Aan die Hebreërs
6 Noudat ons die basiese leringe+ oor die Christus agtergelaat het, moet ons hard werk om geestelik volwasse te word.+ Laat ons dit doen sonder om weer ’n fondament te lê, naamlik berou oor dooie werke, geloof in God, 2 die leringe oor verskillende dope, die oplê van hande,+ die opstanding van die dooies+ en die ewige oordeel. 3 En met God se hulp sal ons dit doen.
4 Want dié wat voorheen die lig ontvang het+ en wat die hemelse vrye gawe geproe en heilige gees ontvang het 5 en wat die goeie woord van God en kragte van die wêreld wat kom,* ondervind het, 6 maar wat afvallig geword het,+ kan nie gehelp word om weer berou te toon nie, want hulle hang die Seun van God weer aan die paal vir hulleself en maak ’n bespotting van hom in die openbaar.+ 7 Want die grond ontvang ’n seën van God wanneer dit die reën indrink wat dikwels daarop val en dan ’n oes voortbring vir dié wat dit bewerk. 8 Maar as dit dorings en dissels voortbring, word dit verwerp en word dit amper vervloek, en uiteindelik sal dit verbrand word.
9 Maar al sê ons dit, geliefdes, is ons in julle geval oortuig van iets beters, iets wat tot redding lei, al praat ons so. 10 Want God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle werk en die liefde wat julle vir sy naam getoon het+ deurdat julle die heiliges gedien het en bly dien nie. 11 Maar ons wil hê dat elkeen van julle net so hardwerkend moet wees sodat julle hoop tot die einde toe+ heeltemal seker kan wees,+ 12 sodat julle nie lui sal word nie,+ maar navolgers sal wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes sal ontvang.
13 Want toe God sy belofte aan Abraham gemaak het, het hy by homself gesweer+ omdat hy by niemand groter kon sweer nie 14 en gesê: “Ek sal jou beslis seën en jou beslis vermeerder.”+ 15 En nadat Abraham geduldig gewag het, het hy hierdie belofte ontvang. 16 Want mense sweer by iemand wat groter as hulle is, en hulle eed is die einde van elke saak, aangesien dit vir hulle ’n wetlike waarborg is.+ 17 Toe God besluit het om vir die erfgename van die belofte+ duideliker te toon dat sy voorneme* nie kan verander nie, het hy dit op dieselfde manier met ’n eed gewaarborg.* 18 Hierdie twee dinge is onveranderlik, en dit is onmoontlik vir God om te lieg.+ Deur middel daarvan kry ons wat na die skuilplek gevlug het, die kragtige aanmoediging om stewig vas te hou aan die hoop wat ons het. 19 Ons het hierdie hoop+ as ’n anker vir die siel.* Dit is seker en vas en lei ons verby die gordyn,*+ 20 waar ’n voorloper ter wille van ons ingegaan het, naamlik Jesus,+ wat vir ewig ’n hoëpriester soos Melgiseʹdek geword het.+