Die nuwe wêreld—Sal jy daar wees?
“Daar [is] niks beters onder hulle . . . nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—PREDIKER 3:12, 13.
1. Waarom kan ons optimisties oor die toekoms wees?
BAIE mense dink dat die almagtige God streng en hardvogtig is. Maar die teks hierbo is ’n waarheid wat jy in sy geïnspireerde Woord sal vind. Dit stem ooreen met die feit dat hy “die gelukkige God” is en dat hy ons eerste ouers in ’n aardse paradys geplaas het (1 Timoteus 1:11; Genesis 2:7-9). Wanneer ons insig probeer kry in die toekoms wat God vir sy volk beloof het, moet ons nie verbaas wees om te leer van toestande wat vir ons blywende vreugde sal bring nie.
2. Wat is van die dinge waarna jy uitsien?
2 In die vorige artikel het ons na drie van die vier kere gekyk waar die Bybel “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” voorspel (Jesaja 65:17). Een van hierdie betroubare voorspellings staan opgeteken in Openbaring 21:1. Die verse daarna vertel ons van die tyd wanneer die almagtige God toestande op die aarde ingrypend gaan verander. Hy sal trane van droefheid afvee. Mense sal nie meer sterf weens bejaardheid, siekte of ongelukke nie. Verdriet, geskreeu en pyn sal iets van die verlede wees. Wat ’n wonderlike vooruitsig! Maar kan ons seker wees dat dit bewaarheid sal word, en watter uitwerking kan hierdie vooruitsig nou reeds op ons hê?
Redes vir vertroue
3. Waarom kan ons die Bybel se beloftes oor die toekoms vertrou?
3 Let op wat Openbaring 21:5 vervolgens sê. Dit haal God aan, wat op sy hemelse troon sit en sê: “Kyk! Ek maak alles nuut.” Hierdie belofte van God is beter as enige nasie se verklaring van onafhanklikheid, enige hedendaagse grondwet of enige menslike ideaal vir die toekoms. Dit is ’n absoluut betroubare verklaring deur die Een van wie die Bybel sê dat hy “nie kan lieg nie” (Titus 1:2). Dit sou heeltemal te verstane wees as jy voel dat ons maar hier kan ophou en ons net in hierdie wonderlike vooruitsig verlustig, terwyl ons op God vertrou. Maar ons hoef nie daar op te hou nie. Ons kan nog baie oor ons toekoms leer.
4, 5. Watter Bybelprofesieë wat reeds bespreek is, kan ons vertroue versterk in wat voorlê?
4 Dink gerus na oor wat ons in die vorige artikel vasgestel het in verband met die Bybel se beloftes van nuwe hemele en ’n nuwe aarde. Jesaja het so ’n nuwe stelsel voorspel, en sy profesie is vervul toe die Jode na hulle land teruggekeer en ware aanbidding hervestig het (Esra 1:1-3; 2:1, 2; 3:12, 13). Maar was dit al waarna Jesaja se profesie gewys het? Beslis nie! Wat hy voorspel het, sou in die verre toekoms op groter skaal vervul word. Wat laat ons tot hierdie slotsom kom? Dit is na aanleiding van wat ons in 2 Petrus 3:13 en Openbaring 21:1-5 lees. Hierdie gedeeltes voorspel nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat vir Christene oor die hele aarde voordele sal inhou.
5 Soos vroeër genoem is, gebruik die Bybel die frase “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” vier keer. Ons het na drie van hulle gekyk en het tot aanmoedigende gevolgtrekkings gekom. Die Bybel voorspel baie duidelik dat God goddeloosheid en ander oorsake van lyding uit die weg sal ruim en dat hy die mensdom dan verder in sy beloofde nuwe stelsel sal seën.
6. Wat voorspel ’n vierde profesie wat van die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” praat?
6 Kom ons kyk nou na die ander keer waar die uitdrukking “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” gebruik word, in Jesaja 66:22-24: “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE. En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.”
7. Waarom kan ons tot die gevolgtrekking kom dat Jesaja 66:22-24 ’n vervulling in die toekoms sal hê?
7 Hierdie profesie het ’n toepassing gehad op die Jode wat in hulle land hervestig is, maar dit sou nog ’n vervulling hê. Dit moes later plaasvind as toe Petrus se tweede brief en die boek Openbaring geskryf is, want dit het na ’n toekomstige ‘nuwe hemel en aarde’ verwys. Ons kan in die nuwe stelsel ’n groot en algehele vervulling daarvan verwag. Kyk na van die toestande waarna ons kan uitsien.
