Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 8/1 bl. 17-20
  • Geloof in ’n opstanding—Berus dit op feite?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof in ’n opstanding—Berus dit op feite?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N SENTRALE HOOP VIR DIE MENSDOM
  • GETUIENIS VAN CHRISTUS SE DOOD
  • GETUIENIS VAN CHRISTUS SE OPSTANDING
  • GETUIENIS VAN DIE PROFESIEË
  • JESUS SE EIE WOORDE
  • Die opstanding van Jesus—Wat dit vir ons beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Die opstanding van Jesus—Het dit werklik plaasgevind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Die opstanding – ’n Vaste hoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • “Ek het die hoop op God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 8/1 bl. 17-20

Geloof in ’n opstanding—Berus dit op feite?

Glo jy dat mense uit die dode opgewek kan word om weer te lewe? Indien wel, waarom? Indien nie, waarom nie? As jy nie in ’n opstanding glo nie sê jy miskien: ‘Ek het nog nooit iemand uit die dode sien opstaan nie.’ Maar beteken dit dat ’n sekere gebeurtenis nie plaasgevind het nie net omdat ons dit nie sien gebeur het nie? Om te glo moet jy natuurlik getuienis hê dat so iets plaasgevind het (Hebr. 11:1). Is sodanige getuienis verkrygbaar?

Ja, dit is. En dit is die soort bewys wat jy vir enige geskiedkundige feit of gebeurtenis sou verwag—getuienis van ooggetuies en ander, en getuienis van die uitwerking daarvan op die geskiedenis.

’N SENTRALE HOOP VIR DIE MENSDOM

Ons het getuienis in die Bybel van opstandings uit die dode, van vóór sowel as ná die verskyning van Jesus op die aarde (1 Kon. 17:21, 22; 2 Kon. 4:32-35; Joh. 11:43; Mark. 5:41, 42). Maar die allerbelangrikste getuienis—die wat ’n opstandingshoop vir die mensdom oor die algemeen inhou—is die opstanding van Jesus Christus. Of ons indiwidueel enige hoop op lewe na die dood het, hang daarvan af of Christus uit die dood opgewek is. Dit was veral oor hierdie lering dat die apostels en ander vroeë Christene baie spot en lyding moes verduur.—Hand. 4:1-3; 17:32; 23:6, 10; 24:18-21.

Voor ’n skaar geleerdes en filosowe in die stad Athene het die apostel Paulus gesê:

“[God het] ’n dag bepaal . . . waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” Daarbenewens het Paulus aan Christengelowiges gesê: “As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof.”—Hand. 17:31; 1 Kor. 15:13, 14.

GETUIENIS VAN CHRISTUS SE DOOD

Laat ons van die getuienis voorlê en dit ondersoek. Eerstens het ons die verslae van diegene wat gesien het dat Christus ter dood gebring en begrawe is. Dit ly geen twyfel dat hy op versoek van die Joodse leiers werklik deur die Romeine tereggestel is nie. Daar is tevore ’n poging aangewend om hom om die lewe te bring (Luk. 4:28, 29; Joh. 5:18; 8:59; 11:53). Toe die Joodse leiers sy lewe eis, het hulle so ver gegaan om voor die Romeinse goewerneur Pilatus uit te roep: “Laat sy [Jesus se] bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt. 27:25). Hulle het Pilatus ook met ’n politieke dreigement geïntimideer. (Joh. 19:12). Die Joodse teenstanders, en veral Christus se bitterste vyande, die owerpriesters en leiers, sou sekerlik nie saamgesweer het om ’n skyn-“dood” vir hom te reël nie. Hulle sou sorg dat hy werklik dood was. Die saak was in ieder geval uit hulle hande en hy is gevonnis en deur die Romeine om die lewe gebring. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus (c. 110 G.J.) het van Christene gesê: “Die naam is afgelei van Christus wat deur die prokurator Pontius Pilatus tydens die bewind van Tiberius tereggestel is.”a In die Joodse Talmoed word dit ook vermeld dat Jesus (aan ’n folterpaal) opgehang is. Hierdie en ander nie-Christelike geskiedverslae staaf die feit dat selfs Jesus se teenstanders nooit aan die historiese egtheid van Jesus of sy dood getwyfel het nie.

