‘Smaak en sien dat Jehovah goed is’
HIERDIE uitnodiging—“Smaak en sien dat [Jehovah] goed is”—is deur die Bybelse psalmis Dawid gerig (Ps. 34:9). Het jy die uitnodiging aanvaar? Hoe kan jy dit doen?
Dit is eerstens nodig dat ons weet wat in God se Woord gesê word. Dit is omdat dit in die Bybel is waar Jehovah vertel van die goeie dinge wat hy vir sy knegte gaan voorsien. “Die genadegawe van God is die ewige lewe”, sê die Bybel (Rom. 6:23). Maar God bied meer as dit vir sy getroue knegte aan. Hy beloof ook dat hulle, selfs nóú, gemoedsrus en ware bevrediging in die lewe sal geniet.
Hoe “smaak” ons dan en vind ons uit of Jehovah waarlik sulke goeie dinge sal gee? Ons moet ons in nederige gehoorsaamheid aan hom onderwerp, soos hy nooi: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar” (Spr. 3:1). Deur in harmonie met Jehovah se onderwysing en gebooie te lewe, smaak en sien ons inderdaad of die resultate tot ons voordeel strek.
DAWID SE ONDERVINDING
Die psalmis Dawid het dit gedoen. Hy het weliswaar foute begaan. Maar Dawid se hartsbegeerte was om Jehovah te dien, en hy het gehoorsaam God se wil eerste in sy lewe gestel. Dit was nie altyd vir hom maklik nie. Trouens, soms het dit Dawid aan groot gevaar blootgestel.
Daar was die keer toe Israelitiese koning Saul, weens jaloesie, probeer het om Dawid dood te maak. Dawid was dus verplig om na die vyandelike gebied van die Filistyne te vlug. Daar het hy voorgegee dat hy kranksinnig is en was hy in staat om met sy lewe daarvan af te kom. Dit was by hierdie geleentheid, toe sy lewe in groot gevaar verkeer het, dat Dawid Psalm 34 geskryf het. Kyk hoe ’n begrip van hierdie omstandighede meer betekenis aan sy woorde verleen:
“Ek het [Jehovah] gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. Die Engel van [Jehovah] trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Smaak en sien dat [Jehovah] goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red [Jehovah] hom.”—Ps. 34:1, 5, 8, 9, 20.
As ’n mens Jehovah dien, stel dit jou dikwels bloot aan smaad en vervolging—teëspoede—soos Dawid se ondervindinge toelig. Aangesien dit die geval is, aarsel party persone om hulself onvoorwaardelik aan God se diens te wy. Maar Dawid praat uit ondervinding en spoor ons aan: “Smaak en sien dat [Jehovah] goed is.” Ja, Dawid het geweet dat ten spyte van al die moeilikhede waarmee hulle dalk te kampe sal hê, God se knegte Jehovah se magtige beskermende hand en die “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” sou ervaar.—Filip. 4:7.
DIESELFDE GELD VIR AL GOD SE KNEGTE
Dit was die ervaring van God se knegte dwarsdeur die geskiedenis. Ondersoek die verslag in Hebreërs hoofstuk 11 van daardie persone met geloof in voorchristelike tye; lees die verslae in die vier Evangelies oor die lewe van Jehovah se vernaamste kneg, Jesus Christus; beskou die ondervindinge van die Christenapostels in die Bybelboek Handelinge. Wat vind ons?
Dit: Dat diens aan Jehovah dikwels aanleiding gee tot allerhande vorms van hoon, vervolging en probleme, soms selfs ’n smartlike dood, soos in die geval van Jesus. Tog was hierdie knegte van God gelukkig. Hulle het gemoedsrus en voldoening gehad, want hulle het geweet dat hulle hulle hemelse Vader behaag en hulle het geweet dat hulle sy beloning van ewige lewe sou ontvang. Lees byvoorbeeld Handelinge 5:40-42.
Staan gerus stil en vra jouself af: Wat vra ek werklik van die lewe? Is dit my doelwit om ’n getroue kneg van Jehovah te wees? Of toon my lewensweg dat ander belange vir my belangriker is? In Psalm 34 het Dawid uiting gegee aan die gesindheid wat ons almal moet hê: “Ek wil [Jehovah] altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees” (Ps. 34:2). Is dit ook ons innige begeerte? Word ons beweeg om ons gesondheid, vermoëns en middele te gebruik om Jehovah te loof? Wat kan ons doen om Jehovah te loof en te eer?
IS “’N GOEIE LEWE” GENOEG?
