CHRISTUS AAN DIE PAAL, “die wysheid van God”
“Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?”—1 Kor. 1:20.
1. (a) Watter godsdienstoestand van die Jode het Jesus versteur? (b) Watter verandering het gevolg weens die prediking van sy volgelinge?
DIE Joodse nasie was meer as 15 eeue onder die Mosaïese Wetsverbond. Hulle skrifgeleerdes het ’n groot aantal mondelinge tradisies versamel wat hierdie wet vertolk het en die toepassing daarvan op hulle daaglikse lewens verduidelik het. Een doel hiervan was om die Jode afgeskeie te hou van die nie-Jode en aldus hulle godsdiens teen besoedeling deur heidense leerstellings te bewaar. Maar nou het die man Jesus gekom en gesê dat hy die Messias is, die mondelinge tradisies van hulle wyse manne en skrifgeleerdes veroordeel, gesê dat hy die Mosaïese wet sou beëindig deur dit te vervul, en is hy eindelik as ’n lasteraar aan ’n paal genael. Daarna het sy volgelinge, genaamd Christene, sy opstanding verkondig en sy leer dwarsdeur Palestina en die Romeinse wêreld gedra. Nie net Jode nie, maar ook derduisende nie-Jode het by hulle aangesluit en Christengemeentes het oral opgeskiet. Die Wetsverbond het ten einde gekom. Dit het sy doel gedien as ’n tugmeester om mense na Christus te lei en is aan die folterpaal van Christus genael. Aanbidders van Jehovah was nou onder ’n nuwe verbond. God se wet was nie meer op kliptafels geskryf nie, maar op mense-harte.—Gal. 3:10-25; Hebr. 10:15-18.
2. Wat was vir Jode wat Christene geword het moeilik, en met watter argumente het Paulus die bedreiging die hoof gebied?
2 Hierdie betekenisvolle gebeure het, godsdienstig gesproke, die aarde geskud. Dit was vir party van die Fariseërs en ander Jode wat Christene geword het, moeilik om die feit te aanvaar dat Jesus die Mosaïese wet vervul het sodat dit nie nodig was om dit meer te hou nie. Hulle het probeer om party van die vereistes daarvan in die Christengemeente in te bring (Hand. 15:1-19). Paulus, die apostel van die heidene, het sterk teen hierdie pogings betoog: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:1-4; 3:10-14). Onbekeerde Jode het ‘die folterpaal van Christus nutteloos gemaak’ deur op werke van die Wet te vertrou in plaas daarvan om te besef dat “Christus aan die paal” nodig is as ’n losprysoffer. Party Joodse bekeerlinge het dele van die Wet aangehang en aldus onder die hele Wet gekom en sodoende ‘Christus aan die paal nutteloos gemaak’.—1 Kor. 1:17, vgl. NW.
PAULUS EN DIE GRIEKSE FILOSOWE
3. (a) Wat was Paulus se reaksie op die Griekse filosowe? (b) Hoe het daardie filosowe in Athene op Paulus gereageer?
3 Paulus het ook waarskuwings gerig teen enige pogings om die weë van die Griekse filosowe na te volg. Rome het Griekeland as die wêreldmoondheid vervang, maar dit was Griekse kultuur en filosofie wat daardie beskawing gekenmerk het. Jode sowel as Grieke van daardie stelsel van dinge het hulle wyse manne, hulle skrifgeleerdes of geletterde manne en hulle redetwisters gehad. Paulus het gevra: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” Die Griekse filosowe sowel as die Joodse rabbi’s was berug as redetwisters, en Paulus beskou albei groepe saam: “Die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus [aan die paal], ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke” (1 Kor. 1:20, 22, 23). Weens sy ondervinding met hulle in Athene, het Paulus persoonlike kennis van die Griekse filosowe en hulle voorliefde vir debatte gedra. Handelinge 17:16-21 toon dit:
“Terwyl Paulus in Athene vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. En sommige van die Epikureïese en die Stoïsynse wysgere hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het. En hulle het hom geneem en op die Areopagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees. Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.”
4. Hoe het party van die filosowe Paulus beskou, en wat het Paulus aan hulle verkondig?
4 Die filosowe het neerhalend na Paulus verwys as ’n praatjiesmaker, ’n vertaling van die Griekse woord spermologos, wat beteken “saadpikker”. Dit het verwys na ’n kraai of ander voël wat sade oppik, en is gebruik vir ’n man wat dikwels op straat of by die markte was om brokkies wat van vragte afgeval het, op te tel; gevolglik, ’n parasiet. In Atheense sleng is die uitdrukking figuurlik gebruik om te verwys na ’n man wat nuusbrokkies versamel het en dan gebruik het om ander te beïndruk, maar wat in werklikheid ’n onkundige plagiaris was. Paulus was egter nie ’n ledige babbelaar nie. Hy het vir hulle gepreek oor “die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is”, naamlik dat “Hy self aan almal lewe en asem” gee en dat hy “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak” het. Wat Jesus betref, het Paulus gesê dat God ‘Hom uit die dode opgewek het’. Dit het sommige laat spot, maar ander het geglo en by Paulus aangesluit.—Hand. 17:24-26, 31-34.
