Die tweede brief aan die Korintiërs
5 Want ons weet dat as ons aardse huis, hierdie tent, afgebreek sou word,+ ons ’n gebou sal hê wat van God kom, ’n huis wat nie met hande gemaak is nie+ en wat vir ewig in die hemel bestaan. 2 Want in hierdie huis* kreun ons en begeer ons vurig om ons hemelse huis te ontvang.*+ 3 Dan, wanneer ons dit soos klere aantrek, sal ons nie kaal wees nie. 4 Ons wat in hierdie tent is, kreun en kry swaar. Dit is nie asof ons hierdie een wil uittrek nie, maar ons wil die ander een aantrek,+ sodat die sterflike deur die lewe ingesluk kan word.+ 5 En die een wat ons juis hiervoor voorberei het, is God,+ wat die gees aan ons gegee het as ’n waarborg* van wat sal kom.+
6 Daarom is ons altyd vol moed en weet ons dat ons nie by die Here is terwyl ons in hierdie liggaam woon nie,+ 7 want ons laat ons deur geloof lei, nie deur wat ons sien nie. 8 Maar ons is vol moed en wil liewer by die Here gaan woon as om in hierdie liggaam te wees.+ 9 Daarom, of ons nou by hom woon of nie, dit is ons doel om vir hom aanvaarbaar te wees. 10 Want ons moet almal voor die regterstoel van die Christus verskyn,* sodat elkeen kan kry wat hy verdien vir die dinge wat hy gedoen het terwyl hy in hierdie liggaam was, of dit nou goed of sleg* is.+
11 Omdat ons dan weet wat die vrees van die Here beteken, hou ons aan om mense te oorreed, maar God ken ons goed.* Ek hoop egter dat julle ons ook goed ken.* 12 Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle ’n rede om op ons trots te wees, sodat julle ’n antwoord kan gee vir dié wat trots is op die uiterlike+ maar nie op wat in die hart is nie. 13 Want as ons van ons verstand af was,+ was dit vir God, maar as ons gesond van verstand is, is dit vir julle. 14 Want die liefde wat die Christus het, spoor ons aan, want ons het tot die gevolgtrekking gekom dat een mens vir almal gesterf het+ omdat almal reeds gesterf het. 15 Hy het vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie,+ maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.
16 Van nou af beskou ons dus geen mens uit ’n menslike* oogpunt nie.+ Selfs al het ons Christus voorheen uit ’n menslike* oogpunt beskou, beskou ons hom nou beslis nie meer so nie.+ 17 As iemand dan in eenheid met Christus is, is hy ’n nuwe skepping.+ Die ou dinge het verbygegaan, en kyk! nuwe dinge het ontstaan. 18 Maar alles kom van God af, wat ons deur Christus met homself versoen het+ en ons die bediening van die versoening gegee het,+ 19 naamlik dat God deur middel van Christus ’n wêreld met homself versoen het+ en hulle oortredings nie teen hulle gehou het nie,+ en Hy het die boodskap van die versoening aan ons gegee.+
20 Ons is dus ambassadeurs+ wat as plaasvervangers vir Christus optree,+ asof God ’n versoek deur ons doen. As plaasvervangers vir Christus smeek ons: “Raak met God versoen.” 21 Die een wat sonde nie geken het nie,+ het vir ons ’n sonde-offer geword,* sodat ons deur middel van hom in God se oë regverdig kon word.+