Neem vreugdevol saam met Jesus Christus deel aan Jehovah se werk
“My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”—Joh. 5:17.
1. Wat kan daartoe bydra dat ’n mens ’n vreugdevolle werker word, en met watter resultate?
IS JY ’n vreugdevolle werker? Was jy nog altyd een, of was daar tye wanneer jy weens die een of ander rede moeg en gefrustreerd gevoel het, sonder enige energie en inisiatief? Jy het gevoel asof jy eenvoudig nie nog ’n enkele steek werk kon doen nie. Toe het daar iets onverwags gebeur. Jy het ’n ander soort werk gekry, iets meer produktiefs en wat ’n goeie opbrengs of oes lewer. In plaas daarvan om te voel dat jy in onguns verkeer en gekritiseer word deur die een wat vir jou werk gee, het jy nou ’n glimlag gekry en is jy geprys. Wat ’n verskil het dit tog nie gemaak nie! Jy het aangespoor en aangemoedig gevoel om met geesdrif en ywer voort te gaan. Niks kon jou nou keer nie. Ja, jy het ’n vreugdevolle werker geword!
2. Hoe vertel Jesaja 12:1-6 van ’n onverwagte gebeurtenis in ons dag, en watter goeie gevolge het dit gehad?
2 Dit is merkwaardig dat die Bybel op presies dieselfde wyse van die ondervindings van Jehovah se volk in ons dag praat. Dit vertel van iets wat onverwags in 1919 G.J. gebeur het. Ons lees daarvan in Jesaja hoofstuk 12: “En in dié dag sal jy sê: Ek dank U, HERE, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos. Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.” Dan beskryf dit ons wonderlike werk: “Julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil. En julle sal in dié dag sê: Dank die HERE, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! Psalmsing tot eer van die HERE, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde. Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.”—Ve. 1-6.
‘SAAI VOLOP, MAAI VOLOP’
3. (a) Hoe praat Psalm 126 eweneens van ’n ommekeer wat groot vreugde veroorsaak het? (b) Watter treffende teenstelling word in Psalm 126:5, 6 beskrywe?
3 Kom ons kyk, in dieselfde verband, na Psalm 126 met die opskrif “’n Bedevaarts-lied”. Dit was een van ’n groep psalms wat die Israeliete heel moontlik gesing het tydens hulle reis na Jerusalem wanneer hulle vreugdevol die drie jaarlikse feeste wat daar gehou is, bygewoon het. Net soos Jesaja hoofstuk 12 vertel dit van diegene wat in Sion, God se organisasie, ingekom het. Kyk hoe word dit gestel: “Toe die HERE die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom.” Dit het te goed gelyk om waar te wees! En die verslag sê voorts: “Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel.” Let nou op die bemoedigende verandering in werk wat in die laaste twee verse van die psalm gemeld word: “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra” (Ps. 126:1, 2, 5, 6). Hoewel hy aanvanklik ’n moeilike tyd beleef het, met oënskynlik niks om vir sy arbeid te wys nie, word die vlyt wat hy betoon het deur geduldig aan te hou saai uiteindelik beloon met ’n oes wat veel groter is as wat hy ooit verwag het.
4. Het Jesus iets merkwaardigs oor oestyd te sê gehad, en tot watter vraag gee dit aanleiding?
4 Ja, dit is die oestyd hierdie. Ons is nou in die voleinding van die wêreld of stelsel van dinge, en soos Jesus in een van sy gelykenisse gesê het: “Die oes is die voleinding van die wêreld” (Matt. 13:39). Jesus het ’n aantal interessante dinge te sê gehad oor die oes en die werk wat daarmee in verband staan, en veral oor homself as ’n werker. Kom ons blaai dus na ons sleutelteks in Johannes 5:17. Die Jode het Jesus vervolg omdat hy ’n goeie werk op die sabbat verrig het, en hy het hulle geantwoord met die woorde: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Weet ons hoe lank Jehovah al werk?
