Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/15 bl. 12-16
  • Is jy genotsugtig—of selfopofferend?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy genotsugtig—of selfopofferend?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT BETROKKE IS
  • DIE NODIGHEID OM WAKKER TE BLY
  • “SOOS ’N STRIK”
  • Hoe om die gees van selfopoffering aan te kweek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Dien Jehovah met ’n selfopofferende gees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe om ’n selfopofferende gees te behou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Bevorder Koninkryksbelange met ’n selfopofferende gees
    Ons Koninkryksbediening—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/15 bl. 12-16

Is jy GENOTSUGTIG—of SELFOPOFFEREND?

“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”—Matt. 16:24.

1. Wat is vandag die gesindheid van al hoe meer mense?

VIR talle mense in die wêreld is die gedagte om opofferinge vir iemand anders of vir ’n saak te maak, vandag nie baie aantreklik nie. Trouens, die gesindheid van al hoe meer mense is om meer materiële dinge, meer plesier en meer vryheid te hê om te doen wat hulle wil, sonder om hulle veel aan God of ander mense te steur. Selfs die bereidwilligheid om opofferinge ter wille van ’n mens se eie gesin te maak, het gedurende die afgelope jare afgeneem daar gesinsverbrokkeling en egskeiding rekordhoogtes in nasie na nasie bereik.

2. Waarom is die neiging om genotsugtig te wees geen verrassing vir Bybelstudente nie?

2 Hierdie genotsugtige neiging was nie ’n verrassing vir diegene wat wakker gebly het vir wat God se geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, sê nie. Daardie profetiese Woord het akkuraat voorspel dat talle in hierdie “laaste dae” “liefhebbers van hulleself”, “geldgieriges” en “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” sou wees. Party mense is so verdiep in die najaging van hulle genotsugtige wee dat die Bybel sê dat hulle “bandeloos” is. Dit kan ook waargeneem word in die yslike toename in alkoholisme, dwelmmisbruik en geslagsonsedelikheid in onlangse jare.—2 Tim. 3:1-4.

3. Watter teenoorgestelde gesindheid bestaan daar, en wie beveel dit aan?

3 Maar daar bestaan ook die teenoorgestelde gesindheid, die van selfopoffering. Dit is ’n weg wat aanbeveel word deur niemand minder as die almagtige Skepper van die heelal, Jehovah God self, nie. Maar is so ’n weg van selfopoffering nie verouderd in hierdie moderne tye nie? Waarom sal iemand daarin wil belangstel wanneer al hoe meer mense nie daarin belangstel nie?

WAT BETROKKE IS

4, 5. Hoe het Jesus van ’n weg van selfopoffering gepraat, en wat het hy met sy woorde bedoel?

4 Dit is baie belangrik dat ons die regte beskouing van hierdie saak van selfopoffering in teenstelling met genotsug het. In verband hiermee het Jesus Christus gesê: “As iemand agter My wil aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ’n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?”—Luk. 9:23-25.

5 Jesus het hier ’n weg van selfopoffering beskryf. En hy het die voortou geneem om te demonstreer wat dit beteken. Hy het gesê: “Ek [soek] nie my wil . . . nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Job. 5:30). Die rede waarom Jesus ’n weg van selfopoffering ingeslaan het, was dus om die wil van sy hemelse Vader, Jehovah, te volbring. Dit is daardie weg wat Jesus by sy volgelinge aanbeveel het. Hy het gesê dat hulle bereid moet wees om hulself te “verloën”, en daarmee het hy bedoel dat hulle hulle eie begeertes moet onderdruk en die doen van God se wil die vernaamste ding in hulle lewens moet maak.

6. (a) Wat kan ’n weg van selfopoffering kos? (b) Hoe kan ’n persoon ‘sy lewe red’ deur God se wil te doen?

