Studie nommer 9—Argeologie en die geïnspireerde verslag
’n Studie van argeologiese ontdekkings en van ou verslae van die sekulêre geskiedenis wat die Bybelverslag staaf.
1. Wat word bedoel met (a) Bybelargeologie? (b) artefakte?
BYBELARGEOLOGIE is die studie van die volke en gebeure van Bybeltye aan die hand van geskrifte, implemente, geboue en ander oorblyfsels wat in die aarde aangetref word. Die gesoek na ou oorblyfsels, of artefakte, by ou Bybelplekke het baie navorsing en die verplasing van miljoene tonne grond behels. ’n Artefak is enige voorwerp wat van menslike handewerk getuig en wat bewys lewer van die aktiwiteit en lewe van mense. Artefakte kan dinge insluit soos erdewerk, bouvalle, kleitablette, geskrewe inskripsies, dokumente, monumente en kronieke wat op klip gegrafeer is.
2. Wat is die waarde van Bybelargeologie?
2 Teen die begin van die 20ste eeu het die argeologie reeds ’n eksakte wetenskap geword, met groot universiteite en museums in Europa en Amerika wat ekspedisies na Bybellande gefinansier het. As gevolg hiervan het argeoloë ’n skat van kennis ontdek wat lig werp op die lewe in Bybeltye. Soms het argeologiese vondste die egtheid van die Bybel bevestig en aangetoon dat dit tot in die kleinste besonderhede akkuraat is.
ARGEOLOGIE EN DIE HEBREEUSE GESKRIFTE
3. Watter ou ruïnes en verslae bevestig die bestaan van ziggoerats in eertydse Babilon?
3 Die toring van Babel. Volgens die Bybel was die toring van Babel ’n ontsaglike bouwerk (Gen. 11:1-9). Interessant genoeg, argeoloë het in en om die ruïnes van eertydse Babilon verskeie plekke ontdek waar daar eens ziggoerats, of piramidale, trapvormige tempeltorings, gestaan het. Onder hulle is die verwoeste Etemenanki-tempel, wat binne die mure van Babilon geleë was. Antieke verslae oor sulke tempels bevat dikwels die woorde: “Die spits sal tot aan die hemel reik.” Koning Nebukadnesar het na bewering gesê: “Ek het die spits van die Traptoring by Etemenanki verhoog sodat die top met die hemele gewedywer het.” Een fragment beskryf die val van so ’n ziggoerat met hierdie woorde: “Die bou van hierdie tempel het die gode gekrenk. In een nag het hulle neergewerp wat gebou is. Hulle het hulle na alle kante verstrooi en hul spraak vreemd gemaak. Hulle het die vooruitgang belemmer.”a
4. Watter argeologiese ontdekkings is by Gihon gedoen, en hoe hou dit moontlik met die Bybelverslag verband?
4 Die watertonnels by die Gihonfontein. In 1867 het Charles Warren ’n waterkanaal in die omgewing van Jerusalem ontdek wat van die Gihonfontein terugloop die heuwel in, met ’n skag wat boontoe lei na die Stad van Dawid. Dit was blykbaar die manier waarop Dawid se manne die stad die eerste maal binnegedring het (2 Sam. 5:6-10). Gedurende 1909-11 is die hele tonnelsisteem blootgelê wat van die Gihonfontein uitgaan. Een ontsaglike tonnel, met ’n gemiddelde hoogte van 1,8 meter, is oor ’n afstand van 533 meter deur soliede rots gekap. Dit het van Gihon na die Siloampoel in die Tyropoeondal (binne die stad) gelei en is blykbaar die tonnel wat deur Hiskia gebou is. ’n Inskripsie in vroeg-Hebreeuse skrif is aan die muur van die nou tonnel gevind. Dit lui deels: “En dit is die wyse waarop dit deurgekap is:—Terwyl [ . . . ] nog [ . . . ] byl(e) (was), elke man in die rigting van sy maat, en terwyl daar nog drie el was om deur te kap, [is gehoor] die stem van ’n man wat sy maat roep, want daar was ’n oorvleueling in die rots aan die regterkant [en aan die linkerkant]. En toe die tonnel deurgegrawe is, het die klipbrekers (die rots) gekap, elke man in die rigting van sy maat, byl teen byl; en die water het 1 200 el ver gevloei van die fontein na die reservoir, en die hoogte van die rots bo die kop(pe) van die klipbrekers was 100 el.” Wat ’n merkwaardige ingenieursprestasie vir daardie tyd!b—2 Kon. 20:20; 2 Kron. 32:30.