FILOSOWE HET GELEER DAT DIE SIEL ONSTERFLIK IS
5. (a) Watter leerstellings van die filosowe het die opstanding vir hulle dwaas laat lyk? (b) Watter leerstellings van Orphiese teologie het die huidige godsdiensleerstelling oor die hel en aflate voorafgegaan?
5 Waarom het melding van die opstanding party laat spot? Het dit gebots met hulle filosofiese wysheid, en hulle aldus die opstanding as dwaasheid laat beskou? Volgens die Skrif het die opstanding sin. Indien ’n persoon, soos die Bybel sê, soos ’n dier vergaan, niks weet nie, na die stof terugkeer en ’n dooie siel is, is die opstanding sy enigste hoop om weer te lewe (Ps. 146:4; Pred. 3:18-20; 9:5, 10; Eseg. 18:4). Maar die opstanding het vir daardie Griekse filosowe geen sin gehad nie! Dit was dwaasheid! Talle van die Griekse filosowe het geleer dat die mens ’n onsterflike siel het en aldus geen opstanding nodig het nie. Die Stoïsyne in Paulus se gehoor het geglo dat die siel voortleef nadat die liggaam gesterf het. Lank tevore het die Griekse filosoof Thales (sewende eeu v.G.J.) geleer dat daar ’n onsterflike siel in metale, plante, diere en mense is. Die lewenskrag het volgens hom van vorm verander maar nooit gesterf nie.a In die sesde eeu v.G.J. het die beroemde wiskundige Pythagoras gesê dat die siel na die dood na Hades gaan om gesuiwer te word, dan teruggekeer het om in ’n nuwe liggaam in te gaan en dat hierdie sielsverhuising voortgeduur het totdat dit in ’n heeltemal rein lewe kulmineer.b “Die siel blyk duidelik onsterflik te wees”, is hoe Plato vir Sokrates (vyfde eeu v.G.J.) aanhaal.c Orpheus, die bron van ’n mistiese kultus van die sewende eeu v.G.J., het aanleiding gegee tot die Orphiese teologie wat geleer het dat die siel na die dood na Hades gaan om geoordeel te word. In deel II van “The Story of Civilization”, bladsye 190, 191, sê die verslag deur Will Durant voorts:
“Indien dit skuldig bevind is, sou dit kwaai gestraf word. Een vorm van die leerstelling het die straf as ewig beskou en die gedagte van hel aan latere teologie oorgedra. ’n Ander vorm het die gedagte van sielsverhuising aanvaar: die siel is herhaaldelik herbore in gelukkiger of bitterder lewens as tevore na gelang van die reinheid of onreinheid van sy vorige bestaan; en hierdie wiel van hergeboorte sou aanhou draai totdat volkome reinheid bereik is en die siel toegang tot die Eilande van die Geseëndes verkry het. Nog ’n variant het die hoop uitgehou dat die straf in Hades beëindig kon word deur boete wat vooraf deur die indiwidu gedoen is of, na sy dood, deur sy vriende. So het die leerstelling van die vaevuur en aflate ontstaan.”
DIE GRIEKSE FILOSOWE HET EWOLUSIE GELEER
6. Waarom het Paulus se prediking oor Jehovah God as die Skepper van alle lewe ook meegebring dat hulle sy boodskap as dwaasheid beskou?
6 Toe Paulus met die filosowe in Athene gepraat het, het hy gesê dat Jehovah God die Skepper van die wêreld en alles daarin is, onder andere die plante, diere en die mensdom. Deur dit te doen het hy weer eens met die Griekse filosowe gebots. Die Epikureïese filosowe in sy gehoor het geglo dat lewe as gevolg van spontane generasie ontstaan het en per toeval deur natuurlike teelkeuse en die oorlewing van die geskikste hoër ontwikkel het (Durant se “The Story of Civilization”, Deel II, bl. 647). Stoïsyne het aan geen persoonlike Skepper geglo nie. Die gedagte van ’n Skepper wat alle lewende skepsele op aarde in aansyn geroep het, was vir hulle dwaasheid. Eeue lank het Griekse filosowe geleer dat lewe spontaan vanself ontstaan het en dat dit per toeval oor lang tydperke verander en geëvolueer het deur middel van natuurlike teelkeuse en die oorlewing van die geskikste. “The Encyclopedia Americana”, Deel 10, bladsy 606, sê:
“Saam beskou, was die Grieke in ’n mindere of meerdere mate voorstanders van die idee van die geleidelike ontwikkeling van organismes, die idee van die uitskakeling van foute by voortbrenging, en gevolglik die idee van die oorlewing van die geskikste, die idee van die aanpassing van dele of die geskiktheid van sekere strukture vir sekere doeleindes, die idee dat intelligente beplanning voortdurend in die natuur werksaam is, asook die idee dat die natuur beheer word deur die werking van natuurlike oorsake wat in die begin aan die wette van toeval toegeskryf kan word.”
7. Watter leerstellings van (a) Anaximander (b) Anaxagoras (c) Empedocles (d) Aristoteles toon dat ewolusie nie ’n moderne teorie is nie?
7 Om meer spesifiek te wees, die Griekse filosoof Anaximander van die sesde eeu v.G.J. het die volgende geleer:
“Lewende organismes het trapsgewyse uit die oorspronklike vog ontwikkel; landdiere was aanvanklik visse, en hulle het hulle huidige vorm aangeneem slegs toe die aarde begin droog word het. Die mens was ook eens ’n vis; hy kon nie tydens sy vroegste verskyning soos nou gebore word nie, want hy sou te hulpeloos gewees het om sy eie voedsel in die hande te kry en sou vernietig geword het.”d
Aangaande Anaxagoras se leer (vyfde eeu v.G.J.) lees ons:
“Alle organismes het oorspronklik uit die aarde, vog en hitte, en daarna uit mekaar ontstaan. Die mens het verder as ander diere ontwikkel, want weens sy regop houding kon hy sy hande gebruik om dinge aan te gryp.”e
Van Empedocles lees ons:
“Empedocles (493-435 v.C.), wat al “die vader van die ewolusie-begrip’ genoem is, het byvoorbeeld geglo aan spontane generasie as die verduideliking vir die oorsprong van lewe, en hy het geglo dat verskillende lewensvorms nie gelyktydig voortgebring is nie. Plante was eerste, en diere slegs na ’n lang reeks eksperimente, maar die oorsprong van die organismes was ’n baie geleidelike proses. (Hier word daar verwys na die talle gedrogte wat voortgebring is.] Maar die onnatuurlike produkte het gou uitgesterf want hulle kon nie voortplant nie. Na die uitsterwing van hierdie monsters het ander vorms ontstaan wat hulself kon onderhou en vermenigvuldig. Indien ’n mens wil, kan jy dus in die gedagtes van Empedocles die kiem van die teorie van die oorlewing van die geskikste, of natuurlike teelkeuse, sien.”f
Die beroemde filosoof Aristoteles (384-322 v.G.J.) het geskryf:
“Die natuur het stappie vir stappie van lewelose dinge na diere oorgegaan op ’n wyse wat dit onmoontlik maak om die presiese skeidslyn te bepaal. . . . Na lewelose dinge is daar op die volgende trap van die leer die geslag van plante . . . Daar is by plante ’n reeks trappe na die dier. . . . En dwarsdeur die diereleer is daar eweneens progressiewe differensiasie. . . . ’n Nael is analoog aan ’n klou, ’n hand aan ’n krap se knyper, ’n veer aan ’n vis se skub.”g
VERBLIND DEUR HULLE EIE WYSHEID
8. Watter wysheid van die Jode en Grieke het hulle vir God se wysheid verblind?
8 Die wysheid van die Joodse skrifgeleerdes sowel as van die Griekse filosowe het hulle vir die wysheid van God, Christus aan die paal, verblind. Paulus het geskryf: “Aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.” Hierdie prediking was dwaasheid vir die Jode. Hulle wysheid het vir hulle geleer dat hulle gered sou word deur werke van die Wet, deur aalmoese te gee en deur die verdienste van hulle voorouers, veral Abraham. Daarbenewens wou hulle nie ’n swak Messias hê wat toelaat dat hy aan ’n paal genael word nie! Die prediking was ook dwaasheid vir die Grieke. Hulle het nie ’n Jood wat soos ’n veragte misdadiger aan ’n paal gesterf het, nodig gehad om hulle te red nie—hulle het onsterflike siele gehad!—1 Kor. 1:21.
9. (a) Wat sou Paulus nie doen om sy prediking aanneemliker te maak nie? (b) Wat het Paulus sowel as Petrus voorsien, en wat het hulle daaromtrent gedoen?
