‘Wandel waardiglik voor Jehovah’
“Daarom hou ons ook nie op nie . . . om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor [Jehovah] mag wandel.”—Kol. 1:9, 10.
1. (a) Watter wonderlike verhouding kan ons met Jehovah geniet? (b) Wat moet dus ons gesindheid teenoor sy gebooie wees? (Ps. 119:47, 48).
JEHOVAH GOD is die beste vriend wat enigeiemand kan hê. Die aartsvader “Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem” (Jak. 2:23). Wat ’n wonderlike verhouding! Maar Jehovah begeer dat alle persone met sulke geloof as sy vriende in sy naam wandel. Indien indiwidue God natuurlik wil behaag en op vrienskaplike voet met hom wil verkeer, moet hulle ag slaan op die woorde van die Prediker, wat eeue gelede gesê het: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”—Pred. 12:13.
2. Wat is nodig om ‘waardiglik voor Jehovah te wandel’?
2 Juiste kennis is noodsaaklik om God se vriend te wees, om sy gebooie te hou en in sy naam te wandel. Gepas het die Christenapostel Paulus dus vir medegelowiges te Kolosse gesê: “Daarom hou ons ook nie op nie . . . om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die [juiste] kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor [Jehovah] mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die [juiste] kennis van God mag groei.”—Kol. 1:9, 10.
TERDEË BEWUS VAN ONS VERANTWOORDELIKHEID
3. Hoe moet ons lewe indien ons waardiglik in Jehovah se naam wil wandel?
3 Ons kan nie die vriendskap van ’n ander mens behou indien ons daardie indiwidu op die een of ander manier verkeerd voorstel nie. Indien ons Jehovah as ons vriend wil hê, moet ons eweneens besef dat om waardiglik in sy naam te wandel behels dat ons moet lewe in harmonie met alles wat dit verteenwoordig. Dit verg opregte en gereelde studie van die Heilige Skrif, asook persoonlike toepassing van wat dit sê. Wanneer mense ons sien, assosieer hulle ons met ons God; en as Jehovah se Getuies is dit noodsaaklik dat ons God behoorlik verteenwoordig en in harmonie met sy Woord optree.
4. Watter verantwoordelikheid rus op Jehovah se Getuies waar dit kom by verteenwoordiging van die goddelike naam?
4 Getuies van Jehovah besef ook dat om waardiglik in sy naam te wandel elke aspek van hulle lewens insluit. Dit is hulle verantwoordelikheid om die goddelike naam waardiglik voor die mensdom te verteenwoordig. Hulle is beslis nie soos die lede van die Christendom wat nalaat om die naam Jehovah te gebruik uit vrees dat hulle iemand aanstoot sal gee nie. Jehovah wil hê dat sy naam dwarsoor die aarde bekend gemaak moet word (Ex. 9:16). En dit is voorwaar ’n voorreg om vir mense te vertel dat Jehovah die allerhoogste God is.
5. Wat is die Christen se gesindheid teenoor politieke aangeleenthede, en waarom?
5 Maar die Christen se verpligting behels meer as om net die naam van God te spreek. Jehovah, ons dierbaarste Vriend, is die Groot Koning van die hele heelal. Sy naam is verbonde aan sy koninkryk met Jesus Christus as Messiaanse Heerser onder God. Diegene wat waardiglik in Jehovah se naam wil wandel, moet dus beslis daardie koninkryk voorstaan. Gevolglik het hulle geen aandeel aan die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld nie. Hulle is eerder in dieselfde posisie as Jesus Christus, wat gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”—Joh. 18:36.
6. Watter beskouing van sonde het diegene wat waardiglik in Jehovah se naam wandel?
6 Die wêreld is deurtrek van ongeregtigheid. Gevolglik moet diegene wat waardiglik as Jehovah se vriende in Sy naam wil wandel hierdie wêreld en alle boosheid daarin vermy. Hulle het dieselfde beskouing van sonde as wat Jehovah God het, en hy “is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke” (Ps. 145:17). Christene weet dat indien hulle sou steel, owerspel pleeg of God se wet op ’n ander manier oortree, Jehovah se naam om daardie rede smaad aangedoen sal word. Ons wil nooit hê dat dit moet gebeur nie! Ons begeer eerder dat ons gedrag God eer moet aandoen, net soos die apostel Petrus geskryf het: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”—1 Pet. 2:12; Rom. 2:21-24.
