CHRISTUS AAN DIE PAAL, “die krag van God”
“Die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus [aan die paal], ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke.”—1 Kor. 1:22, 23. vgl. NW.
1. (a) Watter toestande in die Christengemeente in Korinthe het daartoe aanleiding gegee dat Paulus Christus aan die paal beklemtoon? (b) In watter gedagtes wat Paulus in 1 Korinthiërs 1:17-25 tuisgebring het, stel ons nou belang?
DIT WAS aan die Christengemeente te Korinthe wat Paulus die bogemelde woorde oor “Christus aan die paal” geskryf het. Die Korinthe van Paulus se dag was ’n kosmopolitiese stad met Romeine, Grieke, Oosterlinge en Jode. In die Christengemeente aldaar het daar verdeeldheid bestaan omdat sekere groepe hulle aan die kant van prominente indiwidue geskaar het. As gevolg hiervan het Paulus gesê: “Is Christus verdeel?” (1 Kor. 1:13). Party Joodse Christene het miskien ook die neiging gehad om sekere dele van die Wet aan te hang, of party van ander rasse was miskien beïndruk deur die welsprekendheid van die Griekse filosowe. Maar die Evangelie moes nie met hoogdrawende taal verkondig word nie, dit moes ook nie vervals word met die wysheid van godsdienstradisies of filosofiese bespiegelinge nie. Wat ook al die geval daar in Korinthe was, die apostel Paulus het dit goedgedink om onomwonde klem te lê op die nodigheid om net “Christus aan die paal” te verkondig. Sy woorde in 1 Korinthiërs 1:17-25 het dit gedoen, en hulle vorm die grondslag vir hierdie artikel en die volgende. Hy het geskryf:
“Christus het my . . . gestuur . . . om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die [folterpaal] van Christus nie verydel mag word nie. Want die woord van die [folterpaal] is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus [aan die paal], ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.”
2. Wat het tydens Jesus se salwing gebeur en aan watter werk het hy deelgeneem?
2 Soos hierdie aanhaling toon, ‘het die Jode ’n teken gevra’. Het Jesus nie voldoende tekens gegee nie? Hy het in 29 G.J. na die Jordaanrivier gekom om hom te laat doop. Toe hy uit die water opkom, het God se gees in die vorm van ’n duif op hom neergedaal en Jehovah se stem het uit die hemel gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” Nadat hy 40 dae in die woestyn deurgebring het en die Duiwel se versoekings met welslae weerstaan het, het Jesus begin om die koninkryk te verkondig en wonderwerke te doen. Mattheüs teken die uitwerking van hierdie bedrywigheid aan: “Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sirië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.”—Matt. 3:13-17; 4:23-25.
‘ONS WIL GRAAG ’N TEKEN SIEN’
3. Watter tekens het Jesus verrig, en watter versoek het die Skrifgeleerdes nietemin tot hom gerig?
3 Die mense was so verbaas oor sy wonderwerke dat hulle hom as die beloofde Messias beskou het. “Wanneer die Christus kom”, het hulle gevra, “sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het?” Jesus het water in wyn verander, op water geloop, die winde en stormagtige see laat bedaar, duisende wonderdadig met ’n paar brode en visse gevoed, siekes genees, kreupeles laat loop, oë van blindes geopen, melaatses genees en selfs die dode opgewek. Wie kon vir meer as dit vra? Die godsdiensleiers van die Joodse nasie kon en het. Hulle was ooggetuies van talle van hierdie tekens deur Jesus, en het berigte van talle meer ontvang. Maar ten spyte hiervan het die skrifgeleerdes en die Fariseërs na Jesus gekom met ’n skokkende versoek: “Meester, ons wil graag ’n teken van U sien.”—Joh. 7:31; Matt. 12:38.
4, 5. Wat moes hierdie skrifgeleerdes en Fariseërs, in die lig van hulle professie, geweet het wat hulle van Jesus se Messiasskap moes oortuig het?
4 Van almal wat om bykomende bewys sou vra dat Jesus die Messias is, moes hierdie godsdiensleiers die laaste gewees het! Die skrifgeleerdes het hulle hulle hele lewe lank verdiep in ’n studie van die Hebreeuse Skrifte. Hulle het dit angsvallig bestudeer en lank en tot vervelens toe met mekaar geredeneer om regte gevolgtrekkings oor die toepassing daarvan te maak. Hulle het ’n ontsaglike klomp mondelinge tradisies gehad wat dan glo die Hebreeuse Skrifte tot in die fynste besonderhede verduidelik en verklaar het. En tydens hulle studies het hulle beslis geweet van die profesieë wat die koms van beloofde Messias voorspel het.
5 Hulle het geweet dat die Messias uit die stam van Juda moes wees, uit die geslag van Dawid, in Betlehem gebore moes word, dat sy koms aangekondig sou word deur iemand soos Elia, dat hy die siektes en pyne van die Joodse volk sou dra, dan nie? Meer as 300 Hebreeuse profesieë in verband met die Messias se eerste koms is deur Jesus vervul—talle van hulle was reeds vervul toe hulle Jesus om ’n teken genader het. Jesus het hulle daaraan herinner dat hulle van hom moes weet weens hulle studie van die Skrifte: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.”—Joh. 5:39.
6. Hoe het Jesus op hulle versoek geantwoord, en waarom nie met minagting nie?
6 Het die Seun van God hulle dus met vlymende minagting geantwoord toe hulle gesê het: “Ons wil graag ’n teken van U sien”? Kom ons kyk: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:38-40). Nee, met sy antwoord het Jesus hulle nie oor die kole gehaal omdat hulle die talle wonderdadige tekens wat alreeds gegee is, geïgnoreer het of omdat hulle nie oortuig is deur die Messiaanse profesieë wat alreeds deur hom vervul is nie. Hy het hulle, hulle begeerte, hulle dwaling verstaan en hy het dienooreenkomstig geantwoord.
DIE TEKEN WAT HULLE WOU HÊ
7, 8. Watter teken wou die Jode sien, en wat was al teken wat hulle sou kry, en waarom?
7 Jesus het geweet watter teken hulle wou sien. Dit is opgeteken in Daniël 7:13, 14: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nadergebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
8 Dit het die Messias se tweede koms aangedui wanneer die Messiaanse koninkryk alle verdrukkende menseregerings gaan vervang en oor die hele aarde vrede en rus vir Jehovah se aanbidders gaan bring. Die Joodse heersers wou hê dat die Messias in koninklike mag moes kom, die verdrukkende juk van die Romeine van hulle nekke af moes verbreek en aan hulle groot politieke mag moes gee. Hulle het nie op Jehovah gewag nie en dinge vooruitgeloop. Dit was die eerste koms van die Messias wanneer hy moes ly en as ’n losprys moes sterf en vir dele van drie dae in die graf moes wees. Daardie teken van die eerste koms sou al wees wat hulle kry.
9. Wat het die Jode van Jesus se dag nie onderskei nie, en watter verlange van hulle het hulle verblind sodat hulle Jesus nie as die Messias herken het nie?
9 Nie alleen het daardie Jode nie die teken gekry wat hulle van die Messias wou hê nie; hulle het iets gekry wat hulle heeltemal laat struikel het, naamlik ’n Messias aan ’n paal! Paulus het geskryf: “Die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus [aan die paal], ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke” (1 Kor. 1:22, 23). Die Jode se ondergang was hulle onvermoë om tussen die twee komste van die Messias te onderskei. Daar was twee stelle profesieë in die Hebreeuse Skrifte aangaande die Messias: een stel oor sy eerste koms, die ander stel oor sy tweede koms. (Kyk die tabel op bladsy 1148 van die boek “Aid to Bible Understanding” vir die profesieë aangaande die eerste koms en hulle vervulling; ’n paar van dié wat op die tweede koms betrekking het, is Daniël 7:13, 14; 2:35, 44; Psalm 2:1-9; 110:1-6). Die Jode het egter nie twee komste onderskei nie. Hulle het slegs aan een geglo. Omdat hulle sterk daarna verlang het dat hulle Messias met mag moes kom en die Romeinse juk van hulle nekke af verbreek, het hulle hulself verblind vir sy koms as ’n lydende, vervolgde, verworpe Messias wat aan ’n paal genael sou word. Hulle het inderdaad uiteenlopende beskouings van die Messias gehad. Talle Messiaanse profesieë is nie as sodanig onderskei nie. Party Jode het nie eens aan ’n persoonlike Messias geglo nie. Ander was selfsugtig en wou nie hê dat hy moes kom en Rome antagoniseer nie (Joh. 11:47, 48). Maar talle het geroep om sy koms as ’n militaris om hulle van Rome te verlos.
“WAT SWAK IS BY GOD”
10. (a) Waarom het die Jode Jesus beskou as iets “wat swak is by God”, en hoe het hy van valse messiasse van daardie eerste eeu G.J. verskil? (b) Watter destydse toedrag van sake in Palestina het Jesus vir die Jode onaanvaarbaar gemaak, soos getoon deur “The Interpreter’s Bible”?
