Hoofstuk 24
’n Soet en bitter boodskap
Visioen 6—Openbaring 10:1–11:19
Onderwerp: Die visioen van die boekrolletjie; ondervindinge in die tempel; die sewende trompetstoot
Tyd van vervulling: Vandat Jesus in 1914 op die troon geplaas is tot die groot verdrukking
1, 2. (a) Wat het die tweede wee tot gevolg gehad, en wanneer sal daar gesê word dat hierdie wee verby is? (b) Wie sien Johannes nou uit die hemel neerdaal?
DIE tweede wee was verwoestend. Dit het die Christendom en haar leiers, “’n derde van die mense”, geteister en hulle geestelik dooie toestand blootgelê (Openbaring 9:15). Johannes het ongetwyfeld daarna gewonder wat die derde wee nog kon bring. Maar wag! Die tweede wee is nog nie klaar nie—nie totdat ons die punt bereik wat in Openbaring 11:14 opgeteken is nie. Voor daardie tyd gaan Johannes ’n wending van gebeure aanskou waaraan hy self ’n daadwerklike aandeel het. Dit begin met ’n ontsagwekkende skouspel:
2 “En ek het ’n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, geklee met ’n wolk, en daar was ’n reënboog op sy kop, en sy gesig was soos die son, en sy voete was soos vuurpilare.”—Openbaring 10:1.
3. (a) Wie is die “sterk engel”? (b) Wat is die betekenis van die reënboog op sy kop?
3 Wie is hierdie “sterk engel”? Dit is klaarblyklik die verheerlikte Jesus Christus in ’n ander rol. Hy is geklee met ’n wolk van onsigbaarheid, wat ons herinner aan Johannes se vroeëre woorde oor Jesus: “Kyk! Hy kom met die wolke, en elke oog sal hom sien, ook diegene wat hom deurboor het.” (Openbaring 1:7; vergelyk Matteus 17:2-5.) Die reënboog op sy kop herinner ons aan Johannes se vroeëre visioen van Jehovah se troon, met “’n reënboog wat in sy voorkoms soos ’n smarag is”. (Openbaring 4:3; vergelyk Esegiël 1:28.) Daardie reënboog het die kalmte en vrede rondom God se troon voorgestel. Net so sou hierdie reënboog op die engel se kop hom identifiseer as ’n spesiale vredesboodskapper, Jehovah se voorspelde “Vredevors”.—Jesaja 9:6, 7.
4. Wat beteken die feit dat (a) die gesig van die sterk engel “soos die son” was? (b) die engel se voete “soos vuurpilare” was?
4 Die gesig van die sterk engel was “soos die son”. Vroeër, in sy visioen van Jesus by God se tempel, het Johannes opgemerk dat Jesus se gesig “soos die son [was] wanneer hy in sy krag skyn” (Openbaring 1:16). Jesus, as “die son van regverdigheid”, skyn met genesing in sy vleuels ten behoewe van dié wat Jehovah se naam vrees (Maleagi 4:2). Nie net die gesig nie, maar ook die voete van hierdie engel is glorieryk, “soos vuurpilare”. Hy staan vas as die Een aan wie Jehovah “alle gesag in die hemel en op die aarde” gegee het.—Matteus 28:18; Openbaring 1:14, 15.
5. Wat sien Johannes in die hand van die sterk engel?
5 Johannes sê verder: “En hy het in sy hand ’n geopende boekrolletjie gehad. En hy het sy regtervoet op die see gesit, maar sy linkervoet op die aarde” (Openbaring 10:2). Nog ’n boekrol? Ja, maar hierdie keer is dit nie verseël nie. Ons kan verwag om binnekort saam met Johannes verdere opwindende onthullings te sien. Maar eers word die agtergrond vir wat gaan volg, vir ons geskilder.
6. (a) Waarom is dit gepas dat Jesus se voete op die aarde en die see is? (b) Wanneer is Psalm 8:5-8 ten volle vervul?
6 Laat ons terugkeer na die beskrywing van Jesus. Sy vurige voete is op die aarde en die see, waaroor hy nou volle gesag uitoefen. Dit is net soos daar in die profetiese psalm gesê word: “U [Jehovah] het hom [Jesus] ook ’n bietjie minder as goddelike wesens gemaak, en met heerlikheid en prag het u hom toe gekroon. U laat hom oor die werke van u hande heers; alles het u onder sy voete gestel: kleinvee en beeste, hulle almal, en ook die diere van die oop veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, enigiets wat deur die paaie van die seë trek.” (Psalm 8:5-8; sien ook Hebreërs 2:5-9.) Hierdie psalm is ten volle vervul in 1914, toe Jesus as Koning van God se Koninkryk gekroon is en die tyd van die einde begin het. Wat Johannes hier in ’n visioen sien, is dus sedert daardie jaar van toepassing.—Psalm 110:1-6; Handelinge 2:34-36; Daniël 12:4.