“NAVOLGERS VAN GOD”
7. Hoe is dit moontlik om God na te volg?
7 ’n Persoon se vriende kan ’n goeie of ’n slegte uitwerking op hom hê, want ’n mens is geneig om die weë van jou metgeselle na te volg. Wel, diegene wat waardiglik as sy vriende in Jehovah se naam wandel, kan daarvan seker wees dat intimiteit met God altyd ’n goeie uitwerking op hulle sal hê. Dit is uiters heilsaam om Jehovah te probeer navolg. Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders” (Ef. 5:1). Hoewel ’n persoon onvolmaak is, kan hy God navolg deur die leiding te aanvaar wat in Jehovah se Woord voorsien word en deur vatbaar te wees vir die invloed van God se heilige gees of werkende krag.
8. Wat moet Christene aankweek? Hoe?
8 Christengetuies van Jehovah begeer beslis om die vrug van God se heilige gees—liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing—aan te kweek en aan die dag te lê (Gal. 5:22, vgl. NW). Wanneer God se knegte hierdie vrug aan die dag lê, sal ander mense beweeg word om aan hierdie eienskappe te dink wanneer hulle aan Jehovah God dink. Dit vereis natuurlik dat ware Christene die vrug van God se gees oral, voor alle persone, aan die dag lê. ’n Kneg van Jehovah kan homself dus met vrug afvra: Doen ek dit inderdaad tuis, by die werk, by die skool, wanneer ek ’n motor bestuur, tydens ontspanningsbedrywighede, ensovoorts? As ’n mens waardiglik in Jehovah se naam wil wandel, sluit dit al hierdie dinge in. En hierdie vrug van die gees moet gewis teenoor ons broers en susters in die geloof aan die dag gelê word. Dan kan ons ons almal verheug omdat ons deel van Jehovah se volk is.—Ps. 144:15.
9. Watter rol speel gebed hierin?
9 Opregte gebed tot Jehovah vir sy heilige gees en hulp om die vrug daarvan in ons lewe aan te kweek en aan die dag te lê, sal beloon word (Luk. 11:13; Rom. 5:5). Beskou nou asseblief kortliks sekere voordele van hierdie vrugte van die gees. Dit sal duidelik wees dat hulle ’n gunstige uitwerking het, nie alleen op persone wat hierdie eienskappe aan die dag lê nie, maar op mede-aanbidders van Jehovah en ander.
10. (a) Hoe belangrik is liefde onder Christene? Verduidelik. (b) Wat is die aard van liefde volgens 1 Korinthiërs 13:4-8?
10 Liefde is die eerste van hierdie vrugte wat deur Paulus gemeld word. “God is liefde”, het die apostel Johannes geskryf (1 Joh. 4:8). ’n Godvrugtige persoon wat liefde betoon, volg Jehovah dus in daardie opsig na. Daarbenewens het Jesus Christus gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Die liefde onder Christene trek vandag aandag, net soos dit in vervloë tye gedoen het. Waar hy aanhaal wat wêreldlike persone oor die vroeë Christene gesê het, het Tertullianus geskryf: “‘Kyk net’, sê hulle, ‘hoe het hulle mekaar lief . . . en hoe bereid is hulle om vir mekaar te sterf.’” Daarbenewens is liefde “’n volmaakte band van eenheid” binne die Christengemeente (Kol. 3:14, NW). En geen wonder nie! Die liefde is lankmoedig en vriendelik. Dit praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie en is nie bly oor die ongeregtigheid nie. Dit is eerder bly saam met die waarheid en bedek, glo, hoop en verdra alles. Waarlik, “die liefde faal nimmer”.—1 Kor. 13:4-8, vgl. NW.
11. Wat is blydskap, en waarom moet ons vreugdevol wees?
11 Blydskap, nog ’n vrug van God se gees, is volgens party “dieperliggend as genot, meer uitstralend of demonstratief as vrolikheid”. Die aangename, vreugdevolle gelaat van ’n Koninkryksverkondiger het die gesig van talle luisteraars laat ophelder. En is daar nie goeie rede om vreugdevol te wees as ons waardiglik in Jehovah se naam wandel nie? Ja, beslis, want ons verkondig, “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” (1 Tim. 1:11, NW). Daarbenewens het ons vreugdevolle vooruitsigte, ’n gegronde hoop op toekomstige seëninge, indien ons voortgaan om waardiglik in Jehovah se naam te wandel. Dink daaraan wanneer jy met die lewe se probleme te kampe het. Strewe daarna om ook onder jou Christenmetgeselle blydskap te wek, want daar word van persone wat aan God toegewy is, verwag om Jehovah met ‘vreugde en vrolikheid van hart te dien’.—Deut. 28:46, 47.
12. Van watter waarde is vrede onder Christene?
12 Vrede, nog ’n vrug van die gees, is ’n opvallende eienskap van Jehovah. Hy is “die God van die vrede” (Hebr. 13:20). Ware Christene “jaag die vrede na met almal” (Hebr. 12:14). Ter toeligting: By die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms in 1958 het Jehovah se Getuies besluit: “DAT ons, figuurlik gesproke, van ons swaarde ploegskare en van ons spiese snoeimesse gesmee het en, hoewel ons uit so baie nasionaliteite bestaan, sal ons nie die swaard teen mekaar ophef nie, omdat ons Christenbroers is en lede van die een gesin van God, nog minder sal ons leer om verder teen mekaar oorlog te maak, maar ons sal in God se weë van vrede, eenheid en broederlike liefde wandel.” Jehovah se volk het daardie resolusie gestand gedoen, en die vrede wat onder hulle bestaan, trek liefhebbers van vrede na die ware Christendom toe aan (Jes. 2:2-4). Daarbenewens ‘seën Jehovah sy volk met vrede’ (Ps. 29:11). Hulle is oor niks besorg nie, maar hulle maak hulle versoeke deur gebed aan God bekend. Gevolglik ‘bewaar die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, hulle harte en sinne in Christus Jesus’.—Filip. 4:6, 7.
13. Wat behels lankmoedigheid, en hoe is dit heilsaam?
13 Lankmoedigheid, nog een van die vrugte van die gees, beteken nie bloot ‘om lank te ly’ nie. Dit is traagheid om kwaad te word en is die geduldige verduring van uittarting of oortreding, gepaard met die weiering om hoop op verbetering in ’n versteurde verhouding te laat vaar. Jehovah is “lankmoedig” (Ex. 34:6). God se geduld laat mense toe om hulle te bekeer en vernietiging vry te spring (2 Pet. 3:8-18). Terwyl God lankmoedigheid aan die dag lê, versamel hy ‘’n volk vir sy Naam’ en gebruik hy hulle om homself oor die hele aarde te verheerlik (Hand. 15:14; Rom. 9:22-24). Jehovah se naamvolk streef daarna om ‘lankmoedig te wees teenoor almal’ (1 Thess. 5:14). Dit bevorder nie alleen goeie verhoudinge met medegelowiges nie. Lankmoedigheid stel Christene in staat om ander geduldig te help om van Jehovah te leer sodat hulle sy wil kan doen en ewige lewe kan verwerf (1 Tim. 4:16; Hebr. 6:11-15). Deur aldus waardiglik voor Jehovah te wandel, het God se volk ook die voldoening dat hulle hom nou behaag, met ewige seëninge in die vooruitsig.
14. Wat is vriendelikheid, en watter uitwerking het dit?
14 Vriendelikheid is ook ’n vrug van God se gees. Dit behels daadwerklike belangstelling in die welsyn van ander. Jehovah is selfs “goedertieren [vriendelik, NW] oor die ondankbares en slegtes” en spoor hulle aan om berouvol te wees (Luk. 6:35; Rom. 2:4). As “navolgers van God” moet Christene hulle dienooreenkomstig met vriendelikheid beklee (Ef. 5:1; Kol. 3:12). Hulle is gehoorsaam aan die Skriftuurlike raad om ‘vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar te wees en mekaar te vergeef soos God hulle ook in Christus vergewe het’ (Ef. 4:32). Vriendelikheid is aansteeklik, en dit trek ander aan. Dit strek dus tot die voordeel van die een wat dit betoon, van die een wat dit ontvang en van die een wat tot God se volk aangetrokke voel omdat hy vriendelikheid onder hulle waarneem.
15. Wat word deur goedheid aangedui, en hoe kan dit verkry word?
15 Goedheid, nog ’n vrug van die gees, dui sedelike voortreflikheid of deug aan. “[Jehovah] is goed en reg” (Ps. 25:8). Om hulle te help om goedheid aan te kweek, kan Christene God gerus biddend versoek: “Leer my [goedheid,] insig en kennis, want ek glo aan u gebooie” (Ps. 119:66, vgl. NW). Goedheid word ook aangekweek deur Jehovah se gebooie te gehoorsaam. Die wete dat ’n mens Jehovah navolg deur goedheid teenoor medegelowiges en alle ander te betoon, verskaf voldoening. Sulke goedheid kan persone na die ware Christendom aantrek.—Gal. 6:10.
16. (a) Hoe word geloof gedefinieer? (b) Watter uitwerking kan dit op ander hê wanneer ons hierdie vrug van die gees aan die dag lê?
