Bybelboek nommer 4—Numeri
Skrywer: Moses
Waar geskryf: Woestyn en vlaktes van Moab
Geskrif voltooi: 1473 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 1512-1473 v.G.J.
1. Waarom is die gebeure van Numeri opgeteken, en wat laat dit ons deeglik besef?
DIE gebeure wat hulle tydens die Israeliete se trek deur die woestyn afgespeel het, is in die Bybel opgeteken tot nut van ons wat vandag lewe.a Soos die apostel Paulus gesê het: “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie” (1 Kor. 10:6). Die aanskoulike verslag in Numeri laat ons deeglik besef dat ons voortbestaan afhang van die heiliging van Jehovah se naam, gehoorsaamheid aan hom in alle omstandighede en respek vir sy verteenwoordigers. Sy guns is nie die gevolg van enige goedheid of verdienste in sy volk nie, maar spruit voort uit sy groot barmhartigheid en onverdiende goedheid.
2. Waarop het die naam Numeri betrekking, maar watter meer gepaste titel het die Jode die boek gegee?
2 Die naam Numeri het betrekking op die telling van die volk wat eers by die berg Sinai en later op die vlaktes van Moab onderneem is, soos vermeld in hoofstukke 1-4 en 26. Hierdie naam is oorgeneem uit die Latynse Vulgaat en is afgelei van A·rith·moiʹ in die Griekse Septuagint. Die Jode het die boek egter die meer gepaste titel Bemidh·barʹ gegee, wat “in die Woestyn” beteken. Die Hebreeuse woord midh·barʹ dui op ’n oop plek sonder stede en dorpe. Die gebeure van Numeri het hulle in die woestyn ten suide en ten ooste van Kanaän afgespeel.
3. Wat bewys dat Moses Numeri geskryf het?
3 Numeri het klaarblyklik deel uitgemaak van die oorspronklike vyfdelige boekrol wat die boeke van Genesis tot Deuteronomium bevat het. Die eerste vers begin met die voegwoord “verder” (letterlik, “en”), wat dit by die voorgaande laat aansluit. Die skrywer moet dus Moses gewees het, wat die voorafgaande verslae geskryf het. Dat hy die skrywer was, blyk ook uit die verklaring in die boek dat ‘Moses opgeskrywe het’, en uit die kolofon: “Dit is die gebooie en die verordeninge wat die HERE deur die diens van Moses die kinders van Israel beveel het.”—Num. 33:2; 36:13.
4. Watter tydperk word deur Numeri beskryf, en wanneer is die boek voltooi?
4 Die Israeliete het net meer as ’n jaar tevore uit Egipte vertrek. Die verslag in Numeri begin in die tweede maand van die tweede jaar na die Eksodus en beskryf dan die volgende 38 jaar en nege maande, van 1512 tot 1473 v.G.J. (Num. 1:1; Deut. 1:3). Hoewel die gebeure wat in Numeri 7:1-88 en 9:1-15 verhaal word nie in hierdie tydperk inpas nie, word dit as agtergrondinligting ingesluit. Die vroeë dele van die boek is ongetwyfeld geskryf kort na die gebeure plaasgevind het, maar dit spreek vanself dat Moses Numeri eers teen die einde van die 40ste jaar in die woestyn, vroeg in die kalenderjaar 1473 v.G.J., kon voltooi het.
5. Watter besonderhede getuig van die egtheid van Numeri?
5 Aan die egtheid van die verslag kan nie getwyfel word nie. Moses het die oorwegend dorre landstreek waarin hulle rondgetrek het ’n “groot en vreeslike woestyn” genoem, en selfs vandag nog is die yl verspreide inwoners gedurig aan die rondtrek op soek na weiveld en water (Deut. 1:19). Dat die verslag inderdaad “in die woestyn” geskryf is, blyk bowendien uit die gedetailleerde instruksies in verband met die nasie se laerreëling, die marsorde en die trompetseine om die gang van sake in die laer te beheer.—Num. 1:1.