Die sewe donderslae
7. Hoe roep die sterk engel uit, en wat beteken sy uitroep?
7 Johannes se aanskouing van hierdie sterk engel word deur die engel self onderbreek: “En hy [die engel] het met ’n harde stem uitgeroep net soos wanneer ’n leeu brul. En toe hy uitroep, het die sewe donderslae hulle eie stemme laat hoor” (Openbaring 10:3). So ’n kragtige uitroep sou Johannes se aandag trek en bevestig dat Jesus waarlik “die Leeu . . . uit die stam Juda is” (Openbaring 5:5). Johannes sou boonop weet dat daar ook soms gesê word dat Jehovah “brul”. Jehovah se gebrul is ’n profetiese aankondiging van die herinsameling van geestelike Israel en die koms van die vernietigende “dag van Jehovah” (Hosea 11:10; Joël 3:14, 16; Amos 1:2; 3:7, 8). Dit is dan duidelik dat die leeuagtige uitroep van hierdie sterk engel soortgelyke groot gebeure vir die see en die aarde voorspel. Dit versoek die sewe donderslae om te praat.
8. Wat is die ‘stemme van die sewe donderslae’?
8 Johannes het voorheen donderslae uit die troon van Jehovah hoor uitgaan (Openbaring 4:5). In Dawid se dag is letterlike donder soms “die stem van Jehovah” genoem (Psalm 29:3). Toe Jehovah tydens Jesus se aardse bediening sy voorneme om sy eie naam te verheerlik, hoorbaar aangekondig het, het dit vir baie soos donder geklink (Johannes 12:28, 29). Dit is derhalwe redelik om die gevolgtrekking te maak dat die ‘stemme van die sewe donderslae’ Jehovah se uiting van sy voornemens is. Die feit dat daar “sewe” donderslae was, dui op die volkomenheid van wat Johannes gehoor het.
9. Wat beveel ’n stem uit die hemel?
9 Maar luister! Nog ’n stem weerklink. Dit gee ’n bevel wat ongetwyfeld vir Johannes vreemd klink: “En toe die sewe donderslae praat, het ek op die punt gestaan om te skryf; maar ek het ’n stem uit die hemel hoor sê: ‘Verseël die dinge wat die sewe donderslae gesê het, en moet dit nie neerskryf nie’” (Openbaring 10:4). Johannes moes gretig gewees het om hierdie dawerende boodskappe te hoor en op te teken, net soos die Johannes-klas vandag gretig gewag het dat Jehovah sy goddelike voornemens moet openbaar sodat hulle dit kon bekend maak. Sulke openbarings kom net op Jehovah se vasgestelde tyd.—Lukas 12:42; sien ook Daniël 12:8, 9.
Die einde van die heilige geheim
10. By wie sweer die sterk engel, en wat sweer hy?
10 Intussen het Jehovah ’n ander opdrag vir Johannes. Nadat die sewe donderslae weerklink het, praat die sterk engel weer: “En die engel wat ek op die see en op die aarde sien staan het, het sy regterhand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by die Een wat vir ewig en altyd lewe, wat die hemel en die dinge daarin en die aarde en die dinge daarin en die see en die dinge daarin geskep het: ‘Daar sal geen uitstel meer wees nie’” (Openbaring 10:5, 6). By wie sweer die sterk engel? Die verheerlikte Jesus sweer nie by homself nie, maar by die allerhoogste Gesag, Jehovah, die onsterflike Skepper van die hemele en die aarde (Jesaja 45:12, 18). Met hierdie eed verseker die engel Johannes dat daar geen verdere uitstel van God se kant sal wees nie.
11, 12. (a) Wat beteken die feit dat daar “geen uitstel meer” is nie? (b) Wat word tot ’n einde gebring?
11 Die Griekse woord wat hier met “uitstel” vertaal word, is khroʹnos, wat letterlik “tyd” beteken. Party is dus van mening dat hierdie verklaring van die engel soos volg vertaal moet word: “Daar sal geen tyd meer wees nie”, asof tyd soos ons dit ken, sal eindig. Maar die woord khroʹnos word hier sonder ’n bepaalde lidwoord gebruik. Dit beteken derhalwe nie tyd in die algemeen nie, maar eerder “’n tyd” of “’n tydperk”. Met ander woorde, daar sal geen verdere tydperk (of, uitstel) deur Jehovah wees nie. ’n Griekse werkwoord wat van khroʹnos afgelei is, word ook in Hebreërs 10:37 gebruik, waar Paulus uit Habakuk 2:3, 4 aanhaal en skryf: “Hy wat kom, . . . sal nie talm nie.”
