Eerste Samuel beklemtoon die belangrikheid van gehoorsaamheid
DIE belangrikheid van gehoorsaamheid vir Christene kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit geld veral van God se gebooie aan hulle. Is al die moeilikheid in die wêreld nie toe te skrywe aan die feit dat ons eerste ouers ongehoorsaam was aan God se bevel wat hulle verbied het om van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie? Ja, diegene wat God se goedkeuring wil wegdra, moet aan hom gehoorsaam wees.—Gen. 2:16, 17; 3:1-19.
Die boek Eerste Samuel beklemtoon die belangrikheid van gehoorsaamheid baie goed. Dit bevat nie alleen voorskrifte wat ons beveel om gehoorsaam te wees nie, maar illustreer die vrugte van gehoorsaamheid en die resultate van ongehoorsaamheid.
Oorspronklik het hierdie boek een bundel (rol) saam met Tweede Samuel uitgemaak. Dit dek meer as 100 jaar van Israel se geskiedenis, van kort voor die geboorte van Samuel, wat die laaste van die reeks rigters was, tot die dood van Saul, die eerste van Israel se konings. Die belangrikste historiese gebeurtenis wat daarin opgeteken staan, is Israel se oorgang van bewind deur rigters na ’n monargie. Drie persone word uiters opvallend gemaak, die profeet Samuel, koning Saul en Dawid. Die boek dek opeenvolgens: (1) Samuel en sy rigterskap; (2) Saul se vroeë koningskap; (3) Dawid se heldedade, Saul se vervolging van Dawid en Saul se selfmoord op die slagveld.
Daar is al baie gegis oor wie die boek Eerste Samuel geskryf het. Vir diegene wat glo dat die Bybel geïnspireerd is, is 1 Kronieke 29:29 egter duidelik: “En die geskiedenis van koning Dawid, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad.” Dit wil sê, die profeet Samuel het alles van Samuel geskrywe tot sy dood, wat in 1 Samuel 25:1 opgeteken is. Natan en Gad het die res geskrywe. En dit is die mening van eertydse Joodse geleerdes sowel as van die meeste vroeë Christengeleerdes.
Wat betref die betroubaarheid of egtheid van die dinge wat in die boek opgeteken staan: Daar word na talle van die gebeurtenisse daarvan verwys in die boek Psalms en in die Christelike Griekse Skrifte; daar is ’n openhartigheid en eerlikheid wat die boek as waar bestempel. Argeologie het ook die juistheid van party van die dinge wat in die boek opgeteken staan, bevestig.
Bowendien is die letterkundige gehalte van die boeke van Samuel sodanig dat dit inderdaad gesê kan word dat dit gewig verleen aan die betroubaarheid daarvan. ’n Bekende Hebreeuse gesaghebbende sê: “Samuel bevat van die voortreflikste voorbeelde van Hebreeuse prosa in die Bybel. . . . Soos alle goeie Hebreeus bereik dit die grootste trefkrag met die minste woorde. Die verhale daarvan is meesterstukke op die gebied van geskiedenisverslae.” Dit is iets wat ons van Samuel sou verwag, aangesien hy van die tyd dat hy gespeen is, gehoor het hoe daar by die heiligdom uit die Skrif voorgelees word. Die profete Natan en Gad het heel moontlik probeer om sy styl te volg.
SAMUEL, RIGTER EN PROFEET
Eerste Samuel open deur te vertel van ’n sekere Hanna wat treur omdat sy kinderloos is. Terwyl sy by die tabernakel in Silo tot God bid, lê Hanna ’n gelofte af dat as Hy vir haar ’n seun gee, sy hom aan Jehovah se diens sal toewy. God verhoor haar gebed. Sy noem die kind Samuel, wat “naam van God” beteken. Sodra sy hom speen, heel waarskynlik toe hy tussen drie en vyf jaar oud was, bring sy hom na Silo om daar te dien. As een wat gehoorsaam is aan God se bevel om te doen soos jy beloof het, soos dit in Deuteronomium 23:23 opgeteken staan, kry sy ’n voortreflike beloning! Dit verskaf haar ongetwyfeld vreugde om te sien dat haar seun Samuel so ’n magtige dienaar van Jehovah word!—1 Sam. 1:1-2:11.
Die twee seuns van Eli die hoëpriester het presies die teenoorgestelde gesindheid. Hoewel hulle as priesters by die tabernakel dien, is hulle skreiend ongehoorsaam aan God se wette wat hulle bedrywighede as priesters betref, sowel as deur walglik immoreel te wees. Hoewel Eli hulle oor hierdie dinge berispe, steur hulle hulle nie daaraan nie. Hulle ongehoorsame handelwyse mishaag Jehovah so erg dat hy waarsku dat hy die huis van Eli sal straf. Hy gebruik jong Samuel om hierdie boodskap te dra. Jehovah gebruik die Filistyne om hierdie strafgerig te voltrek deur die Israeliete op die slagveld te verslaan. In hierdie veldslag sterf nie alleen die seuns van Eli nie, maar die Filistyne neem ook die heilige verbondsark, wat die Israeliete na die gevegsfront toe gebring het met die hoop dat dit as ’n gelukbringer sal dien om hulle die oorwinning te laat behaal. Toe die hoëpriester Eli, wat oud, baie vet en blind was, hoor dat hulle die ark verloor het, val hy agteroor van sy stoel af en breek sy nek.—1 Sam. 2:12-4:22.
Maar dit is nie Jehovah se wil dat die Filistyne die ark moet hou nie. Deur hulle met ’n reeks plae te straf, maneuvreer God sake dat hulle die ark na Israel toe terugstuur.
Wanneer Samuel die manlike staat bereik, dien hy as priester en rigter van Israel. Wanneer die vorste van die Filistyne weer bymekaarkom om oorlog te voer, roep Samuel Jehovah aan, met die gevolg dat die Israeliete ’n klinkende oorwinning oor hulle vyande behaal. Jaar na jaar rig Samuel Israel en doen hy sy rondte deur “Bet-el en Gilgal en Mispa” te besoek.—1 Sam. 5:1-7:17.
SAUL, ISRAEL SE EERSTE KONING
Dit ly geen twyfel dat Samuel aan God se bevele gehoorsaam is en daarvoor geseën word nie, maar met sy seuns is dit heeltemal anders gesteld. Hulle ‘loop onregverdige wins agterna en neem omkoopgeskenke aan en verdraai die reg’. Die volk Israel gebruik hierdie situasie om ’n koning te vra om oor hulle te regeer. Hulle vrees ook dat die nasies in die omstreke hulle sal aanval. Israel se versoek om ’n koning is vir Samuel ’n groot slag. Maar God verseker hom dat hulle nie net Samuel verwerp as hulle ’n mensekoning vra nie, maar dat hulle in werklikheid God as hulle Koning verwerp. Samuel waarsku hulle hoe ’n groot las dit vir hulle sal wees om ’n mensekoning te hê, maar hulle wil steeds een hê. Hulle wil soos die nasies in die omtrek wees. Jehovah gee sy afkeuring van hulle besluit te kenne deur ’n ontydige donderstorm te veroorsaak. Nogtans draai Jehovah nie sy rug vir sy volk nie. Hy kies ’n koning, beskeie Saul, wat van sy skouers af boontoe hoër as enigeen van sy volk is en wat werklik die voorkoms van ’n koning het. Samuel salf eers vir Saul privaat en dan in die openbaar, en laat Saul dan as koning oor die nasie Israel uitroep.—1 Sam. 8:1-10:27.
Saul toon aanvanklik dat hy ’n bekwame koning is. Hy verenig die strydmagte van Israel om die Ammoniete te verslaan wat gedreig het om iets sadisties te doen aan die manne van Jabes, wie se stad hulle beleër het. In hierdie tyd hou Samuel wat ons sy afskeidsrede kan noem. Hy herinner sy volk aan hoe regverdig en eerlik hy Israel al die dae van sy lewe gerig het en dring herhaaldelik by hulle daarop aan om Jehovah te vrees en hom getrou te dien.—1 Sam. 11:1-12:25.
Deur aan God se bevele ongehoorsaam te wees, begaan koning Saul hierna die een groot fout na die ander. Daar ontstaan ’n noodtoestand toe ’n groot strydmag Filistyne dreig om aan te val. Saul word beveel om te wag vir Samuel wat Jehovah om hulp sal smeek deur offerandes te bring. Omdat Samuel versuim om te kom en daar blykbaar ’n noodtoestand is, veronagsaam Saul vermetel die bevel om te wag en gaan hy voort om die brandoffers en die dankoffers te offer. Net nadat hy dit gedoen het, kom Samuel daar aan. Weens Saul se vermetelde ongeduld verwerp Jehovah hom as koning, want: “Jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie.”—1 Sam. 13:1-23.
Saul begaan weer ’n ernstige fout: hy is nie gehoorsaam aan God se bevel om die Amalekiete heeltemal uit te delg nie. Eeue tevore het die Amalekiete ’n lafhartige aanval gedoen op die Israelitiese agterblyers wat moeg en uitgeput was van hulle lang optog deur die woestyn (Deut. 25:17-19). Omdat Saul, saam met die mense, die beste van die kuddes en die Amalekitiese koning Agag gespaar het, sê Samuel vir hom: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees, is beter as slagoffer . . . Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” Daarna sien Samuel Saul nie weer nie, hoewel hy baie oor hom treur.—1 Sam. 15:1-35.
Kort daarna stuur Jehovah Samuel na die huis van Isai toe om die jongste seun Dawid as Israel se volgende koning te salf. Nou verlaat Jehovah se gees Saul en word hy deur neerslagtigheid geteister. Aangesien Dawid ’n uitmuntende harpspeler is, word hy gekies om voor koning Saul te speel, want dit bring vir hom verligting. Vervolgens verneem ons dat Dawid die grootpraterige Filistynse reus Goliat met net ’n slingervel en ’n klip doodmaak. Dawid se groot geloof in en ywer vir Jehovah se naam maak hom so bemind by Saul se seun Jonatan dat ‘Jonatan vir Dawid so liefkry soos sy eie siel’ (1 Sam. 18:1). Hoewel dit duidelik word dat Dawid eerder as Jonatan Israel se volgende koning sal wees, bly Jonatan steeds Dawid se lojale vriend en kies vir Dawid party al stel dit ook sy eie lewe in gevaar.
Dawid word nou so suksesvol in oorlogvoering dat die vroue van Israel sing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Dit vervul Saul met ’n jaloesie wat ’n verterende hartstog by hom word; die vernaamste ding in sy lewe word nou om van Dawid ontslae te raak. Gedurende die tyd dat Saul Dawid soos ’n wilde dier jag, kry Dawid twee geleenthede om Saul dood te maak, maar hy weier om ‘sy hand aan die gesalfde van die HERE te slaan’.—1 Sam. 18:1-24:22; 26:1-25.
Ander Israeliete wat griewe het, sluit hulle by die vlugteling Dawid aan en hulle word as ’n bende voëlvryverklaardes beskou. Maar hulle beskerm die boere en hulle kuddes teen plunderaars. Derhalwe vra Dawid ’n beloning van Nabal, ’n ryk skaapboer. Onbeskaamd weier hy egter Dawid se versoek en daarom lê Dawid ’n eed af dat hy hom baie swaar sal straf. Maar toe Nabal se vrou uitvind wat gebeur het en die ergste vrees, bring sy milde geskenke om Dawid te paai. Gevolglik vra Dawid haar om sy vrou te word toe Nabal skielik sterf, en met genoeë willig sy in.—1 Sam. 25:1-42.
Wanneer die Filistyne weer saamtrek om aan te val, soek koning Saul tevergeefs leiding van Jehovah. Maar Jehovah se gees het van hom gewyk. Saul se gebede word nie verhoor nie en die priesters het geen woord vir hom van Jehovah nie. In wanhoop raadpleeg hy ’n spiritistiese medium. Sy gee hom net slegte nuus. In Saul se laaste veldslag ly Israel ’n verskriklike neerlaag, sy seun Jonatan sneuwel en, dodelik gewond, pleeg Saul selfmoord.—1 Sam. 28:1-31:13.
Die boek Samuel is voorwaar deel van die dinge wat tevore tot ons “lering” geskrywe is. Dit is “nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat [ons] volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”. Dit beklemtoon veral die belangrikheid van gehoorsaamheid en die tragiese gevolge van ongehoorsaamheid.—Rom. 15:4; 2 Tim. 3:16, 17.