6 So ’n lewe van selfopoffering is weliswaar nie maklik nie. Dit kos iets, onder andere tyd en inspanning. In party gevalle kan dit selfs die verlies van ’n mens se lewe deur die hande van diegene wat God se knegte vervolg, beteken. Maar soos Jesus getoon het, sal die een wat God se wil doen, ‘sy lewe red’. Hoe? Deurdat hy God se goedkeuring sal wegdra en uiteindelik die beloning sal ontvang wat God beloof aan almal wat hom dien, want hy is ’n beloner . . . van die wat Hom soek” (Hebr. 11:6). Vir die meeste van God se getroue knegte is daardie beloning ewige lewe in ’n regverdige nuwe orde hier op aarde: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Ps. 37:29). En hulle sal “hulle verlustig oor groot vrede” (Ps. 37:11). Selfs die dood kan nie in die weg van hierdie beloning staan nie, want Jehovah waarborg dat daar ’n “opstanding van die lewe” gaan wees.—Joh. 5:29.

7. Waarom is die toekoms wat Jehovah beloof enigiets werd wat dit ons mag kos?

7 Ja, lewe is op die spel in hierdie saak van selfopoffering in teenstelling met genotsug! En wat ’n wonderlike lewe tog—ewige lewe te midde van paradystoestande wat mense hulle elke dag sal laat “verlustig”! Dit sal voorwaar die ware lewe wees. Geen loopbaan wat jy nou in hierdie wêreld kan kies, geen hoeveelheid harde werk in enige ambag of professie, geen dade van lojaliteit aan enige mens of organisasie van hierdie wêreld kan ooit vir jou ’n toekoms gee soos Jehovah beloof aan diegene wat hom dien nie. Dit is dus sekerlik enige gevraagde opofferinge werd.

DIE NODIGHEID OM WAKKER TE BLY

8, 9. Waarom moet ons ons pogings verskerp om wakker te bly en nou opofferinge te maak?

8 Namate ons al hoe dieper in die “laaste dae” ingaan, word dit al hoe nodiger dat ons geestelik wawyd wakker bly en ons gewilligheid vergroot om opofferinge te maak om God op aanneemlike wyse te dien. Een rede hiervoor is dat Satan die Duiwel weet dat hy slegs “min tyd” oor het voordat hy opgesluit gaan word (Openb. 12:12; 20:1-3). Aangesien hy nou baie min tyd oor het, kan ons verwag dat hy sy waansinnige pogings om te verderf en te vernietig sal verskerp. Niks sal hom meer behaag as om Jehovah se knegte te beïnvloed sodat hulle geestelike waarnemingsvermoë afneem en dat hulle hulle gevoel van dringendheid ten opsigte van hierdie kritieke tye verloor nie. En hy sal gewis baie bly wees indien hulle minder doen of heeltemal ophou om die goeie nuus of “evangelie van die koninkryk” van God aan ander te verkondig.—Matt. 24:14.

9 Ons moet nie Satan se vermoë om te bedrieg en te benadeel onderskat nie. Jehovah se geïnspireerde Woord waarsku: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8, 9). Indien ’n verstandige persoon geweet het dat ’n rasende leeu in die omgewing is, sal hy alle moontlike voorsorgmaatreëls tref om homself en sy gesin te beskerm, nie waar nie?

10, 11. (a) Watter waarskuwing het Jesus aangaande onmatigheid gerig? (b) Waarom is Jesus se woorde van toepassing selfs op party persone wat vandag in Jehovah se organisasie is?

10 Jesus het gepraat van die nodigheid om wakker te wees toe hy die volgende aangaande die vernietiging van hierdie huidige goddelose stelsel van dinge gesê het: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Luk. 21:34-36.

11 Met wie het Jesus gepraat? In hierdie geval het hy met sy volgelinge gepraat. Nogtans het hy hulle gewaarsku dat selfs party van hulle onverhoeds gevang kan word wanneer Jehovah se dag van vernietiging kom indien hulle nie wakker bly nie. Wat sou daartoe aanleiding gee dat hulle onverhoeds gevang word? Hulle sou te betrokke raak by die daaglikse sorge van hierdie lewe, of by die onmatige najaging van genot. Daardie vermaning van Jesus is ’n ware waarskuwing vir ons vandag. Omdat hierdie stelsel se einde nog nie gekom het nie, kan party wat Jehovah dien miskien in die versoeking kom om minder opofferinge vir hom te maak. Hulle meen dalk dat sy nuwe orde te ver in die verskiet is om hierdie huidige situasie met dringendheid te beskou. Hulle meen dat hulle hulle meer daarop moet toelê om ’n sogenaamde “normale” lewe te lei.