12 “Geen uitstel meer” nie—hoe waardeer die bejaarde Johannes-klas tog vandag hierdie woorde! In watter opsig is daar geen uitstel nie? Johannes lig ons in: “Maar in die dae wanneer die sewende engel homself laat hoor, wanneer hy op die punt staan om op sy trompet te blaas, word die heilige geheim van God ooreenkomstig die goeie nuus wat hy aan sy eie slawe, die profete, bekend gemaak het, inderdaad tot ’n einde gebring” (Openbaring 10:7). Jehovah se tyd het aangebreek om sy heilige geheim tot ’n gelukkige klimaks te voer, met glorieryke sukses!
13. Wat is die heilige geheim van God?
13 Wat is hierdie heilige geheim? Dit hou verband met die saad wat aanvanklik in Eden beloof is en wat in die eerste plek Jesus Christus was (Genesis 3:15; 1 Timoteus 3:16). Dit het ook te doen met die identiteit van die vrou uit wie die Saad kom (Jesaja 54:1; Galasiërs 4:26-28). Verder sluit dit die sekondêre lede van die saadklas in, asook die Koninkryk waarin die Saad regeer (Lukas 8:10; Efesiërs 3:3-9; Kolossense 1:26, 27; 2:2; Openbaring 1:5, 6). Die goeie nuus oor hierdie unieke hemelse Koninkryk moet gedurende die tyd van die einde in die hele aarde verkondig word.—Matteus 24:14.
14. Waarom word die derde wee met God se Koninkryk verbind?
14 Dit is beslis die allerbeste nuus. En tog word die derde wee in Openbaring 11:14, 15 met die Koninkryk verbind. Waarom? Omdat die verkondiging van die goeie nuus dat die heilige geheim van God tot ’n einde gebring word—dit wil sê dat God se Messiaanse Koninkryk hier is—slegte nuus is vir mense wat Satan se stelsel van dinge verkies. (Vergelyk 2 Korintiërs 2:16.) Dit beteken dat die wêreldreëling waarvan hulle so baie hou, vernietiging nader. Die stemme van die sewe donderslae, wat sulke onheilspellende stormwaarskuwings bevat, word duideliker en harder namate Jehovah se groot dag van wraak nader kom.—Sefanja 1:14-18.
Die geopende boekrol
15. Wat sê die stem uit die hemel en die sterk engel vir Johannes, en watter uitwerking het dit op Johannes?
15 Terwyl Johannes wag dat daar op hierdie sewende trompet geblaas word en die heilige geheim van God tot ’n einde gebring word, ontvang hy ’n verdere opdrag: “En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, praat weer met my en sê: ‘Gaan, neem die geopende boekrol wat in die hand van die engel is wat op die see en op die aarde staan.’ En ek het na die engel toe gegaan en vir hom gesê om die boekrolletjie vir my te gee. En hy het vir my gesê: ‘Neem dit en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning.’ En ek het die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit opgeëet het, is my maag bitter gemaak. En hulle sê vir my: ‘Jy moet weer met betrekking tot volke en nasies en tale en baie konings profeteer.’”—Openbaring 10:8-11.
16. (a) Hoe het die profeet Esegiël ’n ondervinding soortgelyk aan dié van Johannes gehad? (b) Waarom het die boekrolletjie vir Johannes soet gesmaak, maar waarom was dit bitter om te verteer?
16 Johannes se ondervinding is nogal soortgelyk aan dié van die profeet Esegiël gedurende sy ballingskap in die land Babilonië. Hy is ook beveel om ’n boekrol te eet wat in sy mond soet gesmaak het. Maar toe dit sy maag gevul het, het dit hom die verantwoordelikheid gegee om bitter dinge vir die opstandige huis van Israel te voorspel (Esegiël 2:8–3:15). Die geopende boekrol wat die verheerlikte Jesus Christus vir Johannes gee, is ook ’n goddelike boodskap. Johannes moet met betrekking tot “volke en nasies en tale en baie konings” preek. Dit is vir hom soet om hierdie boekrol te eet omdat dit uit ’n goddelike bron kom. (Vergelyk Psalm 119:103; Jeremia 15:15, 16.) Maar hy vind dit bitter om te verteer omdat dit—soos vroeër met Esegiël—onaangename dinge vir opstandige mense voorspel.—Psalm 145:20.
17. (a) Wie is die persone wat Johannes beveel om “weer” te profeteer, en wat beteken dit? (b) Wanneer sou die dramatiese uitbeelding wat Johannes gesien het, vervul word?