5. Watter soort werker is Jehovah, en hoe word dit in die Skrif getoon? (Ps. 33:4, 5).
5 Verbasend genoeg is daar ’n teks wat ons help om daardie vraag te beantwoord en wat klaarblyklik na Jesus in sy voormenslike bestaan as “die Woord” (wat in Johannes 1:1 gemeld word) verwys. Waar hierdie een as verpersoonlikte “Wysheid” praat, sê hy die woorde wat in Spreuke 8:22, 23 opgeteken is: “Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af . . . van die voortyd van die aarde af.” Ja, Jehovah is ’n produktiewe werker en dit is die sleutel om ’n gelukkige werker te wees. Jehovah is ’n gelukkige werker, want hy bring goeie dinge voort wat sy goeie eienskappe weerspieël. Hy is “die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; . . . regverdig en reg is Hy.” Jehovah is die “Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde”.—Deut. 32:4; Gen. 14:19, 22.
6. Watter verbasende insig gee die Bybel ons in die soort werker wat Jesus is?
6 Spreuke hoofstuk 8 deel ons ook iets mee oor wanneer Jesus as ’n werker begin het. Vanaf vers 29 lees ons: “Toe hy [Jehovah] die fondamente van die aarde verorden het, toe was ek soos ’n meesterwerker naas hom . . . [ek was] vrolik oor die produktiewe land van sy aarde.” Die een wat Christus Jesus geword het, was dus ’n werker van die tyd van sy skepping af, het vreugdevol saam met sy Vader gewerk en “was te alle tye vrolik voor sy aangesig”.—Spr. 8:29-31, NW.
7. Hoe is samewerking tussen hierdie twee werkers getoon, en watter goeie resultate het dit gehad?
7 Die noue samewerking tussen daardie twee grootse werkers blyk duidelik reg tot met die daad wat die kroon oor die aardse skepping gespan het, toe God gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” Die man sowel as die vrou is vreugdevolle werkers gemaak toe God hulle geseën en vir hulle gesê het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor . . . al die diere wat op die aarde kruip.” En “toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.” Dit was gemaak om produktief te wees.—Gen. 1:26-31.
DIE OESGEES
8. (a) Watter gesindheid het Jesus tydens sy hele bediening teenoor werk getoon? (b) Hoe is sy liefde vir die mense in hierdie verband getoon?
8 Toe Jesus na die aarde gekom en met sy bediening begin het, het hy dieselfde gesindheid getoon. Hy het gewerk en vir ander getoon hoe om te werk. Hy het homself hieroor uitgespreek in verband met oeswerk, soos ons lees in Johannes 4:34, 35: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.” Om seker te maak watter soort oes Jesus in gedagte gehad het, lees ons van ’n ander geleentheid: “Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en . . . geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte . . . genees. En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matt. 9:35-38). In albei hierdie verslae is dit dus duidelik dat die oes waarvan Jesus gepraat het nie ’n graan-oes was nie. Dit was ’n mense-oes, een wat Jesus baie graag ingesamel wou sien.
9. Wat is die oesgees, en watter begeerte wek dit?
9 Daar bestaan ’n groot ooreenkoms tussen daardie dag en ons dag, en Jesus wil hê dat ons wat sy volgelinge is met die oesgees besiel moet wees. En daardie gees is een van vreugde, ’n duidelike besef van hoe verdienstelik die werk is, en dit wek die begeerte by ’n mens om te sien dat dit volbring word. Dit is soos ons in Jesaja 9:2 lees: “U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word.”
10. (a) Hoe voorsien Jehovah meer arbeiders vir die oes? (b) Wat moet ons uit Spreuke 10:4, 5 leer?