GETUIENIS VAN CHRISTUS SE OPSTANDING

Wat Jesus se opstanding betref, is daar nie minder as vier manne nie wat in die openbaar getuig het dat hulle Jesus na sy opstanding gesien het, en een van hulle verslae deel ons mee dat hy deur meer as 500 Christendissipels gesien is (Matt. 28:16, 17; Joh. 20:19; 21:1, 2; Hand. 1:15, 22; 1 Kor. 15:6-8). Maar iemand sê miskien: “Ja, maar dit is alles Bybelverslae deur Christene. Hoe weet ons of dit waar is?”

Om op daardie vraag te antwoord kan ons vra: Hoe anders verklaar jy die ywer van so baie mense wat daardie opstanding bekend gemaak het? Selfs hulle vyande beweer dat Christene ‘Jerusalem en Judea, ja, die wêreld, omgekeer het’ met hulle ywerige getuienis van Christus se opstanding (Hand. 5:28; 17:6). Weens vervolging en ander faktore het hulle verstrooi geraak en hierdie lering dermate verkondig dat die Romeinse wêreld, van Rome tot Mesopotamië, van hulle ywer kennis geneem het.

Kyk vervolgens na die verklaring deur Bybelgeleerde A. J. Maasb oor die betroubaarheid van hierdie vroeë Christene:

“Kortom, die feit van Christus se Opstanding word dus bevestig deur meer as 500 ooggetuies, wie se ervaring, eenvoudigheid en opregtheid dit vir hulle onmoontlik gemaak het om so ’n fabel te versin, wat gelewe het in ’n tyd toe enige poging om te bedrieg maklik ontdek kon geword het, wat niks in hierdie lewe kon wen nie, maar alles kon verloor deur hulle getuienis, wie se morele moed wat in hulle apostoliese lewe aan die dag gelê is slegs deur hulle intieme oortuiging van die objektiewe waarheid van hulle boodskap verklaar kan word. Daarenteen word die feit van Christus se Opstanding bevestig deur die veelseggende stilswye van die Sinagoge wat alles in hulle vermoë gedoen het om bedrog te voorkom, wat maklik bedrog kon ontdek het, as dit daar was, wat net slapende getuies kon inbring teen die getuienis van die Apostels, wat nie die beweerde nalatigheid van die amptelike wag gestraf het nie, en wat nie op die getuienis van die Apostels kon antwoord nie behalwe deur hulle te dreig ‘om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie’ (Hand, iv, 17). Ten slotte vereis die feit dat duisende en miljoene, Jode sowel as Heidene, wat die getuienis van die apostels geglo het, ondanks al die nadele wat daar aan so ’n geloof verbonde is, kortom, die oorsprong van die Kerk, dat die opstanding van Christus ’n werklikheid moet wees om dit te kan verklaar, want die opkoms van die Kerk sonder die Opstanding sou ’n groter wonderwerk wees as die Opstanding self.”

