Genesis
43 Die hongersnood in die land was baie erg.+ 2 Toe die graan wat hulle uit Egipte gebring het,+ op was, het hulle pa vir hulle gesê: “Gaan terug en koop vir ons ’n bietjie kos.” 3 Toe het Juda vir hom gesê: “Die man het ons uitdruklik gewaarsku: ‘Julle mag nie weer na my toe kom tensy julle broer by julle is nie.’+ 4 As Pa ons broer saam met ons stuur, sal ons gaan en kos koop. 5 Maar as Pa hom nie saamstuur nie, sal ons nie gaan nie, want die man het vir ons gesê: ‘Julle mag nie weer na my toe kom tensy julle broer by julle is nie.’”+ 6 Israel+ het gevra: “Hoekom het julle hierdie moeilikheid oor my gebring deur vir die man te sê dat julle nog ’n broer het?” 7 Hulle het geantwoord: “Die man het ons spesifiek oor ons familielede uitgevra: ‘Lewe julle pa nog? Het julle nog ’n broer?’ En ons het vir hom die feite vertel.+ Hoe kon ons geweet het dat hy sou sê: ‘Bring julle broer saam’?”+
8 Juda het toe sy pa, Israel, gesmeek: “Stuur die seun saam met my,+ en laat ons gaan sodat ons kan lewe en nie sterf nie+ – ons en Pa en ons kinders.+ 9 Ek sal die waarborg wees vir sy veiligheid.+ Pa kan my verantwoordelik hou. As ek hom nie terugbring en hom hier voor Pa laat staan nie, dan sal ek vir altyd teen Pa gesondig het. 10 Maar as ons nie so lank geneem het nie, kon ons nou al twee keer soontoe en terug gewees het.”
11 Toe het hulle pa, Israel, vir hulle gesê: “As dit dan so moet wees, moet julle die volgende doen: Neem die beste produkte van die land in julle sakke* en neem dit vir die man as ’n geskenk:+ ’n bietjie balsem,+ ’n bietjie heuning, gom,* die bas van gombome,+ pistachioneute en amandels. 12 Neem dubbel soveel geld saam met julle, en neem ook die geld terug wat in die opening van julle sakke gesit is.+ Miskien was dit ’n fout. 13 Neem julle broer en gaan terug na die man toe. 14 Mag God die Almagtige julle help om die man se genade te verkry, sodat hy julle ander broer en Benjamin sal vrylaat. Maar as ek my kinders moet verloor, dan moet ek hulle maar verloor!”+
15 Die manne het die geskenk en dubbel soveel geld saamgeneem. Toe het hulle saam met Benjamin na Egipte vertrek en weer voor Josef verskyn.+ 16 Toe Josef sien dat Benjamin by hulle is, het hy dadelik vir die man wat oor sy huis was, gesê: “Neem die manne na die huis en slag diere en berei ’n maaltyd voor, want die manne gaan vanmiddag by my eet.” 17 Die man het onmiddellik gedoen net soos Josef gesê het,+ en hy het hulle na Josef se huis geneem. 18 Maar die manne het bang geword toe hulle na Josef se huis geneem is, en hulle het begin sê: “Dit is weens die geld wat laas keer in ons sakke gesit is dat ons hierheen gebring word. Hulle gaan ons nou aanval, slawe van ons maak en ons donkies vat!”+
19 Hulle het dus na die man gegaan wat oor Josef se huis was en by die ingang van die huis met hom gepraat. 20 Hulle het gesê: “Verskoon ons, my heer! Ons het die vorige keer gekom om kos te koop.+ 21 Maar toe ons by die plek kom waar ons sou oornag en ons sakke begin oopmaak, het ons gesien dat elkeen se geld in die opening van sy sak is, die volle bedrag.+ Daarom wil ons dit graag persoonlik teruggee. 22 En ons het nog geld saamgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesit het nie.”+ 23 Toe het hy gesê: “Alles is reg. Moenie bang wees nie. Julle geld het eers na my toe gekom. Julle God en die God van julle vader het ’n skat in julle sakke gesit.” Daarna het hy Siʹmeon na hulle toe uitgebring.+
24 Toe het die man hulle in Josef se huis ingebring en vir hulle water gegee om hulle voete te was, sowel as voer vir hulle donkies. 25 En hulle het die geskenk gereedgemaak+ vir wanneer Josef in die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle ’n maaltyd daar sou eet.+ 26 Toe Josef in die huis ingaan, het hulle die geskenk na hom toe gebring in die huis en voor hom na die grond toe neergebuig.+ 27 Hierna het hy gevra hoe dit met hulle gaan en toe gesê: “Hoe gaan dit met julle bejaarde pa, van wie julle my vertel het? Lewe hy nog?”+ 28 Hulle het gesê: “Dit gaan goed met u kneg, ons pa. Hy lewe nog.” Toe het hulle laag gebuig.+
29 Toe hy opkyk en sy broer Benjamin sien, die seun van sy ma,+ het hy gevra: “Is dit julle broer, die jongste van wie julle my vertel het?”+ Hy het bygevoeg: “Mag jy God se goedkeuring geniet, my seun.” 30 Josef het toe vinnig uitgegaan, want toe hy sy broer sien, kon hy nie sy emosies beheer nie, en hy het na ’n plek gesoek om te huil. Hy het dus in ’n private kamer ingegaan en daar begin huil.+ 31 Daarna het hy sy gesig gewas en uitgegaan. Met sy emosies weer onder beheer het hy gesê: “Bedien die maaltyd.” 32 Hulle het hom bedien en sy broers apart bedien. Die Egiptenare wat by hom was, het ook apart geëet. Die Egiptenare kon nie ’n maaltyd saam met die Hebreërs eet nie, want dit is vir hulle heeltemal onaanvaarbaar.+
33 Elkeen van die broers het ’n sitplek voor hom gekry volgens hulle ouderdom, van die oudste, volgens sy reg as die eersgeborene,+ tot die jongste, en hulle het heeltyd verbaas na mekaar gekyk. 34 Hy het heeltyd porsies kos van sy tafel na hulle s’n gestuur, maar hy het Benjamin se porsie vyf keer groter as al die ander se porsies gemaak.+ So het hulle aangehou om saam met hom te eet en te drink totdat hulle genoeg gehad het.