10 In daardie selfde gees bid ons die Here om meer arbeiders uit te stuur. Jehovah voorsien nie hierdie ‘meer arbeiders’ op wonderdadige wyse nie. Trouens, dit is alles deel van die oeswerk—nie net om daartoe by te dra om mense in die waarheid in te bring nie—maar, soos Jesus gesê het: “Gaan dan heen, maak dissipels . . . en leer hulle om alles te onderhou [te doen] wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Dit is die gees wat ons aan die dag moet lê. Ons wil meer werkers in die veld hê. Dit beteken dat ons self besig en wawyd wakker moet bly. Spreuke 10:4, 5 tref hierdie teenstelling: “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer wegbêre, is ’n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is ’n seun wat skande maak.”—Verskriklik! Wat ’n kontras! Vir sulke luiaards wag daar net die teenoorgestelde van vreugde.
DINGE WAT NIE NOODSAAKLIK IS NIE, MOET OPSY GESKUIF WORD
11. Hoe moet oeswerk beskou word, en waarom?
11 Nog iets omtrent oestyd is dat dit ’n spesiale tyd vir boere is. Hulle kan nie en neem ook nie die houding aan dat die gewone roetine goed genoeg is nie, dat more nog ’n dag is nie. Die oes moet ingesamel word wanneer dit ryp is. Al die plaaswerkers weet dit ook—daar is geen tyd om te verspil nie. Ander dinge wat nie noodsaaklik is nie, word opsy geskuif. Hulle is bereid om van sonop tot sonsondergang op die landerye te werk.
12. Hoe het Jesus die belangrikheid van oestyd beklemtoon, en hoe kan ons dit vandag toepas?
12 Jesus het dieselfde gesindheid getoon. Onmiddellik nadat hy vir sy dissipels gesê het om die Here te bid om arbeiders in sy oes uit te stuur, lui die verslag: “En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep . . . . [en] Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: . . . gaan . . . na die verlore skape van die huis van Israel.” Dit het hulle gedoen—met die Koninkryksboodskap. En Jesus het die dringendheid daarvan beklemtoon met die woorde: “Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of ’n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd” (Matt. 10:1-10). Jesus wou nie hê dat hulle in ’n hele klomp ander dinge verwikkel moes raak nie. Hy wil ook nie hê dat sy volgelinge se aandag vandag deur materialisme of enige ander tydverdryf afgetrek moet word nie. Dit is oestyd!
13. Watter merkwaardige oeswerk is in die eerste eeu gedoen?
13 Ons kan vra: Was daar ’n oes in die eerste eeu? Daar was beslis! Kyk ’n bietjie wat op daardie Pinksterdag van die jaar 33 van ons Gewone Jaartelling in die stad Jerusalem gebeur het. Nadat hulle na Petrus se “grondige getuienis” en vermaning geluister het, is daar “omtrent drieduisend siele” gedoop en by die oorspronklike gemeente van ongeveer 120 gevoeg (Hand. 1:15; 2:37-42; vgl. NW). En die gemeente self was in werklikheid maar net een dag oud!
14. Ten spyte van watter teenstand was daar duidelike bewys dat Jehovah sy knegte geseën het?
14 Kort daarna het die Joodse geestelikes, wat woedend was omdat groot skares op die Koninkryksgetuienis ag geslaan het, vir die apostels gesê: “Julle het Jerusalem met julle leer vervul.” Hoewel die apostels ‘uitdruklik verbied is om te leer’, het hulle aangehou spreek en het die oes steeds ingekom (Hand. 5:28, 29). Daar moes seker ’n goeie verhouding getuies in daardie stad van ongeveer 2,5 vierkante kilometer gewees het, maar hulle het nie die pas vertraag nie. Hulle het ’n positiewe gesindheid aan die dag gelê en aangehou om na meer mense te soek. Handelinge 6:7 sê: “Die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en [selfs] ’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” Dit was inderdaad ’n ryk oes!
DAAR IS NOG BAIE WERK!
15, 16. (a) Kan ons vandag sê dat Jehovah se werk feitlik afgehandel is? (b) Meld voorbeelde in die 1978 Yearbook wat toon dat ons pogings ryklik geseën word sodat daar ’n groot potensiaal is.
