Wat trek jou na God toe?
DAAR is talle van ons wat die een of ander tyd in ons lewe op ’n koue nag ’n warm kamer ingeloop het en ’n oop vuur in die kaggel sien brand het. Dit lyk of die gloeiende vuur ons onwillekeurig aantrek, sonder enige bewuste gedagte of besluit van ons kant. Of word ons nie onweerstaanbaar na die kombuis aangetrek wanneer ons, honger na ’n dag se werk, inkom en die prikkelende geur van ons gunstelingdis wat saggies op die stoof kook, ruik nie? Hoe geredelik reageer ons ook nie op die vriendelike woord of die hartlike toon van die stem van ’n dierbare of ’n vriend nie, veral wanneer dit geuiter word op ’n tydstip dat ons neerslagtig of terneergedruk voel.
Sulke spontane reaksies is nie toevallig nie. Hulle vorm deel van ons Skepper se ontwerp—’n aangebore vermoë om tot ander aangetrokke te voel en om na aanloklike geriewe en genietinge aangetrek te word. Hierdie “aantrekkingskrag” wat van God af kom, is so ’n wonderlike gawe dat dit genot verskaf aan die een wat die handeling op tou sit en aan die een wat daardeur aangetrek word. Dit is ’n lewensfeit, want ons is geskep na die beeld van God. Dit stel ons ook in staat om nog ’n faset van sy weergalose persoonlikheid beter te verstaan.—Gen. 1:27.
Nader ons God met die gedagte om straf of vernietiging te ontduik voor in ons gedagtes? Of is dit weens ons waardering vir God se talle weldade teenoor ons? Dit behoort ons nie te verbaas om uit te vind dat dit God se manier is om sy skepsele op ’n positiewe wyse na hom toe te trek nie. Hy dwing sy skepsele nooit om hom te dien nie. Die woord “trek” beteken om aan te lok, en dit is God se goedheid en sy wonderlike eienskappe wat persone met opregte harte na hom toe trek. Jesus Christus het dieselfde uitdrukking gebruik toe hy beloof het dat hy allerhande mense ‘na hom toe sou trek’ (Joh. 12:32). Hy het oorvloedige bewys van sy Vader se goedheid teenoor sy skepsele gelewer in ’n poging om ’n begeerte in hulle harte te wek om ’n verhouding met Jehovah te verkry. Die Bergpredikasie is ’n goeie voorbeeld hiervan. (Vergelyk Mattheüs 5:45-48). Die Here het hom egter gehaas om daarop te wys dat dit in die eerste plek God is wat sy skepsele na hom toe aantrek. Jesus het vir die Jode gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie.”—Joh. 6:44.
Jesus se aansporing dat positiewe eerder as negatiewe gedagtes ons na God toe moet trek, was niks nuuts nie. Ten tye van die groot vreugde toe die ark van God deur die Leviete na Jerusalem gedra is, het koning Dawid die feit beklemtoon dat Jehovah ’n positiewe God is, ’n goeie God is, toe hy in sy danklied gesing het: “Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid” (1 Kron. 16:34). Later, toe koning Salomo sy inwydingsgebed gedoen het, nadat die tempel voltooi is en die ark van God na ’n meer permanente rusplek gebring is, het al die kinders van Israel hulle neergebuig en spontaan oor God se goedheid uitgeroep (2 Kron. 7:3). Ja, God se volk dink al lankal in terme van “die goeie hand van onse God oor ons”.—Esra 8:18.
Reg van die tyd van Adam se skepping af het God ’n beroep gedoen op Adam se erkenning van Sy goedheid as ’n grondslag om Hom te dien. Hy het al die nodige vir hom voorsien (Gen. 2:9). Nadat hy die aandag op sy goedertierenheid teenoor Adam gevestig het, het God gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:16, 17). Adam het reeds ’n verhouding met God gehad soos die van ’n seun met ’n vader. Ongehoorsaamheid aan God sou ’n einde aan daardie verhouding maak en was dus tereg iets wat vermy moes word.
Hierdie informasie is gegee om Adam en sy afstammelinge te lei, geensins om vir hulle ’n ontbering te wees nie. Die gebod het die skeidslyn aangedui—die perke van Adam se gesag, iets wat Adam moes weet, en ook die onvermydelike gevolge indien daardie perke oorskry word. Dit was noodsaaklik dat hy God se soewereiniteit erken.
VERMY ’N NEGATIEWE GESINDHEID
Vandag is daar sowat sesduisend jaar tussen ons en die oorspronklike volmaaktheid wat ons eerste ouers geniet het. In ons onvolmaakte staat, met sy onvermydelike vooruitsigte van siekte en dood, tesame met die druk van hierdie bose stelsel van dinge wat op ons uitgeoefen word, is ons nie verbaas om te sien dat negatiewe faktore soms veroorsaak dat mense aan God dink nie. Die dood self kan beslis as negatief beskryf word. Die Woord van God beskryf dit as ’n “vyand” wat uiteindelik vernietig sal word (1 Kor. 15:26). Die negatiewe, droewige ondervinding om ’n dierbare aan die dood af te staan en die positiewe ervaring daarna om van die wonderlike opstandingshoop vir die dode te leer, kan ’n persoon na God toe trek.
Ons moet dus beslis die bestaan van sekere negatiewe faktore in die lewe van vandag erken, en hulle kan ’n invloed op ons verhouding met God hê. Die ding waarop ons egter moet let, is dat selfs hierdie aanvanklik droewige, negatiewe gedagtes kan lei tot positiewe resultate in die verstand en hart van die persoon wat leer van die medelye, hulp en vertroosting wat God ten tye van groot beproewing bied. Dit laat ons weer aangetrokke voel tot Jehovah, “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting”.—2 Kor. 1:3.
In opvallende teenstelling met God se gebruik, naamlik om sy skepsele na hom toe aan te trek, is dit Satan die Duiwel se gebruik om ander te dwing om aan hom onderdanig te wees en sy verdorwe weë te aanvaar. Sedert die tyd dat hy ’n mense-moordenaar, ’n leuenaar en ’n teenstander geword het van alles wat goed en heilsaam is, het hierdie aartsvyand dwang en vrees vir lyding gebruik om mense te dwing om sy goddelose weë te aanvaar.—Hebr. 2:15.
Subtiel het die Duiwel toegesien dat negatiewe denke elke vorm van valse godsdiens deurdring. Byvoorbeeld, die onskriftuurlike leerstellings oor die helse vuur en foltering na die dood kom algemeen in die valse Christendom voor. Gelowe wat nie deel van die valse Christendom is nie, dra ook dieselfde vreeslike gedagtes van duiwelse straf oor.a
Die gevolg van hierdie insypeling van demoniese denke in aanbidding het tot gevolg dat miljoene opregte persone dink in terme van ’n gedwonge benadering tot God en die mening toegedaan is dat hulle hom op die een of ander manier moet dien—hom moet paai—as hulle nie ’n verskriklike straf wil ontvang nie. Die vrees kan alle moontlike vorms aanneem—van die een uiterste van doodse vrees tot die ander uiterste waar mense godsdiens heeltemal vermy weens hierdie gedagte dat God kwaai, wreed, meedoënloos en veeleisend is.
Ware Christene is dankbaar dat hierdie strafgeoriënteerde benadering tot God een van die dinge is waarvan hulle deur die waarheid van God se Woord vrygemaak is. Daar bestaan egter die immerteenwoordige gevaar dat enigeen van ons op ’n subtieler manier die slagoffer van soortgelyke negatiewe gedagtes kan word. Hoe so? Ons kan moontlik toelaat dat die rede waarom ons God dien te veel beïnvloed word deur gedagtes van straf vir ons gebreke en tekortkominge.
Gevolglik moet ons onsself voortdurend daaraan herinner dat ‘ons almal dikwels struikel’ en ‘wie sal bestaan as Jehovah die ongeregtighede in gedagtenis hou?’ (Jak. 3:2; Ps. 130:3). Dit sal ons help om ’n gebalanseerde beskouing van onsself en ander te behou terwyl ons voortdurend daarna streef om ons “met die nuwe mens [te] beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:24). Hierdie gebalanseerde beskouing stel ons in staat om te besef dat hoewel ons elkeen vordering moet toon in die wyse waarop ons ons met die nuwe persoonlikheid beklee, geeneen van ons die stadium bereik waar hy nie sondig nie en nie daagliks vergifnis vir sy tekortkominge nodig het nie.—1 Joh. 2:1, 2.
Indien ons gebreke en tekortkominge ons gedagtes begin oorheers, sal die vreugde wat ons gesmaak het toe ons aanvanklik na God toe getrek is, afneem, selfs tot die punt waar ons nie langer dien weens die suiwere beweegrede van liefde vir Jehovah, sy eienskappe en alles wat hy ter wille van ons gedoen het nie. Dit is dus goed om onsself af te vra: Is dit positiewe of negatiewe gedagtes wat my beweeg om God steeds te dien? Doen ek dit met ’n gewillige en gelukkige hart? Of is dit moontlik met die gedagte om vernietiging vry te spring tydens die vinnig naderende dag van Armageddon?—Pred. 12:13; Openb. 16:15, 16.
WORD AANGETREK DEUR POSITIEWE GEDAGTES
Al laat ons toe dat positiewe eerder as negatiewe gedagtes ons na God toe trek en ons dan dring om hom steeds met ’n gelukkige hart te dien, neem dit nogtans nie die nodigheid van inspanning aan ons kant weg nie. Die apostel Paulus is ’n goeie voorbeeld van iemand wie se volgehoue goeie gees en geluk daarvan getuig dat hy God met ’n positiewe gesindheid en met innige vreugde gedien het. Hy het nietemin gesê dat dit nodig was om ‘sy eie liggaam te kasty en dit diensbaar te maak’ (1 Kor. 9:27). Terwyl ons onvolmaak is, moet ons almal op talle verskillende maniere ‘die goeie stryd van die geloof stry’.—2 Tim. 4:7.
Dikwels ‘is om te wil by ons aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ons nie’, en hoewel ons ons in die wet van God verlustig, vind ons soms dat ‘’n ander wet in ons lede stryd voer teen die wet van ons gemoed en ons gevange neem onder die wet van die sonde’ (Rom. 7:14-25). Maar die uitnemendste vrug wat dit afwerp wanneer ons toelaat dat positiewe gedagtes oor God se goedheid ons aanspoor, is dat vreugde, geluk en genot ons lewens oorheers. Dit maak enige selfdissipline wat nodig is, dubbel en dwars die moeite werd.—Gal. 5:22.
HOE OM TOT GOD TE NADER
Wat kan ons dus doen om ’n positiewe gesindheid en geestelike beskouing te bou en te verseker? Eerstens, ons moet bewus wees van die nodigheid daarvan om ons verstande te ledig van alle negatiewe, verswakkende gedagtes en die vrees dat ons sal misluk, en dit te vervang met die opbouende, positiewe, verblydende beloftes van God wat in sy geskrewe Woord, die Bybel, aangetref word. Skriflesing en Bybelstudie moet ’n vaste deel van ons daaglikse lewe wees. Ons moet dit ons doel maak om steeds indringender te studeer en die kragtige wysheid van Jehovah God toelaat om ons verstande en harte te vul terwyl ons peins oor die dinge wat ons lees.
Pogings moet aangewend word om ons gebede betekenisvoller en meer spesifiek te maak, en moontlik om elke dag meer te bid. Maak ons ons harte vir God oop? Dank ons hom daagliks vir sy wonderlike eienskappe en vir die talle seëninge wat ons ontvang? Is daar ook soms tye wanneer ons ‘in die gebed volhard’?—Rom. 12:12.
Dit is basiese dinge. Nogtans is hulle eenvoudige, gewisse maniere om te verseker dat positiewe gedagtes, nie negatiewe gedagtes nie, ons na God toe trek. Hulle sal ook verseker dat ons, wanneer ons eenmaal na God toe aangetrek is, hom steeds met ’n vreugdevolle hart sal kan dien, nou en tot in alle ewigheid.—Jer. 9:24.
[Voetnoot]
a Kyk bladsy 104 van die boek Goeie nuus—om jou gelukkig te maak, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word, waarin daar ’n afdruk verskyn van ’n Boeddhistiese boekrol wat toon hoe slegte siele in die “hel” gepynig word.