16 Geloof, die vrug van die gees wat sewende gemeld word, is onontbeerlik vir diegene wat ‘waardiglik voor Jehovah wil wandel’. Sonder hierdie eienskap is dit onmoontlik om vriende met Jehovah te bly en God te behaag (Hebr. 11:6). “Geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr. 11:1). Dit is nie net ongegronde hoop nie, maar ’n deeglik gegronde verwagting. Daarbenewens is geloof die getuienis wat nodig is om oortuig te wees van onsigbare werklikhede. Byvoorbeeld, geskape dinge soos die son, die maan en die sterre bewys vir die dinkende persoon dat God, die Skepper, bestaan (Rom. 1:20-23; Hebr. 11:3). Wanneer ’n indiwidu geloof in Jehovah toon, stel hy ’n goeie voorbeeld vir mede-Christene. Hulle geloof kan versterk word wanneer hulle sy onvoorwaardelike geloof in Jehovah waarneem. En sulke aktiewe geloof kan ook ongelowiges beweeg om hulle vertroue in Jehovah God te begin stel.
17. Wat is sagmoedigheid, en wat is die gevolg wanneer navolgers van Jehovah dit betoon?
17 Sagmoedigheid, nog ’n vrug van die gees, kan gedefinieer word as sagtheid, minsaamheid, met krag daaragter. Jesus Christus het gesê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart” (Matt. 11:29). Jehovah, wat ’n weg tot hom deur Christus voorsien het, is sagaardig, nie hardvogtig en wreed nie. Diegene wat waardiglik in God se naam probeer wandel, het dus geen rede om bang te wees om hom in gebed te nader nie (Hebr. 4:16; 1 Joh. 4:17, 18). As navolgers van Jehovah en sy Seun, lê Christene sagmoedigheid aan die dag in hulle handelinge met alle mense, en dit is voorwaar heilsaam. Die “sagmoedige en stille gees” van ’n Christin kan onder andere ’n faktor wees om ’n ongelowige huweliksmaat na die ware geloof te win (1 Pet. 3:1-4). En sagmoedigheid werk ook aangename verhoudinge tussen mense in die hand, selfs wanneer moeilikhede ontstaan, want “’n sagte antwoord keer die grimmigheid af”.—Spr. 15:1.
18. Wat behels selfbeheersing, en watter uitwerking kan dit hê?
18 Selfbeheersing, die vrug van die gees wat laaste gemeld word, behels dat ’n mens jou persoon, spraak en dade beheer. Jehovah het hom “bedwing” tot die regte tyd vir hom aangebreek het om die Babiloniese verwoesters van Jerusalem te straf (Jes. 42:14, 15). As “navolgers van God” streef Christene daarna om selfbeheersing in alle dinge aan die dag te lê en kan hulle vol vertroue tot Jehovah bid vir hulp om hierdie eienskap aan te kweek (1 Kor. 9:25). Selfbeheersing is ’n seën vir die persoon wat dit beoefen en vir almal wat met hom assosieer. Net soos ander vrugte van die gees kan hierdie eienskap ook waarnemers na die ware Christendom toe aantrek.
WAT GOD VRA
19. Hoeveel vra Jehovah van ons?
19 Diegene wat Jehovah se naam dra, kan God behaag indien hulle sy hulp vra om die vrug van die gees aan te kweek. Indien ons waarlik na Jehovah kyk vir leiding en diep bewus is van ons verantwoordelikheid voor hom, sal hy ons gewis versterk om op sy weg te wandel. Paulus het gesê: “Ek is tot alles in staat deur [hom] wat my krag gee” (Filip. 4:13, vgl. NW). In sy goedertierenheid help Jehovah ons grootliks en vra hy betreklik min. “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is”, het Miga geskryf, “en wat vra [Jehovah] van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”—Miga 6:8.
20. Waarom kan ons seker wees van Jehovah se beskerming en hulp?
20 Indien ons reg doen, liefde betrag en ootmoedig met Jehovah wandel, word ons nie sonder beskerming in hierdie vyandige stelsel van dinge gelaat nie. Nee, want ons kan daarvan seker wees dat Jehovah God ons as sy volk sal beskerm en help en ons tot in sy beloofde nuwe orde sal bewaar indien ons voortgaan om waardiglik voor hom te wandel. Dit is soos die profeet Samuel eenmaal gesê het: “[Jehovah] sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit [Jehovah] behaag het om van julle vir Hom ’n volk te maak.”—1 Sam. 12:22.
21. Watter vooruitsig het diegene wat nou waardiglik in Jehovah se naam wandel?
21 Indien ons ons verantwoordelikheid voor God ernstig opneem en waarlik waardiglik in Jehovah se naam wandel, sal hy as ons vriend saam met ons wees. Indien ons voortgaan om kennis van sy geïnspireerde Woord te verkry en toe te pas, sal Jehovah ons gewis nie versaak nie. As sy getuies het ons gesê dat ons “sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God” (Miga 4:5). Mag ons daardie besluit gestand doen. As ons dit doen, sal ons die wonderlike vooruitsig hê om tot in alle ewigheid waardiglik voor Jehovah te wandel.