Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/15 bl. 6-8
  • Waarom voorhuwelikse geslagsomgang tot nadeel strek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom voorhuwelikse geslagsomgang tot nadeel strek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N HUNKERING NA EGTELIKE LIEFDE
  • DINK AAN DIE ONSEKERHEDE VAN DIE LEWE
  • DIE HOOFSAAK IS OM GOD TE BEHAAG
  • VERMY PYNLIKE PROBLEME
  • HET JY HULP NODIG?
  • Waardeer jy werklik God se gawe van die huwelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Jongmense, is Bybelse sedelikheid die beste weg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Laat Jehovah julle huwelik versterk en beskerm
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/15 bl. 6-8

Waarom VOORHUWELIKSE GESLAGSOMGANG tot nadeel strek

GESLAGSAANTREKKING kan baie sterk wees. Die Skepper het dit klaarblyklik in die mens geplaas as ’n faktor wat daartoe kan bydra om die huwelik ’n aangename band te maak wat bind.

Party mense sal vol minagting lag vir die gedagte dat dit nadelig is om geslagsintimiteit te geniet wanneer ’n mens ongetroud is. Hulle wonder dalk watter skade hulle liggame berokken word wanneer hulle voor die huwelik voor hierdie begeerte swig. Maar vergeet hulle wat hulle in hulle liggame, in hulleself, is? Het hulle nie ’n persoonlikheid, ’n verstand wat redeneer en ’n hart wat na ware liefde en sekuriteit smag nie? Innerlike wonde omdat ’n persoon deur ’n tydelike minnaar verlaat is, kan jare lank bloei. Ongevoeligheid kan ook toeneem en dit sal ook nie gesondheid en geluk bevorder nie. Mense besef al hoe meer dat die gebruik van geslagsorgane voor die huwelik nie blywende bevrediging en vreugde verskaf nie.

’N HUNKERING NA EGTELIKE LIEFDE

’n Vrou ondergaan nie alleen ’n fisiese verandering tydens haar eerste geslagservaring nie, maar ook ’n verandering in persoonlikheid. Toe sy ’n maagd was, wou sy waarskynlik ’n kêrel hê, iemand om mee te praat en om “op te steun”. Maar na geslagsomgang begin ’n vrou egter om “na ’n man te hunker” in ’n ander sin van die woord. As die Skepper het Jehovah God dit ‘haar begeerte na haar man’ genoem.—Gen. 3:16

’n Meisie wat te graag wil trou, loop die gevaar om haar kêrel te veel vryhede met haar te veroorloof. Omdat sy bang is om hierdie vriend te verloor, probeer sy hom dalk aan haar vasbind met onrein hofmakery. Maar, meisies, vra julle asseblief self af: ‘Waarmee bind ek hom?’ Dink. Stel hy opreg in jou persoonlikheid en in jou geesteseienskappe en edele gevoelens belang? Of sal hy jou nie eerder verlaat indien jy ophou om geslagsomgang met hom te hê nie? Hoe lank kan vroue wat voor onsedelike toenadering swig hulle maats aantrek? Niks langer as wat ’n vrou van losse sedes die oog van haar onverantwoordelike “vriende” kan vang en hulle hartstog kan wek nie. Wie bly dan agter met diep wonde? Kan ’n jong man wat onsedelike toenadering by sy nooi soek eweneens verwag dat sy hom in haar latere lewe sal respekteer?

Die Bybel toon dat ‘God hoereerders en egbrekers sal veroordeel’ (Hebr. 13:4). Wat kan seerder maak as dit? Onthou ook dat een onsedelike daad die hele loopbaan van ’n eens gelukkige kneg van God kan ruïneer. En dit kan nie deur ’n haastige huwelik reggestel word nie. Net soos die skrape op ’n plaat die volle genieting van die musiek kan bederf, so kan die volle vrede en geluk van die huwelik deur negatiewe geslagservaringe van die verlede versteur word.

DINK AAN DIE ONSEKERHEDE VAN DIE LEWE

Party sê dalk: ‘Watter skade word aangerig wanneer ons ons sekere geslagsvryhede voor die huwelik veroorloof? Ons is seker dat ons gaan trou, en ons neem dit as vanselfsprekend aan dat ons nie siek is in die sin dat ons ’n veneriese siekte het nie.’

Maar dink ’n oomblik. Kan ons, daar ons onvolmaak en sterflik is, ooit sê: ‘Ons is seker ons gaan trou’? Geld die verklaarde wet: “Tyd en lotgeval tref hulle almal” nie vir ons almal nie? (Pred. 9:11). Hoe kan ’n paartjie seker wees dat hulle sal trou? Hulle kan hoogstens slegs hoop om dit te kan doen. Jesus se halfbroer Jakobus het vermaan: “Kom nou, julle wat sê: Vandag of more sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak—julle wat nie eens weet wat more sal gebeur nie. . . . In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”—Jak. 4:13-15.