12. Het dit sin om ’n “normale” lewe in hierdie stelsel na te streef?

12 Maar kan enige lewenswyse in hierdie stelsel van dinge uit God se standpunt “normaal” wees? Hierdie wêreld is onder die invloed van Satan en sy demone en word oorheers deur wrede politieke stelsels, hebsugtige kommersiële belange en selfsugtige valse godsdienste. Dit is vol vrees, haat, geweld, onsedelikheid, verdorwenheid, ekonomiese probleme, siekte en dood. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen al hierdie dinge en die normale lewe wat Jehovah hom vir die mensdom voorgeneem het, onder andere volmaakte gesondheid, volkome veiligheid en geluk, asook ewige lewe, en dit op ’n paradysaarde. Gevolglik is die lewe nou nie naastenby normaal nie. Dit is baie abnormaal, en dit sal so bly totdat Jehovah hierdie hele goddelose stelsel uitwis en aldus die weg vir sy heerlike nuwe orde baan. Dit is dus selfbedrog om na normaliteit in ’n abnormale wêreld te soek.

13. Verstrek voorbeelde van persone wat weens genotsug deur Satan verstrik is.

13 Wat ’n ramp kan dit tog wees indien ’n Christen op hierdie stadium Jesus se waarskuwing in die wind slaan, sy waaksaamheid verslap en sy verhouding met Jehovah in gevaar stel! So ’n persoon kan hom blootstel aan “die strik van die duiwel, . . . deur hom gevang . . . om sy wil te doen” (2 Tim. 2:26). Dit is presies wat in die eerste eeu gebeur het met Demas, wat eens ’n Christen was. Van hom het die apostel Paulus gesê: “Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim. 4:10). Lot se vrou was nog een wat in Satan se strik getrap het. Sy was ongehoorsaam en het omgekyk na Sodom terwyl dit vernietig word en het ‘haar lewe verloor’. Dit is met goeie rede dat Jesus gesê het: “Dink aan die vrou van Lot!” (Luk. 17:32). Dan was daar Esau, wat sy geboortereg verruil het vir ’n tydelike materiële voordeel. Watter swak oordeel was dit tog! (Gen. 25:29-34). Agan was nog een wat meer van geld en mooi klere gedink het as van Jehovah se voorneme (Jos. 7:1, 20-25). Ongelukkig het al sulke persone swaar geboet omdat hulle die gees van selfbevrediging eerder as die gees van selfopoffering gehad het. Nee, dit is nie vreemd dat mense voor genotsug swig nie. Dit het in vervloë tye met party van God se knegte gebeur, en dit het in hedendaagse tye met party gebeur. Dit kan weer gebeur.

“SOOS ’N STRIK”

14. Hoe word die komende wêreldvernietiging met ’n strik vergelyk?

14 Toe Jesus gepraat het oor die koms van Jehovah se dag van vernietiging, het hy gesê dat dit “soos ’n strik” sal kom (Luk. 21:35). ’n Strik slaan toe op ’n niksvermoedende dier terwyl die dier sorgeloos op die gevaarpad loop. Net so gaan hierdie stelsel se einde skielik kom, wanneer die meeste mense dit nie verwag nie. Sulke mense kan party insluit wat begin het om te loop op die ‘weg wat na die lewe lei’, maar wat toegelaat het dat hulle opgaan in wêreldse strewes en te ver in die verkeerde rigting afgedwaal het.—Matt. 7:14.

15. Is ’n minder dreigende wêreldsituasie bewys dat hierdie stelsel se einde nog ver in die toekoms moet wees?

15 Maar sal ’n minder dreigende wêreldsituasie, of ’n skyn van voorspoed in verskeie plekke nie die gedagte dat die einde nog ver is tot ’n mate regverdig nie? Dit kan in werklikheid net die teenoorgestelde beteken. Slaan ag op Jesus se woorde: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan [geen ag daarop geslaan, NW] het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” Dit is waarom Jesus ook vermaan het: “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”—Matt. 24:37-39, 44.

