Nehemia
5 Maar daar was ’n groot gekla onder die mans en hulle vrouens teen hulle Joodse broers.+ 2 Party het gesê: “Ons het baie seuns en dogters. Ons moet graan in die hande kry sodat ons kan eet en bly lewe.” 3 Ander het gesê: “Ons gee ons landerye en ons wingerde en ons huise as waarborg sodat ons gedurende die voedseltekort graan kan kry.” 4 Nog ander het gesê: “Ons het ons landerye en ons wingerde as waarborg gegee sodat ons geld kan leen vir die koning se skatting.*+ 5 Ons is van dieselfde vlees en bloed as ons broers,* en ons kinders is net soos hulle kinders. En tog moet ons ons seuns en dogters as slawe verkoop, en van ons dogters is alreeds slavinne.+ Maar ons kan niks doen om dit te keer nie, want ons landerye en ons wingerde behoort aan ander mense.”
6 Ek het baie kwaad geword toe ek hoor hoe hulle kla en wat hulle sê. 7 Toe het ek in my hart hieroor nagedink, en ek het dit met die leiers en die amptenare bespreek en vir hulle gesê: “Elkeen van julle vra rente van sy eie broer.”*+
Daarna het ek as gevolg van hulle ’n groot vergadering gereël. 8 En ek het vir hulle gesê: “Ons het alles gedoen wat ons kon om ons Joodse broers wat aan die nasies verkoop was, terug te koop. Maar gaan julle nou julle eie broers verkoop,+ en gaan hulle weer aan ons verkoop word?” Toe hulle dit hoor, het hulle stilgebly, en hulle het niks gehad om te sê nie. 9 Toe het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Behoort julle nie ons God te vrees in alles wat julle doen,*+ sodat die nasies, ons vyande, ons nie kan bespot nie? 10 Wat meer is, ek, my broers en my dienaars leen vir hulle geld en graan. Laat ons asseblief ophou om uit te leen en rente te vra.+ 11 Gee asseblief vandag nog hulle landerye,+ hulle wingerde, hulle olyfboorde en hulle huise terug, sowel as die honderdste* van die geld, die graan, die nuwe wyn en die olie wat julle as rente van hulle vra.”
12 Toe het hulle gesê: “Ons sal hierdie dinge vir hulle teruggee en niks terugvra nie. Ons sal presies doen wat u sê.” Toe het ek die priesters geroep en daardie manne laat sweer om hierdie belofte te hou. 13 En ek het die voue van my kleed uitgeskud* en gesê: “Mag die ware God elke man wat nie hierdie belofte hou nie, so van sy huis en van sy besittings uitskud, en mag hy so uitgeskud en leeggemaak word.” Toe het die hele gemeente gesê: “Amen!”* En hulle het Jehovah geloof, en die volk het hulle belofte nagekom.
14 Wat meer is, van die dag af dat die koning my as hulle goewerneur+ in die land van Juda aangestel het, van die 20ste jaar+ af tot die 32ste jaar+ van koning Artasasʹta,+ 12 jaar lank, het nie ek of my broers die kos geëet wat die goewerneur die reg gehad het om te ontvang nie.+ 15 Maar die vorige goewerneurs het dit moeilik gemaak vir die volk en het elke dag 40 sikkels* silwer by hulle geneem vir brood en wyn. En hulle dienaars het die volk onderdruk. Maar ek het dit nie gedoen nie+ omdat ek God gevrees het.+
16 Wat meer is, ek het gehelp werk aan hierdie muur, en ons het nie ’n stuk grond verkry nie.+ Al my dienaars is daar bymekaargebring vir die werk. 17 Daar was 150 Jode en amptenare aan my tafel, sowel as die mense wat uit die nasies na ons toe gekom het. 18 Elke dag is een bul, ses van die beste skape en voëls op my onkoste* voorberei, en een keer elke tien dae het ons allerhande soorte wyn in oorvloed gehad. Ten spyte hiervan het ek nie aangedring op die kostoelaag wat die goewerneur die reg gehad het om te ontvang nie, want die werk was alreeds ’n swaar las op die volk. 19 Dink tog aan my en seën my, o my God, vir alles wat ek vir hierdie volk gedoen het.+