer dat ons ons balans verloor of oormatig seergemaak voel?
Onthou “daar is geen mens wat nie sondig nie” (1 Konings 8:46). Dit moet ons derhalwe nie verbaas dat ’n Christenbroer ons dalk soms kwaad sal maak of aanstoot sal gee nie. Omdat ons dit weet, kan ons ons daarop voorberei en nadink oor hoe ons moet reageer. Hoe het die apostel Paulus gereageer toe van sy Christenbroers kwetsende en minagtende dinge van hom gesê het? Hy het nie sy geestelike balans verloor nie, maar eerder tot die gevolgtrekking gekom dat dit belangriker is om Jehovah se goedkeuring te verkry as dié van mense (2 Korintiërs 10:10-18). So ’n gesindheid sal ons help om nie oorhaastig te reageer wanneer ons ontsteld is nie.
Dit is soos wanneer ons ons toon stamp. Wanneer dit gebeur, dink ons dalk vir ’n minuut of twee nie helder nie. Maar nadat die pyn bedaar het, kan ons normaal redeneer en optree. Ons moet eweneens nie onmiddellik reageer op ’n onvriendelike kommentaar of daad nie. Sit eerder ’n oomblik stil en dink na oor wat die gevolge sal wees van onbesonne vergelding.
Malcolm, wat al jare lank ’n sendeling is, verduidelik wat hy doen wanneer iemand hom te na kom. “My eerste stap is om my ’n reeks vrae af te vra: Is ek kwaad vir hierdie broer omdat ons persoonlikhede bots? Is wat hy gesê het, werklik belangrik? Vererger die uitwerking wat malaria op my senuwees het, my gevoelens? Sal ek oor ’n paar uur anders oor die saak voel?” Dikwels, soos Malcolm al gevind het, is die meningsverskil onbelangrik en kan dit oor die hoof gesien word.a
Malcolm voeg by: “Soms bly die ander broer se gesindheid onvriendelik, ondanks al my pogings om die situasie reg te stel. Ek probeer om nie toe te laat dat dit my ontstel nie. Wanneer ek alles in my vermoë gedoen het, verander ek my beskouing van die saak. In my verstand sit ek hierdie saak opsy en beskou ek dit nie as iets waaraan ek nou persoonlik aandag moet skenk nie. Ek sal nie toelaat dat dit my geestelik onderkry nie of dat dit my verhouding met Jehovah en met my broers aantas nie.”
Soos Malcolm moet ons nie toelaat dat die verkeerde gedrag van een individu ons te veel ontstel nie. In elke gemeente is daar talle wonderlike, getroue broers en susters. Dit is ’n plesier om “sy aan sy” met hulle op die Christelike weg te wandel (Filippense 1:27). As ons die liefdevolle ondersteuning van ons hemelse Vader in gedagte hou, sal dit ons ook help om sake in perspektief te sien.—Psalm 23:1-3; Spreuke 5:1, 2; 8:12.
Moenie die dinge van die wêreld liefhê nie
Denkvermoë kan ons help om ’n ander subtiele probleem die hoof te bied. Partykeer dryf die wind die golwe teen die kant van die skip. In normale omstandighede kan sulke golwe die boot stadig van koers af bring. Maar gedurende ’n storm kan hierdie golwe die boot laat omslaan.
As ons eweneens swig voor die druk om alles te geniet wat die goddelose wêreld bied, kan ons geestelik gesproke van die regte koers afdwaal weens hierdie materialistiese lewenswyse (2 Timoteus 4:10). As ons nie die liefde vir die wêreld teëwerk nie, kan dit uiteindelik daartoe lei dat ons ons Christelike weg heeltemal verlaat (1 Johannes 2:15). Hoe kan denkvermoë ons help?
Eerstens sal dit ons help om presies te bepaal met watter gevare ons te kampe het. Die wêreld gebruik elke denkbare bemarkingsmetode om ons aan te lok. Dit bevorder gedurigdeur ’n hele lewenswyse wat almal glo veronderstel is om na te streef—die spoggerige lewenstyl van die welgesteldes, die beroemdes en die “suksesvolles” (1 Johannes 2:16). Ons word die bewondering en goedkeuring van almal belowe, veral van ons portuurs en bure. Denkvermoë sal ons help om hierdie propaganda te weerstaan deur ons te herinner aan hoe belangrik dit is om ons lewenswyse ‘vry te hou van die liefde vir geld’, aangesien Jehovah belowe het dat ‘hy ons hoegenaamd nie sal verlaat nie’.—Hebreërs 13:5.
