Genesis
42 Toe Jakob uitvind dat daar graan in Egipte is,+ het hy vir sy seuns gevra: “Hoekom doen julle nie iets nie?” 2 Hy het bygevoeg: “Ek het gehoor dat daar graan in Egipte is. Gaan soontoe en koop vir ons graan, sodat ons kan bly lewe en nie sterf nie.”+ 3 Tien van Josef se broers+ het dus gegaan om graan in Egipte te koop. 4 Maar Jakob het Benjamin,+ Josef se broer, nie saam met sy ander broers gestuur nie, want hy het gesê: “Dalk kom hy iets oor.”+
5 So het Israel se seuns saam met die ander gekom wat kos kom koop het, want die hongersnood het na die land Kanaän versprei.+ 6 Josef was in beheer van die land,+ en hy het graan aan mense van oral oor die aarde verkoop.+ Toe Josef se broers by hom kom, het hulle voor hom neergebuig met hulle gesigte na die grond toe.+ 7 Josef het sy broers dadelik herken toe hy hulle sien, maar hy het nie sy identiteit aan hulle bekend gemaak nie.+ Daarom het hy hulle kortaf gevra: “Waar kom julle vandaan?” Hulle het geantwoord: “Uit die land Kanaän om kos te koop.”+
8 Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie. 9 Josef het onmiddellik die drome onthou wat hy van hulle gedroom het,+ en hy het vir hulle gesê: “Julle is spioene! Julle het gekom om te sien waar die land aangeval kan word!”* 10 Toe het hulle vir hom gesê: “Nee, my heer, u knegte het gekom om kos te koop. 11 Ons is almal seuns van dieselfde man. Ons is eerlike manne. U knegte is nie spioene nie.” 12 Maar hy het vir hulle gesê: “Dit is nie waar nie! Julle het gekom om te sien waar die land aangeval kan word!” 13 Hulle het gesê: “U knegte is 12 broers.+ Ons is die seuns van dieselfde man+ in die land Kanaän, en die jongste is nou by ons pa,+ maar die ander een lewe nie meer nie.”+
14 Josef het vir hulle gesê: “Dit is net soos ek gesê het: ‘Julle is spioene!’ 15 Ek sal julle toets om te sien of julle die waarheid praat: So waar as wat Farao lewe, julle sal nie hierdie plek verlaat totdat julle jongste broer hierheen kom nie.+ 16 Een van julle moet julle broer gaan haal terwyl die res van julle gevange gehou word. So sal ek kan sien of julle die waarheid praat. Maar as julle lieg, so waar as wat Farao lewe, dan is julle spioene.” 17 Toe het hy hulle vir drie dae saam laat opsluit.
18 Josef het op die derde dag vir hulle gesê: “Doen die volgende en bly lewe, want ek vrees God. 19 As julle eerlik is, laat een van julle broers hier ’n gevangene bly, maar die res van julle mag gaan en graan saamneem sodat julle huishoudings nie honger ly nie.+ 20 Bring dan julle jongste broer na my toe om te bevestig dat julle woorde betroubaar is, en dan sal julle nie sterf nie.” En hulle het dit gedoen.
21 En hulle het vir mekaar gesê: “Ons word beslis gestraf as gevolg van ons broer,+ want ons het gesien hoe angstig hy was toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Daarom het hierdie moeilikheid oor ons gekom.” 22 Toe het Ruben hulle geantwoord: “Het ek nie vir julle gesê: ‘Moenie teen die kind sondig nie’? Maar julle wou nie luister nie.+ Nou word sy bloed van ons teruggeëis.”+ 23 Maar hulle het nie geweet dat Josef verstaan nie, want hy het deur middel van ’n tolk met hulle gepraat. 24 En hy het van hulle af weggedraai en begin huil.+ Toe hy na hulle terugkeer en weer met hulle praat, het hy Siʹmeon+ van hulle af weggeneem en hom voor hulle oë vasgebind.+ 25 Daarna het Josef die bevel gegee dat hulle sakke* vol graan gemaak moet word, dat elke man se geld in sy sak teruggesit moet word en dat daar vir hulle padkos vir die reis gegee moet word. En dit is vir hulle gedoen.
26 Hulle het hulle graan op hulle donkies gelaai en daarvandaan vertrek. 27 Toe een van hulle sy sak oopmaak om vir sy donkie voer te gee by die plek waar hulle sou oornag, het hy sy geld in die opening van sy sak gesien. 28 Hy het vir sy broers gesê: “My geld is terug, en dit is hier in my sak!” Hulle het bang geword en angstig vir mekaar gesê: “Wat het God aan ons gedoen?”
29 Toe hulle by hulle pa, Jakob, in die land Kanaän kom, het hulle hom alles vertel wat met hulle gebeur het. Hulle het gesê: 30 “Die man in beheer van die land was onvriendelik toe hy met ons gepraat het+ en het ons daarvan beskuldig dat ons spioene is. 31 Maar ons het vir hom gesê: ‘Ons is eerlike manne. Ons is nie spioene nie.+ 32 Ons is 12 broers,+ seuns van dieselfde pa. Een lewe nie meer nie,+ en die jongste is nou by ons pa in die land Kanaän.’+ 33 Maar die man in beheer van die land het vir ons gesê: ‘So sal ek weet dat julle eerlik is: Los een van julle broers by my.+ Neem dan kos sodat julle huishoudings nie honger ly nie en gaan.+ 34 En bring julle jongste broer na my toe, sodat ek kan weet dat julle nie spioene is nie, maar dat julle eerlike manne is. Dan sal ek julle broer vir julle teruggee, en julle sal in die land kan handel dryf.’”
35 Toe hulle hulle sakke leegmaak, was elkeen se sakkie geld in sy sak. En toe hulle en hulle pa hulle sakkies geld sien, het hulle bang geword. 36 Jakob, hulle pa, het uitgeroep: “Julle het my van my kinders beroof!+ Josef is nie meer daar nie+ en Siʹmeon is nie meer daar nie,+ en nou gaan julle Benjamin wegneem! Hoe kan al hierdie dinge met my gebeur?” 37 Maar Ruben het vir sy pa gesê: “Pa kan my eie twee seuns doodmaak as ek hom nie terugbring nie.+ Plaas hom in my sorg, en ek sal hom na Pa toe terugbring.”+ 38 Maar hy het gesê: “My seun sal nie saam met julle gaan nie, want sy broer is dood en hy alleen het oorgebly.+ As hy iets oorkom op die pad, dan sal julle beslis my grys hare met droefheid na die Graf*+ laat afgaan.”+