DIE HOOFSAAK IS OM GOD TE BEHAAG

Sal dit ook redelik wees om Jehovah se seën te vra op ons pogings om ’n gelukkige huwelik te hê en ons terselfdertyd skuldig te maak aan gedrag wat die “Hoorder van die gebed” veroordeel? (Ps. 65:3). Ons moet natuurlik werklik glo dat sekere dade deur God veroordeel word. Wel, met duidelike verwysing na onrein geslagsdade het Jesus “losbandigheid” onder verskeie “booshede” geklassifiseer (Mark. 7:22, 23). Die apostel Paulus het gesê dat diegene wat hulle skuldig maak aan “die werke van die vlees” soos “hoerery, onreinheid, ongebondenheid” beslis nie “die koninkryk van God . . . sal beërwe nie” (Gal. 5:19-21). Sulke verklarings laat beslis geen twyfel oor hoe Jehovah oor die saak voel nie, nie waar nie?

Voorhuwelikse geslagsomgang besoedel die man sowel as die vrou. Dit is ongetwyfeld Jehovah God se beskouing. Anders sal hy nie ongetroude persone verbied om geslagsomgang te hê nie. (Vergelyk 1 Korinthiërs 7:1, 2.) Daarbenewens keur die Universele Soewerein nie gierigaards en wanordelike indiwidue goed nie (1 Kor. 6:9, 10; 14:33). Aangesien hy die nodige sedelike wette vir menselewe gegee het, moet hulle gehoorsaam word indien ons ons Skepper wil behaag en ware geluk wil smaak. Enige ander weg sal ons benadeel.

’n Verlowing, of voorbereiding om te trou, is nie dieselfde as om reeds in die eg verbind te wees nie, nie waar nie. Wel, dink dan ’n bietjie: Wat sal jy dink van ’n man wat nie as ’n opsiener in die Christengemeente aangestel is nie, maar wat probeer om hom die posisie van so ’n ouere man toe te eien? Hy sou vermetel wees. En wat het gebeur met sekere indiwidue van vervloë tye wat vermetel opgetree het en nie op Jehovah gewag het nie? Is hulle benadeel? Ja, soms tot die dood toe, hetsy vroeër of later (1 Sam. 15:22, 23; 2 Sam. 6:6, 7; 2 Kron. 26:16-21). Geen Godvresende persoon sal tog seker vermetel wil optree deur ’n fisiese verhouding aan te knoop wat deur Jehovah verbied word of deur die intimiteit wat met die huwelik geassosieer word te geniet voordat hy in die eg verbind is nie.—Ef. 5:3.

VERMY PYNLIKE PROBLEME

Respek, selfs diep respek, vir mekaar is een van die hoofpilare van ’n gelukkige huwelik (Ef. 5:33; 1 Pet. 3:7). Maar hoe kan ’n verloofde paar ware respek vir mekaar bou indien hulle sien en weet dat albei hulle skuldig gemaak het aan hebsugtige, onsedelike gedrag? Boesem dit vertroue in? Nee, want baie jaloesie in die huwelik word veroorsaak deur negatiewe ervarings met mekaar voor die huwelik. Kan ’n terneergedrukte vrou nie jare later sê nie: “Jy wou slegs ’n vrou gehad het, nie spesifiek vir my nie”? En hoe kan haar man dan bewys dat die teendeel waar is? Hy kan nie. Wel, hoe kan ’n man voor sy huwelik met ’n bepaalde vrou bewys dat hy haar werklik liefhet? Deur haar kuisheid te respekteer. Sodoende toon hy sy onselfsugtige liefde vir sy toekomstige vrou. Hy toon ook dat hy sy woord gestand doen. Miskien het hy vir die meisie se vader beloof dat hy haar nie op ’n onrein manier sal aanraak nie. Hoe skandelik sal dit tog wees indien hy nou moet bely dat hy die man se dogter swanger gemaak het! Sal dit ’n goeie begin vir ’n huwelik wees?

Ouers sowel as verloofde pare kan pynlike probleme vermy deur biddend aandag aan hierdie saak te skenk. Dit is van groot belang in die huidige, sedelik vervalle wêreld. Die sedelike standaarde wat deur God bepaal is, moes nog nooit soveel aanvalle verduur as wat die geval in ons dag is nie. Die Bybel moet werklik ’n Christen se daaglikse gids wees waar dit kom by vriendskappe, verlowing en die huwelik. Waarom? Die Skrif antwoord: “Dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie.—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God.” Baie mense het “geen sedelikheidsin meer nie” en het hulle oorgegee “aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe”. Maar die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor om ‘wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens [persoonlikheid] af te lê’ en om ‘hulle met die nuwe mens [persoonlikheid] te beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid’ (Ef. 4:17-24). Ja, doen dit en jy sal die pyn en onheil vermy wat gewis diegene sal tref wat voortgaan om God se regverdige standaarde te ignoreer.

HET JY HULP NODIG?

Indien enigiemand ’n probleem in hierdie verband het, sal dit goed wees om met een van die aangestelde ouere manne in die Christengemeente te praat. Hy is in ’n posisie om jou met begrip te help. So ’n man is ’n ouere man of opsiener omdat hy geestelike kwalifikasies besit, en hy is ongetwyfeld ’n ervare vegter teen sy eie vleeslike begeertes, net soos die apostel Paulus was.—1 Kor. 9:26, 27.

Verloofde pare kan ook openlik met mekaar praat. Dit kan julle albei versterk in julle vaste besluit om Jehovah te behaag. Deur mekaar te help om julle na die goddelike wil te skik sal julle gewis nie benadeel word nie. Julle sal albei eerder die ware geluk ken wat deur lojale knegte van God gesmaak word. Is dit nie wat julle van die lewe vra nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel