Is God se naam in jou Bybel? Moet dit daarin wees?
OP Sondagoggend, 8 Mei 1977, was Jack Siebert, ’n evangeliedienaar, besig om in ’n woonstelgebou in die stad New York met gesinne oor die Bybel te praat.
Een vrou in haar vroeë twintigerjare het dit geniet om na die boodskap uit die Bybel te luister en gesê dat sy self graag ’n Bybel wou kry. Mnr. Siebert het haar ’n eksemplaar aangebied. “Is dit ’n regte Bybel?” het sy gevra. Toe sy verseker is dat dit ’n volledige Bybel in spreektaal is, het sy dit met genoeë geneem en daarvoor bygedra.
Later het die evangeliedienaar en ’n vriend weer daarheen teruggegaan. Die vrou het hulle ingenooi, maar gesê: “Jy het my verlede week bedrieg. Dit is nie ’n regte Bybel nie!” Wat het sy bedoel?
Sy het verder gesê: “In hierdie Bybel kom die naam Jehovah herhaaldelik voor. Dit het my so kwaad gemaak dat ek, toe ek dit lees, die naam oral uitgekrap het waar ek dit teëgekom het!”
Dink jy dat hierdie opreggesinde vrou rede gehad het om ontsteld te wees? Is dit waar dat “Jehovah” nie God se naam is en dat dit nie in die Bybel moet wees nie? Is dit in die Bybel wat jy gebruik? Moet dit daarin wees? Gebruik jy ’n eienaam vir God?
In hierdie geval het die evangeliedienaar inligting oor God se naam verstrek wat die vrou verbaas het. Trouens, sy het ontsteld geraak en gesê: “Waarom het ek dit nie in my kerk geleer nie? Waarom het hulle my dit nie geleer nie?”
Elkeen wat die Bybel lees, behoort immers party van die dinge wat mnr. Siebert gemeld het te weet. En so ook elkeen wat die Modelgebed bid en sê: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.”—Matt. 6:9.
Wat is daardie naam eintlik? Is jou antwoord “die Here”, “God”, “Jehovah”, “Jahwe”, of iets anders? In die “King James” of “Authorised Version” kom “Jehovah” net vier keer voora, terwyl ander weergawes “Jahwe” of “Jehovah” duisende kere gebruik. Wat is reg? En enkele vertalings het die goddelike naam in die sogenaamde “Nuwe Testament”. Bevat jou Bybel dit? Behoort dit?
Onlangs het daar opwindende nuwe inligting oor God se naam aan die lig gekom! Jy sal dit in die volgende artikels vind. Lees hulle, want dit gaan jou persoonlik aan. Hoe so?
Die Bybel sê dat God spesiaal kennis neem van diegene wat hom eerbiedig en van hom praat. Dan voeg dit by: “Daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat [Jehovah] vrees en sy Naam eer” (Mal. 3:16). Geld dit van jou? Het God jou naam in sy gedenkboek geskrywe omdat jy hom vrees en sy naam eer en dit gebruik? Die materiaal wat volg, staan in verband met sy naam sowel as joune.
[Voetnoot]