17 Die persone wat Johannes beveel om weer te profeteer, is ongetwyfeld Jehovah God en Jesus Christus. Hoewel Johannes op die eiland Patmos in ballingskap is, het hy reeds met betrekking tot volke, nasies, tale en konings geprofeteer deur middel van die inligting wat tot dusver in die boek Openbaring opgeteken is. Die woord “weer” beteken dat hy die res van die inligting wat in die boek Openbaring opgeteken is, moet skryf en bekend maak. Maar onthou dat Johannes hier in werklikheid aan die profetiese visioen deelneem. Wat hy opteken, is eintlik ’n profesie wat ná 1914 vervul sal word, wanneer die sterk engel sy posisie inneem met sy een voet op die aarde en die ander op die see. Wat beteken hierdie dramatiese uitbeelding dan vandag vir die Johannes-klas?
Die boekrolletjie vandag
18. Hoe het die Johannes-klas aan die begin van die dag van die Here belangstelling getoon in die boek Openbaring?
18 Wat Johannes sien, is ’n merkwaardige voorafskaduwing van die ondervinding van die Johannes-klas aan die begin van die dag van die Here. Hulle begrip van Jehovah se voornemens, onder andere die implikasie van die sewe donderslae, was destyds onvolledig. Hulle het nietemin baie in Openbaring belanggestel, en Charles Taze Russell het in sy leeftyd oor baie dele daarvan kommentaar gelewer. Ná sy dood in 1916 is baie van sy geskrifte versamel en gepubliseer in ’n boek met die titel The Finished Mystery. Maar hierdie boek was later onvoldoende as ’n verklaring van Openbaring. Die oorblyfsel van Christus se broers moes ’n rukkie langer wag, totdat die visioene in vervulling begin gaan het, vir ’n juiste begrip van hierdie geïnspireerde verslag.
19. (a) Hoe is die Johannes-klas deur Jehovah gebruik selfs voordat die stemme van die sewe donderslae ten volle bekend gemaak is? (b) Wanneer is die geopende boekrolletjie aan die Johannes-klas gegee, en wat het dit vir hulle beteken?
19 Soos Johannes is hulle egter deur Jehovah gebruik selfs voordat die stemme van die sewe donderslae ten volle bekend gemaak is. Hulle het in die 40 jaar voor 1914 ywerig getuig, en hulle het gedurende die Eerste Wêreldoorlog hard probeer om bedrywig te bly. Daar is bevind dat hulle die persone was wat, by die heer se aankoms, vir die huisknegte voedsel op die regte tyd gegee het (Matteus 24:45-47). In 1919 is die geopende boekrolletjie—dit wil sê ’n ope boodskap om aan die mensdom te verkondig—dus aan hulle gegee. Soos Esegiël het hulle ’n boodskap gehad vir ’n ontroue organisasie—die Christendom—wat beweer het dat sy God dien, maar dit in werklikheid nie gedoen het nie. Soos Johannes moes hulle nog meer met betrekking tot “volke en nasies en tale en baie konings” preek.
20. Wat het die feit dat Johannes die boekrol opgeëet het, afgebeeld?
20 Die feit dat Johannes die boekrol opgeëet het, het afgebeeld dat Jesus se broers hierdie toewysing aanvaar het. Dit het in so ’n mate deel geword van hulle dat hulle nou met hierdie deel van God se geïnspireerde Woord vereenselwig is en voeding daaruit verkry het. Maar wat hulle moes verkondig, het uitinge van Jehovah se oordele bevat wat vir baie mense onaangenaam was. Trouens, dit het die plae ingesluit wat in Openbaring hoofstuk 8 voorspel is. Maar dit was vir hierdie opregte Christene soet om met dié oordele vertroud te wees en te besef dat hulle weer eens deur Jehovah gebruik word om dit te verkondig.—Psalm 19:9, 10.
21. (a) Hoe het die boodskap van die boekrolletjie ook vir die groot menigte soet geword? (b) Waarom is die goeie nuus vir teenstanders slegte nuus?
21 Die boodskap van hierdie boekrol het mettertyd ook soet geword vir die “groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”, wat gesug het oor die verfoeilike dinge wat hulle in die Christendom gesien het (Openbaring 7:9; Esegiël 9:4). Hulle verkondig ook die goeie nuus ywerig en gebruik soet, aangename woorde om Jehovah se wonderlike voorsiening vir skaapgeaarde Christene te beskryf (Psalm 37:11, 29; Kolossense 4:6). Maar vir teenstanders is dit slegte nuus. Waarom? Dit beteken dat die stelsel waarop hulle vertrou—en wat hulle moontlik selfs kortstondige bevrediging verskaf het—moet weg. Vir hulle beteken die goeie nuus ondergang.—Filippense 1:27, 28; vergelyk Deuteronomium 28:15; 2 Korintiërs 2:15, 16.
[Prente op bladsy 160]
Die Johannes-klas en hulle metgeselle verkondig ’n soet en bitter boodskap aan die hele mensdom