6. Hoe word Numeri deur argeologiese vondste gestaaf?
6 Selfs die berig van die vreesagtige verspieders toe hulle van hulle verkenningstog in Kanaän teruggekeer het, naamlik dat ‘die stede versterk en baie groot is’, word deur die argeologie bevestig (13:28). Onlangse ontdekkings het aan die lig gebring dat die destydse bewoners van Kanaän hulle mag gekonsolideer het deur ’n reeks forte wat op verskillende plekke oor die lengte van die land gestrek het, van die vlakte van Jisreël in die noorde tot by Gerar in die suide. Nie alleen was die stede versterk nie, maar hulle was gewoonlik op heuweltoppe gebou, met torings wat bo die mure uitgerys het. Dit het ’n oorweldigende indruk gemaak op mense soos die Israeliete, wat geslagte lank in die plat land Egipte gewoon het.
7. Watter stempel van eerlikheid dra Numeri?
7 Nasies van die wêreld is geneig om hulle neerlae te verdoesel en hulle oorwinnings te verheerlik, maar die Numeriverslag vertel met ’n eerlikheid wat van historiese betroubaarheid getuig dat Israel volkome verslaan is deur die Amalekiete en die Kanaäniete (14:45). Dit erken ronduit dat die volk ontrou was en God met minagting bejeën het (14:11). Met verbasende openhartigheid stel God se profeet Moses die sondes van die nasie, van sy broerskinders en van sy eie broer en suster aan die kaak. Ook homself spaar hy nie, want hy vertel van die keer toe hy versuim het om Jehovah te heilig toe water by Meriba voorsien is, waardeur hy die voorreg verbeur het om die Beloofde Land binne te gaan.—3:4; 12:1-15; 20:7-13.
8. Hoe getuig ander Bybelskrywers van die inspirasie van Numeri?
8 Dat die verslag ’n onvervalste deel van die geïnspireerde en nuttige Skrif is, word bevestig deur die feit dat byna al die belangrike gebeurtenisse wat daarin beskryf word, sowel as talle ander besonderhede, regstreeks vermeld word deur ander Bybelskrywers, van wie baie die betekenis daarvan beklemtoon. So vind ons dat Josua (Jos. 4:12; 14:2), Jeremia (2 Kon. 18:4), Nehemia (Neh. 9:19-22), Asaf (Ps. 78:14-41), Dawid (Ps. 95:7-11), Jesaja (Jes. 48:21), Esegiël (Eseg. 20:13-24), Hosea (Hos. 9:10), Amos (Amos 5:25), Miga (Miga 6:5), Lukas in sy verslag oor Stefanus se toespraak (Hand. 7:36), Paulus (1 Kor. 10:1-11), Petrus (2 Pet. 2:15, 16), Judas (Judas 11), en Johannes, toe hy Jesus se woorde aan die gemeente in Pergamus opgeteken het (Openb. 2:14), almal verwys na die verslag in Numeri, soos Jesus Christus ook gedoen het.—Joh. 3:14.
9. Wat beklemtoon Numeri aangaande Jehovah?
9 Wat is dan die doel van Numeri? Die verslag het beslis meer as net historiese waarde. Numeri beklemtoon dat Jehovah die God van orde is, dat hy uitsluitlike toegewydheid van sy skepsele vereis. Dit word onvergeetlik in die leser se verstand ingeprent wanneer hy die telling, beproewing en sifting van Israel meemaak en sien hoe die nasie se ongehoorsame en weerspannige handelwyse gebruik word om te beklemtoon hoe lewensbelangrik dit is om Jehovah te gehoorsaam.
10. Tot wie se nut is Numeri bewaar, en waarom?
10 Die verslag is bewaar tot nut van die toekomstige geslagte, sodat hulle, soos Asaf verduidelik het, “hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” en sodat hulle “nie word soos hulle vaders nie, ’n koppige en wederstrewige geslag, ’n geslag met ’n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie” (Ps. 78:7, 8). Die gebeure in Numeri is oor en oor vertel in die psalms, wat heilige liedere onder die Jode was, en so is dit dikwels herhaal tot nut van die nasie.—Ps. 78, 95, 105, 106, 135, 136.
INHOUD VAN NUMERI
11. In watter drie dele kan die inhoud van Numeri verdeel word?
11 Numeri word logies in drie dele verdeel. Die eerste hiervan, wat met vers 10 van hoofstuk 10 eindig, beskryf gebeure wat plaasgevind het terwyl die Israelitiese laer nog by die berg Sinai was. Die volgende deel, wat met hoofstuk 21 eindig, vertel wat gedurende die volgende 38 jaar en nog ’n maand of twee daarna gebeur het terwyl hulle in die woestyn was en tot hulle by die vlaktes van Moab aangekom het. Die laaste deel, tot en met hoofstuk 36, behandel gebeure op die vlaktes van Moab terwyl die Israeliete hulle gereedgemaak het om die Beloofde Land binne te gaan.
