My stokperdjie is sterrekunde
EK WOON op die Noord-eiland van Nieu-Seeland, in die Stille Suidsee. Sedert ek ’n seun van 15 was, stel ek al in sterrekunde belang. Dit is ’n rustige stokperdjie wat so eenvoudig of so ingewikkeld kan wees as wat jy verkies. Wees daarvan verseker dat jy nie ’n graad in fisika nodig het of in wiskunde hoef uit te blink om sterrekunde te geniet nie.
Jy het toerusting vir die meeste stokperdjies nodig. Wat sal jy dus nodig hê? Hoofsaaklik jou oë. Wanneer jy in die nag uit die verligte vertrekke van jou huis uitgaan, sal dit ongeveer tien minute duur vir jou oë om aan die donkerte gewoond te raak. As jy ’n stadsbewoner is, sal jy dalk opmerk dat straat- en huisligte jou uitsig belemmer. Wat kan jy daaromtrent doen? Vir goeie resultate moet jy in ’n posisie wees waar jy hierdie ligbronne nie sien nie.
Jy sal die beste kyktoestande ervaar op ’n donker, wolklose nag met geen maan nie. Die maan verleen ’n sagte gloed aan die atmosfeer, wat talle dowwer sterre laat verdwyn. Hoeveel sterre kan jy met die blote oog sien? Gewoonlik tussen 2000 en 4000. Die sterre nader aan die horison is moeiliker om te sien omdat jy deur ’n dikker laag atmosfeer kyk, wat meer verdowwing en verwringing veroorsaak. Party mense is verbaas dat net ’n betreklik klein aantal sterre met die blote oog gesien kan word, aangesien dit lyk asof daar miljoene is wanneer ons die eerste keer opkyk.
’n Ster of ’n planeet?
Wanneer jy ’n helderder ligkolletjie sien, ontstaan die vraag: Is dit ’n ster of ’n planeet? Sterre is ligbronne, reusekernmasjiene wat hulle elektromagnetiese seine in die ruimte uitstuur. Hulle is baie ver van die aarde af, die naaste ster—buiten die son—is 4,3 ligjare hiervandaan. Lig trek teen ongeveer 299 000 kilometer per sekonde. Omdat die lig van sterre so ver trek om ons te bereik, raak dit nogal flou. Dan moet dit deur die groter digtheid van die aarde se atmosfeer gaan, wat die ligstrale op verskillende maniere buig. Die kinderrympie wat sê: “Twinkle, twinkle, little star, how I wonder what you are,” gee ’n bietjie betekenis aan die stil hemel. As dit flikker, is dit ’n ster.
Planete weerkaats egter bloot lig van die son, net soos die maan. Hulle is betreklik naby aan ons, aangesien hulle lede is van die son se familie, die sonnestelsel. Planete wat met die blote oog gesien kan word, weerkaats dus ’n lig wat bestendig is en nie flikker nie.
Hulp is beskikbaar
As jy graag meer wil weet, sal ek jou vertel van die dinge wat my help om my stokperdjie baie genotvoller te maak. Die eerste is ’n sterre-atlas. My huidige eksemplaar is Norton’s Star Atlas, Hersiene Uitgawe. Dit het uitstekende kaarte van die hemele, asook inligting wat die beginner help om die sterrekundige terme te leer ken.
My tweede hulpmiddel is ’n planisfeer, wat uit twee plastiekskywe bestaan, een bo-op die ander, wat in die middel aan mekaar vas is. Die boonste skyf, wat ’n venster in het, draai op die onderste skyf waarop die sterrekaart gedruk is en kan volgens die bepaalde tyd en datum gestel word. Nou kan jy vasstel watter sterre sigbaar is vanwaar jy kyk op die uur en tyd van die jaar en op jou breedtegraad. In Nieu-Seeland kan ’n Philips’ Planisphere maklik by baie boekwinkels gekoop of bestel word. Wanneer jy ’n planisfeer koop, moet jy weet wat die breedtegraad van jou tuisdorp, noord of suid van die ewenaar, is.
Moet jy ’n teleskoop koop? As jy hierdie stokperdjie gaan beoefen, glo ek jy sal uiteindelik. Daar is drie soorte—refraktor, reflektor en refraktor-reflektor. Besoek julle openbare biblioteek vir boeke oor sterrekunde en teleskope. Dit is verbasend maklik om self ’n reflektorteleskoop te maak. Koop ’n goedkoop boek oor hoe om ’n sterrekundige teleskoop te maak. Dit sal ’n interessante projek wees.
Jy sien ’n groot deel van die hemel deur ’n verkyker. Jy kan pragtige sterrehope sien wat soos juwele in die fluweelswart hemel hang. Jy kan yl wolkies sien wat eintlik newels, stof- en gaswolke, ligjare hiervandaan in die diepruim is. Die helder band van die Melkweg kan van enige plek af op Aarde gesien word. Verkykers is ook die beste wanneer ’n mens in die hemel soek of kyk na komete, swerwers wat van tyd tot tyd stilletjies in die ruimte naby ons inkom. Plaaslike koerante bevat dalk weeklikse artikels wat daarop gemik is om jou te help om die naghemel te bekyk.