9 Paulus het dus sy waarskuwing aan die Christengemeente in Korinthe geskryf. Mensewysheid, hetsy dié van die Joodse skrifgeleerdes met sy wettiese ingewikkeldhede van mondelinge tradisie, of die van die Griekse filosowe met sy welsprekende woordestryde en drogredenerings, sou die folterpaal van Christus vir hulle nutteloos maak indien hulle deur sulke wysheid oorreed is. Paulus sou nie die woord van God vervals om dit meer aanvaarbaar vir Joodse of Griekse Christene te maak wat hulle vorige opvattings wou inbring nie. Hy sou dit nie met sulke onsuiwerhede verwater om dit meer aanvaarbaar te maak vir ’n wêreld wie se wysheid dwaasheid by God was nie (2 Kor. 2:17; 4:2; 11:13). Die apostels Paulus en Petrus het altwee die tyd voorsien wanneer valse leerstellings uit Joodse en nie-Joodse bronne die waarheid omtrent Christus aan die paal sou besoedel, en hulle het waarskuwings gerig:
Handelinge 20:29, 30: “Ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”
2 Timotheüs 4:3, 4: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
2 Petrus 2:1: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring.”
10. Wat toon dat hulle waarskuwings nie vals alarms was nie?
10 Latere geskiedenis bevestig dat die apostels goeie rede gehad het om die waarskuwings te rig. “The Encyclopædia Britannica” (1976) sê: “Vanaf die middel van die tweede eeu n.C. het Christene met opleiding in Griekse filosofie begin meen dat hulle hulle geloof moet uitdruk in die terme daarvan, vir hulle eie intellektuele bevrediging sowel as om geleerde heidene te bekeer.” “The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge” wys ook daarop: “Talle van die vroeë Christene het op hulle beurt ’n vreemde bekoring gevind in die leerstellings van Plato en het hulle as wapen gebruik om die Christelike leer te verdedig en uit te dra, of het die waarhede van die Christelike leer op ’n Platoniese lees geskoei.”
11. Watter feite toon dat die meerderheid kerke van die Christendom vandag Paulus en Petrus se waarskuwings geïgnoreer het?
11 Min het sedertdien verander. Die oorgrote meerderheid kerke van die Christendom leer nog steeds leerstellings soos die onsterflike siel, die Drie-eenheid en ander wat die afvallige Christendom sedert die tweede eeu G.J. vanuit Griekse filosofie binnegesypel het. Die Grieke het dit op hulle beurt by ouer kulture gekry, want dit dateer terug reg tot by Egiptiese en Babiloniese godsdienste. Talle godsdienste leer ook vandag dat God deur middel van ewolusie geskep het en probeer so om hulle leerstellings te moderniseer, maar in werklikheid aanvaar hulle die dwaling van Griekse filosofie. Hulle skuif die Bybelwaarheid opsy dat Jehovah God lewe op aarde geskep het, dat lewende dinge voortplant “volgens hulle soorte”, dat Jehovah van ewigheid af lewe en almagtig is en dat Christus Jesus sy Seun is wat ’n begin gehad het en aan Hom onderworpe is. En net soos die Jode van die eerste eeu beskou party Jesus nie meer as ’n losprys waardeur die gehoorsame mensdom ewige lewe kan verkry nie.
12. Hoe reageer miljoene getroue Christene vandag op Paulus se boodskap aan die gemeente in Korinthe?
12 Gelukkig is hierdie godsdienstige en filosofiese wysheid wat Christus aan die paal as dwaas en swak beskou vandag vir miljoene op aarde self ydele dwaasheid. Hulle reageer op Paulus se verklaring aan die Christengemeente in Korinthe, naamlik: “Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.” Hulle laat hierdie uitroep oor die hele aarde weergalm sodat almal wat soek na die wysheid wat lewe gee dit kan hoor: ‘CHRISTUS AAN DIE PAAL, DIE KRAG VAN GOD! CHRISTUS AAN DIE PAAL, DIE WYSHEID VAN GOD!’—1 Kor. 1:24, 25, NW.
[Voetnote]
a The Story of Civilization, Deel II, bl. 137.
b Ibid., bl. 165.
c Hierdie stelling kom dikwels voor in Plato se Phaedo.
d The Story of Civilization, Deel II, bl. 139.
e Ibid., bl. 340.
f The Encyclopedia Americana, DI. 10, bl. 606.
g Aristoteles se History of Animals, viii, I; i, I.
[Prent op bladsy 13]
Toe Paulus met Atheense filosowe oor die opstanding gepraat het, het party gespot maar ander het hom geglo