DIE SLEUTEL tot gesinsgeluk
GELUK is iets wat ons almal begeer, nie waar nie? Ongeag ons ouderdom, ras of status in die lewe, ons wil gelukkig wees. En omdat geluk vergroot word wanneer dit gedeel word, verbly dit ons harte wanneer ons sien dat ander ook gelukkig en tevrede is. Dit is veral waar van diegene wat na aan ons is, ons dierbares. En wanneer hierdie geseënde welsyn toestand, wat geluk genoem word, onder gesinslede bestaan, is dit mos makliker om die onvermydelike teëspoed van die lewe die hoof te bied, en is dit draagliker, nie waar nie? Wie sal dus sê dat ’n gelukkige gesinslewe nie wenslik is nie?
Ja, selfs in hierdie chaotiese wêreld kan gesinslewe baie aangenaam wees. Dit behels weliswaar baie, harde werk, angs en opoffering. Maar watter gesin sal nie saamstem dat die gepaardgaande vreugdes dit die moeite werd maak nie?
Maar al kan gesinslewe baie aangenaam wees, is die waarlik gelukkige gesin vandag die uitsondering. Enige gesin sal natuurlik sy voor- en teëspoed hê; geeneen is immuun teen probleme nie. Misverstande sal byvoorbeeld die geluk van enige gesin bederf indien hulle toegelaat word om voort te bestaan. Of enige van ’n aantal dinge soos siekte of druk by die werk kan bydra tot senuweeagtigheid of prikkelbaarheid, wat weer aanleiding kan gee tot woorde en dade waaroor ’n mens later spyt is. Dit kan op hulle beurt aanleiding gee tot gekrenktheid en, gevolglik, gespanne verhoudinge. Probleme, hetsy groot of klein, is dus die gemeenskaplike lot van gesinne in hierdie onvolmaakte wêreld waarin ons lewe.
GESINNE BELEEF ’N KRISIS
Lewenswyses in hierdie 20ste eeu het gesinsprobleme so vererger dat party selfs hulle besorgdheid uitspreek oor die voortbestaan van die gesinsreëling as die basiese eenheid van die mensegemeenskap. Die egskeidingsyfer wat die hoogte inskiet, die geregtelike skeidings en die konsensuele en homoseksuele verhoudings is party van die faktore wat sulke besorgdheid wek.
Aangesien soveel gesinne dwarsoor die aarde ’n krisis beleef, is dit net logies dat ons wonder: Waarom? Waarom faal so baie daarin om tuis welslae te behaal, al is hulle moontlik suksesvol op ander gebiede? Waarom het hulle nog nie die sleutel tot gesinsgeluk ontdek nie, ten spyte van hulle pogings om hulp by gesinsraadgewers, psigiaters en dies meer te soek?
Hoewel dit geen grap is nie, is daar ’n leidraad tot die antwoord opgesluit in die uitdrukking wat dikwels lighartig gebesig word: “Volg die instruksies wanneer alle ander metodes misluk.” Indien instruksies gevolg word, soos by die bediening van ’n masjien, kan foutwerkings en defekte gewoonlik voorkom word. Dit is dus heel natuurlik dat die instruksies eers geraadpleeg moet word. Maar met die menslike natuur wat dit is, word hulle dikwels slegs as ’n laaste toevlug geraadpleeg, “wanneer alle ander metodes misluk”. Maar wat is die “instruksies”? Waar kan hulle gevind word?
DIE INSTELLER VAN DIE GESIN
Die gesin is baie ingewikkelder as enige masjien wat ooit deur die mens uitgedink is. Gevolglik is dit uiters onwetenskaplik om aan te neem dat dit toevallig of per ongeluk ontstaan het sonder die tussenkoms van ’n ontwerper of maker. Vir elke gevolg moet daar ’n ooreenstemmende oorsaak wees. Die eerste-eeuse skrywer was dus wetenskaplik juis toe hy gesê het: “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”—Hebr. 3:4.
Gesinslewe het dus nie sommer net vanself ontstaan nie. Dit is veroorsaak. ’n Ruk nadat hy die eerste man gemaak het, het die Een wat dit veroorsaak het, gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.” Nadat hy dus ons eerste ouers in die eg verbind het, en in volle ooreenstemming met die feit dat hy hulle man en vrou gemaak het, ‘het God hulle geseën en het God vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit’ (Gen. 2:18; 1:27, 28). Dit was dus ter vervulling van God se verklaarde voorneme dat die gesinsreëling in aansyn gekom het.