Party persone meen dat bloot “’n goeie lewe”—vriendelikheid teenoor hulle bure, liefde teenoor hulle broers en susters, ’n skoon huis, ’n aangename persoonlikheid—al is wat nodig is om Jehovah te loof en te eer. Maar dit behels in werklikheid meer. Lof moet uit die mond voortkom, soos Dawid gesê het. Dit is ’n spesifieke vereiste vir ware Christene om Jehovah op hierdie wyse te loof. Jesus Christus het dit getoon deur ’n kampanje van openbare prediking te voer wat sy Vader se naam en koninkryk verheerlik het.—Luk. 4:43.
Toe, teen die einde van sy aardse lewe, het Jesus gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). Wie sal hierdie verkondigingswerk doen? Die apostel Petrus het aan die leëroffisier Cornelius en sy huisgesin gesê: “[Christus] het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te [getuig].”—Hand. 10:42, vgl. NW.
Was hierdie bevel slegs gerig aan die apostels en ander Christelike ouere manne? Nee, alle Christene moes navolgers van Christus wees en die predikingswerk doen soos hy dit gedoen het. Om die predikingswerk op die wêreldwye skaal te doen waarop Jesus gesê het dat dit gedoen sou word, is die gesamentlike pogings van alle Christene nodig—manne, vroue en kinders. En onder Jehovah se Getuies is hierdie gesamentlike poging te sien—almal neem eendragtig aan hierdie groot Koninkryksverkondiging deel.
Vir diegene wie se omstandighede hulle toelaat om ’n groter aandeel aan die predikingswerk te hê, is daar die voorsiening van “pionier”-diens. ’n Pionier is een van Jehovah se Getuies wat 90 uur per maand, of ten minste 1 000 uur per jaar, aan die predikingswerk kan wy. Verlede jaar kon daar gemiddeld elke maand meer as 119 000 Getuies pionier. Wat ’n belangrike diens verrig hulle tog! En wat moet die gesindheid van hierdie pioniers en ander knegte van God wees?
REGTE GRONDSLAG VIR ROEM
Dawid help ons om dit te besef waar hy in die 34ste Psalm voortgaan: “My siel sal hom beroem in [Jehovah]” (Ps. 34:3). Die feit dat ’n mens Jehovah ken en een van sy knegte is, is gewis iets om oor te roem. Dit moet natuurlik roem sonder enige tikkie eiegeregtigheid wees, want ons beroem ons nie in onsself nie, maar ‘in Jehovah’, soos Dawid gesê het.—Kyk ook Galasiërs 6:14.
Ons kan roem in wat Jehovah vir ons gedoen het, hoe hy ons bewaar het, ons gelei het, vir ons gesorg het. Dit sal andersyds verkeerd wees om te roem omdat ons, weens omstandighede, ’n groter aandeel aan die predikingswerk kan hê. Die apostel Paulus het gesê: “As ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê.”—1 Kor. 9:16.
SPOOR ANDER AAN
Met innige waardering vir Jehovah het Dawid vervolgens gesê: “Maak [Jehovah] saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!” (Ps. 34:4). Word jy, net soos Dawid, beweeg om ander aan te spoor om Jehovah te loot? Dikwels is aansporing al wat knegte van God nodig het om pioniers te word. Let op die volgende voorbeelde van persone wat baie bly is dat hulle begin pionier het.
Don en Earlene Steele het geskryf: “Ons het geaarsel om die voltydse pionierbediening te betree, want ons wou ’n neseier hê . . . ons het afgesien van daardie gedagte en aan die [Wagtoring]genootskap geskryf om te sê dat ons genoeg gespaar het om ons ten minste twee maande lank aan die gang te hou! . . . met Jehovah se hulp het ons daarin geslaag om nie net twee maande nie, maar sewe-en-twintig jaar aan te hou.”—The Watchtower, 1971, ble. 186-190.
Paul Wrobel het gesê: “Maar nou [in 1946] het ’n liggaamskwaal opgedoem en my oënskynlik verhoed om die voltydse bediening te betree. My geneesheer het voorspel dat ek kon verwag om binne twee jaar in my regterheup lam te word. . . . Ek het besluit om daardie twee jaar aan die voltydse bediening te wy en om my bes te doen. Intussen het sewe-en-twintig jaar verbygesnel!”—The Watchtower, 1973, ble. 376-379.
Na etlike dekades in die voltydse diens het Heinrich Dickmann dit beklemtoon dat “alle probleme, hetsy finansieel of liggaamlik, deur Jehovah se onverdiende goedheid opgelos is.
. . . . Vertroue in die naam van Jehovah bied voorwaar sekuriteit.”—The Watchtower, 1972, ble. 395-399.
Duisende, ja, tienduisende pioniers wat gesmaak en gesien het dat Jehovah goed is, sal saam met Dawid die uitnodiging rig: “Maak [Jehovah] saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!” (Ps. 34:4). Hierdie pioniers spoor nie alleen mense saam met wie hulle die Bybel bestudeer aan om dit te doen nie, maar nadat hulle die goedheid van pionierdiens gesmaak het, beveel hulle pionierdiens by God se ander knegte aan.