Het jy ’n persoonlike rekenaar? Daar is ’n paar programme oor sterrekunde wat ’n beginner sal geniet, asook ’n paar gevorderdes. Ek gebruik my rekenaar om allerhande inligting oor my stokperdjie te stoor. Daar is ook gewilde tydskrifte oor sterrekunde. Die Ontwaak! het van tyd tot tyd artikels oor die onderwerp.
Maan en planete
Dit is natuurlik glad nie moeilik om die maan op te spoor nie. Wanneer hy sigbaar is, oorheers hy die naghemel. Dit is weliswaar pragtig om te sien hoe ’n volmaan van oos na wes beweeg namate die nag sy einde nader. As ’n mens mooi kyk, met die sterre as ’n gids, sien jy dat die maan eintlik in dieselfde rigting as ons beweeg, van wes na oos. Kyk oor ’n tydperk van een of twee uur of op twee opeenvolgende aande hierna en let op die posisie van die vaste sterre in verhouding tot die maan. Omdat die aarde vinniger om sy as draai as wat die maan in sy wentelbaan beweeg, laat ons die maan agter.
Die sterrekyker kan voor ’n probleem te staan kom wanneer die maan voller is—te veel lig. Ek het dit nog altyd baie geniet om na die maan te kyk wanneer dit 4 tot 7 dae oud of 22 tot 24 dae oud is, aangesien die skaduwees van sy berge en kraterrande langer en skerper is. Aangesien die maan die enigste hemelliggaam is wat naby genoeg is dat ons die permanente kenmerke op sy oppervlak met die blote oog kan sien, lyk sy oppervlak anders as jy noord of suid van die ewenaar is.
Dieselfde geld ook vir die sterrebeelde, of sterpatrone, en daarom is dit verkieslik dat jy kaarte gebruik wat vir jou halfrond gedruk is. Anders is hulle onderstebo sowel as agterstevoor—ietwat verwarrend, veral vir ’n beginner. Ek moet ook net noem dat ’n sterrekundige teleskoop die voorwerp waarna daar gekyk word onderstebo weergee. Maar waar is die planete? Eerstens is daar twee dinge wat ons moet weet: Wat is die ekliptika en die sodiak?
Die ekliptika is die skynbare baan van die son op sy jaarlikse reis, met die sterre as ’n agtergrond. Die ekliptika sny die hemelewenaar teen ongeveer 23,5 grade. Die sodiak, wat “kring van die diere” beteken, is ’n denkbeeldige strook wat ongeveer 8 grade weerskante van die ekliptika is. Die son, maan en planete wat met die blote oog gesien kan word, is altyd binne die grense van die sodiak. Jy sal weet dat jy na ’n planeet kyk as jy ’n paar opeenvolgende aande gekyk het, want ’n planeet se posisie sal verander tussen die skynbaar vaste sterre.
Maar na watter planeet kyk ek? Mercurius en Venus sal altyd na die weste wees in die aandhemel en na die ooste in die oggend, nooit bo ons nie. Net die Maan is helderder as Venus. Jy ken Venus ongetwyfeld as die oggendster of die aandster. Die planete wie se bane om die Son groter is as dié van die aarde, beweeg van oos na wes. Mars, Jupiter, Saturnus en Uranus kan ook met die blote oog gesien word. Aanvanklik sal die een of ander inligtingsbron oor hulle posisie geraadpleeg moet word, aangesien hulle tussen die sterre wegkruip.
Die sterre
Jy sal altyd vind dat die sterre fassinerende ligpunte is. Om jouself met die sterrebeelde vertroud te maak, kan die begin wees van ’n nuwe vriendskap met hierdie ontsagwekkende skeppingswerke van die Skepper.
Sommige sterre is vir ons van besondere belang. Een is Sirius; dit is die helderste ster. Dit is ook ’n dubbelster, twee sterre wat om dieselfde middelpunt draai. Die tweede helderste ster is Canopus. Ruimtetuie het al hierdie ster gebruik om hulle posisie in die ruimte vas te stel en om hulle antennas na die aarde te draai om opdragkommunikasie te vergemaklik.
’n Paar waarskuwings
(1) Sterrekunde moet ’n stokperdjie wees, nie ’n obsessie nie. ’n Uitstekende reël is: “Die Skepper voor die skepping”. (2) Moet nooit, ooit, met ’n teleskoop of ’n verkyker na die son kyk of na iets in die lug naby die son soek nie; dit kan jou blind maak. (3) Moenie alles glo wat jy lees nie. Ou boeke kan jou mislei, en so ook onbewese teorieë. (4) Moenie te gou geld aan toerusting bestee nie, aangesien jy belangstelling kan verloor.
My stokperdjie is ’n eindelose avontuur vol ontdekkings en verwondering. Nie eens wanneer ons vir ewig in God se nuwe wêreld lewe, sal ons al die geheime van die heelal leer nie (Prediker 3:11; 8:17). Maar dit sal dan vir ewig fassinerend wees om al hoe meer daarvan te leer.—Bygedra.