Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/15 bl. 3-5
  • Kan jy dit erken wanneer jy verkeerd het?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy dit erken wanneer jy verkeerd het?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Koppigheid
  • Trots
  • Verleentheid en vrees
  • Redelikheid en sagmoedigheid
  • Waarom dit erken wanneer jy verkeerd het?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Is dit verkeerd om trots te wees?
    Ontwaak!—1999
  • Dit baat ’n mens om jou trots te sluk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die gevolge van trots—Hoe ernstig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/15 bl. 3-5

Kan jy dit erken wanneer jy verkeerd het?

“NET dwase en dooies verander nooit van mening nie.” Ten minste, dit is wat skrywer J. R. Lowell gesê het. Hoe dit ook al sy, dit is ’n baie algemene menslike gebrek om op onredelike wyse nie kop te gee nie of om te weier om dit te erken wanneer ons verkeerd het.

’n Treffende voorbeeld van hierdie gesindheid was te sien in die jaar 33 G.J. Jesus van Nasaret het ’n geruime tyd reeds in Palestina geleer en dissipels gemaak. Die Joodse leiers het hom voortdurend teëgestaan en die Skriftuurlike bewyse van sy Messiasskap sowel as die wonderwerke wat met sy bediening gepaard gegaan het, verwerp. Toe, in daardie jaar, het Jesus ’n wonderwerk in die omgewing van Jerusalem verrig wat selfs die mees vasbeslote teenstander moes oortuig. Ten aanskoue van talle mense het hy ’n man opgewek wat vier dae lank dood was!—Joh. 11:30-45.

Indien enigiets getoon het dat Jesus Jehovah se steun gehad het, sou hierdie wonderwerk dit tog seker doen. Hoe anders kon ’n opstanding uit die dode verklaar word? Talle Jode het hom as gevolg daarvan aanvaar. Maar wat van die Joodse leiers? Die verslag sê dat hulle ‘beraadslaag het om Jesus om die lewe te bring’. En dit was nie al nie. “Die owerpriesters het besluit om Lasarus”, die man wat deur Jesus opgewek is, “om die lewe te bring”.—Joh. 11:53; 12:10, 11.

Koppigheid

Ja, in plaas daarvan om te erken dat hulle verkeerd gehad het, wou die Jode van alle tekens van die getuienis ontslae raak. Ons word beslis genoop om hulle koppigheid te veroordeel. ’n Mens sou dink dat hulle gewetens hulle, na so ’n betoning van hardnekkigheid, sou beweeg om hulle gesindheid in heroorweging te neem. Maar hulle het voortgegaan en later Jesus se dood teweeggebring—die grootste fout en die laakbaarste kriminele daad wat ooit gepleeg is.—1 Kor. 2:6-8.

Toe, ten spyte van al die getuienis dat Jesus opgestaan het, wou hulle ontslae raak van die apostels wat getuies van hierdie magtige daad van God was. Alhoewel hy nie erken het dat Jesus die Messias was nie, het een van hulle mees geëerde leiers egter vir hulle raad gegee wat hulle ten minste hulle denke radikaal moes laat verander. Hierdie man was die vername onderrigter Gamaliël. Nadat hy voorbeelde van manne gemeld het wat opgestaan het as selfbetitelde Messiasse en hoe hulle bewegings misluk het, het Gamaliël die volgende raad gegee: “Nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.”—Hand. 5:34-39.

Die Joodse leiers het desondanks nie veel ag geslaan op Gamaliël se raad nie. Want toe die Christen Stefanus hulle ’n ruk later gekonfronteer het met wat hulle gedoen het en vir hulle gesê het dat hulle hardnekkige manne was, “was hulle woedend in hul harte en het [hulle] teen hom op die tande gekners”. Toe het hulle “met ’n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop” en uiteindelik vir Stefanus gestenig.—Hand. 7:51-60.

Ten spyte van sulke voorbeelde word koppigheid dikwels in die wêreld bewonder. Die Bybel assosieer dit egter met opstandigheid en ’n slegte hart—dinge wat Christene moet vermy (Ps. 78:8). Dit meld ook voorbeelde, soos die van Farao van Egipte en van die Jode in die tyd van die Rigters, en vertel hoe hulle gely het weens hulle koppigheid.—Ex. 14:8, 26-28; Rigt. 2:19-23.

Indien ’n persoon die hand in eie boesem steek en vind dat hy van nature koppig is of die soort persoonlikheid het wat nie graag na ander mense se menings luister nie, is dit goed om dit as ’n probleem te erken. Dit is immers nie aan die koppiges nie, maar ‘aan die ootmoediges wat God genade gee’. Daarbenewens is dit nie die hardnekkiges of die eiesinniges nie, maar die ootmoediges wat ‘die aarde sal besit’.—Spr. 3:34; Ps. 37:11.

Trots

Soms is die probleem nie bloot koppigheid nie. Dit hou dalk verband met ’n ander eienskap—trots. Hoe so? Wel, dink ’n bietjie. Het jy al ooit ’n opsiener by die werk geken wat ’n fout begaan en dan, wanneer dit blootgelê word, weier om dit te erken of probeer om die skuld op iemand anders te pak? Of moontlik het jy gehoor hoe ’n ouere man in ’n gemeente per abuis iets sê wat nie korrek is nie, en dan nie bereid is om dit te erken nie. Dit kan te wyte wees aan trots, omdat hy meen dat hy in sy posisie nie betrap moet word waar hy ’n fout begaan nie. Ouers en onderwysers tree soms so op uit vrees dat hulle respek en invloed sal verloor indien hulle erken dat hulle ’n fout begaan het en dat hulle aldus hulle gesag sal ondermyn.

Die gedagte om ‘die skyn te bewaar’ staan nou in verband met trots. In die Ooste sal party eerder letterlik sterf as om aansien te verloor. Maar die meeste van ons, hetsy in die Ooste of Weste, wil ons aansien, ons prestige of die beeld wat ons wil aanbied, verdedig. Dit is tot ’n groot mate te wyte aan trots.

Is trots ’n eienskap wat Christene moet aankweek? Wel, aan wie dink ons wanneer ons aan trotse mense dink? Manne soos Sanherib, Farao en die koning van Babilon (en selfs die Duiwel self) (1 Tim. 3:6). Hierdie konings is weliswaar deur hulle tydgenote geloof en gevrees. Maar hoe het Jehovah hulle beskou? Die Bybel sê: “Hoogmoed en trotsheid . . . haat ek [Jehovah]” (Spr. 8:13). En waar is die glorie van hierdie manne nou?

Verleentheid en vrees

Party mense weier dalk weens ander redes om dit te erken wanneer hulle verkeerd het. Moontlik is hulle bang of verleë. Wanneer hulle iets gedoen het waaroor hulle skaam is, en tot verantwoording geroep is, kan pure skaamte hulle die feite laat ontken of hulle laat probeer om hulle optrede te regverdig in ’n poging om hulle gewetens te oorreed om hulle te verskoon. Sulke persone moet geloof en nederigheid en liefde vir God verkry. Jehovah is bereid om selfs baie ernstige sondes te vergewe. Indien die sondaar vertroue in God en in die offerande van sy Seun toon en vryelik sy sonde voor God bely, sal sy gewete gereinig word (Hebr. 9:14). Want die Skrif praat van die simpatieke gesindheid van ons Hoëpriester Jesus Christus en vermaan ons: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”—Hebr. 4:15, 16; 1 Joh. 2:1, 2.

Wat word nou eintlik bereik indien ons weier om die skuld te aanvaar vir wat ons gedoen het? Ons sal weliswaar dalk nie op daardie oomblik getugtig word nie, maar “net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Al ontdek ander mense nie ons sondes nie, “die HERE toets die harte” (Spr. 21:2). Die apostel Paulus waarsku ons: “Ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”—Rom. 14:10-12.

Redelikheid en sagmoedigheid

Met koppigheid verwys ons natuurlik nie na die ferme doelgerigheid wat ’n Christen aan die dag moet lê nie. Dit is prysenswaardig indien ’n kneg van God “standvastig, onbeweeglik” in sy aanbidding is (1 Kor. 15:58). Dit spruit voort uit goeie beweegredes, en is fermheid vir Jehovah se idees en beginsels, nie ons eie nie. Daarbenewens hou dit verband met twee belangrike eienskappe—sagmoedigheid en redelikheid.

Party meen dat sagmoedigheid en redelikheid nie gepaste eienskappe vir persone met gesag is nie. Tog was Moses, die opsiener van sowat driemiljoen mense, “baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Num. 12:3). En daar word spesifiek gesê dat Christelike ouere manne in die gemeente van God “redelik” moet wees (1 Tim. 3:1-3, NW). Ja, ’n persoon wat sagmoedig en redelik is, sal dit nie moeilik vind om dit te erken wanneer hy verkeerd het nie. Hy sal nie te verleë, te trots of te onveilig voel om feite te stel soos dit werklik is nie, en dit sal ook nie vir hom belangriker wees om “die skyn te bewaar” as om die waarheid te vertel nie. Hy sal eerder die wysheid van bo aan die dag lê, en dit is “vredeliewend, redelik, bereid tot gehoorsaamheid, vol barmhartigheid en goeie vrugte”.—Jak. 3:17, NW.

Die meeste van ons sal natuurlik nie toelaat dat koppigheid ons beweeg om moord te pleeg soos die Joodse leiers nie. Maar selfs wanneer ons in klein dingetjies koppig is, mishaag dit Jehovah (Luk. 16:10). Indien ons ons aan ’n sonde skuldig maak, moet ons gou ons skuld erken en van die sonde af wegkom, nie voortgaan om so iets ‘aan te raak’ nie, en dan moet ons onmiddellik met vrymoedigheid na God gaan om ’n gereinigde hart te verkry. Indien iets ons verhinder om tot God te nader—trots, skaamte, vrees of enigiets anders—moet ons die hulp van ’n ander Christen inroep om saam vir ons te bid (Jak. 5:16). Dit is nie die skande of die skulderkenning wat ons moet vrees nie, maar God se misnoeë omdat ons dit nie aan hom bely het nie. Ons moet ook sy groot genade aan diegene wat met ’n ’n berouvolle hart na hom kom, erken, want hy sê: “Op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”—Jes. 66:2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel