Die tweede brief aan die Korintiërs
4 Daarom, aangesien ons hierdie bediening het deur die genade wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. 2 Maar ons het die skandelike, agterbakse dinge agtergelaat, en ons doen nie dinge op ’n slinkse manier nie en vervals ook nie die woord van God nie.+ Maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons voor God aan by die gewetens van alle mense.+ 3 As die goeie nuus wat ons bekend maak, dan nou in werklikheid met ’n sluier bedek is, is dit bedek onder dié wat vernietig gaan word, 4 die ongelowiges. Die god van hierdie wêreld*+ het die verstande van die ongelowiges verblind+ sodat hulle nie die lig kan sien+ van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is nie.+ 5 Want ons preek nie oor onsself nie, maar oor Jesus Christus as Here, en oor onsself as julle slawe ter wille van Jesus. 6 Want dit is God wat gesê het: “Laat die lig uit die duisternis skyn”,+ en hy het op ons harte geskyn om dit te verlig met die glorieryke kennis van God deur Christus.+
7 Maar ons het hierdie skat+ in kleihouers,+ sodat dit duidelik kan wees dat die krag wat bo die normale is, van God af kom en nie uit onsself nie.+ 8 Ons word van alle kante af onder swaar druk geplaas, maar ons is nie so vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie heeltemal sonder ’n uitweg nie.*+ 9 Ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie.+ Ons word neergeslaan, maar nie vernietig nie.+ 10 Ons verduur altyd in ons liggame die dodelike behandeling wat Jesus deurgemaak het,+ sodat die lewe van Jesus ook in ons liggame openbaar gemaak kan word. 11 Want ons wat lewe, kom gedurig voor die dood te staan+ ter wille van Jesus, sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggame* openbaar gemaak kan word. 12 Die dood is dus in ons aan die werk, maar die lewe in julle.
13 Ons het dan nou dieselfde gees van geloof as waaroor daar geskryf is: “Ek het geloof beoefen, daarom het ek gepraat.”+ En ons beoefen ook geloof, en daarom praat ons. 14 Ons weet dat die Een wat Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor hom sal bring.+ 15 Want al hierdie dinge gebeur ter wille van julle, sodat die vermeerdering van die onverdiende goedheid nog oorvloediger sal wees as gevolg van die dankgebede wat baie meer mense doen om God te eer.+
16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar selfs al is die mens wat ons uiterlik is, besig om weg te teer, word die mens wat ons innerlik is, beslis van dag tot dag nuut gemaak. 17 Want die moeilike tye duur net ’n kort rukkie en is lig, maar dit lei vir ons tot ’n beloning* wat met niks vergelyk kan word nie* en wat vir ewig sal duur.+ 18 Ons hou nie ons oë op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie.+ Want die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig.