Hoofstuk Sewe
Wat ons uit God se toelating van goddeloosheid leer
1, 2. (a) Hoe sou dit ons geraak het as Jehovah die opstandiges in Eden onmiddellik tereggestel het? (b) Watter liefdevolle voorsienings het Jehovah vir ons beskikbaar gestel?
“MIN en rampspoedig was die dae van my lewensjare”, het die aartsvader Jakob gesê (Genesis 47:9). In dieselfde trant het Job gesê dat die mens ‘’n kort rukkie lewe en sat is van ontsteltenis’ (Job 14:1). Soos hulle het die meeste van ons al moeilikhede, onregte, selfs tragedies, beleef. Maar die feit dat ons gebore is, was geen onreg aan die kant van God nie. Ons het weliswaar nie die volmaakte verstand en liggaam of die Paradystuiste wat Adam en Eva oorspronklik gehad het nie. Maar gestel Jehovah het hulle onmiddellik tereggestel toe hulle in opstand gekom het. Hoewel daar geen siekte, hartseer of dood sou gewees het nie, sou die mensdom ook nie bestaan het nie. Ons sou nooit gebore gewees het nie. Gelukkig het God Adam en Eva toegelaat om kinders voort te bring, al het hulle onvolmaaktheid geërf. En deur Christus het Jehovah voorsiening gemaak sodat ons kan terugkry wat Adam verloor het—die ewige lewe op ’n paradysaarde.—Johannes 10:10; Romeine 5:12.
2 Hoe aanmoedigend is dit tog vir ons om te kan uitsien na ewige lewe in paradystoestande in die nuwe wêreld, waar ons ontslae sal wees van siekte, hartseer, pyn en die dood, sowel as van goddelose mense! (Spreuke 2:21, 22; Openbaring 21:4, 5). Maar hoewel ons persoonlike redding vir ons en vir Jehovah baie belangrik is, leer ons uit die Bybelverslag dat iets selfs betekenisvoller by die saak betrokke is.
Ter wille van sy groot naam
3. Wat is betrokke by die vervulling van Jehovah se voorneme vir die aarde en die mensdom?
3 God se naam is betrokke by die vervulling van sy voorneme vir die aarde en die mensdom. Daardie naam, Jehovah, beteken “Hy laat word”. Sy naam omvat dus sy reputasie as die Universele Soewerein, die Voornemer en die God van waarheid. Weens Jehovah se posisie hang die vrede en welstand van die ganse heelal daarvan af dat sy naam en alles wat dit insluit, al die respek gegee word wat dit verdien en dat almal aan hom gehoorsaam is.
4. Wat het Jehovah se voorneme vir die aarde ingesluit?
4 Nadat Jehovah Adam en Eva geskep het, het hy hulle ’n taak gegee om uit te voer. Hy het dit duidelik gestel dat sy voorneme nie net was om die hele aarde te onderwerp—en sodoende die grense van die Paradys uit te brei—nie, maar ook om die aarde met hulle nakomelinge te vul (Genesis 1:28). Sou hierdie voorneme misluk omdat hulle gesondig het? Watter oneer sou dit tog die naam van die almagtige Jehovah aangedoen het as hy nie sy voorneme ten opsigte van hierdie aarde en die mensdom kon vervul nie!
5. (a) Wanneer sou die eerste mense sterf as hulle van die boom van die kennis van goed en kwaad eet? (b) Hoe het Jehovah sy woord in Genesis 2:17 vervul terwyl hy steeds sy voorneme vir die aarde in ag geneem het?
5 Jehovah het Adam en Eva gewaarsku dat hulle, as hulle ongehoorsaam sou wees en van die boom van die kennis van goed en kwaad sou eet, sou sterf “die dag” dat hulle daarvan eet (Genesis 2:17). Getrou aan sy woord het Jehovah hulle dieselfde dag dat hulle gesondig het, tot verantwoording geroep en die doodsvonnis oor hulle uitgespreek. Uit God se standpunt het Adam en Eva daardie dag gesterf. Maar om sy voorneme vir die aarde te vervul, het Jehovah hulle toegelaat om ’n gesin voort te bring voordat hulle fisies gesterf het. Aangesien God 1 000 jaar soos een dag kan beskou, het Adam nietemin binne een “dag” gesterf toe sy lewe op 930 jaar tot ’n einde gekom het (2 Petrus 3:8; Genesis 5:3-5). Sodoende is Jehovah se waaragtigheid gehandhaaf wat die tyd betref wanneer die vonnis voltrek sou word, en sy voorneme vir die aarde is nie deur hulle dood gedwarsboom nie. Onvolmaakte mense, selfs goddeloses, is egter ’n tyd lank toegelaat om te lewe.
