Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/15 bl. 8-11
  • Ons kan dankbaar wees oor God se geduldige dissipline

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons kan dankbaar wees oor God se geduldige dissipline
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N VOORBEELD VAN GEDULD EN DISSIPLINE
  • OPREGTE PERSONE KAN BAAT VIND BY GOD SE HANDELINGE MET DIE MENSDOM
  • Hoe lank sal God nog geduldig wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hoe God se koninkryk jou lot voordeel kan strek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Volg Jehovah se geduld na
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Begryp die doel van dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/15 bl. 8-11

Ons kan dankbaar wees oor God se geduldige dissipline

DAAR is al gehoor dat mense sê dat God onredelik, onbillik of traag is. Party persone wil graag in God glo, maar kan nie begryp waarom God nie nou optree om misdadigheid, ongeregtigheid en verdrukking uit te wis nie.

Dit is egter vir mense maklik om die feit oor die hoof te sien dat die blote uitoefening van sterker mag, wat hulle meen God kan gebruik, nie gewoonlik die beste manier is om te voorkom dat ’n slegte ding weer gebeur nie. Tyd, geduld en redenering is dalk nodig om die probleem op te los.

Byvoorbeeld, ’n vader kan sy seun kwaai straf vir elke ongehoorsame daad, of hy kan die seun verwerp en hom heeltemal verstoot. Maar sal dit die seun teregwys en die probleem oplos? Sal dit die seun help of die vader se reputasie beskerm? Sal dit die welsyn van die gesin bevorder? Die blote uitoefening van mag en gesag kan sake net vererger wat die seun, asook ander mense wat dit waarneem, betref. Dit is omdat mense nie soos masjiene of diere is wat gehiet en gebied kan word en deur sterker mag beheer kan word nie.

Dieselfde geld vir God se handelinge met die mensdom, wat hy ‘na sy beeld en gelykenis’ gemaak het (Gen. 1:26, 27). Al doen hulle dit nie volmaak nie, weerspieël die mensdom nog daardie beeld, wat die gebruik van redenering, liefde, geregtigheid en barmhartigheid insluit. Mense moet kan uitredeneer en verstaan waarom dinge gedoen word op die wyse waarop hulle wel gedoen word. Hulle harte moet bereik word. Dan sal hulle probeer om hulle te skik na wat reg is, mits hulle nie selfsugtig en onredelik is nie.—Ps. 32:9; Rom. 2:4.

’n Ouer sien dalk dat daar slegs een manier is waarop hy ’n saak by sy kind kan “tuisbring”. Dit sluit moontlik herhaalde waarskuwings aan die kind in. Die ouer sien dalk dat hy die kind die gevolge of resultate van sy dwaasheid moet laat ly. Party ouers het die fout gemaak om die kind te veel te beskerm en hom te beskut teen die gevolge van elke moeilikheid waarin hy beland. Ander maak miskien gebruik van dreigemente of lyfstraf, en die kind snap nog steeds nie die punt nie. Die ouer sal dalk, as ’n hoogste straf, iets moet wegneem waarvoor die kind baie lief is.—Spr. 23:13, 14.

Vir die mens se eie beswil betoon God eweneens geduld en maak hy gebruik van redenering en dissipline, want Hy weet dat die mensdom oortuig moet word dat Sy optrede reg is en dat Sy heerskappy die enigste wenslike heerskappy vir die aarde is. Hy het dus toegelaat dat mense hulle eie onafhanklike weg inslaan. Tot op hede het hulle elke denkbare regeringsvorm op die proef gestel—monargieë, oligargieë, sosialistiese en Kommunistiese state, republieke, demokrasieë, militêre diktatorskappe en juntas, en hiërargieë (waar die priesterdom beheer uitoefen)—elke soort regering wat die mens kan uitdink.