DIE PIONIERDIENS KAN ONS HELP OM DIT TE SMAAK
Die pionierdiens kan ons help om Jehovah se goedheid beter te smaak. Deur daagliks oor geestelike dinge te praat, neem ons kennis toe. Dit versterk weer ons geloof. Ons raak beter toegerus om Bybelse raad toe te pas om probleme op te los. Ons leer om volkome op Jehovah te vertrou en dinge in sy krag te doen, nie in ons s’n nie.
En nadat ons in alle waarskynlikheid sekere materiële voordele vrywillig prysgegee het om pioniers te word, het ons meer afhanklik geword van Jehovah se hulp op materiële gebied. Dawid het melding gemaak van ons afhanklikheid van Jehovah toe hy gesê het: “Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat [Jehovah] soek, het geen gebrek aan enigiets nie.”—Ps. 34:11.
Jesus Christus het hierdie psalm van Dawid onderskryf deur vir sy dissipels te sê: “Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. . . . Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:25-34). Hetsy hulle dus in die pioniersdiens is of nie, diegene wat die Koninkryk eerste soek, het die belofte van God se Seun self dat Jehovah in hulle materiële behoeftes sal voorsien. Kan ons verwag om ’n belofte uit ’n betroubaarder bron as dit te ontvang?
Die pionierdiens kan ons selfs op ’n fisiese wyse help om Jehovah se goedheid beter te smaak. Vars lug, oefening, ’n gevoel dat ’n mens iets bereik en goeie omgang kan almal tot goeie gesondheid bydra.
’n Afrikaanse spreekwoord sê: “Rus roes.” Talle persone wat “rus” nadat hulle afgetree het, het voorkom dat hulle “roes” deur pioniers te word. Beskou byvoorbeeld die geval van ’n pionier in Wes-Berlyn, Duitsland, wat op die ouderdom van 86 vir sy dokter gevra het of dit verstandig sou wees om op te hou pionier. “Moenie ophou nie”, was die dokter se antwoord. “Indien jy ophou, sal jy sterf.” Op die ouderdom van 92 is ons Christenbroer dus vandag nog in die pionierdiens. Hy verduidelik: “Ek is deur my dokter aangesê om nie op te hou pionier nie.”
BLYWENDE VOORDELE
Talle persone het die pionierdiens hulle loopbaan gemaak nadat hulle eers daarmee begin het. Dit is prysenswaardig. Ander kon dit slegs ’n beperkte tyd lank geniet. Hulle het egter niks om oor spyt te wees nie. Hulle besluit om die pionierdiens te verlaat weens veranderde omstandighede was miskien nie alleen menslik begryplik nie, maar ook Skriftuurlik reg. Was hulle pionierdiens ’n verkwisting van tyd? Glad nie.
Indien hulle dit met die regte beweegredes en met ’n begeerte om geestelik vordering te maak gedoen het, sou die pionierdiens hulle gehelp het om ’n geesteliker lewensbeskouing te verkry. Dit sou hulle gehelp het om balans te verkry. Hulle het dalk lesse geleer wat hulle later in die lewe sal help, dinge soos die kennis hoe om tyd wyslik te gebruik, hoe om geld te hanteer en hoe om vergenoeg te wees met die lewensbenodigdhede. Dit is begryplik dat dit jongmense kan help om later beter huweliksmaats en beter ouers te wees as wat hulle dalk andersins sou wees. Ja, die voordele van pionierdiens kan blywend wees.
IS DIT VIR JOU?
Jehovah betoon sy goedheid teenoor sy hele volk; dit is glad nie beperk tot diegene in die pionierdiens nie. Diegene wat dus weens gegronde redes nie pioniers word nie moet nooit bang wees dat dit sal meebring dat hulle Jehovah se seën verloor nie. Maar elkeen van ons moet eerlik met homself wees. Sê jy: “Die gees is gewillig maar die vlees is swak”? Maar is die gees werklik gewillig? Ons moenie die swakheid van die vlees as ’n verskoning vir die onwilligheid van die gees gebruik nie.
Indien jy na biddende oorweging nog steeds huiwer, herroep dan die woorde van Maleagi 3:10: “Beproef My tog hierin, [Smaak en sien!] . . . of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.” Wie kan sonder goeie rede so ’n uitnodiging van die hand wys?
En diegene wat nie op die oomblik kan pionier nie, moet die volgende onthou: Elkeen van ons kan Jehovah in die volste sin aanbid deur heelhartig in ons toewyding en diens aan hom te wees. Betoon dus voortdurend daardie gesonde pioniergees! Hou aan om Jehovah heelhartig te dien en dan sal jy steeds “smaak en sien dat [Jehovah] goed is”.