6, 7. (a) Waarom laat Jehovah volgens Eksodus 9:15, 16 toe dat die goddeloses ’n tyd lank voortbestaan? (b) Hoe is Jehovah se krag in die geval van Farao getoon, en hoe is Sy naam bekend gemaak? (c) Wat sal die gevolg wees wanneer die teenswoordige goddelose stelsel tot ’n einde kom?
6 Wat Jehovah in die tyd van Moses vir die heerser van Egipte gesê het, toon verder waarom God toegelaat het dat die goddeloses voortbestaan. Toe Farao die kinders van Israel verbied het om Egipte te verlaat, het Jehovah hom nie onmiddellik doodgemaak nie. Tien Plae is oor die land gebring, wat Jehovah se krag op verbasende maniere getoon het. Toe Jehovah die sewende plaag aankondig, het hy vir Farao gesê dat Hy Farao en sy volk maklik van die aarde af kon verdelg het. “Maar juis om dié rede”, het Jehovah gesê, “het ek jou nog laat bestaan, om jou my krag te toon en om my naam oor die hele aarde bekend te laat maak.”—Eksodus 9:15, 16.
7 Toe Jehovah die Israeliete verlos het, het sy naam inderdaad baie bekend geword (Josua 2:1, 9-11). Vandag, byna 3 500 jaar later, is wat hy destyds gedoen het, nog nie vergete nie. Nie alleen is die persoonlike naam Jehovah bekend gemaak nie, maar ook die waarheid in verband met die Een wat daardie naam dra. Dit het Jehovah se reputasie gevestig as die God wat sy beloftes nakom en ten behoewe van sy knegte optree (Josua 23:14). Dit het getoon dat niks sy voorneme kan stuit nie, want hy is almagtig (Jesaja 14:24, 27). Daarom kan ons die vertroue hê dat hy binnekort ten behoewe van sy getroue knegte sal optree deur Satan se ganse goddelose stelsel te vernietig. Hierdie vertoning van almag en die gevolglike verheerliking van Jehovah se naam sal nooit vergeet word nie. Die voordele daarvan sal vir ewig duur.—Esegiël 38:23; Openbaring 19:1, 2.
‘O die diepte van God se wysheid!’
8. Watter faktore spoor Paulus ons aan om te oorweeg?
8 In sy brief aan die Romeine opper die apostel Paulus die vraag: “Is daar onregverdigheid by God?” Hy antwoord met nadruk: “Mag dit nooit die geval word nie!” Dan beklemtoon hy God se barmhartigheid en verwys hy na wat Jehovah gesê het oor die rede waarom hy Farao ’n ruk langer laat leef het. Paulus toon ook dat ons as mense soos klei in die hande van ’n pottebakker is. Dan sê hy: “As God dan nou, hoewel hy sy gramskap wil toon en sy krag bekend wil maak, voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is, met groot lankmoedigheid geduld het, sodat hy die rykdom van sy heerlikheid oor voorwerpe van barmhartigheid bekend kon maak, wat hy vooraf berei het vir heerlikheid, naamlik ons, wat hy nie net uit die Jode nie maar ook uit die nasies geroep het, wat daarvan?”—Romeine 9:14-24.
9. (a) Wie is die “voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is”? (b) Waarom het Jehovah ondanks sy teenstanders groot lankmoedigheid aan die dag gelê, en hoe sal die uitslag tot voordeel wees van dié wat hom liefhet?
