Studie nommer 4—Die Bybel en sy kanon
Die oorsprong van die woord “Bybel”; die bepaling van watter boeke met reg tot die Goddelike Biblioteek behoort; die verwerping van die Apokriewe.
1, 2. (a) Wat is die algemene betekenis van die Griekse woord bi·bliʹa? (b) Hoe word hierdie en verwante woorde in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik? (c) Hoe het dit gekom dat die woord “Bybel” in Afrikaans opgeneem is?
AANGESIEN die geïnspireerde Skrif oor die algemeen die Bybel genoem word, is dit interessant om die oorsprong en betekenis van die woord “Bybel” te ondersoek. Dit is afgelei van die Griekse woord bi·bliʹa, wat “klein boekies” beteken. Dít weer is afgelei van biʹblos, ’n woord wat die binneste gedeelte van die papirusplant beskryf, waarvan daar in die ou tyd “papier” vir skryfdoeleindes vervaardig is. (Die Grieke het die Feniciese hawestad Gebal, waardeur papirus uit Egipte ingevoer is, mettertyd Biblos begin genoem. Sien die voetnoot by Josua 13:5 in die NW-naslaanuitgawe.) Verskeie geskrewe mededelings op hierdie soort materiaal het as bi·bliʹa bekend geword. Gevolglik het bi·bliʹa mettertyd ’n versamelnaam geword vir enige geskrewe stukke, boekrolle, boeke, dokumente of heilige geskrifte of selfs ’n biblioteekversameling van klein boekies.
2 Verbasend genoeg word die woord “Bybel” oor die algemeen nie in die teks van enige vertaling van die Heilige Skrif, hetsy in Afrikaans of ’n ander taal, aangetref nie. Maar teen die tweede eeu v.G.J. is die versameling geïnspireerde boeke van die Hebreeuse Geskrifte ta bi·bliʹa in Grieks genoem. In Daniël 9:2 het die profeet geskryf: “Ek, Daniël, [het] in die boeke gemerk . . . ” Hier gebruik die Septuagint die woord biʹblois, die datiefmeervoudsvorm van biʹblos. In 2 Timotheüs 4:13 het Paulus geskryf: “As jy kom, moet jy die reismantel bring . . . en die boeke [Grieks, bi·bliʹa].” In hulle verskillende grammatikale vorme verskyn die Griekse woorde bi·bliʹon en biʹblos meer as 40 keer in die Christelike Griekse Geskrifte en word hulle gewoonlik as “boekrol(le)” of “boek(e)” vertaal. Bi·bliʹa is later in Latyn as ’n enkelvoudsvorm gebruik, en die woord “Bybel” is via Latyn in Afrikaans opgeneem.
3. Hoe het skrywers van die Bybel getuig dat dit God se geïnspireerde Woord is?
3 Dit is God se Woord. Hoewel verskeie manne gebruik is om dit onder inspirasie te skryf en nog ander ’n aandeel daarin gehad het om dit uit die oorspronklike tale in die geskrewe tale van vandag te vertaal, is die Bybel, in die volste sin, God se Woord, sy eie geïnspireerde openbaring aan die mens. Die geïnspireerde skrywers het dit self so beskou, soos blyk uit hulle gebruik van uitdrukkings soos “alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (Deut. 8:3), “woorde van die HERE” (Jos. 24:27), “insettinge van die HERE” (Esra 7:11), “wet van die HERE” (Ps. 19:8), “woord van die HERE” (Jes. 38:4), ‘uiting van Jehovah’ (Matt. 4:4, NW) en “die woord van die Here” (1 Thess. 4:15).
DIE GODDELIKE BIBLIOTEEK
4. Waaruit bestaan die Bybel, en wie het dit vasgestel?
4 Wat die mens vandag as die Bybel ken, is in werklikheid ’n versameling ou goddelik geïnspireerde dokumente. Hulle is oor ’n tydperk van 16 eeue in geskrewe vorm gerangskik en saamgestel. Hierdie hele versameling dokumente vorm wat Hieronimus heel gepas in Latyn as die Bibliotheca Divina, of die Goddelike Biblioteek, beskryf het. Hierdie biblioteek het ’n katalogus, of amptelike lys van publikasies, wat beperk is tot dié boeke wat pas by die gebied en spesialisasie van daardie biblioteek. Alle boeke wat nie goedgekeur is nie, is uitgesluit. Jehovah God is die Groot Bibliotekaris wat die standaard stel waarvolgens daar bepaal word watter geskrifte ingesluit moet word. Die Bybel het dus ’n vaste katalogus wat 66 boeke bevat, almal die produk van God se leidende heilige gees.