RIGSNOERE VIR GELUKKIGE GESINSLEWE IS VOORSIEN
Het die Insteller van die gesin nou verwag dat sy aardse kinders op die pynlike proefondervindelike manier moes uitvind wat hulle rolle in die lewe is? Of het hy aan ons rigsnoere gegee oor hoe die gesin moet funksioneer? Hy het, net soos daar van ’n liefdevolle Vader verwag kan word, aan ons gedragsreëls of “instruksies” gegee om ons te lei. Die sleutel tot gesinsgeluk is ons ‘toepassing van die instruksies’ oor gesinslewe en die verkryging van ’n goeie verhouding met hulle Outeur, die Een wat ons gemaak het.—Ps. 100:3; 119:1, 2; 128:1, 2.
Om ons ontwil het ons liefdevolle Skepper sowat 3 500 jaar gelede begin om die rigsnoere oor gesinslewe te laat opteken in ’n bundel klein boekies wat die gesin omvattend bespreek. Daardie bundel, wat vandag in die geheel of ten dele in meer as 1 600 tale beskikbaar is, is aan so te sê al die gesinne van die aarde beskikbaar. In die lig van die onskatbare waarde van die inhoud daarvan, is dit voorwaar ’n bestiering dat dit die boek met die grootste verspreiding in die hele geskiedenis is. Daardie boek is natuurlik die Heilige Bybel.—2 Tim. 3:16, 17.
Moet die leser tot die gevolgtrekking kom dat ons na die nominale kerkleerstellings oor die onderwerp verwys wanneer ons sê dat die Heilige Bybel ’n naslaanwerk oor die gesin is? Nee. Want selfs ’n vlugtige ondersoek sal toon dat die wêreldlike kerke van die Christendom Jehovah, die God van die Bybel, verkeerd voorgestel het en Sy Woord kragteloos gemaak het as gevolg van hulle menslike filosofieë en tradisies (Ps. 83:18, NW; Matt. 15:6). Dit is dus nie toevallig dat die agteruitgang van gesinslewe so duidelik in hulle gebied te sien is nie. Die kerke se laakbare reputasie doen desondanks geensins afbreuk aan die waaragtigheid, betroubaarheid en praktiese waarde van die Bybel as die gids wat ons broodnodig het om die sleutel tot gesinsgeluk te vind nie.
Die Bybel is by uitstek ’n boek oor gesinslewe. Wanneer dit ons van die eerste huwelik vertel, verduidelik dit waarom God die verskillende geslagte gemaak het en wat gevolglik die doel van seks is en wat die regmatige plek daarvan in eerbare gesinslewe is.
In God se Woord kan ons ook van die beproewinge en vreugdes van letterlik tientalle gesinne lees. Sulke gesinsverhale kan vir ons almal, jonk sowel as oud, van groot nut wees. Soek jy na ’n huweliksmaat wat ’n lojale metgesel sal wees? Dan sal jy wil kyk wat die Bybel se raad is oor hoe om ’n goeie keuse te doen en hoe jy jouself vir die verantwoordelikhede van die huwelik kan voorberei. Is jy ’n eggenoot en gesinshoof? Dan sal jy gewis baat vind by die talle puik Bybelvoorbeelde van manne wat baie suksesvol in daardie rolle was. Is jy ’n vrou en moeder? Jy het gewis talle pligte, nie waar nie? Die Bybel sal nietemin vir jou toon hoe jy vreugde kan smaak terwyl jy hulle nakom en hoe jy lof van ’n waarderende gesin kan verkry. Of moontlik is jy daardie wonderlike produk van die huwelik, ’n kind. Wat kan jy doen om tot ’n atmosfeer van hartlikheid en liefde in julle huis by te dra? Sal jy graag wil weet? God se geïnspireerde Woord sal vir jou sê.
Dit is in God se Woord dat jy oplossings vir talle lewensprobleme, onder andere gesinsprobleme, sal vind. Daar jou Skepper “die gelukkige God” is, wil hy hê dat julle gesin ook gelukkig moet wees (1 Tim. 1:11, NW; Spr. 2:6; 3:13, 18). Jehovah se Getuies is altyd bereid om ander te help om daardie geluk, asook liefde, vreugde en vrede te vind, soos die volgende verhaal toon.