Nou is wêreldse regerings onbestendiger as ooit tevore, en mense sê dat die samelewing soos ons dit ken nie kan voortbestaan nie. Die mens kan nie al die probleme oplos nie, en hulle neem toe met elke nuwe poging om hulle op te los. Wanneer God dus hierdie huidige wêreldstelsel vernietig, sal mense begryp dat hulle pogings om hulself te regeer almal misluk het. Diegene wat hulle standpunt inneem vir God se regstreekse bewind uit die hemele sal so ontnugter wees deur die verskeie vorms van menseheerskappy en sal so deeglik oortuig wees dat nie een kan slaag nie, dat hulle nooit sal begeer om terug te keer na enige vorm of oorblyfsel van mensgemaakte regering of enige van sy fasette nie.—Filip. 2:9-11; Jes. 45:23, 24.

’N VOORBEELD VAN GEDULD EN DISSIPLINE

In die geskiedenis van God se handelinge met die nasie van eertydse Israel het ons ’n voorbeeld wat hierdie aspek van God se toediening van dissipline toelig. Toe daardie nasie in die Beloofde Land ingetrek het, het God hulle soos ’n goeie vader gewaarsku teen die gevaar van afgodediens deur die gode van die nasies wat in en rondom die land gewoon het, te aanbid. Hy het deur Moses gesê: “Jy mag hulle gode nie dien nie; want dit sal vir jou ’n strik wees.”—Deut. 7:16.

Daar is meer as 30 ander regstreekse waarskuwings wat God op daardie tydstip aan Israel gegee het in verband met die valse gode van die nasies, onder andere beelde van hout, klip en metaal—’n regstreekse belediging vir God se heerskappy.

Israel het egter hierdie herhaalde waarskuwings in die wind geslaan—hulle het nooit werklik die volle betekenis en belangrikheid daarvan gesnap nie. Terwyl hierdie mense voortgegaan het om te sê dat hulle Jehovah aanbid het en sy volk was, het hulle verstrik geraak in pogings om twee here te dien. Die Israeliete is mislei om te glo dat hulle Jehovah as God kon aanbid en terselfdertyd beroepe op die plaaslike Baäl-god kon doen en selfs offerandes aan hom kon bring om goeie oeste en ander voordele te kry.—Jer. 7:9; 44:15-23.

Dertig waarskuwings behoort voldoende te gewees het, veral na die dinge wat die Israeliete kort tevore gesien het toe Jehovah hulle uit Egipte verlos het. Maar het God ongeduldig met en toornig op hulle geraak en hulle as ’n hopelose geval beskou? Nee, net soos ’n verstandige ouer het hy hulle gedissiplineer deur hulle van tyd tot tyd toe te laat om die gevolge van hulle dwaasheid te dra en deur toe te laat dat hulle deur ander nasies verdruk word en deur hulle dan te red wanneer hulle hom om hulp geroep het. Dit het sowat 850 jaar lank aangehou.

Maar ten spyte van hierdie dissipline het die Israeliete hulle nie bekeer van die sonde van afgodediens wat die God wat hulle beweer het hulle verteenwoordig het, smaad aangedoen het nie. God is nietemin nie verslaan nie. Alhoewel dit hom glad nie behaag het nie, het hy uiteindelik gedoen wat hy moes doen om hulle te oortuig (Klaagl. 3:33). Hy het toegelaat dat die Babiloniërs kom en hulle hoofstad Jerusalem en, nog erger, die tempel van God wat daar geleë was, verwoes.—2 Kron. 36:15, 16.

Vir die Jode was dit die ergste straf, die grootste skok wat hulle kon beleef. Hulle het gemeen dat hulle afgode kon aanbid en terselfdertyd kon reken op die permanensie van hulle tempel en hulle stad Jerusalem. Hulle was versot op hulle heilige stad en hulle tempel en het oorgerus gemeen dat Jerusalem vir ewig sou bestaan en dat hulle nooit geheel en al uit hulle land weggevoer sou word sodat dit woes gelaat word nie. Maar hier het die einste ding gebeur wat hulle gemeen het onmoontlik is!—Klaagl. 2:1, 2; 4:12.

Wel, dit het party van die Jode ru tot die besef laat kom dat afgodediens ’n growwe sonde is. Uiteindelik het hulle die les geleer wat God hulle op sagter maniere probeer leer het. Hulle was vir ewig genees van hierdie aanbidding van afgode. Na die herstelling van ’n gehoorsame oorblyfsel van die Jode in Jerusalem in 537 v.G.J. het hulle ander sondes gedoen, maar hulle het nooit weer afgodediens geduld nie.—Klaagl. 3:31, 32.

Om te sien hoe doeltreffend God se dissipline was, kan ons kyk na ’n voorval wat sowat 560 jaar later plaasgevind het en wat deur die Joodse geskiedkundige Josefus verhaal word:a

“Pilatus, wat deur Tiberius as prokurator na Judea gestuur is, het gedurende die nag daardie beelde van Caesar wat vaandels genoem word, na Jerusalem gestuur. Dit het ’n baie groot opskudding onder die Jode veroorsaak toe dit lig geword het. . . . Nee, benewens die verontwaardiging van die burgers oor hierdie prosedure, het ’n groot aantal mense uit die platteland gehardloop . . . na Cesarea . . . hulle het plat op die grond geval en vyf dae en net soveel nagte onbeweeglik in daardie posisie gebly.”

Hierdie gebeurtenis was bewys dat God se redelikheid en geduld met Israel oor die jare heen nou geregverdig is as die verstandige weg asook die nuttigste vir die mense wat daarby betrokke was. Jerusalem en sy herboude tempel het gestaan toe die Messias verskyn het. Die Messias kon aangebied word aan ’n nasie wat nie allerhande gode nie, maar slegs die Allerhoogste aanbid. Gevolglik kon hulle die Messias identifiseer as die Een wat deur hulle een God, Jehovah, gestuur is. Hulle kon sy onmiskenbare identiteit vasstel deur middel van hulle een heilige boek, die Hebreeuse Skrifte.—Joh. 5:39.

OPREGTE PERSONE KAN BAAT VIND BY GOD SE HANDELINGE MET DIE MENSDOM

Die wyse waarop God met die mense van die wêreld handel, getuig eweneens van sy ontsaglike geduld en wysheid, daar hy ons almal as sy intelligente skepping erken. Hy het nie hardvogtig opgetree nie. Hy het die mensdom tot vandag toe bewaar. En die oënskynlike vertraging is nie te wyte aan traagheid aan sy kant nie.—2 Pet. 3:9.

Wanneer God hierdie huidige, verdrukkende stelsel vernietig en sy Koninkryksbewind oor die aarde in die hande van Jesus Christus oprig, sal mense in staat wees om ’n vergelyking, ja, ’n teenstelling te tref tussen daardie puik bewind uit die hemel en dit wat hulle ervaar het toe ‘die een mens oor die ander geheers het tot sy ongeluk’ (Pred. 8:9). Hulle sal die onverderflikheid van daardie regering waarneem. Daarbenewens sal hulle sien hoe mense se kwale genees word deur Christus se priesterlike administrasie, genesingsdade waarvan Jesus ons ’n voorsmakie gegee het toe hy op aarde was (Luk. 4:31-36; 5:12-15; Matt. 9:27-34). Eerlike persone met ’n liefde in hulle harte vir dit wat reg is, sal daardie koninkryk heelhartig ondersteun (Jes. 26:9). Hulle sal God dan tereg prys oor sy geduld deur nie moed op te gee met sondige mense nie.—Ps. 117:1, 2.

“Geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid.”—2 Pet. 3:14, 15.

[Voetnoot]

a Josefus se Wars of the Jews, deur Whiston, Boek II Hfst. IX, bl. 677.

[Prent op bladsy 10]

Jehovah se oordele oor afgodaanbiddende Jerusalem het die Jode gedissiplineer sodat hulle afgodediens vir goed die rug toegekeer het

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel