Ons beskou die wêreld
Duitse kerke erken aandeel in Slagting
Januarie 1995 was 50 jaar nadat mense uit die konsentrasiekamp in Auschwitz, Pole, bevry is, waar Jode, Slawe, Sigeuners, Jehovah se Getuies en ander sistematies deur die Nazi’s vervolg is. Party kerke in Duitsland aanvaar ’n deel van die blaam. Die Süddeutsche Zeitung het berig dat die Konferensie van Duitse Biskoppe die “skuldbelaaide geskiedenis van ons land en ook ons kerk” beskryf het en erken het dat “Katolieke baie foute begaan het en baie skuld dra. Heelparty het toegelaat dat hulle oorreed word om die Nasionaal-Sosialistiese ideologie te aanvaar en het onverskillig teenoor die misdade bly staan.” Die voorsitter van die Raad van Protestantse Kerke in Duitsland het erken dat “ons in hierdie bitter proses van erkentenis bewus geword het van die feit dat selfs Christelike teologie en die kerk ’n aandeel gehad het in die lang geskiedenis van vervreemding van en vyandskap teenoor die Jode”.
’n Tempel vir die verbreking van verhoudings
Mense wat op ’n egskeiding of ’n verbreking van ander ongewenste verhoudings hoop, stroom na ’n Sjinto-tempel in Asjikaga, 80 kilometer noord van Tokio. Dit staan bekend as die Bandverbrekingstempel en is glo die enigste Sjinto-tempel in Japan wat versoeke om egskeidings aanvaar, sê die koerant Asahi Evening News. ’n Horde aanbidders gaan daagliks daarheen. Elkeen skryf sy of haar versoek op ’n ema, ’n dun houtbord, hang dit in die tempelgebied op en bid dan dat die gode hulle moet verhoor. Omtrent honderd jaar gelede, toe die heiligdom gestig is, verduidelik die koerant, “het die vrouens van die ryk plaaslike handelaars gebede geskryf waarin hulle gevra het dat hulle mans hulle minnaresse los en na hulle terugkeer”. Vandag is die opregte versoeke egter nie meer om versoening nie.
Oë doen dubbele werk
Die menseoog verrig meer as een funksie, sê navorsers. Een is natuurlik ons gesigsvermoë. Die ander funksie, wat onlangs ontdek is en waaroor daar in The New England Journal of Medicine berig is, is om ligprikkels te registreer wat die liggaam se interne daaglikse klok beheer. Omdat hierdie tweede funksie nie van gesigsvermoë afhanklik is nie, kan selfs mense wat heeltemal blind is en geen ligwaarnemingsvermoë het nie ’n normaal werkende biologiese klok hê. Die bevinding kan tot veranderinge in die behandeling van blindes lei. Een algemene gebruik is byvoorbeeld om die oë van diegene wat heeltemal blind is te verwyder en dit met kunsoë te vervang wat aantrekliker lyk. Mense wat heeltemal blind is, word ook nie gewoonlik vir siektes soos gloukoom, wat die retina se vermoë verhinder om lig te registreer, getoets nie. Dr. Charles A. Czeisler, die hoof van die navorsingspan, het gesê dat die meeste van hierdie mense gevolglik nie meer hulle interne klok met die 24 uur lange dag-en-nag-siklus kan reguleer nie, en dit lei tot ’n permanente slaapafwyking wat vlugtamheid naboots.
’n “Beskermheilige” vir rolprente
Die rolprentbedryf sal binnekort sy eie “beskermheilige” hê, berig die koerant El País van Madrid, Spanje. Die Vatikaan oorweeg verskeie kandidate vir die herdenking van die rolprentbedryf se eerste eeufees. Die gunsteling is Fransiskus van Assisi, die uitvinder van die Geboortetoneel, wat sommige rolprentvervaardigers as ’n vroeë stadium van “Hollywood-stelle” beskou. Nog ’n naam wat genoem is, is dié van Juan Bosco, ’n Salesiaanse priester wat kinders deur middel van vermaak geleer het. Een rolprentregisseur het “sint Dominikus de Guzmán voorgestel wat een van die eerste groot vertonings, die Inkwisisie, aan die gang gesit het”. Televisie, ’n onlangser verskynsel, het reeds ’n “sint” Klara as “beskermheilige”. Sy is benoem omdat sy altyd die mis bygewoon het deur deur die selvenster te kyk waar sy gevange gehou is. Daar is egter geen bewys dat heiliges beheer oor programme het nie.
Hiernamaals of hallusinasies?
Die media publiseer dikwels verslae van “skyndoodondervindinge”, waarin pasiënte wat ’n skyndood ervaar het later beweer dat hulle ’n vlugtige blik op die hiernamaals gehad het. Die eksperimente van ’n span Duitse neuroloë het onlangs getoon dat sulke ondervindinge te wyte is aan ’n suurstoftekort, wat hallusinasies veroorsaak. Volgens die Nederlandse koerant De Gooi en Eemlander het die span 42 gesonde jongmense bestudeer wat ’n maksimum van 22 sekondes lank deur middel van hiperventelasie bewusteloos gemaak is. Daarna het die jongmense sensasies en beelde beskryf wat op ’n merkwaardige wyse met “skyndoodondervindinge” ooreenkom. Party het vertel dat hulle helder kleure en ligte gesien het, dat hulle hulleself vanuit die lug gesien het, dat hulle hulle geliefdes in ’n aangename omgewing gesien het, ensovoorts. Die meeste jongmense het die sensasies as aangenaam en vreedsaam beskryf—in so ’n mate dat hulle nie na bewustheid wou terugkeer nie.
Helfte van die aarde is onaangeraak
“Ondanks die mens se beste pogings is net meer as die helfte van die planeet Aarde se landoppervlak nog wildernis”, berig die tydskrif New Scientist. ’n Nuwe studie “het bevind dat 90 miljoen vierkante kilometer land, ongeveer 52 persent van die totale landoppervlak, nog ongerep is”. Waarom is dit soveel hoër as die resultate van ’n opname in 1989, wat getoon het dat net ’n derde van die planeet wildernis is? Omdat hierdie jongste studie, deur Lee Hannah van Conservation International, kleiner gebiede van net 1 000 vierkante kilometer ingesluit het, in plaas van die minimum van 4 000 vierkante kilometer wat vantevore gebruik is. “’n Studie wat op ’n selfs kleiner skaal gedoen word, sal waarskynlik toon dat ’n groter persentasie van die planeet deur mense onaangeraak is”, het die artikel gesê. Hannah het egter daarop gewys dat ’n groot deel van die ongerepte land uit “klip, ys en sand” bestaan wat nie vir mense of natuurlewe geskik is nie. “Natuurlike habitat is as gevolg van menslike inmenging oor byna driekwart van die planeet se bewoonbare oppervlak verdring”, het hy gesê. Die opname se drie kategorieë was: ongerep (52 persent), gedeeltelik ongerep (24 persent) en gebruik (24 persent).
Dobbelaars vir God?
Elke jaar stroom sowat 29 miljoen mense van oor die hele wêreld na Las Vegas, Nevada, VSA. Die meeste is natuurlik daar om te dobbel, maar baie van hulle wil ook bid en aanbid. Daarom het die Katolieke bisdom in die gebied onlangs ’n kerk van $3,5 miljoen (R12,7 miljoen) met sitplek vir 2 200 gebou, skaars ’n blok weg van vier van die grootste hotel-casino’s in die stad, berig The New York Times. Aangesien sowat 80 persent van die aanbidders by die kerk toeriste is en die meeste van hulle in die stad is om te dobbel, moedig die kerk hulle aan om casinospeelmunte in die kollektebord te sit. Die kerk het ook ’n geskenkewinkel waar klante aangemoedig word om hulle speelmunte as betaalmiddel te gebruik. Die winkel het selfs ’n aandenkingspeelmunt met ’n beeld van Jesus Christus daarop. Die kerk het ’n tyd lank ’n Fransiskaanse monnik gehad wat weekliks by al die casino’s aangegaan het om die speelmunte wat aan die kerk geskenk is vir kontant te gaan verruil.
Die nadele van bedrus
“Langdurige bedrus hou vir pasiënte meer nadele as voordele in”, sê The Times van Londen. Sowat 50 jaar gelede het die geneesheer sir Richard Asher hierdie standaard mediese gebruik bevraagteken en die aandag gevestig op gesondheidsgevare soos trombose, spierverswakking, kalsiumverlies in die bene, nierstene, hardlywigheid en depressie. Studies het intussen hierdie waarskuwing bevestig, en lykskouings toon dat die gevaar van trombose wat deur ’n dodelike longslagaarverstopping gevolg word direk verband hou met die tyd wat ’n pasiënt voor sy dood in die bed rus. Daarenteen beveel dokters bedrus aan in gevalle van ernstige rugpyn met heupjig en komplikasies in die gevorderde stadium van swangerskap. Trouens, met ander akute en ernstige siektes is daar dalk geen alternatief as om te rus nie. Maar as die gevaar eers verby is, meen dokters dat ’n mens vinniger gesond word as jy opstaan en rondbeweeg.
Wêreld se rykste lande
Switserland is die wêreld se rykste land, volgens ’n verslag van die Wêreldbank. Sy bruto nasionale produk per capita—die waarde van alle goedere en dienste gelewer—was R132 168 in 1993. Dit was amper R44 000 meer as dié van die Verenigde State, wat sewende op die lys is. Na Switserland volg Luxemburg, Japan, Denemarke, Noorweë, Swede, die Verenigde State, Ysland, Duitsland en Koeweit. Mosambiek is steeds die armste land ter wêreld, met slegs R290 per persoon. Dit is opmerkenswaardig dat ’n aantal Midde-Oosterse olieproduserende lande nie onder die eerste tien verskyn nie, wat ’n weerspieëling van die dalende olieprys is. Die lys verander egter wanneer ’n mens koopkrag in ag neem. Omdat pryse in die Verenigde State laer is as in die meeste ryk lande, kry Amerikaners meer vir hulle geld as enige ander land buiten Luxemburg. Die lys verander dan na: Luxemburg, die Verenigde State, Switserland, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Hongkong, Japan, Duitsland, Singapoer en Kanada.