5. Watter argeologiese bewys van Sisak se inval en Bybelse plekname is by Karnak gevind?
5 Sisak se oorwinningsreliëf. Sisak, die koning van Egipte, word sewe maal in die Bybel vermeld. Omdat koning Rehabeam die wet van Jehovah verlaat het, het Jehovah toegelaat dat Sisak Juda in 993 v.G.J. inval, maar nie om dit totaal te verwoes nie (1 Kon. 14:25-28; 2 Kron. 12:1-12). Tot onlangs toe wou dit voorkom of net die Bybel van hierdie inval vertel. Toe het daar ’n groot dokument aan die lig gekom van die Farao wat die Bybel Sisak (Sjesjonk I) noem. Dit was in die vorm van ’n imposante reliëf in hiërogliewe en prente aan die suidelike muur van ’n ontsaglike Egiptiese tempel in Karnak (Thebe van die ou tyd). Op hierdie reusagtige reliëf is daar ’n uitbeelding van die Egiptiese god Amon, wat ’n sekelvormige swaard in sy regterhand hou. Hy bring 156 geboeide Palestynse gevangenes, wat met toue aan sy regterhand vas is, na farao Sisak. Elke gevangene stel ’n stad of dorp voor waarvan die naam in hiërogliewe vermeld word. Onder dié wat nog gelees en geïdentifiseer kan word, is Rabbit (Jos. 19:20); Taänag, Bet-Sean, en Megiddo (Jos. 17:11); Sunem (Jos. 19:18); Rehob (Jos. 19:28); Hafaraim (Jos. 19:19); Gibeon (Jos. 18:25); Bet-Horon (Jos. 21:22); Ajalon (Jos. 21:24); Sogo (Jos. 15:35); en Arad (Jos. 12:14). Die dokument maak ook melding van die “Veld van Abram”, wat die vroegste vermelding van Abraham in Egiptiese verslae is.c
6, 7. Wat is die geskiedenis van die Moabitiese Steen, en watter inligting verskaf dit oor die oorlog tussen Israel en Moab?
6 Die Moabitiese Steen. In 1868 het die Duitse sendeling F. A. Klein ’n merkwaardige ontdekking gedoen in die vorm van ’n ou inskripsie by Dhiban (Dibon). Dit het later bekend geword as die Moabitiese Steen. Daar is ’n afgietsel van die skrif gemaak, maar die steen self is deur die Bedoeïene aan stukke gebreek voordat dit verwyder kon word. Die meeste van die stukke is egter gevind, en die steen word tans in die Louvre in Parys bewaar, met ’n afgietsel in die Britse Museum in Londen. Dit is oorspronklik by Dibon in Moab opgerig en bevat koning Mesa se weergawe van sy opstand teen Israel (2 Kon. 1:1; 3:4, 5). Dit lui gedeeltelik: “Ek (is) Mesa, die seun van Kamos-[ . . . ], koning van Moab, die Diboniet . . . Omri, die koning van Israel, het Moab baie jare (lett., dae) verneder, want Kamos [die god van Moab] was vertoornd op sy land. En sy seun het hom opgevolg, en ook hy het gesê: ‘Ek sal Moab verneder.’ In my tyd het hy (so) gespreek, maar ek het hom en sy huis oorwin, terwyl Israel vir ewig te gronde gegaan het! . . . En Kamos het vir my gesê: ‘Gaan, neem Nebo van Israel!’ Daarom het ek by nag gegaan en daarteen geveg van die dagbreek tot die middag; ek het dit ingeneem en almal verslaan . . . En ek het van daar die [voorwerpe] van Jahwe geneem en hulle tot voor Kamos gesleep.”d Let op dat die goddelike naam in die laaste sin genoem word. Dit kan in die bygaande afbeelding van die Moabitiese Steen gesien word. Dit verskyn in die vorm van die Tetragrammaton, aan die regterkant van die dokument, in reël 18.