Met ’n soortgelyke redenasie kan ons die onbetroubaarheid van die aantygings deur Jesus se vyande dat die opstanding ’n swendelary was, dat sy liggaam gesteel is, of dat dit ’n sinsbedrog of ’n onderhandse samewerking was, weerlê. Dit is duidelik dat die getuies van die opstanding sekerlik nie manne met mag of invloed was om die wagte wat by die graf aan diens was te oormeester of om te koop nie. Die waarskynlikheid van so ’n onderhandse samewerking deur so baie was uiters gering, veral in iets wat geen persoonlike wins vir hulle sou meebring nie. Hulle getuienis oor die opstanding kon geen selfsugtige beweegrede hê nie; dit het hulle aan lyding en die dood blootgestel. Hulle het hulle getuienis juis in die plek gegee waar die bitterste vyande was, waar ’n bedrog sekerlik ontbloot kon word. En hulle het nie gewag nie, maar het toe getuig, terwyl die toorn van die Jode op sy hoogste was. As dit dan ’n blote gesig of verbeelding was, sou dit logies gewees het van iets wat deur hulle verwag is; maar Jesus se verskyning aan hulle na sy opstanding was vir hulle ’n groot verrassing in hulle wanhoop en neerslagtige toestand—die onverwagse. Dit was inderdaad juis die ding wat hulle die moed gegee het om getuienis te lewer wat nie onder die geweldigste vervolging afgebreek kon word nie.

In hierdie aangeleentheid van sulke belang is dit nuttig om na die kragtige argument van ’n ander gesiene geleerde en argeoloog, George Rawlinson, te kyk. Hy het geskrywe:c

“Die vroeë bekeerlinge het geweet dat dit enige tyd van hulle verwag kon word om vir hulle geloof te sterf. Hulle het gepreek en onderrig met die swaard, die kruis, die wilde diere, en die folterpaal immer voor hulle oë. . . . en elkeen van die vroeë skrywers wat die Christelike leer voorgestaan het, het deur die feit dat hy dit voorgestaan het die siviele mag getrotseer, en homself aan ’n soortgelyke lot blootgestel. Wanneer geloof ’n kwessie van lewe en dood is, neem mense nie sommer die eerste die beste geloof wat in hulle smaak val, aan nie; hulle plaas hulle ook nie openlik in die geledere van ’n vervolgde sekte nie, tensy hulle die bewerings van die godsdiens wat dit bely goed ondersoek het en hulleself daarvan oortuig het dat dit die waarheid is. Dit is duidelik dat die vroeë bekeerlinge in ’n baie beter posisie was as wat ons is om die historiese juistheid van die Christelike verhaal te bepaal; hulle kon die getuies ondervra en in kruisverhoor neem—hulle onderskeie verhale vergelyk—verneem hoe hulle verklaringe deur hulle teenstanders beantwoord is—Heidense dokumente van daardie tyd raadpleeg—die getuienis deeglik en volledig uitpluis. Dit alles saam—en dit moet onthou word dat die getuienis kumulatief is—maak ’n massa bewys uit soos selde ten opsigte van gebeurtenisse wat aan die gryse verlede behoort, voortgebring kan word; én dit staaf bo alle redelike twyfel die waarheid van die Christelike Verhaal. In geen enkele opsig . . . het daardie verhaal ’n mitiese aard nie.”

GETUIENIS VAN DIE PROFESIEË

Bowendien is daar nog ander getuienis. Sou dit, as Christus se opstanding voorspel was voordat dit ooit plaasgevind het, nie ’n treffende bewys van die werklikheid daarvan wees me? Want hoe kon sulke getuienis versin wees, veral daar dit beskryf hoedat die Messias deur sy eie volk gedood sou word wat hom sedert Abraham se tyd, byna 2 000 jaar tevore, al verwag het? In die Hebreeuse Skrifte, wat al eeue lank deur die Jode as hulle wetboek en dokumentêre verslag van hulle volksgeskiedenis bewaar is, vind ons voorafaangevoerde getuienis. In die agtste eeu v.G.J. het die profeet Jesaja beskryf hoedat Jesus, op bevel van sy eie volk, die Jode, gedood sou word:

“Hy was verag en deur die mense verlaat. . . . Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. . . . Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word . . . Hy [is] afgesny uit die land van die lewendes . . . . En hulle het hom sy graf by die goddelose gegee; en by ’n ryke was Hy in sy dood.”—Jes. 53:3-9.

Van die feit dat God hom weer tot die lewe sou opwek, het die profeet voorts gesê: “As [U] sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal [daar hy uit die dode opgewek is] die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. . . . my Kneg, die Regverdige, [sal] baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.”—Jes. 53:10, 11.

Die latere profeet Daniël het sy offerdood voorspel:

“En ná die twee-en-sestig sewetalle [inderdaad in 33 GJ.] sal ’n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; . . . hy [sal] slagoffer en spysoffer [by die Jode se tempel] laat ophou [dit met die werklike offerande van sy lewe vervang].”—Dan. 9:26, 27.

Koning Dawid het profeties ’n opstanding uit Sheol, die graf, voorspel; en die apostel Petrus pas die profesie op Jesus Christus toe. Vyftig dae na Christus se opstanding het hy 3 000 Jode toegespreek wat besef het dat die profesie na Jesus verwys en Petrus se verduideliking aanvaar het. Petrus het gesê:

“Hom [Jesus] het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. . . . ook sal my vlees nog rus in hoop. Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. . . . Omdat hy [Dawid] dan ’n profeet was en geweet het dat God vir hom met ’n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.”—Hand. 2:24- 32; vergelyk Psalm 16:10.

Die apostel Paulus het ook op die veertigste psalm gewys as een wat op Jesus Christus se offerande van toepassing is. Paulus beeld Jesus uit asof hy ten tye van sy doop gesê het: “U het vir My ’n liggaam berei. . . . Kyk, Ek kom . . . om u wil te doen.” Paulus voeg by: “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”—Hebr. 10:5, 7, 10; Ps. 40:7-9.

Daar is bepaald ’n merkwaardige verband tussen hierdie profesieë wat eeue vantevore uitgespreek is en Jesus se dood en opstanding. Dit is onmoontlik dat Jesus al die betrokke faktore kon maneuvreer, of dat die storie deur die apostels versin kon word.

JESUS SE EIE WOORDE

Bowendien het Jesus by die Pasga ná sy doop van sy naderende dood en opstanding gepraat, hoewel sy dissipels eers nadat hulle self die gebeurtenisse belewe het, kon terugkyk en verstaan wat hy bedoel het. Die apostel Johannes skryf hiervan en begin by hierdie vroeë punt in Jesus se omgang met hulle toe Jesus vir die Jode gesê het: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.” Johannes voeg by: “Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek. En toe hy opgestaan het uit die dode, het die dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.”—Joh. 2:19, 21, 22; vergelyk Mattheüs 12:40; 16:21-23; Mark. 8:31; 10:33, 34.

Aangesien die waarheid in verband staan met die enigste hoop vir diegene wat gesterf het, en vir die hele mensdom wat die vooruitsig het om te sterf, moet dit ’n onderwerp van die allergrootste belang wees, nie alleen vir diegene wat in die Christelike leer glo nie, maar vir alle mense oral.

Die meeste mense het die lewe lief en sou graag wou sien dat dit vir ’n onbepaalde tyd verleng word, indien dit met gesondheid en tevredenheid gepaard gaan. Hulle kyk daagliks na nuusberigte en hoop om goeie nuus te hoor van vrede, vooruitgang in die oorlog teen siekte, en beter ekonomiese toestande. Hulle hoor die getuienis van getuies aangaande daaglikse gebeurtenisse, en aanvaar die geskiedverslae wat deur mense geskrywe is, en gebruik selfs die geskiedenis as ’n grondslag om die toekoms te beplan. Hoeveel belangriker en verstandiger is dit dan tog om die oorvloedige getuienis van Christus se opstanding, waarop die verwagting en belofte van lewe in geluk vir die mensdom berus, onbevooroordeeld te ondersoek!

[Voetnote]

a Annals XV, (44)

b The Catholic Encyclopedia (uitgawe van 1913), DI XII, bl. 790

c The Historical Evidences of the Truth of the Scripture Record, bl. 225-227

[Prent op bladsy 18]

“Christus se Opstanding word dus bevestig deur meer as 500 ooggetuies . . . wat gelewe het in die tyd toe enige poging om te bedrieg maklik ontdek kon geword het”

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel