Wat sluit Christelike “werke” in?
“GELOOF sonder die werke [is] dood” (Jak. 2:26). Met hierdie woorde het die dissipel Jakobus medegelowiges aangespoor om hulle geloof deur werke, deur bedrywigheid, te toon. Wat is gepaste Christelike werke?
Dit is nie werke waarmee ’n Christen die beloning van ewige lewe kan “verdien” nie. Party eerste-eeuse soekers na die lewe het gedink dat dit moontlik was deur die Mosaïese wet te hou. Die apostel Paulus het egter hulle denke reggestel. Onder inspirasie het hy geskryf: “Ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus” (Gal. 2:16). Onvolmaakte mense kan eenvoudig nie God se wet volmaak hou nie en gevolglik stel dit hulle aan die kaak as sondaars wat die dood, nie die lewe nie, verdien. “Deur die wet”, sê die Bybel, “is die kennis van sonde” (Rom. 3:20). Dit is dus onmoontlik om op eie verdienste ’n goedgekeurde posisie voor God te kry. Dit kan slegs verkry word op die manier wat Jehovah God bepaal het, naamlik deur geloof in Jesus Christus as die een wie se offerande sondes afwas.
Geloof in Jesus Christus verg ook geloof in Jehovah God. Die apostel Paulus het geskryf: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word” (Rom. 10:9). Hierdie soort geloof is meer as blote geloof in die bestaan van God. Dit sluit geloof in al God se beloftes in soos dit in sy Woord, die Bybel, uiteengesit word. “Sonder geloof”, sê Hebreërs 11:6, “is dit onmoontlik om God te behaag, want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.”
Let op dat hierdie geloof gepaard gaan met aktiwiteit. Die indiwidu moet een wees wat God opreg soek, wat begeer om hom na Sy weë en wil te skik. Sulke veranderinge raak elke aspek van die lewe. Die Bybel vermaan: “Doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor. 10:31). Hoewel ’n persoon dus nie met sy eie pogings die reg op ewige lewe kan verdien nie, is goeie werke ’n onontbeerlike deel van ’n Christelike lewenswyse. Sonder duidelike bewys van gepaste Christelike werke sal ’n mens se geloof leweloos, dood wees.
BY DIE WERK
’n Persoon se geloof in God moet byvoorbeeld by sy werk gesien kan word. Hy moet optree volgens die beginsels wat in die Bybel uiteengesit word betreffende dienskneg-heer-verhoudinge. Ons lees: “Wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie.”—Ef. 6:5-7.
Wat verg gehoorsaamheid aan hierdie raad? Die Christen moet sy werkgewer respekteer en doen wat van hom verwag word asof hy dit in die regstreekse diens van God en Christus doen. Hy moet nie lyf wegsteek en slegs werk wanneer ander hom dophou nie. Deur arbeidsaam, eerlik en pligsgetrou te wees, sal die Christen voorkom dat hy God en Christus smaad aandoen. Hy sal toon dat sy geloof in God hom ’n beter werker gemaak het en aldus die ware Christelike leer vir waarnemers aantrekliker maak.
AS OUERS
Die behoorlike nakoming van ouerlike verantwoordelikheid is ook ’n gepaste Christelike werk. Dit is God se wil dat vrouens en moeders ‘hulle mans en kinders moet liefhê, ingetoë moet wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig’. Die rede hiervoor is “sodat die woord van God nie belaster word nie” (Tit. 2:4, 5). Mans en vaders word in die Skrif aangespoor: “In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself” (Ef. 5:33). “Moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Ef. 6:4). Manne en vroue wat lewe soos God se Woord voorskryf, doen werke van geloof. Hulle toon dat hulle glo dat God bestaan en dat die dinge wat Hy in sy Woord uiteensit, waarlik nuttig is.
BESORGDHEID OOR MEDEMENS
As ’n persoon daarbenewens God navolg in sy handelinge met sy medemens oor die algemeen, verrig hy gepaste Christelike werke. Jehovah God is vriendelik en vrygewig selfs teenoor ondankbare mense en laat hulle toe om baat te vind by die sonskyn en reën (Matt. 5:44, 45). Hy het selfs die inisiatief geneem om die grondslag te lê sodat sondige mense ’n goedgekeurde verhouding met hom kan verkry. Hy het dit teen groot koste vir homself gedoen deur sy eniggebore Seun vir die wêreld van die mensdom te gee.—Joh. 3:16; Tit. 3:4-7.
Ooreenkomstig wat Jehovah God gedoen het, moet die Christen ander vriendelik behandel en oor hulle welsyn besorg wees. Dit beteken dat ’n mens, net soos Galasiërs 6:10 ons aanspoor, “aan almal goed doen”. Die toegewyde kneg van God moet, sover dit vir hom moontlik is, bereid en ywerig wees om diegene wat waarlik in nood verkeer te hulp te snel. Hy sal egter opsigtelike vertoon wil vermy en eerder gehoorsaam wees aan Jesus se aanbeveling: “As jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”—Matt. 6:3, 4.
DIE LEWENSBELANGRIKE PREDIKINGSWERK
Een van die beste maniere om ander mense te help, is om hulle te help om te verstaan wat God vereis van diegene wat sy goedgekeurde knegte wil wees. Trouens, Christene is beveel om dit te doen. “Gaan”, het Jesus gesê, “maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Matt. 28:19.
Wat het eerste-eeuse Christene gedoen om hierdie bevel uit te voer? Hulle het die geleentheid aangegryp om die “goeie nuus” aan hulle familielede, kennisse en almal wat hulle teëgekom het, te verkondig. Maar hulle het nie net vir mense gepreek met wie hulle normaalweg sou kommunikeer nie. Hoe sou hulle andersins daarvan beskuldig kon word dat hulle “die wêreld in opstand bring”? (Hand. 17:6). Daar was klaarblyklik ’n ywerige, gesamentlike poging om Jerusalem en ander stede met hulle leer ‘te vervul’ (Hand. 5:21, 25, 28, 42; 8:4-6; 13:5, 14-16; 14:1; 16:13, 14; 17:17-21). Ja, vroeë Christene het die inisiatief geneem om soveel mense moontlik met hulle lewereddende boodskap te bereik.
Openbare predikingswerk in sinagoges of markte het hulle dikwels gehelp om belangstellendes te vind. Wanneer hierdie indiwidue die Christelike leer aanvaar het, het hulle gasvryheid betoon aan die verkondigers van God se boodskap. Dit het ’n groot geestelike voordeel vir hierdie nuwe gelowiges ingehou, want dan is hulle steeds in hulle eie huise onderrig.—Vergelyk Handelinge 16:15, 32-34; 18:6, 7.
Die destyds aanvaarde gebruik het vroue nie toegelaat om in die openbaar in sinagoges en markte te onderrig nie. Maar aangesien gelowige vroue teenwoordig was wanneer die manne onderrig het, kon hulle oplet watter persone belangstelling toon. Saam met hulle mans het hulle dan selfs manne geleer. Byvoorbeeld, toe Aquila en sy vrou Priscilla Apollos in die sinagoge te Efese hoor spreek het, “het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê” (Hand. 18:26). Hierdie gelowige vroue het ongetwyfeld ook indiwidueel die inisiatief geneem om ander vroue te nader en nadere inligting voorsien oor wat in die openbaar deur die mans bespreek is.
So lank gekerstende Jode toegelaat was om in die sinagoges te spreek, het hulle elke sabbat soontoe gegaan (Hand. 17:1-4). Dit het hulle in staat gestel om die “goeie nuus” aan die hele Joodse bevolking van ’n bepaalde dorp of stad te verkondig. En deur gereelde openbare getuieniswerk in die markte kon die res van die bevolking met die lewensbelangrike Christelike boodskap bereik word. As gevolg van sulke openbare bedrywigheid het reisende handelaars en besoekers ook van die “goeie nuus” geleer. Wanneer Christene êrens heen gereis het, sou hulle eweneens hulle opvattings met ander deel. Gevolglik kon net een gemeente gelowiges die waarheid wyd en syd dwarsoor ’n hele land bekend maak.
Kyk wat die apostel Paulus in hierdie verband van die gemeente te Thessalonika gesê het. “Van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedonië en Achaje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”—1 Thess. 1:8-10.
OPENBARE “WERKE” VANDAG
Maar hoe kan ’n gemeente ware Christene vandag alombekend raak soos die gemeente in Thessalonika? Daar is duidelik meer by die saak betrokke as om net met familielede, kennisse en ander wat ’n mens dalk teëkom te praat. Dit moet natuurlik gedoen word en is ’n belangrike manier om die “goeie nuus” te versprei. Daarbenewens moet Christengetuies van Jehovah vandag egter net soos Jesus en sy eerste-eeuse volgelinge die inisiatief neem om God se boodskap aan ander te verkondig. In party lande kan baie predikingswerk steeds in openbare plekke gedoen word—in stadspleine en markte. Maar selfs daar is die soort openbare bespreking wat in die eerste eeu gevoer is so te sê onbekend. ’n Groot deel van sulke predikingswerk in openbare plekke bestaan nou uit die aanbieding van “Die Wagtoring” en “Ontwaak!” aan verbygangers of besprekings met klein groepies en indiwidue. Dit is gewoonlik nie die metode waardeur die meeste inwoners van ’n bepaalde dorp of stad bereik kan word nie.
Hoe kan ’n deegliker getuienis dan gelewer word? Die ondervinding van Jehovah se Getuies oor meer as 50 jaar het duidelik getoon dat die antwoord GEREELDE BESOEKE VAN HUIS TOT HUIS is. Gevolglik sal almal in daardie dele van die wêreld waar huis-tot-huispredikingswerk moontlik is en wat fisies daartoe in staat is, gewis elke maand tyd daarvoor opsy wil sit. Huis-tot-huispredikingswerk is steeds die manier waarop duisende der duisende elke jaar die Bybel se boodskap hoor en gehelp word om dissipels van Jesus Christus te word. Daarbenewens help dit die getroue Getuie om nederigheid soos dié van die Meester aan te kweek en te behou.—Joh. 13:15, 16.
Al die ander gepaste Christelike werke, onder andere voorbeeldige persoonlike gedrag, verleen gewig aan die lewensbelangrike werk om te preek en dissipels te maak. Hulle bewys dat ware Christelikheid selfs nou ’n gelukkige, sinvolle en vergenoegde lewe meebring. Die werk om te preek en dissipels te maak toon daarbenewens aan ander dat ’n mens ’n goeie werker, ’n behulpsame buurman en ’n liefdevolle eggenoot en vader, of ’n liefdevolle eggenote en moeder is weens ’n mens se geloof in God.
Daar is voorwaar talle gepaste Christelike werke. Dit is nie werke wat gedoen word met die doel om die beloning van lewe te “verdien” asof God as gevolg daarvan lewe aan ons “verskuldig” is nie. Hulle is eerder werke van geloof wat bewys dat ’n mens glo dat Jehovah God bestaan en dat hy sy knegte beloon. Indien ons ware geloof het in God as ’n beloner, behoort ander ons geloof in aksie te sien in die wyse waarop ons ons skik na Sy weë en wil in al ons doen en late en in ons ywerige verkondiging van sy boodskap aan ons medemens. Waar daar duidelike bewys van sulke behoorlike werke is, is ’n Christen se geloof nie dood nie, maar lewend, aktief.