9 Sedert die opstand in Eden was almal wat Jehovah en sy wette teëgestaan het, “voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is”. Gedurende al die tyd daarna het Jehovah lankmoedigheid beoefen. Die goddeloses het sy weë bespot, sy knegte vervolg en selfs sy Seun doodgemaak. Jehovah het groot selfbeheersing aan die dag gelê en genoeg tyd toegelaat sodat die hele skepping duidelik kon sien wat die rampspoedige gevolge is van opstand teen God en van menseheerskappy wat onafhanklik is van hom. Terselfdertyd het Jesus se dood die middel voorsien om die gehoorsame mensdom te verlos en om “die werke van die Duiwel te verbreek”.—1 Johannes 3:8; Hebreërs 2:14, 15.
10. Waarom het Jehovah die goddeloses die afgelope 1 900 jaar geduld?
10 Gedurende die meer as 1 900 jaar sedert Jesus se opstanding het Jehovah die “voorwerpe van gramskap” verder geduld en hulle nie vernietig nie. Waarom nie? In die eerste plek omdat hy dié voorberei het wat saam met Jesus Christus in sy hemelse Koninkryk gaan wees. Daar is 144 000 van hulle, en hulle is die “voorwerpe van barmhartigheid” waarvan die apostel Paulus gepraat het. Eerstens is individue uit die Jode genooi om hierdie hemelse klas uit te maak. Later het God mense van die nie-Joodse nasies genooi. Jehovah het nie een van hulle gedwing om hom te dien nie. Maar hy het aan party van diegene wat met waardering op sy liefdevolle voorsienings gereageer het, die voorreg gegee om medeheersers met sy Seun in die hemelse Koninkryk te wees. Die voorbereiding van daardie hemelse klas is nou byna afgehandel.—Lukas 22:29; Openbaring 14:1-4.
11. (a) Watter groep vind nou by Jehovah se lankmoedigheid baat? (b) Hoe sal die dooies baat vind?
11 Maar wat van bewoners vir die aarde? Jehovah se lankmoedigheid het dit ook moontlik gemaak om “’n groot menigte” uit alle nasies te versamel. Hulle tel nou miljoene. Jehovah het belowe dat hierdie aardse klas die einde van hierdie stelsel sal oorleef en die vooruitsig sal hê om ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet (Openbaring 7:9, 10; Psalm 37:29; Johannes 10:16). Op God se bestemde tyd sal menigtes van die dooies opgewek word en die geleentheid gegee word om aardse onderdane van die hemelse Koninkryk te wees. God se Woord voorspel in Handelinge 24:15: “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.”—Johannes 5:28, 29.
12. (a) Wat het Jehovah se toelating van goddeloosheid ons van hom geleer? (b) Hoe voel jy oor die manier waarop Jehovah hierdie sake hanteer het?
12 Is daar enigiets onregverdigs hieromtrent? Nee, want deur die goddeloses, of “voorwerpe van gramskap”, nie onmiddellik te vernietig nie, betoon God medelye met ander, in ooreenstemming met sy voorneme. Dit toon hoe barmhartig en liefdevol hy is. En aangesien ons tyd gehad het om te sien hoe sy voorneme ontvou, leer ons baie van Jehovah self. Ons verwonder ons oor die verskillende aspekte van sy persoonlikheid wat aan die lig kom—sy regverdigheid, sy barmhartigheid, sy lankmoedigheid, sy veelsydige wysheid. Die verstandige manier waarop Jehovah die geskil oor universele soewereiniteit—sy reg om te regeer—hanteer het, sal vir ewig getuig van die feit dat sy manier van regeer die allerbeste is. Ons sê saam met die apostel Paulus: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!”—Romeine 11:33.
Die geleentheid om ons toegewydheid te toon
13. Watter geleentheid het ons as ons persoonlike lyding moet verduur, en wat sal ons help om verstandig op te tree?
13 Baie van God se knegte bevind hulle in situasies waarin hulle persoonlike lyding moet verduur. Hulle lyding duur voort omdat God nog nie die goddeloses vernietig het en die voorspelde herstelling van die mensdom teweeggebring het nie. Moet dit ons verbitterd maak? Of kan ons sulke situasies beskou as geleenthede om te help bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is? Ons kan die krag kry om dit te doen as ons hierdie aansporing in gedagte hou: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee” (Spreuke 27:11). Satan, die een wat Jehovah uittart, het die aantyging gemaak dat mense God sal blameer, hom selfs sal vervloek, as hulle materiële verliese ly of fisiese lyding ondergaan (Job 1:9-11; 2:4, 5). Ons maak Jehovah se hart bly as ons, deur ons lojaliteit aan hom ondanks ontberinge, toon dat dit nie in ons geval waar is nie.
14. Watter voordele kan dit vir ons inhou as ons op Jehovah vertrou wanneer ons beproewinge ondergaan?
14 As ons op Jehovah vertrou wanneer ons beproewinge ondergaan, kan ons kosbare eienskappe aankweek. Jesus het byvoorbeeld as gevolg van die dinge wat hy gely het, “gehoorsaamheid geleer” op ’n manier wat hy dit nie vantevore geken het nie. Ons kan ook uit ons beproewinge leer deurdat ons lankmoedigheid, volharding en groter waardering vir Jehovah se regverdige weë kan aankweek.—Hebreërs 5:8, 9; 12:11; Jakobus 1:2-4.
15. Hoe kan ander daarby baat vind as ons ontberinge geduldig verduur?
15 Ander sal sien wat ons doen. As gevolg van wat ons ervaar weens ons liefde vir regverdigheid, sal party van hulle moontlik mettertyd besef wie vandag ware Christene is. En deur saam met ons te kom aanbid, kan hulle vir die seëninge van die ewige lewe in aanmerking kom (Matteus 25:34-36, 40, 46). Jehovah en sy Seun wil hê dat mense hierdie geleentheid moet kry.
16. Hoe hou ons beskouing van persoonlike ontbering verband met die kwessie van eenheid?
16 Hoe goed is dit tog wanneer ons selfs moeilike situasies as geleenthede beskou om ons toegewydheid aan Jehovah te toon sowel as om sy wil te doen! As ons dit doen, kan dit bewys lewer dat ons inderdaad meer verenig raak met God en Christus. Jesus het namens alle ware Christene tot Jehovah gebid en gesê: “Ek doen nie net aangaande hulle [sy destydse dissipels] versoek nie, maar ook aangaande dié wat deur hulle woord geloof in my stel; sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees.”—Johannes 17:20, 21.
17. Watter vertroue kan ons hê as ons aan Jehovah lojaal is?
17 As ons aan Jehovah lojaal is, sal hy ons ryklik beloon. Sy Woord sê: “Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie” (1 Korintiërs 15:58). Dit sê ook: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Jakobus 5:11 sê: “Kyk! Ons noem dié wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is.” Wat was die gevolg vir Job? “Wat Jehovah betref, hy het die einde van Job meer geseën as sy begin” (Job 42:10-16). Ja, Jehovah is die “beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). En wat ’n beloning het ons tog om na uit te sien—ewige lewe op ’n paradysaarde!
18. Wat sal uiteindelik gebeur met enige pynlike herinneringe wat ons dalk het?
18 God se Koninkryksheerskappy sal al die skade ongedaan maak wat die mensdom oor die afgelope millenniums aangedoen is. Die vreugdes van daardie tyd sal enige lyding wat ons nou ondergaan, in die skadu stel. Ons sal nie geteister word deur enige slegte herinneringe aan lyding wat ons moes deurmaak nie. Die opbouende gedagtes en bedrywighede wat die daaglikse lewe van mense in die nuwe wêreld sal vul, sal die pynlike herinneringe geleidelik uitwis. Jehovah sê: “Ek skep nuwe hemele [’n nuwe hemelse Koninkryksregering oor die mensdom] en ’n nuwe aarde [’n regverdige mensegemeenskap]; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie. Maar verheug julle en wees vir ewig bly oor wat ek skep.” Ja, in Jehovah se nuwe wêreld sal regverdiges kan sê: “Die hele aarde het tot rus gekom, het vry van rusversteuring geword. Die mense het vrolik geword met vreugdevolle uitroepe.”—Jesaja 14:7; 65:17, 18.
Hersieningsbespreking
• Hoe het Jehovah tereg groot respek vir sy naam getoon terwyl hy goddeloosheid toegelaat het?
• Hoe het die feit dat God “voorwerpe van gramskap” geduld het, dit selfs vir ons moontlik gemaak om by sy barmhartigheid baat te vind?
• Hoe moet ons situasies wat vir ons lyding veroorsaak, probeer beskou?
[Prente op bladsy 67]
Jehovah “het die einde van Job meer geseën as sy begin”