5. Wat is die Bybelkanon, en wat is die oorsprong van hierdie benoeming?
5 Die versameling, of lys, boeke wat as die egte en geïnspireerde Skrif aanvaar word, word dikwels die kanon van die Bybel genoem. Oorspronklik het ’n riet (Hebreeus, qa·nêʹ) as maatstok gedien indien ’n stuk hout nie byderhand was nie. Die apostel Paulus het die Griekse woord ka·nonʹ toegepas op ’n “gedragsreël” sowel as die “werkkring” wat as sy toegewese gebied vir hom afgemeet is (Gal. 6:16, voetnoot in NW-naslaanuitgawe; 2 Kor. 10:13). Kanonieke boeke is dus dié wat waar en geïnspireer is en wat waardig is om as ’n reihout gebruik te word om te bepaal wat die regte geloof, leer en gedrag is. Indien ons boeke wat nie “reguit” is nie as ’n skietlood gebruik, sal ons “gebou” nie haaks wees nie en sal dit nie die Meesterinspekteur se toets deurstaan nie.
6. Wat is party van die faktore wat ’n boek se kanonisiteit bepaal?
6 Hoe kanonisiteit bepaal word. Wat is party van die goddelike aanduidings wat die kanonisiteit van die 66 boeke van die Bybel bepaal het? Ten eerste moet die dokumente oor Jehovah se aangeleenthede op aarde handel, sodat dit mense na sy aanbidding rig en diep respek vir sy naam en vir sy werk en voornemens op die aarde inboesem. Hulle moet blyk gee van inspirasie, dit wil sê, dat hulle die produkte van heilige gees is (2 Pet. 1:21). Hulle moet hoegenaamd nie bygeloof of skepselaanbidding bevorder nie, maar eerder liefde vir en diens aan God. Daar moet nie ’n enkele ding in enige van die individuele geskrifte wees wat met die interne harmonie van die geheel bots nie, maar elke boek moet eerder, vanweë sy eenheid met die ander, die enkele outeurskap, dié van Jehovah God, onderskryf. Ons sal ook verwag dat die geskrifte tot in die fynste besonderhede akkuraat is. Buiten hierdie basiese noodsaaklikhede is daar ook, na gelang van die aard van elke boek se inhoud, ander spesifieke aanduidings van inspirasie, en gevolglik van kanonisiteit, en hierdie aanduidings is vroeër in hierdie boek in die inleidende materiaal tot elk van die Bybelboeke bespreek. Daar is ook spesiale omstandighede wat vir die Hebreeuse Geskrifte geld en ander wat vir die Christelike Griekse Geskrifte geld en wat ons help om vas te stel wat die Bybelkanon is.
DIE HEBREEUSE GESKRIFTE
7. Deur watter progressiewe stappe is die Hebreeuse kanon voltooi, en waarmee sou enige nuwer deel in harmonie moes wees?
7 ’n Mens moenie dink dat die aanvaarding van geskrifte wat die geïnspireerde Skrif uitgemaak het tot die voltooiing van die Hebreeuse kanon in die vyfde eeu v.G.J. moes wag nie. Die geskrifte wat Moses onder die leiding van God se gees geskryf het, is reg van die begin af deur die Israeliete as geïnspireer, as die produkte van goddelike outeurskap, aanvaar. Toe die Pentateug voltooi is, het dit die kanon tot op daardie tydstip uitgemaak. Verdere openbarings aangaande Jehovah se voornemens wat onder inspirasie aan manne gegee is, sou op logiese wyse hierop moes volg en in harmonie moes wees met die fundamentele beginsels rakende ware aanbidding wat in die Pentateug uiteengesit is. Toe ons die verskillende Bybelboeke ondersoek het, het ons gesien dat dit wel die geval is, veral wanneer hulle ingaan op daardie grootse tema van die Bybel, naamlik die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit deur middel van die Koninkryk onder Christus, die beloofde Saad.
8. Waardeur word die kanonisiteit van die Bybel se profetiese boeke bepaal?
8 Die Hebreeuse Geskrifte in die besonder bevat ’n oorvloed van profesieë. Deur middel van Moses het Jehovah self die grondslag voorsien waarvolgens die egtheid van profesieë vasgestel kan word, of dit werklik van God is of nie, en dit het gehelp om die kanonisiteit van ’n profetiese boek te bepaal (Deut. 13:1-3; 18:20-22). ’n Ondersoek van elk van die profetiese boeke van die Hebreeuse Geskrifte tesame met die Bybel in sy geheel en die sekulêre geskiedenis bevestig buite twyfel dat “die woord” wat hulle gespreek het in Jehovah se naam gespreek is, dat dit wel ‘gebeur of uitgekom het’, hetsy volledig of as ’n klein of gedeeltelike vervulling wanneer dit oor toekomstige aangeleenthede gehandel het, en dat dit mense beweeg het om hulle tot God te wend. As ’n profesie aan hierdie vereistes voldoen het, het dit getoon dat dit eg en geïnspireer is.