7 Die Moabitiese Steen meld ook die volgende Bybelplekke: Atarot en Nebo (Num. 32:34, 38); die Arnon, Aroër, Medeba en Dibon (Jos. 13:9); Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, Jahas en Kirjataim (Jos. 13:17-19); Beser (Jos. 20:8); Horonaim (Jes. 15:5); en Bet-Diblataim en Kerijot (Jer. 48:22, 24). Aldus bevestig dit die historiese egtheid van hierdie plekke.
8. Wat berig die Bybel oor Sanherib, en wat het opgrawings van sy paleis onthul?
8 Koning Sanherib se Prisma. Die Bybel bevat ’n taamlik breedvoerige verslag van die inval deur die Assiriërs onder koning Sanherib in die jaar 732 v.G.J. (2 Kon. 18:13–19:37; 2 Kron. 32:1-22; Jes. 35:1–37:38). Gedurende 1847-51 het die Engelse argeoloog A. H. Layard die ruïnes van Sanherib se groot paleis in Nineve in die gebied van eertydse Assirië opgegrawe. Hy het gevind dat die paleis sowat 70 vertrekke het, met ruim 3 000 meter mure met gebeeldhoude panele. Die jaarlikse verslae van gebeure, of annale, van Sanherib is op kleisilinders, of prismas, opgeteken. Die laaste van hierdie annale, wat blykbaar kort voor sy dood gemaak is, verskyn op die sogenaamde Taylor-prisma wat in die Britse Museum bewaar word, maar die Oosterse Instituut van die Universiteit van Chicago het ’n selfs beter eksemplaar op ’n prisma wat in die omgewing van eertydse Nineve, die hoofstad van die Assiriese Ryk, ontdek is.
9. Wat berig Sanherib, in harmonie met die Bybelverslag, maar wat meld hy nie, en waarom nie?
9 In hierdie laaste annale gee Sanherib sy eie grootpraterige weergawe van sy inval in Juda: “Wat Hiskia, die Jood, betref, hy het hom nie aan my juk onderwerp nie; ek het 46 van sy sterk stede, ommuurde vestings en die tallose klein dorpies in hulle omgewing beleër en (hulle) verower deur middel van vasgestampte (grond)hellings, en stormramme wat (tot) teenaan (die mure) gebring is (tesame met) die aanval deur voetsoldate, (met gebruikmaking van) myne, bresse sowel as loopgrawe. Ek het (daaruit) weggevoer 200 150 mense, jonk en oud, manne en vroue, perde, muile, donkies, kamele, groot en klein beeste sonder tal, en ek het (hulle) as buit beskou. Hom [Hiskia] het ek in Jerusalem, sy koninklike tuiste, ’n gevangene gemaak soos ’n voël in ’n kou. . . . Sy dorpe wat ek geplunder het, het ek van sy land weggeneem en hulle (oor)gegee aan Mitinti, koning van Asdod, Padi, koning van Ekron, en Sillibel, koning van Gasa. . . . Hiskia self . . . het later, na Nineve, my vorstelike stad, aan my gestuur, tesame met 30 talente goud, 800 talente silwer, edelgesteentes, antimoon, groot, geslypte rooi stene, rusbanke met (inlegsels van) ivoor, nimedoe-stoele met (inlegsels van) ivoor, olifantvelle, ebbehout, palmhout (en) allerlei kosbare skatte, sy (eie) dogters, byvroue, manlike en vroulike musici. Ten einde die skatting af te lewer en om as ’n slaaf hulde te bring, het hy sy (persoonlike) boodskapper gestuur.”e Wat hierdie skatting betref wat Sanherib Hiskia opgelê het, bevestig die Bybel die 30 talente goud maar meld net 300 talente silwer. Bowendien toon die Bybel dat dit gebeur het voordat Sanherib Jerusalem met beleëring bedreig het. In Sanherib se eensydige verslag vir die Assiriese geskiedenis maak hy met opset geen melding van sy verpletterende neerlaag in Juda nie, toe Jehovah se engel in een nag 185 000 van sy soldate gedood het en hom sodoende gedwing het om terug te vlug na Nineve soos ’n hond wat slae gekry het. Hierdie grootpraterige geskrewe verslag op Sanherib se Prisma toon nietemin dat daar ’n geweldige inval in Juda was voordat Jehovah die Assiriërs laat terugdraai het nadat hulle Jerusalem bedreig het.—2 Kon. 18:14; 19:35, 36.
10, 11. (a) Wat is die Lagisbriewe, en wat weerspieël hulle? (b) Hoe ondersteun hulle Jeremia se geskrifte?
10 Die Lagisbriewe. Die beroemde vestingstad Lagis word meer as 20 keer in die Bybel vermeld. Dit het 44 kilometer wes-suidwes van Jerusalem gelê. Die ruïnes is deeglik opgegrawe. In 1935 is daar in ’n waglokaal van die dubbele poortkamer 18 ostraka, of beskrewe potskerwe, gevind (nog 3 is in 1938 gevind). Dit was in werklikheid ’n aantal briewe wat in Oud-Hebreeuse karakters geskryf is. Hierdie versameling van 21 staan vandag as die Lagisbriewe bekend. Lagis was een van die laaste vestings van Juda wat teen Nebukadnesar weerstand gebied het en is gedurende die tydperk van 609-607 v.G.J. in ’n verkoolde puinhoop verander. Die briewe weerspieël die benardheid van die situasie. Dit is blykbaar briewe van oorblywende buiteposte van Judese troepe aan Jaosj, ’n militêre bevelvoerder in Lagis. Een van hierdie briewe (nommer IV) lui gedeeltelik: “Mag JHWH [Tetragrammaton, “Jehovah”] my heer selfs nou goeie tydinge laat hoor. . . . ons is op die uitkyk na die vuurseine van Lagis, ooreenkomstig al die seine wat my heer gee, omdat ons Aseka nie sien nie.” Dit is ’n treffende bevestiging van Jeremia 34:7, waar Lagis en Aseka genoem word as die laaste twee versterkte stede wat oorgebly het. Hierdie brief wil daarop dui dat Aseka nou geval het. Die goddelike naam, in die vorm van die Tetragrammaton, kom dikwels in die briewe voor, wat toon dat die naam Jehovah in alledaagse gebruik was onder die Jode van daardie tyd.
11 Nog ’n brief (nommer III) begin soos volg: “Mag JHWH [dit wil sê, Jehovah] my heer vredesberigte laat hoor! . . . En daar is aan u dienaar berig en gesê: ‘Die bevelvoerder van die leër, Gonja, die seun van Elnatan, het gekom om na Egipte te gaan, en aan Hodavja, die seun van Ahia, en sy manne het hy berig gestuur om [voorrade] van hom te verkry.’” Dit lyk of hierdie brief bevestig dat Juda, in stryd met Jehovah se bevel en tot sy eie vernietiging, afgetrek het na Egipte om hulp te soek (Jes. 31:1; Jer. 46:25, 26). Die name Elnatan en Hosaja, wat in die volledige teks van hierdie brief voorkom, word ook in Jeremia 36:12 en Jeremia 42:1 aangetref. Drie ander name wat in die briewe genoem word, word ook in die Bybelboek Jeremia aangetref. Hulle is Gemarja, Neria en Jaäsanja.—Jer. 32:12; 35:3; 36:10.f
12, 13. Wat word in die Nabonidus-kroniek beskryf, en waarom is dit besonder waardevol?