16. Wat het Paulus en Petrus gesê aangaande die skielikheid van hierdie stelsel se einde?

16 Die apostel Paulus het ook melding gemaak van die skielikheid waarmee hierdie stelsel sal eindig, wanneer die meeste mense dit nie verwag nie. Hy het gesê: “Julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:2, 3). Die apostel Petrus het ook gepraat van die feit dat “die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag”, onverwags vir diegene wat nie geestelik wakker is nie (2 Pet. 3:10). Dit is waarom Paulus vermaan het: “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.”—1 Thess. 5:6.

17. Waarom moet ons nie dink dat Jehovah sy dag van toorn uitgestel het nie?

17 Die dag van Jehovah se toorn teen goddeloosheid sal kom presies op die tyd wat hy daarvoor bepaal het. Dit sal nie een oomblik uitgestel word nie. Geen persoon wat Jehovah liefhet, moet gevolglik ooit ’n gemoedstemming of ’n lewenspatroon verkry wat daarop dui dat hy nie glo aan Jehovah se voorneme om die aarde van goddeloosheid te verlos en ’n regverdige nuwe orde op te rig nie. Indien ’n persoon so ’n negatiewe gesindheid sou verkry, sal hy baie ooreenkom met diegene wat in 2 Petrus 3:3, 4 beskryf is. Dit sê daar “dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

18. (a) Watter getuienis is daar dat ons dag inderdaad baie van die tyd van “die skepping” verskil? (b) Waarom moet ons grootste kragsinspanning gewy word aan die doen van Jehovah se wil?

18 Die oorspronklike lewensprosesse het weliswaar tot nou toe voortgeduur. Maar in hierdie eeu is al die getuienis van die “laaste dae” in volle maat om ons te sien. Die meeste van die groot rampe in die geskiedenis het almal in hierdie eeu plaasgevind. En nou het die mens die vermoë om alle lewe op aarde te vernietig. Al die getuienis ter vervulling van Bybelprofesie toon beslis dat hierdie wêreld meedoënloos op sy einde afstuur. En wanneer dit aanbreek, sal dit ’n tydperk van ongeëwenaarde moeilikheid vir die mensdom beteken. Volgens Jesus sal dit ’n “groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). Gedurende daardie tydperk sal al hierdie wêreld se politieke, ekonomiese en valsegodsdiensstelsels vernietig word. Al die tyd, inspanning en geld wat bestee is om daardie stelsels in stand te hou, sal dan tevergeefs gewees het. Christene wil beslis nie hulle grootste kragsinspanning wy aan daardie dinge wat nie gaan voortduur nie. Hulle grootste lojaliteit en opofferinge moet wees aan dit wat ewig is. “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Joh. 2:17.

19. Watter behoefte sal daar tydens die “groot verdrukking” aan opofferinge wees, en vir wie sal dit heel waarskynlik makliker wees om hierdie opofferinge te maak?

19 Gedurende die komende “groot verdrukking” sal Jehovah se knegte ongetwyfeld talle geleenthede hê om die gees van selfopoffering aan die dag te lê. Hulle sal mede-Christene op talle maniere moet help, onder andere deur lewensbenodigdhede met hulle te deel (Hebr. 13:16). Weens die groot omwentelinge wat dan in die politieke, maatskaplike en ekonomiese stelsels gaan plaasvind, sal God se knegte dalk selfs party of al hulle besittings verloor. Gevolglik sal diegene wat nou Jehovah se belange eerste in hulle lewens stel en wat alreeds die gees van selfopoffering het, dit waarskynlik makliker vind om dan die nodige opofferinge te maak.

20. Hoe ernstig is die saak van selfopoffering?

20 Ons kan nie daarvan wegkom dat die vraag: “Is jy genotsugtig—of selfopofferend?” ’n saak van lewe en dood is wanneer dit uit Jehovah se standpunt beskou word nie. Indien ons die lewe liefhet en die volmaakte lewe in God se nuwe orde wil lei, dan het ons die gees van selfopoffering nodig om Jehovah nou op aanneemlike wyse te dien.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel