VRAE van LESERS
• Hoe kan ’n mens vir seker weet dat die “tyd en tye en ’n halwe tyd” van Openbaring 12:14 drie en ’n halwe tye beteken?
Daardie vers lui: “Maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.”—Openb. 12:14.
Dit is nuttig om seker te wees van die tyd waarvan daar daar melding gemaak word. Waarom? Omdat hierdie inligting ’n mens help om vas te stel hoe lank die “sewe tydperke” in Daniel se profesie van ’n reusagtige boom wat afgekap is, is, en ook hoe lank die “tye van die nasies” is waarna Jesus verwys het.—Dan. 4:16, 23-25; Luk. 21:24.
Die oorspronklike Grieks in Openbaring 12:14 lui: “vasgestelde tyd en vasgestelde tye en helfte van vasgestelde tyd.” Wat word nou met die middelste uitdrukking “tye” bedoel? As dit twee is, dan is die totaal drie en ’n half. Maar as dit byvoorbeeld as vier of tien verstaan word, dan sal die totaal vyf en ’n half of elf en ’n half wees. Hoe weet ’n mens wat Johannes bedoel het?
In die eeue voordat Openbaring geskrywe was, het die Griekse taal ’n meervoudsvorm vir twee gebruik, ’n grammatikale vorm wat twee van iets aangedui het. Hierdie betrokke meervoudsvorm vir twee word egter nie in die Griekse Skrifte, of Nuwe Testament, gebruik nie; net die enkelvoud en meervoudsvorms word gebruik. Saam met die meervoudsvorm kan ’n spesifieke getal gebruik word om aan te dui presies hoeveel daar van iets is, soos “sewe koppe”.—Openb. 12:3.
Griekse geleerdes besef dat wanneer die Bybel die meervoudsvorm sonder ’n kwalifiserende getal gebruik dit verstaan moet word dat dit die minimum-meervoudshoeveelheid, dit wil sê, twee, beteken. Duitse teoloog John Albert Bengel het oor hierdie vers die volgende kommentaar gemaak: “Die meervoud, kairous, tye, beteken twee tye. Die meervoudsgetal moet uiters streng opgeneem word.”
Openbaring 12:14 beteken derhalwe drie en ’n halwe tye. Deur dit te vergelyk met die 1 260 dae wat in vers 6 gemeld word (sowel as met Openbaring 11:2, 3), kan die student van die Bybel sien dat die “sewe tydperke” in hoofstuk vier van Daniel 2 520 dae beteken.