12. Hoe groot is die Israelitiese laer by Sinai, en hoe word dit georganiseer?
12 Gebeure by die berg Sinai (1:1–10:10). Die Israeliete is reeds sowat ’n jaar lank in die bergland Sinai. Hier is hulle tot ’n hegte organisasie gevorm. Op Jehovah se bevel word daar nou ’n sensus gehou van al die manne van 20 jaar oud en daarbo. Die sensus onthul dat die stamme in grootte wissel van 32 200 man in Manasse tot 74 600 in Juda, ’n groottotaal van 603 550 man wat geskik is om in die leër van Israel te dien, afgesien van die Leviete en die vroue en kinders—’n laer wat moontlik driemiljoen of meer tel. Die tent van samekoms word, saam met die Leviete, in die middel van die laer geplaas. Op aangewese plekke aan elke kant slaan die ander Israeliete laer op, in afdelings van drie stamme elk, en elke stam ontvang instruksies oor die marsorde wanneer die laer moet trek. Jehovah gee die instruksies, en die verslag sê: “Die kinders van Israel het gedoen net soos die HERE Moses beveel het” (2:34). Hulle gehoorsaam Jehovah en toon respek vir Moses, God se sigbare verteenwoordiger.
13. Volgens watter reëling ontvang die Leviete dienstoewysings?
13 Die Leviete word dan afgesonder vir Jehovah se diens, as ’n losprys vir die eersgeborenes van Israel. Hulle word in drie groepe verdeel, ooreenkomstig hulle afstamming van die drie seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari. Hulle plek in die laer en diensverantwoordelikhede word op grond van hierdie verdeling vasgestel. Van 30-jarige leeftyd af moet hulle die swaar werk verrig om die tabernakel te vervoer. Daar word gereël dat ander van 25-jarige leeftyd af begin om die ligter werk te doen. (Dit is in Dawid se tyd tot die ouderdom van 20 jaar verlaag.)—1 Kron. 23:24-32; Esra 3:8.
14. Watter instruksies word gegee om die reinheid van die laer te verseker?
14 Om te verseker dat die laer rein bly, word instruksies gegee oor die afsondering onder kwarantyn van mense wat ’n besmetlike siekte opdoen, oor hoe om versoening te doen vir dade van troueloosheid, oor die oplos van gevalle waar ’n man agterdogtig raak oor die gedrag van sy vrou, en om die regte gedrag te verseker aan die kant van persone wat deur ’n eed afgesonder is om as nasireërs voor Jehovah te lewe. Aangesien die volk die naam van hulle God moet dra, moet hulle gedrag met sy gebooie strook.
15. (a) Watter bydraes word in verband met die inwyding van die altaar gegee? (b) Watter verhouding moet Israel onthou, en waaraan moet die Pasga hulle herinner?
15 Vervolgens gee Moses aanvullende besonderhede uit die vorige maand (Num. 7:1, 10; Ex. 40:17) en vertel hy van die bydraes in die vorm van materiale wat die 12 owerstes van die volk gedurende ’n tydperk van 12 dae ná die inwyding van die altaar gegee het. Daar was geen sprake van wedywer of selfverheerliking nie; elkeen het presies dieselfde bygedra as die ander. Almal moet nou in gedagte hou dat hierdie owerstes, en Moses self, onderworpe is aan Jehovah God, wat aan Moses instruksies gee. Hulle mag nooit hulle verhouding met Jehovah vergeet nie. Die Pasga is daar om hulle te herinner aan die wonderbaarlike manier waarop Jehovah hulle uit Egipte bevry het, en hulle vier dit hier in die woestyn op die aangewese tyd, een jaar nadat hulle Egipte verlaat het.
16. Hoe lei Jehovah die nasie, en watter trompetseine word gereël?
16 Op dieselfde manier as wat Jehovah Israel se uittog uit Egipte gelei het, hou hy nou aan om die nasie op sy reis te lei met behulp van ’n wolk wat die tabernakel van die tent van die Getuienis bedags oordek en deur vuur wat snags daar verskyn. As die wolk optrek, trek die nasie. Wanneer die wolk oor die tabernakel bly, bly die nasie in die laer, hetsy dit ’n paar dae, ’n maand of langer is, want die verslag deel ons mee: “Volgens die bevel van die HERE het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van die HERE het hulle weggetrek. Hulle het die voorskrif van die HERE in ag geneem volgens die bevel van die HERE deur die diens van Moses” (Num. 9:23). Wanneer die tyd vir die vertrek van Sinai af nader, word trompetseine gereël om die volk byeen te roep en aan die verskillende afdelings van die laer instruksies te gee vir hulle tog deur die woestyn.
17. Beskryf hoe die trek verloop.
17 Gebeure in die woestyn (10:11–21:35). Eindelik, op die 20ste dag van die tweede maand, lig Jehovah die wolk van die tabernakel af en gee hy so die teken dat Israel van die Sinai-streek af kan vertrek. Met die ark van Jehovah se verbond in hulle midde pak hulle die tog aan na Kades-Barnea, sowat 240 kilometer na die noorde. Terwyl hulle bedags trek, is Jehovah se wolk oor hulle. Elke keer dat die Ark uittrek, bid Moses tot Jehovah om op te staan en sy vyande te verstrooi, en elke keer dat dit te ruste kom, bid hy dat Jehovah terugkeer “na die tienduisende van die duisende van Israel”.—10:36.
18. Watter murmurering bars onderweg na Kades-Barnea los, en hoe verander Jehovah die teokratiese prosedure in die laer?
18 Daar ontstaan egter moeilikheid in die laer. Op die noordwaartse reis na Kades-Barnea word daar minstens drie keer gemurmureer. Om die eerste uitbarsting te onderdruk, stuur Jehovah ’n vuur om van die mense te verteer. Dan stook “die gemengde bevolking” Israel op om te kla dat hulle nie meer die vis, komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel van Egipte het om te eet nie, maar net manna (11:4). Moses raak so ontsteld dat hy Jehovah vra om hom liewer dood te maak as om hom te bly gebruik as die oppasser van hierdie hele volk. In sy bedagsaamheid neem Jehovah ’n deel van die gees van Moses weg en lê hy dit op 70 van die oudstes, wat Moses voortaan as profete in die laer bystaan. Dan kom daar vleis in oorvloed. Soos eenmaal tevore gebeur het, stuur Jehovah ’n wind wat kwartels van die see af indryf, en die mense maak gulsig groot hoeveelhede bymekaar en hoop dit selfsugtig op. Jehovah se toorn ontvlam teen die volk, en hy maak baie dood weens hulle selfsugtige begeerte.—Ex. 16:2, 3, 13.
19. Wat doen Jehovah wanneer Mirjam en Aäron met Moses fout vind?
19 Die moeilikheid duur voort. Omdat Mirjam en Aäron nie die regte beskouing van hulle jonger broer, Moses, as Jehovah se verteenwoordiger het nie, vind hulle fout met hom oor sy vrou, wat pas in die laer gekom het. Hulle eis groter gesag, soos dié van Moses, hoewel ‘die man Moses baie sagmoedig was, meer as al die mense op die aardbodem’ (Num. 12:3). Jehovah stel self die saak reg en laat dit bekend word dat Moses ’n spesiale posisie beklee deur Mirjam, wat waarskynlik die aanstigter van die klaery was, met melaatsheid te tref. Slegs op voorspraak van Moses word sy later genees.
20, 21. Watter gebeure gee aanleiding tot Jehovah se verordening dat Israel 40 jaar in die woestyn moet rondswerf?
20 By Kades aangekom, slaan Israel op die drumpel van die Beloofde Land laer op. Jehovah gee Moses nou opdrag om verspieders uit te stuur om die land te verken. Hulle gaan die land in die suide binne en reis noordwaarts reg tot by “die ingang van Hammat”, wat beteken dat hulle in 40 dae honderde kilometers te voet aflê (13:21). Wanneer hulle terugkeer met vlesige vrugte van Kanaän, voer tien van die verspieders in ongeloof aan dat dit dwaas sou wees om teen so ’n sterk volk en sulke groot versterkte stede op te trek. Kaleb probeer die vergadering met ’n gunstige verslag gerusstel, maar tevergeefs. Die opstandige verspieders vervul die harte van die Israeliete met vrees deur te beweer dat die land “sy inwoners verteer”. Hulle sê: “Al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne.” Wanneer daar ’n opstandige murmurering deur die laer gaan, pleit Josua en Kaleb: “Die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!” (13:32; 14:9). Die vergadering begin egter daarvan praat om hulle te stenig.