12 Die Nabonidus-kroniek. In die tweede helfte van die 19de eeu het opgrawings naby Bagdad talle vondste in die vorm van kleitablette en -silinders opgelewer wat baie lig op die geskiedenis van eertydse Babilon gewerp het. Een hiervan was die baie waardevolle dokument wat as die Nabonidus-kroniek bekend staan en vandag in die Britse Museum bewaar word. Koning Nabonidus van Babilon was die vader van sy medeheerser Belsasar. Hy het sy seun oorleef, want dié is gedood in die nag toe troepe van Kores die Pers Babilon op 5 Oktober 539 v.G.J. ingeneem het (Dan. 5:29, 30). Die Nabonidus-kroniek, ’n verbasend goed gedateerde verslag van die val van Babilon, help ons om vas te stel op watter dag hierdie gebeurtenis plaasgevind het. Hier volg ’n vertaling van ’n klein gedeelte van die Nabonidus-kroniek: “In die maand Tasjritoe [Tisjri (September-Oktober)], toe Cyrus [Kores] die leër van Akkad in Opis aan die Tigris aangeval het . . . op die 14de dag is Sippar sonder ’n stryd ingeneem. Nabonidus het gevlug. Die 16de dag [11 Oktober 539 v.G.J., Juliaans, of 5 Oktober, Gregoriaans] het Gobryas (Oegbaroe), die goewerneur van Goetium en die leër van Cyrus Babilon sonder ’n stryd binnegegaan. Daarna is Nabonidus in Babilon gevange geneem toe hy (daarheen) teruggekeer het. . . . In die maand Arasjamnoe [Margeswan (Oktober-November)], op die 3de dag [28 Oktober, Juliaans], het Cyrus Babilon binnegegaan; groen takkies is voor hom uitgesprei—die toestand van ‘Vrede’ (soelmoe) is oor die stad uitgeroep. Kores het groete gestuur aan die hele Babilon. Gobryas, sy goewerneur, het (onder)goewerneurs in Babilon geïnstalleer.”g
13 Daar kan gemeld word dat Darius die Meder nie in hierdie kroniek genoem word nie, en tot dusver is geen melding van hierdie Darius in enige nie-Bybelse inskripsie gevind nie. Daar is ook geen melding van hom in enige wêreldlike geskiedenisdokument vóór die tyd van Josephus (Joodse geskiedskrywer van die eerste eeu G.J.) nie. Sommige het derhalwe die moontlikheid geopper dat hy die Gobryas kan wees wat in die bogenoemde verslag vermeld word. Ofskoon dit wil voorkom of die beskikbare inligting oor Gobryas ooreenstem met dié in verband met Darius, kan sodanige identifikasie nie as onweerlegbaar beskou word nie.h Hoe dit ook al sy, die wêreldlike geskiedenis bevestig onweerlegbaar dat Kores (Cyrus) ’n sleutelfiguur in die verowering van Babilon was en dat hy daarna as koning daar geregeer het.
14. Wat is op die Kores-silinder opgeteken?
14 Die Kores-silinder. ’n Ruk nadat hy as koning van die Persiese Wêreldmoondheid begin regeer het, is Kores se verowering van Babilon in 539 v.G.J. op ’n kleisilinder opgeteken. Hierdie uitsonderlike dokument word ook in die Britse Museum bewaar. ’n Deel van die vertaalde teks volg hier: “Ek is Cyrus, koning van die wêreld, groot koning, wettige koning, koning van Babilon, koning van Sumer en Akkad, koning van die vier uithoeke (van die aarde), . . . Ek het aan [sekere voormelde] heilige stede aan die ander kant van die Tigris, waarvan die heiligdomme lank ruïnes was, die beelde terugbesorg wat (eens) daarin gewoon het en vir hulle permanente woonplekke opgerig. Ek het (ook) al hulle (voormalige) inwoners bymekaargebring en (aan hulle) hul woonplekke teruggegee.”i
15. Wat onthul die Kores-silinder omtrent Kores, en hoe strook dit met die Bybel?
15 Die Kores-silinder maak aldus die beleid van die koning bekend om volke wat gevange geneem is na hulle vroeëre woonplekke terug te stuur. In harmonie hiermee het Kores sy bevel uitgevaardig dat die Jode na Jerusalem terugkeer en die huis van Jehovah aldaar herbou. Interessant genoeg, Jehovah het 200 jaar tevore in ’n profesie aangedui dat Kores die man sou wees wat Babilon sou inneem en die herstel van Jehovah se volk sou bewerkstellig.—Jes. 44:28; 45:1; 2 Kron. 36:23.
