Jong mense vra . . .
Waagsport—Moet ek dit probeer?
“DIT gaan die skrikwekkendste oomblik van jou lewe wees”, word daar vir jou gesê terwyl jy bewend op die platform staan. Die aftelling begin: “Vyf, vier, drie, twee, een—SPRING!” Die val slaan jou asem weg. Jy stort neer na wat na ’n gewisse dood lyk, maar skielik voel jy die harde ruk van ’n rektou. ’n Opborrelende gevoel van verligting spoel oor jou. Jy het dit oorleef!
Rekspring.a Die sport het in die Verenigde State alleen na raming een- tot tweemiljoen deelnemers gelok. Dit is net een van baie sportsoorte waarvan die gewildheid onlangs die hoogte ingeskiet het—rotsklim, hangsweef, witwaterry en lugplankry, om maar ’n paar te noem. “Die negentigs is die dekade van waagsport”, sê een rekspringpromotor.
Gevaarlike bedrywighede is nie die alleenterrein van welgesteldes nie. Stedelike sensasiesoekers neem deel aan sulke gevaarlike (en onwettige) waagstukke, soos om bo-op bewegende hysbakke te ry, deur die tonnelstelsels van groot geboue te hardloop, bo-op die dakke van bewegende moltreine te ry en by gladde trappe af te gly.
Wat is die aantrekkingskrag?
“Ek sal enigiets probeer wat my bangmaak”, sê jong Norbert. “Ek geniet alle sportsoorte—bofbal, basketbal—maar om van brûe af te spring, dít het my banggemaak! Dis enig in sy soort.” Jong Douglas stem saam. “Gewone sportsoorte is nie te sleg nie, maar hulle is berekend”, sê hy. “Jy is altyd gebonde. Ek hou van die gevoel wanneer jy val. En die spoed . . . Jy ervaar nooit daardie gevoel met ander sportsoorte nie.”
Waagsport gaan verder as om jou atletiese vermoë uit te daag; dit bring jou van aangesig tot aangesig met die dood! Deelnemers geniet blykbaar die groot hoeveelheid adrenalien wat afgeskei word. Party deskundiges beweer dat sekere mense geneties geprogrammeer is om ’n Tipe T-persoonlikheid te hê, of sensasiebelus te wees. Die meeste jongmense waag egter die een of ander kans; dit is hulle manier om hulle perke te toets en selfvertroue te ontwikkel.
Ongelukkig lê jongmense nie altyd goeie oordeel aan die dag wanneer hulle hierdie dinge doen nie. “Die sieraad van die jongmanne is hulle krag”, sê Spreuke 20:29. Maar skynbaar dink sommige dat hulle krag onbeperk is. Dr. David Elkind sê dat tieners dikwels glo dat “hulle spesiaal en uniek is—vry van die wette van waarskynlikheid wat op ander van toepassing is. Dit is hierdie oortuiging dat hulle spesiaal is, dat hulle in ’n mantel van onkwesbaarheid toegedraai is, wat die meeste daartoe bydra dat tieners besluit om kanse te waag.” Dr. Robert Butterworth sê eweneens: “Wanneer jy iets soos valduik doen, gee dit jou ’n gevoel dat jy die waarskynlikheid trotseer, dat jy jou eie lot beheer.”
Maar om kanse te waag, kan ook deur ’n donkerder beweegrede aangevuur word. In haar boek Childstress! toon die skrywer Mary Susan Miller dat talle jong waaghalse dwase kanse waag omdat hulle eenvoudig nie die spanning in hulle lewe kan verwerk nie. Waagsport kan dus selfvernietigende of selfs selfmoordneigings openbaar. “Hulle plaas hulleself opsetlik in gevaarlike situasies”, sê Mary Miller, “asof hulle die noodlot uitdaag om die werk vir hulle te doen.”
Werklik gevaarlik?
Wat ook al die aantrekkingskrag van waagsport is, dit kan gevaarlik wees. ‘So ook om die straat oor te steek’, voer party aan. Maar iemand wat die straat oorsteek, is nie opsetlik op soek na gevaar of opwinding nie. En hoewel baie sportsoorte, soos rekspring, ’n redelik goeie veiligheidsrekord het, kan dinge skeef loop. Mark Bracker, M.D., stel dit so: “Met baie van hierdie hoërisikosportsoorte kan die gevolge rampspoedig wees as iets verkeerd loop. Hoe groter die opwinding, hoe groter is die gevaar gewoonlik, of jy nou uit ’n vliegtuig spring, hangsweef of motorfiets ry.” Een 20-jarige jeugdige het uit ’n warmlugballon gerekspring wat 58 meter bo die grond gehang het. Die probleem? Sy tou was 79 meter lank! Hy het na ’n verskriklike dood gespring.
Party bedrywighede, soos om motorfiets te ry, kan weliswaar met relatiewe veiligheid en op ’n gematigde manier geniet word. Maar een deskundige in sportgeneeskunde sê van sensasiesoekers: “Namate hulle vermoëns al hoe beter raak, soek hulle iets al hoe moeilikers om te doen, en op die ou end doen hulle beserings op.” Een jeugdige het erken: “Ek is verslaaf daaraan. Dis nou moeiliker om daardie vlak van vrees te bereik en die opwinding te ervaar.”
Is dit vir Christene?