Tweedens sal denkvermoë keer dat ons dié volg wat “van die waarheid afgewyk” het (2 Timoteus 2:18). Dit is so moeilik om diegene te weerspreek van wie ons gehou en op wie ons vertrou het (1 Korintiërs 15:12, 32-34). Selfs al word ons net in ’n beperkte mate beïnvloed deur dié wat die Christelike weg verlaat het, kan dit ons geestelike vooruitgang belemmer en ons uiteindelik in gevaar stel. Ons kan soos ’n skip wees wat net een graad van die regte koers af vaar. Op ’n lang reis kan dit veroorsaak dat die skip heeltemal verby sy bestemming vaar.—Hebreërs 3:12.
Denkvermoë kan ons help om in geestelike sin vas te stel waar ons is en waarheen ons gaan. Dalk besef ons dat ons ’n groter aandeel aan Christelike bedrywighede moet hê (Hebreërs 6:11, 12). Let op hoe een jong Getuie denkvermoë gebruik het om hom te help om geestelike doelwitte na te streef: “Ek het die geleentheid gehad om ’n loopbaan in die joernalistiek te hê. Dit het werklik vir my aantreklik gelyk, maar ek het die vers in die Bybel onthou wat sê dat die ‘wêreld verbygaan’, terwyl ‘hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’ (1 Johannes 2:17). Ek het geredeneer dat my oortuigings weerspieël moet word in wat ek met my lewe doen. My ouers het die Christelike geloof verlaat, en ek wou nie hulle voorbeeld volg nie. Ek het dus besluit om ’n doelgerigte lewe te lei en het die voltydse bediening as ’n gewone pionier betree. Ná vier bevredigende jare weet ek dat ek die regte keuse gemaak het.”
Bied geestelike storms met welslae die hoof
Waarom is dit dringend dat ons vandag ons denkvermoë gebruik? Matrose moet op die uitkyk wees na tekens van gevaar, veral wanneer storms aan die broei is. As die temperatuur daal en die wind opsteek, skroef hulle die luike vas en berei hulle hulle vir die ergste voor. Terwyl hierdie goddelose stelsel sy einde nader, moet ons ons ook voorberei om druk die hoof te bied wat so intens soos stormwinde is. Die sedelike struktuur van die samelewing is besig om inmekaar te stort, en ‘goddelose mense gaan van kwaad tot erger voort’ (2 Timoteus 3:13). Net soos matrose gereeld na weervoorspellings luister, moet ons gehoor gee aan die profetiese waarskuwings van God se geïnspireerde Woord.—Psalm 19:7-11.
Wanneer ons denkvermoë gebruik, pas ons die kennis toe wat tot die ewige lewe lei (Johannes 17:3). Ons kan ons voorberei op probleme en besluit hoe ons dit gaan oorkom. Ons sal dus vasbeslote wees om nie van die Christelike weg afgelei te word nie, en ons kan “’n goeie fondament vir die toekoms” lê deur geestelike doelwitte te stel en na te streef.—1 Timoteus 6:19.
As ons praktiese wysheid en denkvermoë bewaar, hoef ons nie “bang . . . te wees vir ’n skielike verskrikking nie” (Spreuke 3:21, 25, 26). Ons kan eerder bemoediging put uit God se belofte: “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word, sal denkvermoë oor jou wag hou.”—Spreuke 2:10, 11.
[Voetnoot]
a Christene moet vrede probeer maak, in ooreenstemming met die raad in Matteus 5:23, 24. As ernstige sondes by die saak betrokke is, moet hulle hulle broer probeer wen, soos dit in Matteus 18:15-17 uiteengesit word. Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1999, bladsye 17-22.
[Prent op bladsy 23]
Gereelde kommunikasie versterk die huwelik