ARGEOLOGIE EN DIE CHRISTELIKE GRIEKSE GESKRIFTE
16. Wat het die argeologie in verband met die Griekse Geskrifte aan die lig gebring?
16 Soos in die geval van die Hebreeuse Geskrifte het die argeologie ook talle interessante artefakte aan die lig gebring ter ondersteuning van die geïnspireerde verslag wat in die Christelike Griekse Geskrifte vervat is.
17. Hoe ondersteun die argeologie Jesus se antwoord op die belastingvraag?
17 ’n Denarius met die inskripsie van Tiberius. Die Bybel toon duidelik dat Jesus se bediening tydens die regering van keiser Tiberius plaasgevind het. Sommige van Jesus se teenstanders het hom in ’n strik probeer lei deur ’n vraag te stel oor die betaling van hoofbelasting aan die keiser. Die verslag lui: “Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My ’n penning [“denarius”, NW], dat Ek dit kan sien. En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom” (Mark. 12:15-17). Argeoloë het ’n silwerdenarius gevind waarop die hoof van keiser Tiberius afgebeeld is! Hierdie muntstuk het omstreeks 15 G.J. in omloop gekom. Dit strook met Tiberius se regeringstyd as keiser, wat in 14 G.J. begin het, en dit verleen bykomende stawing aan die verslag wat lui dat Johannes die Doper se bediening in die 15de jaar van Tiberius, of die lente van 29 G.J., begin het.—Luk. 3:1, 2.
18. Watter vonds is met betrekking tot Pontius Pilatus gedoen?
18 Inskripsie met die naam Pontius Pilatus. In 1961 is die eerste argeologiese vonds met betrekking tot Pontius Pilatus gedoen. Dit was ’n klipblok wat in Cesarea gevind is en waarop die naam Pontius Pilatus in Latyn verskyn het.
19. Wat staan nog in Athene ter bevestiging van die agtergrond van Handelinge 17:16-34?
19 Die Areopagus. Paulus het een van sy beroemdste opgetekende toesprake in 50 G.J. in Athene, Griekeland, gehou (Hand. 17:16-34). Dit was nadat sekere Atheners Paulus geneem en hom na die Areopagus gelei het. Die Areopagus, of Heuwel van Ares (Marsheuwel), is die naam van ’n kaal, rotsagtige heuwel, sowat 113 meter hoog, onmiddellik noordwes van die Akropolis van Athene. Trappe wat in die rots uitgekap is, lei na die top, waar ’n mens vandag nog ruwe banke kan sien wat uit die rots gekap is en wat drie sye van ’n vierkant vorm. Die Areopagus bestaan nog en bevestig wat die Bybel oor die agtergrond van Paulus se historiese toespraak sê.