21 Dan kom Jehovah regstreeks tussenbeide en sê hy vir Moses: “Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat ek onder hulle gedoen het?” (14:11). Moses smeek Jehovah om die nasie nie te verdelg nie, aangesien Sy naam en faam in die gedrang is. Jehovah verorden gevolglik dat Israel in die woestyn moet bly rondswerf totdat al die geteldes onder die volk, van 20 jaar oud en daarbo, gesterf het. Onder die getelde manne sal net Kaleb en Josua toegelaat word om die Land van die Belofte binne te gaan. Die volk probeer tevergeefs om op eie inisiatief op te trek, maar hulle ly ’n verskriklike neerlaag onder die Amalekiete en die Kanaäniete. Wat ’n hoë prys betaal die volk tog vir hulle minagting van Jehovah en sy lojale verteenwoordigers!
22. Op watter maniere word die belangrikheid van gehoorsaamheid beklemtoon?
22 Op die gebied van gehoorsaamheid moet hulle inderdaad nog baie leer. Jehovah gee hulle gepas verdere wette wat die noodsaaklikheid hiervan beklemtoon. Hy laat hulle weet dat wanneer hulle in die Beloofde Land kom, daar versoening gedoen moet word vir foute, maar die moedswillige ongehoorsames moet sekerlik uitgeroei word. Wanneer daar ’n man gevind word wat in stryd met die Sabbatswet hout bymekaarmaak, beveel Jehovah dus: “Die man moet sekerlik gedood word” (15:35). Ter herinnering aan die gebooie van Jehovah en die belangrikheid daarvan om hulle te gehoorsaam, gee Jehovah opdrag dat die volk klossies aan die some van hulle klere moet dra.
23. Wat is die uitslag van die opstand van Korag, Datan en Abiram?
23 Nietemin breek daar opnuut opstand uit. Korag, Datan, Abiram en 250 vooraanstaande manne uit die vergadering staan gesamentlik op teen die gesag van Moses en Aäron. Moses lê die saak aan Jehovah voor en sê vir die rebelle: ‘Neem vuurpanne en reukwerk en bring dit voor die aangesig van Jehovah, en laat hom kies’ (16:6, 7). Jehovah se heerlikheid verskyn nou aan die hele vergadering. Hy voltrek gou die oordeel deur die aarde te laat oopgaan om die huisgesinne van Korag, Datan en Abiram in te sluk en deur ’n vuur te stuur om die 250 manne wat die reukwerk offer, met inbegrip van Korag, te verteer. Net die volgende dag begin die volk Moses en Aäron veroordeel vir wat Jehovah gedoen het, en weer eens teister Hy hulle; 14 700 klaers sterf.
24. Watter teken doen Jehovah om ’n einde te maak aan die wederstrewigheid?
24 Met die oog op hierdie gebeure beveel Jehovah dat elke stam ’n staf voor sy aangesig bring, waaronder ook ’n staf met Aäron se naam daarop vir die stam van Levi. Die volgende dag word daar getoon dat Aäron Jehovah se keuse vir die priesterskap is, want net sy staf staan in volle bloei en dra ryp amandels. Dit moet in die verbondsark bewaar word “as teken vir die wederstrewiges” (Num. 17:10; Hebr. 9:4). Na verdere instruksies oor die ondersteuning van die priesterdom deur middel van tiendes en oor die gebruik van reinigingswater met die as van ’n rooi koei, voer die verslag ons terug na Kades. Hier sterf Mirjam en word sy begrawe.
25. Hoe laat Moses en Aäron na om Jehovah te heilig, en met watter gevolg?
25 Weer op die drumpel van die Land van die Belofte maak die vergadering met Moses rusie weens die gebrek aan water. Jehovah beskou dit as teen Hom gerig en verskyn in Sy heerlikheid, waarop hy Moses beveel om die staf te neem en water uit die rots voort te bring. Heilig Moses en Aäron Jehovah nou? Inteendeel, Moses slaan die rots twee maal in toorn. Die volk en die vee kry water om te drink, maar Moses en Aäron laat na om Jehovah die eer te gee. Hoewel die hartverskeurende tog deur die woestyn byna verby is, haal albei hul Jehovah se misnoeë op die hals en word daar aan hulle gesê dat hulle nie die Land van die Belofte sal binnegaan nie. Aäron sterf later op die berg Hor, en sy seun Eleasar neem die pligte van hoëpriester oor.
26. Watter gebeure vind plaas wanneer Israel met ’n ompad om Edom reis?
26 Israel slaan ’n oostelike rigting in en probeer om deur die land Edom te trek maar kry ’n afjak. Terwyl hulle met ’n lang ompad om Edom reis, kom die volk weer in die moeilikheid wanneer hulle teen God en Moses kla. Hulle is moeg vir die manna, en hulle is dors. Weens hulle weerspannigheid stuur Jehovah giftige slange onder hulle in, sodat baie sterf. Eindelik, op voorspraak van Moses, beveel Jehovah hom om ’n vurige koperslang te maak en dit op ’n paal te sit. Dié wat gebyt word maar wat na die koperslang kyk, word gered en bly lewe. Wanneer hulle noordwaarts reis, word die Israeliete deur twee oorlogsugtige konings aangeval—eers deur Sihon van die Amoriete en dan deur Og van Basan. Israel verslaan hulle albei en beset hulle gebied ten ooste van die Skeurvallei.
27. Hoe stuur Jehovah Balak se planne in verband met Bileam in die war?
27 Gebeure op die vlaktes van Moab (22:1–36:13). In gretige afwagting van hulle intog in Kanaän versamel die Israeliete hulle nou op die woestynvlaktes van Moab, noord van die Dooie See en oos van die Jordaan teenoor Jerigo. Wanneer die Moabiete hierdie uitgestrekte laer voor hulle sien, pak ’n doodsangs hulle beet. In oorleg met die Midianiete ontbied hulle koning, Balak, Bileam om deur middel van waarsêery ’n vloek oor Israel uit te spreek. Hoewel God uitdruklik vir Bileam sê: “Jy mag nie saam met hulle trek nie”, wil hy tog gaan (22:12). Hy begeer die beloning. Eindelik gaan hy, maar hy word deur ’n engel voorgekeer en word wonderdadig deur sy eie eselin aangespreek en bestraf. Wanneer Bileam oplaas uitsprake oor Israel doen, word God se gees oor hom vaardig sodat hy in sy vier spreuke net seëninge vir God se nasie voorspel. Hy profeteer selfs dat ’n ster uit Jakob te voorskyn sal kom en dat ’n septer uit Israel sal opkom om te onderwerp en te vernietig.
28. Watter listige strik word op voorstel van Bileam vir Israel gespan, maar hoe word die plaag beëindig?
28 Noudat Bileam Balak vertoorn het deur sy onvermoë om Israel te vervloek, probeer hy die koning se guns wen deur aan die hand te doen dat die Moabiete hulle eie vroue gebruik om die manne van Israel te verlok sodat hulle deelneem aan die ontugtige ritusse wat met die aanbidding van Baäl gepaard gaan (31:15, 16). Hier, op die grens van die Beloofde Land, begin die Israeliete hulle skuldig maak aan growwe onsedelikheid en die aanbidding van valse gode. Jehovah se toorn ontvlam en hy stuur ’n plaag, waarop Moses eis dat die oortreders drasties gestraf word. Wanneer Pinehas, die seun van die hoëpriester, sien hoe die seun van ’n owerste ’n Midianitiese vrou in sy tent binne-in die laer inbring, gaan hy agter hulle aan en maak hy hulle dood; hy deurboor die vrou deur haar geslagsdele. Hierop hou die plaag op, maar nie voordat 24 000 daaraan beswyk nie.
29. (a) Wat word deur die sensus aan die einde van die 40ste jaar onthul? (b) Watter voorbereidings word nou getref vir die intog in die Beloofde Land?
29 Jehovah beveel Moses en Eleasar nou om weer ’n sensus van die volk te hou, soos byna 39 jaar tevore by die berg Sinai gedoen is. Die uiteindelike telling toon dat daar geen vermeerdering in hulle geledere was nie. Inteendeel, daar word 1 820 minder manne getel. Niemand bly oor van die weerbare manne wat by Sinai getel is nie, behalwe Josua en Kaleb. Soos Jehovah bepaal het, het hulle almal in die woestyn omgekom. Jehovah gee vervolgens instruksies oor die verdeling van die land as ’n erfdeel. Hy herhaal dat Moses nie die Land van die Belofte sal binnegaan nie omdat hy nagelaat het om Jehovah by die waters van Meriba te heilig (20:13; 27:14, voetnote in NW-naslaanuitgawe). Josua word as Moses se opvolger aangestel.
30. Hoe word daar met die Midianiete afgereken, en watter gebiedstoewysing word oos van die Jordaan gedoen?
30 By monde van Moses herinner Jehovah Israel vervolgens aan die belangrikheid van Sy wette in verband met offerandes en feeste en aan die erns van geloftes. Hy laat Moses ook met die Midianiete afreken weens hulle aandeel aan die verleiding van Israel deur die Baäl van Peor. Al die Midianitiese manne word in die stryd verslaan, tesame met Bileam, en net die maagdelike meisies word gespaar, van wie daar 32 000 gevange geneem word, tesame met buit wat 808 000 diere insluit. Nie één Israeliet word as vermis aangemeld nie. Die seuns van Ruben en van Gad, wat veeboere is, doen die versoek om hulle in die gebied oos van die Jordaan te vestig, en nadat hulle ingestem het om te help met die verowering van die Beloofde Land, word die versoek toegestaan. Hierdie twee stamme, tesame met die halwe stam van Manasse, ontvang dus hierdie vrugbare tafelland as hulle besitting.
31. (a) Hoe moet Israel gehoorsaamheid toon wanneer hulle die land binnetrek? (b) Watter instruksies word in verband met stamerfdele gegee?
31 Na ’n oorsig van die stilhouplekke op die 40-jarige reis vestig die verslag opnuut die aandag op die belangrikheid daarvan om Jehovah te gehoorsaam. God gee hulle die land, maar hulle moet Sy skerpregters word deur die ontaarde, demonaanbiddende bewoners te verdryf en elke spoor van hulle afgodiese godsdiens te vernietig. Die grense van hulle godgegewe land word in besonderhede vermeld. Die land moet deur die lot onder hulle verdeel word. Die Leviete, wat geen stamerfdeel het nie, moet 48 stede saam met hulle weivelde ontvang, waarvan 6 vrystede moet wees vir die onopsetlike doodslaner. Grondgebied moet binne die stam bly en mag nooit deur die huwelik na ’n ander stam oorgedra word nie. As daar geen manlike erfgenaam is nie, moet die dogters wat ’n erfdeel ontvang—die dogters van Selofhad byvoorbeeld—in hulle eie stam trou (27:1-11; 36:1-11). Numeri sluit af met hierdie gebooie van Jehovah deur middel van Moses, terwyl die kinders van Israel uiteindelik gereed staan om die Land van die Belofte binne te gaan.
WAAROM NUTTIG
32. Op watter maniere word Jesus en sy offer in Numeri afgebeeld?
32 Jesus het by verskeie geleenthede na Numeri verwys, en sy apostels en ander Bybelskrywers toon duidelik hoe betekenisvol en nuttig die verslag is. Die apostel Paulus het Jesus se getroue diens in die besonder met dié van Moses vergelyk, wat grotendeels in Numeri opgeteken is (Hebr. 3:1-6). In die diereoffers en die sprinkeling van die as van die jong rooi koei van Numeri 19:2-9 sien ons weer ’n afbeelding van die veel groter voorsiening vir reiniging deur die offer van Christus.—Hebr. 9:13, 14.
33. Waarom is die voortbrenging van water in die woestyn vandag vir ons van belang?
33 Paulus het eweneens getoon dat die voortbrenging van water uit die rots in die woestyn ryk is aan betekenis vir ons, want hy sê: “Hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor. 10:4; Num. 20:7-11). Dit was tereg Christus self wat gesê het: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”—Joh. 4:14.
34. Hoe het Jesus getoon dat die koperslang profetiese betekenis het?
34 Jesus het ook regstreeks verwys na ’n insident wat in Numeri opgeteken is en wat heengewys het na die wonderlike voorsiening wat God deur middel van hom maak. “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het”, het hy gesê, “so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Joh. 3:14, 15; Num. 21:8, 9.
35. (a) Waarteen moet Christene waak, soos toegelig deur die Israeliete in die woestyn, en waarom? (b) Na watter voorbeelde van hebsug en opstandigheid het Judas en Petrus in hulle briewe verwys?
35 Waarom is die Israeliete daartoe veroordeel om 40 jaar in die woestyn rond te swerf? Weens ongelowigheid, of gebrek aan geloof. Die apostel Paulus het kragtige vermaning hieroor gegee: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag.” Weens hulle ongehoorsaamheid en hulle ongeloof het daardie Israeliete in die woestyn omgekom. “Laat ons ons dan beywer om in te gaan in [God se] rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebr. 3:7–4:11; Num. 13:25–14:38). Waar Judas waarsku teen goddelose mense wat heilige dinge belaster, het hy verwys na Bileam se sug na ’n beloning en na Korag se opstandige gepraat teen Jehovah se kneg Moses (Jud. 11; Num. 22:7, 8, 22; 26:9, 10). Bileam is ook deur Petrus beskryf as iemand “wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het”, en deur die verheerlikte Jesus in sy openbaring deur middel van Johannes as iemand wat ‘’n struikelblok voor Israel gewerp het om afgode te dien en te hoereer’. Die Christengemeente vandag moet gewis teen sulke onheiliges gewaarsku word.—2 Pet. 2:12-16; Openb. 2:14.
36. Teen watter slegte gebruike het Paulus gewaarsku, en hoe kan ons vandag by sy raad baat vind?
36 Toe onsedelikheid in die Korinthiese gemeente kop uitgesteek het, het Paulus, met spesifieke verwysing na Numeri, aan hulle geskryf om nie ‘begerig te wees na slegte dinge nie’. Hy het vermaan: “Laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval” (1 Kor. 10:6, 8; Num. 25:1-9; 31:16).b Wat van die keer toe die volk gekla het dat gehoorsaamheid aan God se gebooie persoonlike ontbering meebring en dat hulle ontevrede is met die manna wat Jehovah voorsien het? Paulus sê hieroor: “Laat ons [Jehovah] nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom” (1 Kor. 10:9, vgl. NW; Num. 21:5, 6). Dan vervolg Paulus: “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.” Watter bitter ondervindinge het Israel tog deurgemaak weens hulle murmurering teen Jehovah, sy verteenwoordigers en sy voorsienings! Hierdie dinge wat hulle ‘bly oorkom het as voorbeelde’ behoort ’n duidelike waarskuwing te wees vir ons almal wat vandag lewe, sodat ons Jehovah vol geloof kan bly dien.—1 Kor. 10:10, 11, vgl. NW; Num. 14:2, 36, 37; 16:1-3, 41; 17:5, 10.
37. Lig toe hoe Numeri ons help om ander Bybelpassasies te verstaan.
37 Numeri bied ook die agtergrond waarteen ons baie ander Bybelpassasies beter kan verstaan.—Num. 28:9, 10—Matt. 12:5; Num. 15:38—Matt. 23:5; Num. 6:2-4—Luk. 1:15; Num. 4:3—Luk. 3:23; Num. 18:31—1 Kor. 9:13, 14; Num. 18:26—Hebr. 7:5-9; Num. 17:8-10—Hebr. 9:4.
38. In watter besondere opsigte is die boek Numeri nuttig, en waarop vestig dit ons aandag?
38 Wat in Numeri opgeteken staan, is inderdaad deur God geïnspireer en is nuttig daarin dat dit ons die belangrikheid leer van gehoorsaamheid aan Jehovah en van respek vir diegene wat hy as opsieners onder sy volk aangestel het. Aan die hand van voorbeelde veroordeel dit oortredings, en aan die hand van gebeurtenisse met profetiese betekenis vestig dit ons aandag op die Een wat deur Jehovah voorsien is as die Redder en Leier van Sy volk in ons tyd. Dit verskaf ’n onontbeerlike en leersame skakel in die verslag wat ons voer tot by die oprigting van Jehovah se regverdige Koninkryk in die hande van Jesus Christus, die een wat Hy as Middelaar en Hoëpriester aangestel het.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 540-2.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 233.