9. Watter belangrike faktor moet in gedagte gehou word wanneer ’n mens die kwessie van die Bybelkanon in oënskou neem?
9 Aanhalings deur Jesus en die geïnspireerde skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte verskaf ’n direkte manier om die kanonisiteit van baie boeke van die Hebreeuse Geskrifte vas te stel, hoewel daar party is, soos die boeke Ester en Prediker, waarvoor hierdie maatstaf nie geld nie. Wanneer ’n mens die kwessie van kanonisiteit in oënskou neem, moet jy ook ’n ander uiters belangrike faktor in gedagte hou, een wat vir die hele Bybelkanon geld. Net soos Jehovah manne geïnspireer het om sy goddelike mededelings tot hulle onderrigting, opbouing en bemoediging in sy aanbidding en diens neer te skryf, sou Jehovah logieserwys die samestelling van die geïnspireerde geskrifte en die vasstelling van die Bybelkanon gerig en gelei het. Hy sou dit gedoen het sodat daar geen twyfel sou wees oor wat sy Woord van waarheid uitmaak en wat die blywende maatstaf vir ware aanbidding is nie. Trouens, dit sou die enigste manier wees waarop daar voortgegaan sou kon word om skepsele op aarde ’n ‘wedergeboorte deur die woord van God’ te gee en wat hulle in staat sou stel om te getuig dat “die woord van die Here . . . tot in ewigheid [bly]”.—1 Pet. 1:23, 25.
10. Teen watter tyd was die kanon van die Hebreeuse Geskrifte reeds vasgestel?
10 Die vasstelling van die Hebreeuse kanon. Volgens Joodse tradisie is die samestelling en katalogisering van die kanon van die Hebreeuse Geskrifte deur Esra begin en deur Nehemia voltooi. Esra was beslis goed gekwalifiseer vir so ’n werk, aangesien hy self een van die geïnspireerde Bybelskrywers sowel as ’n priester, geleerde en amptelike kopiis van heilige geskrifte was (Esra 7:1-11). Daar is geen rede om die tradisionele beskouing dat die kanon van die Hebreeuse Geskrifte reeds teen die einde van die vyfde eeu v.G.J. vasgestel was in twyfel te trek nie.
11. Hoe gee die tradisionele Joodse kanon die Hebreeuse Geskrifte aan?
11 Vandag bestaan die Hebreeuse Geskrifte uit 39 boeke; volgens die tradisionele Joodse kanon, wat hierdie selfde boeke insluit, is daar net 24. Party gesaghebbendes het Rut saam met Rigters en Klaagliedere saam met Jeremia gegroepeer en die aantal boeke as 22 aangegee, hoewel hulle presies dieselfde kanonieke geskrifte behou het.a Dit het die aantal geïnspireerde boeke ewe veel as die letters van die Hebreeuse alfabet gemaak. Hier volg die lys van die 24 boeke volgens die tradisionele Joodse kanon:
Die Wet (Die Pentateug)
1. Genesis
2. Exodus
3. Levitikus
4. Numeri
5. Deuteronomium
Die Profete
6. Josua
7. Rigters
8. Samuel (Eerste en Tweede saam as een boek)
9. Konings (Eerste en Tweede saam as een boek)
10. Jesaja
11. Jeremia
12. Esegiël
13. Die twaalf profete (Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi, almal as een boek)
Die Geskrifte (Hagiografa)
14. Psalms
15. Spreuke
16. Job
17. Die Hooglied van Salomo
18. Rut
19. Klaagliedere
20. Prediker
21. Ester
22. Daniël
23. Esra (Nehemia is by Esra ingesluit)
24. Kronieke (Eerste en Tweede saam as een boek)
12. Wat dien as verdere bevestiging van die Hebreeuse kanon, en met watter boeke het dit geëindig?
12 Dit was die katalogus, of kanon, wat Christus Jesus en die vroeë Christengemeente as die geïnspireerde Skrif aanvaar het. Dit was net uit hierdie geskrifte dat die geïnspireerde skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal het, en deur sulke aanhalings in te lei met uitdrukkings soos “soos geskrywe is”, het hulle bevestig dat hierdie geskrifte die Woord van God is (Rom. 15:9). Toe Jesus gepraat het van die hele geïnspireerde Skrif wat tot met die tyd van sy bediening geskryf is, het hy verwys na die dinge wat opgeteken is in “die wet van Moses en die profete en die psalms” (Luk. 24:44). Hier word die “psalms”, as die eerste boek van die Hagiografa, gebruik om na hierdie hele gedeelte te verwys. Die laaste geskiedkundige boek wat in die Hebreeuse kanon opgeneem is, was Nehemia. Dat dit onder die leiding van God se gees gedoen is, blyk uit die feit dat net hierdie boek die beginpunt voorsien vir die berekening van Daniël se besondere profesie dat ’n tydperk van 69 profetiese weke sou verstryk “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou” tot die koms van die Messias (Dan. 9:25; Neh. 2:1-8; 6:15). Die boek Nehemia verskaf ook die geskiedkundige agtergrond vir die laaste van die profetiese boeke, Maleagi. Dit ly geen twyfel dat Maleagi in die kanon van die geïnspireerde Skrif tuishoort nie, aangesien selfs Jesus, die Seun van God, verskeie kere daaruit aangehaal het (Matt. 11:10, 14). Terwyl soortgelyke aanhalings gemaak word uit die meeste boeke van die Hebreeuse kanon, wat almal voor Nehemia en Maleagi geskryf is, haal die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte glad nie uit enige sogenaamd geïnspireerde geskrifte aan wat na die tyd van Nehemia en Maleagi en tot en met die tyd van Christus geskryf is nie. Dit bevestig die tradisionele beskouing van die Jode, asook die opvatting van die Christengemeente van die eerste eeu G.J., dat die kanon van die Hebreeuse Geskrifte met die boeke van Nehemia en Maleagi geëindig het.