20. Waarvan getuig die Titusboog nog steeds, en hoe?
20 Die Titusboog. Jerusalem en sy tempel is in 70 G.J. deur die Romeine onder Titus verwoes. Die jaar daarop het Titus sy sege in Rome gevier, tesame met sy vader, keiser Vespasianus. Sewehonderd gekose Joodse gevangenes moes aan die oorwinningsoptog deelneem. Groot hoeveelhede oorlogsbuit, met inbegrip van tempelskatte, is ook ten toon gestel. Titus self het keiser geword en het van 79 tot 81 G.J. geregeer. Na sy dood is ’n groot monument, die Titusboog, voltooi en aan divo Tito (die vergoddelikte Titus) opgedra. Sy oorwinningsoptog word in vlakreliëf aan weerskante van die deurgang deur die boog uitgebeeld. Aan die een kant is daar ’n uitbeelding van die Romeinse soldate, met spiese sonder koppe en met lourierkranse op die kop, wat die heilige meublement uit Jerusalem se tempel dra. Dit sluit in die sewe-armige kandelaar en die tafel van die toonbrode, waarop die heilige trompette gesien kan word. Die reliëf aan die ander kant van die deurgang toon die seëvierende Titus waar hy in ’n wa staan wat deur vier perde getrek word, terwyl hy geleide gedoen word deur ’n vrou wat die stad Rome voorstel.j Elke jaar besigtig duisende toeriste hierdie triomfboog van Titus, wat steeds in Rome staan as stille getuie van die vervulling van Jesus se profesie en die verskriklike voltrekking van Jehovah se oordeel aan die opstandige Jerusalem.—Matt. 23:37–24:2; Luk. 19:43, 44; 21:20-24.
21. (a) In watter opsig het die argeologie dieselfde resultaat opgelewer as die ontdekking van manuskripte? (b) Wat is die regte standpunt om ten opsigte van die argeologie in te neem?
21 Net soos die ontdekking van ou manuskripte daartoe bygedra het om die suiwer, oorspronklike teks van die Bybel te herstel, so het die ontdekking van die tallose artefakte dikwels bevestig dat die dinge wat in die teks van die Bybel vermeld word tot in die kleinste besonderhede histories, chronologies en geografies betroubaar is. Dit sou egter ’n fout wees om te dink dat die argeologie in elke geval met die Bybel ooreenstem. Daar moet onthou word dat die argeologie nie ’n onfeilbare studieveld is nie. Argeologiese vondste is aan menslike vertolkings onderhewig, en sommige van hierdie vertolkings het van tyd tot tyd verander. Die argeologie het soms ongevraagde steun aan die waaragtigheid van God se Woord verleen. En soos wyle sir Frederic Kenyon, jarelange direkteur en hoofbibliotekaris van die Britse Museum, gesê het, die argeologie het die Bybel “begrypliker gemaak deur middel van ’n vollediger kennis van die agtergrond daarvan”.k Maar geloof moet op die Bybel berus en nie op die argeologie nie.—Rom. 10:9; Hebr. 11:6.
22. Watter bewyse sal in die volgende studie ondersoek word?
22 Die Bybel bevat in sy eie bladsye onomstootlike bewyse dat hy inderdaad die egte “woord van die lewende en blywende God” is, soos ons in die volgende studie sal sien.—1 Pet. 1:23, NW.
[Voetnote]
a Bible and Spade, 1938, S. L. Caiger, bladsy 29.
b Ancient Near Eastern Texts, 1974, J. B. Pritchard, bladsy 321; Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 941-2, 1104.
c Light From the Ancient Past, 1959, J. Finegan, bladsye 91, 126.
d Ancient Near Eastern Texts, bladsy 320.
e Ancient Near Eastern Texts, bladsy 288.
f Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 151-2; Light From the Ancient Past, bladsye 192-5.
g Ancient Near Eastern Texts, bladsy 306.
h Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 581-3.
i Ancient Near Eastern Texts, bladsy 316.
j Light From the Ancient Past, bladsy 329.
k The Bible and Archaeology, 1940, bladsy 279.
[Prente op bladsy 333]
Die Moabitiese Steen
’n Vergroting van die Tetragrammaton in ou letterskrif soos dit op die 18de reël, aan die regterkant, voorkom
[Prent op bladsy 334]
Koning Sanherib se Prisma
[Prent op bladsy 335]
Die Naboniduskroniek
[Prent op bladsy 336]
Denarius met die inskripsie van Tiberius
[Prent op bladsy 337]
Die Titusboog
[Foto-erkennings op bladsy 337]
Foto-erkennings vir Studie 9 in bladsyvolgorde:
bladsy 333, Musée du Louvre, Parys;
bladsy 334, met vergunning van die Oriental Institute, University of Chicago;
bladsy 335, met vergunning van die Trustees of The British Museum;
bladsy 336, met vergunning van die Trustees of The British Museum.