Verbied die Bybel alle sportsoorte voor die voet? Nee. Dit is dwase uiterstes wat veroordeel word. Soos in Prediker 7:17 geskryf staan, het Salomo gevra: “Waarom sou jy sterwe voor jou tyd?”
‘Die lewe is kort. Speel voluit’, spoor een advertensie vir sportskoene aan. Maar ons het ’n verantwoordelikheid teenoor onsself, teenoor diegene wat ons liefhet en teenoor ons Skepper om ons lewe te bewaar. Die lewe is ’n gawe van God (Psalm 36:10). In Bybeltye kon ’n ernstige straf opgelê word as ’n lewe per ongeluk geneem is (Exodus 21:29; Numeri 35:22-25). God se volk is hierdeur aangemoedig om onnodige risiko’s te vermy.—Vergelyk Deuteronomium 22:8.
Christene is vandag eweneens verplig om respek vir die lewe te toon. Sal dit gepas wees om ’n sportsoort te beoefen wat jou onnodig aan gevare kan blootstel? Toe Satan die Duiwel Jesus probeer versoek het, het hy aangevoer dat die engele Jesus sal vang as hy van die dak van die tempel sou afspring. Jesus het geantwoord: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”—Mattheüs 4:5-7.
Buitendien, hoe sterk en gesond jy ook al mag voel, jy is eenvoudig nie onaantasbaar vir beserings nie. Dit is onrealisties om te redeneer: ‘Dit kan nie met my gebeur nie.’ Die Bybel waarsku ons dat ‘tyd en lotgeval ons almal tref’.—Prediker 9:11.
Besin eer jy begin
Dit is verstandig om die moontlike gevolge ernstig te oorweeg as jy van ’n hyskraan wil afspring, uit ’n vliegtuig wil valduik of enigiets wil doen wat uitermatig gevaarlik lyk. Moenie bloot op hoorsê of op die geesdriftige vertellings van ander jongmense vertrou nie (Spreuke 14:15). Kry die feite.
Wat is byvoorbeeld die ongeluksyfer vir ’n spesifieke sportsoort? Watter veiligheidsmaatreëls word getref? Een deskundige sê aangaande skubaduik: “[Mense dink dat] dit gevaarlik is om van ’n gasmedium na water oor te skakel. . . . Maar dit is slegs gevaarlik as jy dit sonder behoorlike instruksies doen.” Daarom moet jy ook vra: Watter opleiding en apparaat is vir hierdie sport nodig? Is daar enige werklike voordele, soos oefening, daaraan verbonde? Is enige gevare bloot toevallig, of is die vernaamste oogmerk van die sport om die dood te trotseer?
As laasgenoemde die geval is, kan jy jou afvra waarom dit jou so fassineer om kanse te waag. Is dit bloot omdat jy verveeld of gespanne is? Waarom vind jy dan nie ’n veiliger, heilsamer manier om sulke gevoelens te verwerk nie?b Die Boek Teenage Stress herinner ons daaraan dat om kanse te waag ’n “gevaarlike en eindelik ’n ondoeltreffende manier is om die negatiewe kant van spanning te verwerk”.—Vergelyk Spreuke 21:17.
Nadat jy sake deeglik ondersoek het—en dit met jou ouers bespreek het—sal jy heel waarskynlik tot die slotsom kom dat dit vir jou beter sal wees om weg te bly van die uiters gewaagde sportsoorte. Jou ouers verkies dalk dat jy aan bedrywighede deelneem wat nie op sigself lewensgevaarlik is nie, soos fietsry, skaats, ski en snorkelduik, om maar ’n paar te noem. Selfs relatief veilige bedrywighede kan gevaarlik wees as gepaste voorsorgmaatreëls nie getref word nie.
Dit het met ’n groepie jong Christene gebeur wat besluit het om op ’n staptoer te gaan. Hulle het van die paadjie afgegaan en ’n nou lysie teen ’n steil krans begin klim. Kort voor lank was hulle feitlik vasgevang en kon hulle nie met veiligheid vorentoe of agtertoe beweeg nie. Die jong persoon wat die groepie gelei het, het toe ’n skielike geraas gehoor. Twee van sy maats het na hulle dood geval. Hoe tragies tog!
Wees dus asseblief versigtig! ‘Verbly jou in jou jeug’ en geniet die krag en lewenslus waarmee jy geseën is (Prediker 11:9). Maar voordat jy ’n uitnodiging aanvaar om iets gevaarliks te doen, kan jy gerus doen wat jong Brian doen. Hy sê: “Ek vra my af hoe Jehovah hieroor sal voel. Hoe sal dit my gesindheid weerspieël teenoor die gawe van die lewe wat hy my gegee het?” Ja, oorweeg die gevare, ondersoek jou beweegredes. Die lewe is te kosbaar om dit nie te doen nie.
[Voetnote]
a “Rekspring” is ’n sport waarin springers, wat vasgemaak is aan ’n lang, elastiese tou wat ’n bungee genoem word, van brûe, hyskrane en selfs warmlugballonne afspring. Dit maak dit moontlik om feitlik vry te val voordat die tou styf trek en die val gestuit word.
b As jy depressief is of teen selfvernietigende drange stry, kan jy gerus met iemand praat en hulp verkry sonder om onnodige kanse te waag.—Sien “Jongmense vra . . . Is selfmoord die oplossing?” in ons Ontwaak! van 8 April 1994.
[Prent op bladsy 10]
Moet jong Christene waagsport, soos rekspring, beoefen?