APOKRIEWE BOEKE VAN DIE HEBREEUSE GESKRIFTE
13. (a) Wat is die apokriewe boeke? (b) Hoe het dit gekom dat hulle in die Rooms-Katolieke kanon opgeneem is?
13 Wat is die apokriewe boeke? Dit is die geskrifte wat sommige in sekere Bybels opgeneem het maar wat deur ander verwerp is omdat hulle nie die kenmerke van goddelike inspirasie het nie. Die Griekse woord a·poʹkru·fos verwys na dinge wat “verborge” is (Mark. 4:22; Luk. 8:17; Kol. 2:3). Die uitdrukking word toegepas op boeke waarvan die skrywerskap of outoriteit twyfelagtig is, of dié wat wel beskou word as leesstof wat beperkte waarde vir die individuele leser het maar waarvoor getuienis van goddelike inspirasie ontbreek. Sulke boeke is eenkant gehou en nie in die openbaar gelees nie, vandaar die gedagte “verborge”. Tydens die Konsilie van Carthago, in 397 G.J., is die voorstel gedoen dat sewe van die apokriewe boeke by die Hebreeuse Geskrifte gevoeg word, asook toevoegings tot die kanonieke boeke Ester en Daniël. Maar dit was eers in 1546, tydens die Konsilie van Trente, dat die Rooms-Katolieke Kerk definitief bevestig het dat hy hierdie toevoegings tot sy katalogus van Bybelboeke aanvaar. Hierdie toevoegings was Tobias, Judit, toevoegings tot Ester, Wysheid, Ekklesiastikus, Barug, drie toevoegings tot Daniël, Eerste Makkabeërs en Tweede Makkabeërs.
14. (a) In watter opsig is Eerste Makkabeërs van belang? (b) Watter outoriteite het nooit na die Apokriewe verwys nie, en waarom nie?
14 Hoewel die boek Eerste Makkabeërs geensins as ’n geïnspireerde boek beskou moet word nie, bevat dit wel informasie wat van geskiedkundige belang is. Dit bevat ’n verslag van die Jode se onafhanklikheidstryd gedurende die tweede eeu v.G.J. onder aanvoering van die priesterlike familie van die Makkabeërs. Die res van die apokriewe boeke is vol mites en bygelowe en wemel van onjuisthede. Nie Jesus of die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte het ooit na hulle verwys of uit hulle aangehaal nie.
15, 16. Hoe het Josephus en Hieronimus aangedui watter boeke kanoniek is?
15 In sy werk Contra Apionem (Teen Apion; I, 38-41 [8]) verwys Joodse geskiedskrywer Flavius Josephus, van die eerste eeu G.J., na al die boeke wat die Hebreërs as heilig erken het. Hy het geskryf: “Ons het nie tallose inkonsekwente boeke wat met mekaar bots nie. Ons boeke, dié wat met reg erken word, tel maar twee-en-twintig [die ekwivalent van die 39 wat ons vandag het, soos paragraaf 11 getoon het] en bevat die verslag van die hele verlede. Vyf van hierdie boeke is dié van Moses, wat bestaan uit die wette en tradisionele geskiedenis vanaf die geboorte van die mens tot die dood van die wetgewer. . . . Van die dood van Moses tot Artasasta, wat Xerxes as koning van Persië opgevolg het, het die profete wat ná Moses gekom het die geskiedenis van die gebeure van hulle eie tyd in dertien boeke neergeskryf. Die oorblywende vier boeke bevat gesange van lof tot God en voorskrifte vir menslike gedrag.” Sodoende toon Josephus dat die kanon van die Hebreeuse Geskrifte al lank voor die eerste eeu G.J. vasgestel was.
16 Die Bybelgeleerde Hieronimus, wat die Latynse Vulgaat-vertaling van die Bybel in ongeveer 405 G.J. voltooi het, het ’n baie besliste standpunt ten opsigte van die apokriewe boeke ingeneem. Nadat hy ’n lys van die geïnspireerde boeke verskaf het, waarin hy hulle op dieselfde manier as Josephus getel en die 39 geïnspireerde boeke van die Hebreeuse Geskrifte as 22 aangegee het, skryf hy in sy proloog tot die boeke Samuel en Konings in die Vulgaat: “Daar is dus twee-en-twintig boeke . . . Hierdie proloog tot die Skrif kan as betroubare benadering dien tot al die boeke wat ons uit Hebreeus in Latyn vertaal; sodat ons kan weet dat enigiets wat buite die bestek van hierdie geskrifte val onder die apokriewe geplaas moet word.”
DIE CHRISTELIKE GRIEKSE GESKRIFTE
17. Waarvoor beweer die Rooms-Katolieke Kerk was hy verantwoordelik, maar wie het in werklikheid bepaal watter boeke die Bybelkanon uitmaak?
17 Die Rooms-Katolieke Kerk beweer dat hy verantwoordelik was vir die besluit oor watter boeke in die Bybelkanon ingesluit moes word en vestig die aandag op die Konsilie van Carthago (397 G.J.), waar ’n katalogus van boeke opgestel is. Die teenoorgestelde is egter waar, want die kanon, met inbegrip van die lys boeke wat die Christelike Griekse Geskrifte uitmaak, was toe reeds vasgestel, en nie deur die beslissing van enige konsilie nie, maar deur die leiding van God se heilige gees—dieselfde gees wat in die eerste plek die skrywe van daardie boeke geïnspireer het. Die getuienis van latere ongeïnspireerde katalogiseerders is slegs waardevol as ’n erkenning van die Bybelkanon, wat deur God se gees gemagtig is.
18. Watter belangrike gevolgtrekkings kan gemaak word aan die hand van die tabel wat vroeë katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte aangee?
18 Die getuienis van vroeë katalogusse. Een kyk na die bygaande tabel toon dat verskeie vierde-eeuse katalogusse van die Christelike Geskrifte, wat uit ’n tydperk vóór bogenoemde konsilie dateer, presies met ons hedendaagse kanon ooreenkom, en party ander laat slegs Openbaring uit. Voor die einde van die tweede eeu was die vier Evangelies, Handelinge en 12 van die apostel Paulus se briewe reeds algemeen aanvaar. Net ’n paar van die kleiner geskrifte is in sekere gebiede bevraagteken. Dit was waarskynlik die geval omdat sulke geskrifte se aanvanklike sirkulasie om die een of ander rede beperk was en dit dus langer geduur het voordat hulle as kanoniek aanvaar is.
19. (a) Watter belangrike dokument is in Italië gevind, en uit watter tydperk dateer dit? (b) Hoe definieer hierdie dokument die aanvaarde kanon van daardie tyd?
19 Een van die interessantste vroeë katalogusse is die fragment wat L. A. Muratori in die Ambrosiaanse Biblioteek, Milaan, Italië, ontdek en in 1740 gepubliseer het. Hoewel die begin ontbreek, dui die feit dat dit Lukas as die derde Evangelie bestempel daarop dat dit eers Mattheüs en Markus gemeld het. Die Canon Muratori, wat in Latyn is, dateer uit die tweede helfte van die tweede eeu G.J. Dit is ’n besonder interessante dokument, soos die volgende gedeeltelike vertaling toon: “Die derde boek van die Evangelie is dié volgens Lukas. Lukas, die welbekende geneesheer, het dit in sy eie naam geskryf . . . Die vierde boek van die Evangelie is dié van Johannes, een van die dissipels. . . . En gevolglik is daar geen disharmonie vir gelowiges se geloof nie, selfs al verskil die keuse van feite wat in die individuele Evangelies gebruik is, omdat al [die Evangelies] onder die een leidende Gees al die dinge verkondig het met betrekking tot sy geboorte, lyding, opstanding, gesprekke met sy dissipels en sy tweevoudige koms, die eerste in die vernedering wat uit veragting voortgespruit het, wat reeds plaasgevind het, en die tweede in die heerlikheid van koninklike mag, wat nog moet plaasvind. Dit is dus geen wonder nie dat Johannes so konsekwent in sy briewe na hierdie verskillende dinge verwys, deur persoonlik te sê: ‘Wat ons met ons oë gesien en met ons ore gehoor en met ons hande hanteer het, dié dinge het ons geskryf.’ Want sodoende bely hy dat hy nie net ’n ooggetuie nie maar ook ’n hoorder en verteller van al die wonderlike dinge van die Here is, in hulle volgorde. Daarbenewens is die handelinge van al die apostels in een boek neergeskryf. Lukas het hulle [so] saamgestel vir die hooggeagte Theofilus . . . Wat Paulus se briewe betref—hulle verduidelik self wat hulle is, waarvandaan of om watter rede hulle gestuur is, vir hom wat wil verstaan. Ten eerste het hy uitvoerig aan die Korinthiërs geskryf om die skeuring wat deur kettery veroorsaak is te verbied, toe aan die Galasiërs [teen] die besnydenis en aan die Romeine oor die orde van die Geskrifte, terwyl hy ook te kenne gegee het dat Christus die hoofsaak daarin is—met die gevolg dat dit vir ons nodig is om elkeen te bespreek, aangesien die geseënde apostel Paulus self, ter navolging van die voorbeeld van sy voorganger Johannes, aan nie meer as sewe kerke by name skryf nie, en wel in hierdie volgorde: aan die Korinthiërs (eerste), aan die Efesiërs (tweede), aan die Filippense (derde), aan die Kolossense (vierde), aan die Galasiërs (vyfde), aan die Thessalonicense (sesde), aan die Romeine (sewende). Maar hoewel hy twee keer aan die Korinthiërs en die Thessalonicense skryf om hulle tereg te wys, word daar [?d.w.s., deur hierdie sewevoudige skrywe] getoon dat daar een kerk is wat oor die hele aarde voorkom; en Johannes spreek ook in die Apokalips, hoewel hy aan sewe kerke skryf, tog met almal. Maar [hy het] weens geneentheid en liefde een aan Filemon en een aan Titus en twee aan Timotheüs [geskryf]; [en hierdie briewe] word in die eerbare opinie van die Kerk as heilig beskou. . . . Daar is ook ’n brief van Judas en twee wat Johannes se naam dra . . . Ons aanvaar net die openbarings van Johannes en Petrus, en party van ons wil nie hê [laasgenoemde] moet in die kerk voorgelees word nie.”—The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, 1956, Dl. VIII, bladsy 56.
20. (a) Hoe word die weglating van een van Johannes en een van Petrus se briewe verklaar? (b) In watter mate kom hierdie katalogus met ons hedendaagse katalogusse ooreen?
20 Jy sal merk dat daar naby die einde van die Canon Muratori van net twee briewe van Johannes melding gemaak word. Maar oor hierdie punt sê die voormelde ensiklopedie op bladsy 55 dat hierdie twee briewe van Johannes “net die tweede en derde kan wees, en die skrywer daarvan noem homself slegs ‘die ouderling’. Aangesien die outeur reeds die eerste in verband met die Vierde Evangelie behandel het, al was dit net terloops, en dáár sy onvoorwaardelike geloof in die Johanneïese oorsprong daarvan uitgespreek het, het hy gemeen dat hy hom hier tot die twee kleiner briewe kon beperk.” Oor die oënskynlike afwesigheid van enige vermelding van Petrus se eerste brief sê hierdie bron voorts: “Die waarskynlikste hipotese is dat ’n paar woorde, miskien ’n reël, wat gemeld het dat I Petrus en die Openbaring van Johannes ontvang is, verlore gegaan het.” Daarom maak hierdie ensiklopedie, op grond van die Canon Muratori se standpunt, hierdie gevolgtrekking op bladsy 56: “Die Nuwe Testament word beskou as ’n versameling wat definitief bestaan uit die vier Evangelies, die Handelinge, dertien briewe van Paulus, die Openbaring van Johannes, waarskynlik drie van sy briewe, Judas en waarskynlik 1 Petrus, terwyl die teenkanting teen nog ’n geskrif van Petrus nog nie uit die weg geruim was nie.”
21. (a) Van watter belang is Origines se kommentare oor die geïnspireerde geskrifte? (b) Wat het latere skrywers erken?
21 In ongeveer 230 G.J. het Origines die boeke Hebreërs en Jakobus, wat albei in die Canon Muratori ontbreek, as deel van die geïnspireerde Skrif aanvaar. Hoewel hy aandui dat sommige hulle kanonisiteit in twyfel getrek het, toon dit ook dat die kanonisiteit van die grootste deel van die Griekse Geskrifte teen hierdie tyd reeds aanvaar was, terwyl net ’n paar mense party van die minder bekende briewe bevraagteken het. Later het Athanasius, Hieronimus en Augustinus die gevolgtrekkings van vroeër lyste erken deur dieselfde 27 boeke wat ons nou het as die kanon aan te gee.b
22, 23. (a) Hoe is die lyste van die katalogusse in die tabel opgestel? (b) Waarom is daar blykbaar nie sulke lyste voor die Canon Muratori opgestel nie?
22 Die meeste katalogusse in die tabel is spesifieke lyste wat toon watter boeke as kanoniek aanvaar is. Dié van Ireneus, Clemens van Alexandrië, Tertullianus en Origines is saamgestel aan die hand van die aanhalings wat hulle gemaak het, wat toon wat hul beskouing was van die geskrifte waarna hulle verwys het. Dit word verder aangevul deur die verslae van die vroeë geskiedskrywer Eusebius. Maar die feit dat hierdie skrywers nie sekere kanonieke geskrifte meld nie, weerlê nie die kanonisiteit daarvan nie. Hulle het dit eenvoudig nie in hulle geskrifte gemeld nie, òf uit eie keuse, òf vanweë die onderwerpe wat bespreek is. Maar waarom vind ons nie noukeurige lyste wat ouer as die Canon Muratori is nie?
23 Dit was eers toe kritici soos Marcion in die middel van die tweede eeu G.J. op die toneel verskyn het dat ’n geskil ontstaan het oor watter boeke deur Christene aanvaar moet word. Marcion het sy eie kanon saamgestel om by sy leerstellings te pas, en hy het net sekere briewe van die apostel Paulus en ’n geredigeerde vorm van Lukas se Evangelie gebruik. Dit, tesame met die groot hoeveelheid apokriewe lektuur wat toe reeds deur die wêreld versprei het, het gelei tot katalogiseerders se verklarings oor watter boeke hulle as kanoniek aanvaar.
24. (a) Waardeur word die apokriewe “Nieu-Testamentiese” geskrifte gekenmerk? (b) Wat sê geleerdes oor hierdie geskrifte?
24 Apokriewe geskrifte. Interne getuienis bevestig die duidelike onderskeid wat getref is tussen die geïnspireerde Christelike geskrifte en werke wat vals of ongeïnspireer was. Die apokriewe geskrifte is baie minderwaardig en dikwels vol fantasieë en kinderagtig. Hulle is baie dikwels onakkuraat.c Let op die volgende verklarings van geleerdes oor hierdie nie-kanonieke boeke:
“Daar is geen sprake dat enigiemand hulle uit die Nuwe Testament uitgesluit het nie: hulle het dit self gedoen.”—M. R. James, The Apocryphal New Testament, bladsye xi, xii.
“Ons hoef maar net ons Nieu-Testamentiese boeke as ’n geheel met ander dergelike lektuur te vergelyk om te besef hoe wyd die kloof is wat hulle daarvan skei. Daar word dikwels gesê dat die nie-kanonieke evangelies in werklikheid die beste getuienis is vir dié wat wel kanoniek is.”—G. Milligan, The New Testament Documents, bladsy 228.
“Daar kan nie van ’n enkele geskrif wat uit die vroeë periode van die Kerk vir ons behoue gebly het maar nie deel van die Nuwe Testament uitmaak nie, gesê word dat dit vandag met reg by die Kanon gevoeg kan word nie.”—K. Aland, The Problem of the New Testament Canon, bladsy 24.
25. Watter feite aangaande die individuele skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte dui die inspirasie van hierdie geskrifte aan?
25 Geïnspireerde skrywers. Die volgende is ook ’n interessante punt. Al die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte was op die een of ander manier nou verbonde aan die Christengemeente se oorspronklike bestuursliggaam, wat onder andere uit apostels bestaan het wat persoonlik deur Jesus gekies is. Mattheüs, Johannes en Petrus het onder die oorspronklike 12 apostels getel, en Paulus is later as ’n apostel gekies maar is nie as een van die 12 gereken nie.d Hoewel Paulus nie teenwoordig was tydens die spesiale uitgieting van gees op Pinkster nie, was Mattheüs, Johannes en Petrus wel daar, asook Jakobus en Judas en waarskynlik Markus (Hand. 1:14). Petrus sluit Paulus se briewe spesifiek by “die ander Skrifte” in (2 Pet. 3:15, 16). Markus en Lukas was intieme metgeselle en reisgenote van Paulus en Petrus (Hand. 12:25; 1 Pet. 5:13; Kol. 4:14; 2 Tim. 4:11). Al hierdie skrywers het deur heilige gees wonderdadige vermoëns ontvang, hetsy deur spesiale uitgieting soos op Pinkster en toe Paulus bekeer is (Hand. 9:17, 18) of, soos ongetwyfeld in Lukas se geval, deur die handeoplegging van die apostels (Hand. 8:14-17). Die hele Christelike Griekse Geskrifte is geskrywe gedurende die tyd toe die spesiale gawes van die gees in werking was.
26. (a) Wat aanvaar ons as God se Woord, en waarom? (b) Hoe moet ons waardering vir die Bybel toon?
26 Geloof in die almagtige God, wat die Inspireerder en Bewaarder van sy Woord is, vul ons met vertroue dat dit hy was wat die versameling van die verskillende dele daarvan gerig het. Daarom aanvaar ons vol vertroue die 27 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte tesame met die 39 van die Hebreeuse Geskrifte as die een Bybel, deur die een Outeur, Jehovah God. Sy Woord in die 66 boeke daarvan is ons gids, en die algehele harmonie en balans daarvan getuig van die feit dat dit volledig is. Alle lof aan Jehovah God, die Skepper van hierdie onvergelyklike boek! Dit kan ons volledig toerus en ons voete op die weg tot die lewe plaas. Laat ons dit by elke geleentheid verstandig gebruik.
[Voetnote]
a Encyclopaedia Judaica, 1973, Dl. 4, kol. 826, 827.
b The Books and the Parchments, 1963, F. F. Bruce, bladsy 112.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 122-5.
d Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 129-30.
[Tabel op bladsy 303]
Belangrike vroeë katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte
A - Sonder twyfel as skriftuurlik en kanoniek aanvaar
B - In sekere kringe betwyfel
BA - In sekere kringe betwyfel, maar deur katalogiseerder
as skriftuurlik en kanoniek aanvaar
? - Geleerdes onseker oor die lesing van die teks of hoe
’n gemelde boek beskou word
- ’n Oop blokkie toon dat die boek nie deur daardie
outoriteit of bron gebruik of gemeld is nie
Naam en plek
Canon Clemens
Muratori, Ireneus, van Tertullianus,
Italië Klein-Asië Alexandrië N.Afrika
Benaderde
jaartal G.J. 170 180 190 207
Mattheüs A A A A
Markus A A A A
Lukas A A A A
Johannes A A A A
Handelinge A A A A
Romeine A A A A
1 Korinthiërs A A A A
2 Korinthiërs A A A A
Galasiërs A A A A
Efesiërs A A A A
Filippense A A A A
Kolossense A A A A
1 Thessalonicense A A A A
2 Thessalonicense A A A A
1 Timotheüs A A A A
2 Timotheüs A A A A
Titus A A A A
Filemon A A
Hebreërs B BA BA
Jakobus ?
1 Petrus A? A A A
2 Petrus B? A
1 Johannes A A BA A
2 Johannes A A BA
3 Johannes A?
Judas A BA A
Openbaring A A A A
Naam en plek
Cyrillus Cheltenham-
Origines, Eusebius, van lys,
Alexandrië Palestina Jerusalem N.Afrika
Benaderde
jaartal G.J. 230 320 348 365
Mattheüs A A A A
Markus A A A A
Lukas A A A A
Johannes A A A A
Handelinge A A A A
Romeine A A A A
1 Korinthiërs A A A A
2 Korinthiërs A A A A
Galasiërs A A A A
Efesiërs A A A A
Filippense A A A A
Kolossense A A A A
1 Thessalonicense A A A A
2 Thessalonicense A A A A
1 Timotheüs A A A A
2 Timotheüs A A A A
Titus A A A A
Filemon A A A A
Hebreërs BA BA A
Jakobus BA BA A
1 Petrus A A A A
2 Petrus BA BA A B
1 Johannes A A A A
2 Johannes BA BA A B
3 Johannes BA BA A B
Judas BA BA A
Openbaring A BA A
Naam en plek
Gregorius
van
Athanasius, Epiphanius, Nazianze, Amfilocius,
Alexandrië Palestina Klein-Asië Klein-Asië
Benaderde
jaartal G.J. 367 368 370 370
Mattheüs A A A A
Markus A A A A
Lukas A A A A
Johannes A A A A
Handelinge A A A A
Romeine A A A A
1 Korinthiërs A A A A
2 Korinthiërs A A A A
Galasiërs A A A A
Efesiërs A A A A
Filippense A A A A
Kolossense A A A A
1 Thessalonicense A A A A
2 Thessalonicense A A A A
1 Timotheüs A A A A
2 Timotheüs A A A A
Titus A A A A
Filemon A A A A
Hebreërs A A A BA
Jakobus A A A A
1 Petrus A A A A
2 Petrus A A A B
1 Johannes A A A A
2 Johannes A A A B
3 Johannes A A A B
Judas A A A B
Openbaring A BA B
Naam en plek
Derde
Konsilie
Filaster, Hieronimus, Augustinus, van Carthago,
Italië Italië N.Afrika N.Afrika
Benaderde
jaartal G.J. 383 394 397 397
Mattheüs A A A A
Markus A A A A
Lukas A A A A
Johannes A A A A
Handelinge A A A A
Romeine A A A A
1 Korinthiërs A A A A
2 Korinthiërs A A A A
Galasiërs A A A A
Efesiërs A A A A
Filippense A A A A
Kolossense A A A A
1 Thessalonicense A A A A
2 Thessalonicense A A A A
1 Timotheüs A A A A
2 Timotheüs A A A A
Titus A A A A
Filemon A A A A
Hebreërs BA BA A A
Jakobus A BA A A
1 Petrus A A A A
2 Petrus A BA A A
1 Johannes A A A A
2 Johannes A BA A A
3 Johannes A BA A A
Judas A BA A A
Openbaring BA BA A A