10 In hulle oë was hierdie Jesus swak—gans te swak om hulle hoop op ’n messias om die Romeinse Ryk te verpletter te vervul. Het hy dan nie gesê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie en dat sy knegte nie sal veg nie? Hy het botweg geweier om die koningskap te aanvaar toe dit hom aangebied is. Hy het geleer dat ’n mens die ander wang moet draai! Hulle het hulle Messias destyds verwag—maar nie so een nie! (Joh. 18:36; 6:15; Matt. 5:39; Luk. 3:15). Onder “Messias” sê “The Book of Jewish Knowledge” dat daar in die eerste eeu G.J. verskeie persone was wat beweer het dat hulle die Messias is, en dan voeg dit by: “Die eienaardige ding omtrent hierdie eerste-eeuse aanspraakmakers op Messiasskap is dat elkeen ’n saamtrekpunt was vir Joodse opstand teen Romeinse bewind. Anders as Jesus . . . was die ander ‘messiasse’ van daardie tydperk sonder uitsondering militante onrusstokers en patriotte.” Die feit dat Jesus so in gebreke gebly het om te toon dat hy ’n sterk Messias is, was erg genoeg in hulle oë, maar toe hy uiteindelik ’n skandelike dood aan ’n folterpaal sterf, het dit hom vir hulle heeltemal onaanvaarbaar gemaak! Gevolglik het die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 1:25 getoon dat die Jode “Christus aan die paal” beskou het as iets “wat swak is by God”, en heeltemal gestruikel het. Hieroor lewer “The Interpreter’s Bible”, DI. 10, bl. 29, die volgende kommentaar:
“Joodse godsdienshoop in die dae van Paulus was gebaseer op ’n apokaliptiese verwagting van ’n dramatiese, katastrofiese verlossing van Romeinse verdrukkers: hulle het gesoek na ’n verlosser wat die nasie oppermagtig onder die nasies van die wêreld sou maak. Hulle diepe teleurstelling in Jesus in die dae van sy vlees kan deels regstreeks teruggespoor word na sy weiering om die nasie se militêre leier te word volgens die patroon van die Makkabeërs. In Paulus se dag was Palestina soos ’n gestookte vuur. Romeinse prokurators kon die lekkende vlamme van sporadiese, plaaslike opstand blus; maar die gestookte vuur was ’n ander saak. Indien Jesus tydens die hoogtepunt van sy gewildheid die bevel gegee het, sou duisende swaarde uit hulle skedes gekom het en sou Rome dit dalk moeilik gevind het om die uitbarsting van opgekropte godsdiensidealisme en fanatieke nasionalisme van die Jode in toom te hou. Vir ’n volk wie se verbeelding en gees aangevuur is deur sulke gedagtes en sulke apokaliptiese verwagtinge was die teken van ’n ‘gekruisigde Christus’ ’n onbeskryflike belediging. Vir hulle was die woord van die kruis iets uiters afstootliks. Dit is nie wat hulle wou hê nie.”
11. Onder watter misverstand het selfs Jesus se intieme dissipels verkeer, en wat is die rede vir jou antwoord?
11 Selfs Christus Jesus se intieme metgeselle het eers later begryp dat die Messias twee komste sou hê, en dat hierdie eerste koms met “Christus aan die paal” sou eindig. In die gevangenis het Johannes die Doper van Jesus se wonderwerke gehoor, maar hy het oënskynlik meer verwag, want hy het hierdie vraag aan Jesus laat stel: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matt. 11:2, 3). Petrus het Jesus as die Messias geïdentifiseer, maar hy het nogtans nie die teken ter vervulling van die eerste koms begryp nie (Matt. 16:16, 21-23). Selfs na Jesus se dood en opstanding het sy dissipels steeds verwag dat ’n aardse koninkryk tydens sy eerste koms opgerig sou word. Hulle het gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk van Israel weer oprig?”—Hand. 1:6.
DIE FOLTERPAAL NIE NUTTELOOS GEMAAK NIE
12. Hoe het party Joodse godsdiensleiers later probeer om die twee stelle profesieë in verband met die twee komste te verklaar?
12 Na die uitgieting van heilige gees op Pinkster in 33 G.J. het Jesus se dissipels die twee komste begryp en oral verkondig “wat die profete en ook Moses gesê het . . . sou gebeur . . . dat die Christus moes ly” (Hand. 26:22, 23). Die Christene se argumente uit die Hebreeuse Skrifte en verpletterde Joodse verwagtinge het latere Joodse geleerdes die Messiaanse profesieë laat hervertolk. Byvoorbeeld, Daniël 7:13 het gesê dat die Messias met die wolke van die hemel sou kom, maar Sagaria 9:9 het gesê dat hy nederig op ’n esel sou kom. Een mening wat in die Talmoed aangetref word, het hierdie probleem probeer oplos deur slegs een koms te leer—naamlik dat die Messias met die wolke sou kom indien Israel dit waardig was, maar dat hy op ’n esel sou kom indien Israel hulle onwaardig gedra het (Babiloniese Talmoed, Sanhedrin, 98a). ’n Ander benadering het die twee stelle profesieë, oor ’n eerste en ’n tweede koms, onderskei en gesê dat daar twee messiasse sou wees, een die seun van Josef en een die seun van Dawid, en dat hulle gesamentlik albei stelle profesieë sou vervul (Edersheim se “Life and Times of Jesus the Messiah”, DI. II, ble. 434, 435). Albei sou egter op dieselfde tyd kom.
13. (a) Watter Joodse opvattings het Jesus in hulle oë as die Messias gediskwalifiseer? (b) Hoe het hierdie Joodse opvattings die folterpaal nutteloos gemaak?
13 Hulle het egter volgehou dat Jesus nie een van hierdie messiasse kon wees nie. Want Jesus het nie die mondelinge tradisies van die skrifgeleerdes gehou nie, en volgens die Talmoed is optrede in stryd hiermee strafbaarder as optrede in stryd met die Hebreeuse Skrifte. Jesus het ook gesê dat hy die Mosaïese wet sou vervul—dit aldus sou beëindig. Maar die Jode het geglo dat dit vir ewig sou bestaan en nooit herroep sou word nie. Die Jode het daarbenewens geglo dat hulle geen messias nodig het om gered te word nie. Hulle kon die koninkryk op drie maniere beërf: deur werke van die Wet te doen, deur aalmoese aan die armes te gee en deur Abraham as hulle vader te hê (Matt. 3:7-10; Rom. 3:20; 4:2, 3; 9:31, 32). Sulke wysheid van die skrifgeleerdes sou die folterpaal iets nutteloos maak, iets oorbodigs vir redding. Paulus het hierdie vals wysheid in gedagte gehad toe hy ’n teenstelling getref het tussen die tevergeefsheid daarvan en God se krag, Christus aan die paal. As “evangelie” het hy nie aan hulle “wysheid van woorde [verkondig] nie, sodat die [folterpaal] van Christus nie verydel mag word nie. Want die woord van die [folterpaal] is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”—1 Kor. 1:17, 18, vgl. NW.
14. (a) Wie het met Jesus aan die folterpaal gespot, en wat het hulle gesê? (b) Wat het die gebeure van daardie tyd in werklikheid bevestig?
14 Wat daarvan as Jesus soos ’n skaap na die slagplek gegaan het, verdruk, verag, ongewens en verworpe? (Jes. 53:1-7). Wat daarvan as hy swak en magteloos gelyk het toe hy daar aan die folterpaal gehang het terwyl party gespot het: “Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, verlos Uself en kom af van die [folterpaal]”? (Mark. 15:29, 30). En “so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie” (Matt. 27:41, 42). In plaas daarvan om Jesus te diskwalifiseer, het hierdie gebeure sy Messiasskap bevestig.—Ps. 118:22; Jes. 8:14; 28:16; 1 Pet. 2:4-8.
15. Hoe is “Christus aan die paal” beskou deur die wat verlore gaan en deur die wat gered word, en watter feit bly staan ten spyte van die spotters se hoon?
15 Paulus is vasbeslote om die losprys-voorsiening van Jehovah te beklemtoon as die enigste manier om gered te word. Die Jode wil tekens hê en die Grieke smag na wysheid, maar Paulus sal “Christus aan die paal” verkondig selfs al laat dit Jode struikel en klink dit vir Grieke na dwaasheid—“maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Kor. 1:22-25). Laat Jode en Grieke “Christus aan die paal” as swak en dwaas beskou; dit is steeds verreweg sterker en wyser as Joodse tradisies en Griekse filosofieë. Nog redes verskyn in die volgende artikel.
[Prent op bladsy 8]
Al het Jesus op water geloop en talle ander wonderwerke verrig, wou die Joodse godsdiensleiers “’n teken” hê—bykomende bewys dat hy die Messias is