8, 9. (a) In watter sin sal God se volk “bestendig wees”? (b) Wat beteken die profesie dat Jehovah se knegte “elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat” sal aanbid?
8 Openbaring 21:4 het getoon dat daar nie meer dood sal wees nie. Die deel in Jesaja hoofstuk 66 stem hiermee ooreen. Ons kan in vers 22 sien dat Jehovah weet dat die nuwe hemel en die nuwe aarde nie tydelik gaan wees nie. Daarbenewens sal sy volk bly bestaan; hulle sal “bestendig wees” voor hom. Wat God reeds vir sy uitverkore volk gedoen het, gee ons rede vir vertroue. Ware Christene het voor wrede vervolging te staan gekom, selfs voor fanatiese pogings om hulle te vernietig (Johannes 16:2; Handelinge 8:1). Maar selfs uiters magtige vyande van God se volk, soos die Romeinse keiser Nero en Adolf Hitler, was nie in staat om God se lojale knegte wat sy naam dra te vernietig nie. Jehovah het die gemeente van sy volk beskerm, en ons is seker dat hy dit vir altyd bestendig kan hou.
9 Net so ook sal dié wat aan God getrou bly as deel van die nuwe aarde, die gemeenskap van ware aanbidders in die nuwe wêreld, as individue bestendig wees omdat hulle besig sal wees met rein aanbidding van die Skepper van alle dinge. Daardie aanbidding sal nie iets toevalligs wees nie. Volgens God se Wet, wat deur Moses aan Israel oorgedra is, was daar sekere dade van aanbidding wat maandeliks verrig moes word en deur die nuwe maan aangedui is, sowel as dade wat weekliks verrig moes word en deur die Sabbatdag aangedui is (Levitikus 24:5-9; Numeri 10:10; 28:9, 10; 2 Kronieke 2:4). Jesaja 66:23 voorspel dus gereelde en onafgebroke aanbidding van die ware God, week na week en maand na maand. Ateïsme en godsdienshuigelary sal dan nie bestaan nie. “Alle vlees [sal] kom om te aanbid voor” Jehovah.
10. Waarom kan jy daarvan seker wees dat die nuwe wêreld nie vir goed bederf sal word deur goddelose mense nie?
10 Jesaja 66:24 verseker ons dat die vrede en regverdigheid van die nuwe aarde nooit in gevaar sal wees nie. Goddelose mense sal dit nie bederf nie. Onthou dat ons volgens 2 Petrus 3:7 “die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” verwag. Die goddelose mense sal aan hulle einde kom. Die onskuldiges sal niks oorkom nie, anders as in menseoorloë waarin daar dikwels meer burgerlikes sterf as soldate. Die Groot Regter waarborg ons dat sy dag ’n vernietiging van die goddeloses sal wees.
11. Wat sal volgens Jesaja die toekoms wees van diegene wat teen God en sy aanbidding draai?
11 Die oorblywende regverdiges sal sien dat God se profetiese woord waar is. Vers 24 voorspel dat die ‘lyke van die mense wat teen Jehovah opgestaan het’ die bewys van sy veroordeling sal wees. Die beeldspraak wat Jesaja gebruik het, klink moontlik skokkend. Maar dit is in ooreenstemming met ’n geskiedkundige feit. Buite die mure van eertydse Jerusalem was daar stortingsplekke vir rommel en soms ook vir die lyke van tereggestelde misdadigers wat nie ’n behoorlike begrafnis waardig geag is nie.a Die wurms en verterende vuur wat daar was, sou die rommel sowel as daardie lyke gou verteer. Jesaja het klaarblyklik hierdie beeld gebruik om toe te lig hoe finaal Jehovah se oordeel oor oortreders sal wees.
Wat hy beloof het
12. Wat sê Jesaja verder omtrent die lewe in die nuwe wêreld?
12 In Openbaring 21:4 lees ons van sekere dinge wat nie in die komende nuwe stelsel sal bestaan nie. Maar wat sal dan bestaan? Hoe sal die lewe wees? Kan ons enige betroubare voorskou daarvan kry? Ja. Jesaja hoofstuk 65 gee ’n profetiese beskrywing van toestande wat ons sal geniet as Jehovah ons goedkeur om te lewe wanneer hy, in die finale sin, hierdie nuwe hemele en nuwe aarde skep. Diegene wat met ’n blywende plek in die nuwe aarde geseën word, sal nie oud word en dan uiteindelik sterf nie. Jesaja 65:20 verseker ons: “Daarvandaan sal nie meer kom ’n suigling van ’n paar dae of ’n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ’n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.”
13. Hoe verseker Jesaja 65:20 ons dat God se volk veiligheid sal geniet?
13 Toe dit die eerste keer oor Jesaja se volk vervul is, het dit beteken dat die klein kindertjies in die land veilig was. Geen vyand sou inkom, soos die Babiloniërs eenkeer gedoen het, om suigelinge weg te voer of om manne in die fleur van hulle lewe dood te maak nie (2 Kronieke 36:17, 20). In die komende nuwe wêreld sal mense veilig wees en die lewe kan geniet. As iemand teen God in opstand wil kom, sal hy nie toegelaat word om aan te hou lewe nie. God sal hom verwyder. Sê nou die opstandige sondaar is honderd jaar oud? Hy sal as “’n seun” sterf in vergelyking met die eindelose lewe wat hy sou geniet het.—1 Timoteus 1:19, 20; 2 Timoteus 2:16-19.
14, 15. Na watter lonende bedrywighede kan jy uitsien op grond van Jesaja 65:21, 22?
14 Jesaja wei nie uit oor hoe ’n moedswillige sondaar verwyder gaan word nie, maar beskryf eerder die lewensomstandighede wat in die nuwe wêreld sal heers. Probeer jou in die toneel indink. Wat jy jou moontlik eerste sal voorstel, is die dinge na aan jou. Jesaja bespreek dit in verse 21 en 22: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”
15 As jy geen bouondervinding het of nog nooit tuingemaak het nie, impliseer Jesaja se profesie dat jy heelwat gaan leer. Maar sal jy nie bereid wees om te leer by bekwame instrukteurs, moontlik selfs met die hulp van gawe bure wat hand bysit nie? Jesaja het nie gesê of jou huis groot vensteropeninge sal hê met blindings sodat jy die tropiese briese kan geniet en of dit toe glasvensters sal hê waardeur jy die veranderende seisoene kan dophou nie. Sal jy jou huis ontwerp met ’n skuins dak sodat reën en sneeu nie daarop sal bly lê nie? Of sal die plaaslike klimaat ’n plat dak prakties maak—soos dié in die Midde-Ooste—waar jy en jou gesin saam kan sit om aangename etes en gesprekke te geniet?—Deuteronomium 22:8; Nehemia 8:16.
16. Waarom kan jy verwag dat jy ewige geluk in die nuwe wêreld sal smaak?
16 Die wete dat jy jou eie huis sal hê, is van groter belang as om sulke besonderhede te weet. Dit sal joune wees—nie soos vandag waar jy dalk moet swoeg om te bou, maar iemand anders dan die voordeel daarvan kry nie. Jesaja 65:21 sê ook dat jy sal plant en die vrug daarvan eet. Dit som die algemene situasie baie duidelik op. Jou werk, die vrug van jou eie arbeid, sal jou baie gelukkig maak. Jy sal hierdie geluk gedurende ’n lang lewe—“soos die dae van die bome”—kan smaak. Dit beantwoord beslis aan die beskrywing: “alles nuut”!—Psalm 92:13-15.
17. Watter belofte sal ouers besonder bemoedigend vind?
17 As jy ’n ouer is, sal hierdie woorde jou hart roer: “Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie [“vir ontsteltenis geboorte gee nie”, NW]; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle. En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek” (Jesaja 65:23, 24). Ken jy uit ondervinding die pyn om ‘vir ontsteltenis geboorte te gee’? Ons hoef nie die hele lys probleme op te noem wat kinders kan hê wat vir ouers en ander ontsteltenis veroorsaak nie. En ons almal het al ouers gesien wat so besig is met hulle eie loopbaan, bedrywighede of genot dat hulle min tyd saam met hulle kinders deurbring. Daarenteen verseker Jehovah ons dat hy ons versoeke sal aanhoor en dat hy ag sal gee op ons behoeftes, dat hy selfs vooruit sal weet wat ons nodig het.
18. Waarom kan jy verwag dat die diere in die nuwe wêreld aan jou vreugde sal verskaf?
18 Terwyl jy dink aan wat jy in die nuwe wêreld sal geniet, stel jou die toneel voor wat God se profetiese woord vir ons skets: “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE” (Jesaja 65:25). Mensekunstenaars het hierdie toneel al probeer skilder, maar dit is nie net ’n illustrasie wat met kunstenaarsvryheid voortgebring is nie. Dit sal ’n werklikheid wees. Daar sal vrede onder die mense heers, en hulle sal ook in vrede met die diere lewe. Baie bioloë en diereliefhebbers bestee die beste jare van hulle lewe om maar van ’n paar diersoorte te leer of net van een spesie of ras. Dink, in teenstelling hiermee, hoeveel jy sal kan leer wanneer diere nie deur vrees vir mense oorheers word nie. Dan sal jy selfs naby voëls en klein diertjies kan kom wat in die woud woon—jy sal hulle kan dophou, by hulle kan leer, en hulle sal jou vreugde verskaf (Job 12:7-9). Jy sal veilig wees terwyl jy dit doen, aangesien nie mense of diere gevaarlik sal wees nie. Jehovah sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie.” Hoe anders sal dit tog wees as enigiets wat ons vandag sien en ervaar!
19, 20. Waarom is daar ’n groot verskil tussen God se volk en die meeste mense wat vandag lewe?
19 Ons het vroeër gesê dat mense, ongeag die algemene besorgdheid oor ’n nuwe millennium, nie die toekoms akkuraat kan voorspel nie. Dit laat baie mense gefrustreerd, verward of moedeloos voel. Peter Emberley, die administratiewe hoof van ’n Kanadese universiteit, het geskryf: “Baie [volwassenes] gee uiteindelik aandag aan die basiese vrae van ’n mens se bestaan. Wie is ek? Waarna strewe ek werklik? Wat is die erfenis wat ek aan die volgende geslag nalaat? Hulle sukkel in hulle middeljare om orde en sin in hulle lewe te vind.”
20 Jy kan verstaan waarom soveel mense so voel. Hulle probeer dalk die lewe geniet deur middel van stokperdjies of interessante vorme van ontspanning. Maar hulle weet nie wat die toekoms inhou nie; daarom het die lewe vir hulle geen sin, orde of ware betekenis nie. Vergelyk dit nou met jou uitkyk op die lewe, met die oog op wat ons bespreek het. Jy weet dat ons in Jehovah se beloofde nuwe hemel en nuwe aarde om ons sal kan kyk en uit ons hart sal kan sê: ‘God het waarlik alles nuut gemaak!’ Hoe heerlik sal dit tog nie wees nie!
21. Watter gemeenskaplike element vind ons in Jesaja 65:25 en Jesaja 11:9?
21 Dit is nie aanmatigend om ons voor te stel dat ons in God se nuwe wêreld lewe nie. Hy nooi ons uit, en spoor ons selfs aan, om hom nou in waarheid te aanbid en aan die vereistes te voldoen om te lewe wanneer ‘hulle geen kwaad sal doen of verderf sal aanrig op sy hele heilige berg nie’ (Jesaja 65:25). Maar het jy geweet dat Jesaja vroeër ’n soortgelyke kommentaar gemaak het en iets ingesluit het wat ’n kritieke element is as ons die lewe in die nuwe wêreld werklik wil geniet? Jesaja 11:9 sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”
22. Wat moet ons bespreking van vier Bybelprofesieë ons meer vasbeslote maak om te doen?
22 ‘Die kennis van Jehovah.’ Wanneer God alles nuut maak, sal die aarde se bewoners juiste kennis van hom en sy wil hê. Dit sal baie meer insluit as om net by die diereskepping te leer. Sy geïnspireerde Woord is hierby betrokke. Dink byvoorbeeld aan hoeveel ons geleer het deur net die vier profesieë te ondersoek wat van die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” praat (Jesaja 65:17; 66:22; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1). Jy het alle rede om die Bybel daagliks te lees. Is dit ’n deel van jou daaglikse lewe? Indien nie, watter aanpassings kan jy maak sodat jy elke dag kan lees wat God sê? Jy sal vind dat jy nie net na die lewe in die nuwe wêreld sal uitsien nie, maar selfs nou al groter geluk sal geniet, soos ook met die psalmis die geval was.—Psalm 1:1, 2.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 906, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom kan ons tot die slotsom kom dat Jesaja 66:22-24 ’n voorspelling is van gebeure wat nog voorlê?
• Na watter dinge wat in die profesieë in Jesaja 66:22-24 en Jesaja 65:20-25 voorspel word, sien jy veral uit?
• Watter redes het jy om vol vertroue te wees oor jou toekoms?
[Prente op bladsy 15]
Jesaja, Petrus en Johannes het aspekte van die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” voorspel