15 Hoe beskou ons vandag die wêreldtoneel? Is die gebied so dikwels en so deeglik gedek dat ons kan sê dat die werk volbring is? Nee, daar is nog meer, baie meer om te doen! Dink byvoorbeeld aan Jehovah se Getuies in Zambië. Die “1978 Yearbook of Jehovah’s Witnesses” toon dat die verhouding daar een verkondiger vir elke 103 van die bevolking is. Die Zambiese Getuies hou aan preek, hou aan om met die mense te praat, en hulle vind steeds meer wat gehoor gee en by hulle aansluit. Verlede jaar is daar inderdaad 2 399 aldaar gedoop.
16 Wanneer ons oor die aarde heen kyk, besef ons dat ’n groot oes ingesamel word. Die Katolieke lande van Europa ervaar steeds ’n wonderlike vermeerdering. In net twee jaar sedert 1975 het die aantal Koninkryksverkondigers in Spanje met 25 persent toegeneem, in Portugal met 26 persent en in Italië met 29 persent, sodat daar nou meer as 125 000 van Jehovah se Getuies in hierdie eertydse vestings van Babilon die Grote bedrywig is. Tydens dieselfde twee jaar het die waarheid talle meer eilande binnegedring; Jehovah se knegte in Tahiti berig ’n vermeerdering van 42 persent in daardie gebied, terwyl 40 uit die 60 bewoonde eilande nou ’n deeglike getuienis ontvang. Jehovah se werk dring steeds nuwe gebiede in die Ooste binne. Hongkong berig ’n vermeerdering van 52 persent van 1975 tot 1977, en Japan het gedurende dieselfde tydperk 8 000 Koninkryksgetuies bygekry. En waar die Koninkryksboodskap ywerig van huis tot huis in Noord- en Suid-Amerika en Europa verkondig word, neem gemeentes aan ’n soortgelyke vreugdevolle oes deel.
17. Watter waarskuwing en aansporing rig die Skrif tot ons in hierdie verband? (Luk. 21:34-36).
17 Behoort ons nie bly te wees dat Jehovah nog nie die “groot verdrukking” laat losbars het sodat hierdie kosbare “skape” ingebring kon word nie? Maar moenie ’n fout maak nie! Daardie dag van afrekening met die nasies kom vinnig nader! “Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Hab. 2:3.
18. Watter beginsel word in 1 Korinthiërs 3:7 gemeld, en hoe kan ons dit vandag op onsself toepas?
18 Jehovah het vir ons al die aanduidings gegee dat die werk nog nie afgehandel is nie. Ons moet daarmee aanhou, nie totdat ons besluit dat dit afgehandel is nie, maar totdat Jehovah dit ten einde bring wanneer dit hom behaag. Jehovah toon inderdaad steeds vir ons dat die werk nog nie volbring is nie. Dit kan gesien word uit die feit dat hy nog steeds die oes inbring. Ons moet nooit die beginsel wat Paulus so duidelik in 1 Korinthiërs 3:7 gestel het, uit die oog verloor nie: “So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.” Al die eer vir hierdie oorvloedige oes van hoë gehalte kom hom dus deur Christus Jesus toe.
19. Watter wonderlike bemoediging en aansporing vind ons in die verband van 1 Korinthiërs 3:5-9?
19 Soos Paulus in 1 Korinthiërs 3:5 gemeld het, is dit ’n voorreg vir persone om van ander persone gelowiges te maak, net “soos die Here aan elkeen [sy werk] gegee het”. En hy laat ons nog steeds toe om ander in sy skuur in te bring. In die 1977- diensjaar het meer as 124 000 nuwes hulle in water laat doop en aldus getoon dat hulle hulle heelhartig aan God toewy om sy wil te doen. Waarom sal ons dan nie steeds verdere groei verwag nie? Die oes is nog nie klaar nie. Dit is tyd om oes-georiënteerd te bly totdat almal ingebring is. Die tyd vir oesvreugde duur voort!
[Prent op bladsy 10]
Jesus se volgelinge raak besiel met die gees van mense wat oes