Terrorisme—Waarom?
ONLANGS het ’n sendelingegpaar, Jehovah se Getuies, hulself te midde van die verskriklike bloedbad bevind wat in die stad Kolwezi, Zaïre, plaasgevind het. Die stad is klaarblyklik deur Kommunistiesgesteunde stamlede aangeval, en aanvanklik het dit gelyk of hulle tevrede was om die Blankes skrik te maak deur oor hulle huise te vuur. Talle Blankes het hulle in hulle huise verskans, maar later het hulle aanvallers verwoed geraak en begin plunder, drink, verkrag en moor, en dit het die dorp in ’n slagveld verander. ’n Aaklige week van terreur het ten einde geloop met die aankoms van die Franse Vreemdelegioen op 19 Mei, en Belgiese valskermsoldate die volgende dag. Daar word geraam dat sowat 200 Blankes en 700 swart mense tydens die slagting gesterf het.
Hoe het die Getuie-egpaar gevaar? Sewe dae lank het hulle in hulle huis agter ’n skans van kartonne vol Bybellektuur geskuil, met kartonne, matrasse en kussings voor die vensters. Bomskerwe en kartets het rondgevlieg. Hulle huis is verwoes, maar hulle het dit oorleef en is per vliegtuig na Kinshasa geneem. Alhoewel hulle slegs lig gewond was, was die spanning so groot dat die vrou, wat ongeveer ses maande swanger was, ontydig aan ’n babaseuntjie geboorte geskenk het. Omdat hy nie ten volle ontwikkel was om buite sy moeder se baarmoeder te lewe nie, het hy slegs vier dae gelewe. Die ouers is egter getroos deur die wete dat hy weer op ’n baie aangenamer aarde sal leef, en ook deur die hoop dat hulle self hierdie eeu van terrorisme kan oorleef om hom in daardie paradys terug te verwelkom.—Luk. 23:43, NW; Joh. 5:28, 29.
DIE BEDREIGING VAN TERRORISME
Kyk maar vandag waar jy wil op hierdie aarde—terrorisme steek sy lelike kop uit. Terroriste het demokrasieë in die Amerikas omvergewerp. Duisende het gesterf as gevolg van die terroristestryd tussen Katolieke en Protestante in Noord-Ierland. In Japan het militante terroriste die opening van Tokio se nuwe internasionale lughawe vyf jaar lank vertraag. Palestynse guerrillas sit hulle stryd teen Israel voort en maai sommer busse vol mense af. In Duitsland en in Italië is daar moorde op ontvoerdes, iets wat in Rome ’n hoogtepunt bereik het met die wrede moord op eertydse premier Aldo Moro.
Dan is daar die terreur wat daagliks op die strate in talle van die aarde se groot stede aangetref word. Aanranding, diefstal, verkragting en moord het alledaagse verskynsels geword. Min mense voel deesdae werklik veilig. Ja, terrorisme woed vandag rondom die aardbol.
Een weekblad het die situasie as ’n “geweldepidemie” beskryf.a In ’n onderhoud het dit “’n vername deskundige op die gebied van terrorisme”, Walter Laquer, soos volg aangehaal:
“Vandag se terroriste verskil in een baie belangrike opsig van hulle eweknieë van die verlede. . . . Die terroriste van die 19de eeu was selektief. . . . Vandag se terrorisme maai voor die voet af—baie wreder as in die verlede. Terroriste los ’n bom in ’n selfdienwinkel en dit kan hulle nie skeel wie gedood word nie. Jy sien, die tydperk voor die Eerste Wêreldoorlog was oor die algemeen mensliker. Dit spyt my om te moet sê dat menselewe in ons tyd goedkoper geword het—deels as gevolg van die grootskaalse slagting tydens die eerste en tweede Wêreldoorloë. Daarbenewens het ons nou ook hierdie filosowe van geweld wat nie in die 19de eeu bestaan het nie—mense wat redeneer dat geweld wonderlik is, dat dit ’n sielkundige belewenis is, dat ons werklik geweld nodig het.”
Mnr. Laquer het ook gewaarsku dat die moontlikheid bestaan dat terroriste wapens vir “supergeweld” in die hande kan kry waarmee hulle ’n hele land, onder andere gesinne, vriende en vyande—almal—kan vernietig!
WAAROM DIE EPIDEMIE?
Let op dat die deskundige wat hierbo aangehaal word, sê dat hierdie eeu van onmenslike, wrede terrorisme die gevolg van die eerste wêreldoorlog is. Die geweld-epidemie het sedertdien voortgeduur. Dit is baie interessant vir Bybelstudente, want toe Jesus gepraat het oor ‘die teken van sy teenwoordigheid en die voleinding van die wêreld’, het hy as “’n begin van die smarte” voorspel dat ‘die een nasie teen die ander sal opstaan en die een koninkryk teen die ander’—totale oorlogvoering wat die wêreld verswelg. Volgens Jesus sou dit gevolg word deur ’n ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ en “verskriklike dinge . . . [terwyl] mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Matt. 24:3, 7, 8, 12; Luk. 21:10, 11, 26.
Jesus het aangedui dat hierdie skrikwekkende gebeure deel sou uitmaak van die teken dat hy, as “die Seun van die mens” teenwoordig is op sy heerlike troon in die hemele om die nasies en volke van die aarde te oordeel en om die goddelose tereg te stel. Ons is klaarblyklik sedert die begin van die terrorisme-epidemie in 1914 in daardie oordeelstydperk.—Matt. 25:31-33, 41, 46.
Die filosofie van geweld het beslis sedert 1914 op die voorgrond getree en hierdie eeu as baie verskrikliker as enige vorige eeu gebrandmerk. Dit is egter interessant dat daar meer as vier millenniums gelede ’n soortgelyke eeu van geweld en terreur was. Dit was in Noag se dag. Die Bybel beskryf dit soos volg:
“Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”—Gen. 6:11, 12.
Die geweldenaars was destyds hoofsaaklik die sterk basternageslag van die dogters van mense en ongehoorsame engeleseuns van God wat op aarde gematerialiseer het. Hierdie afstammelinge was “reuse”—“geweldiges” wat die mensdom geterroriseer het (Gen. 6:4). Hulle het ’n eeu van geweld veroorsaak vergelykbaar met wat ons vandag op die aarde sien. Daardie goddelose geslag het Noag se waarskuwings oor ’n komende vernietiging in die wind geslaan. In die profesie wat hierbo aangehaal is, het Jesus gesê: “Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggevee het nie.” En Jesus het duidelik getoon dat hy ‘as die Seun van die mens teenwoordig sou wees’ om ’n soortgelyke oordeel aan die goddelose geslag te voltrek wanneer die wêreld eindig.—Matt. 24:37-39, NW.
HOE GAAN DIT EINDIG?
Dat die eeu van terrorisme self ook gewelddadig gaan eindig, word duidelik deur talle Bybelprofesieë aangetoon (Jer. 25:31-33; 2 Thess. 1:7-9; 2 Pet. 3:5-7). Maar dit sal nie die werk van terroriste-manne of -nasies wees wat wapens van “supergeweld” in die hande kry om die aarde of dele daarvan te vernietig nie. Dit sal eerder die werk van Christus Jesus wees wat die mensdom liefhet en wat waarlik daarin belangstel om liefhebbers van geregtigheid van die terreur van ons eeu te verlos. Dit is waarom Jesus die volgende bemoedigende woorde gebesig het nadat hy die nasies se “benoudheid” weens die terreur van ons dag beskryf het:
“As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Luk. 21:25, 28.
Ja, dit is ’n tyd vir alle liefhebbers van geregtigheid onder die verdrukte mensdom om hulle hoofde op te hef in afwagting van gelukkiger tye in die toekoms. Dit was sterk geloof in God, tesame met die hoop op ’n paradysaarde en die opstanding van die dode wat getroue sendelinge gedurende daardie verskriklike ondervinding in Zaïre onderskraag het. Geloof in God se beloftes onderskraag nog steeds toegewyde knegte waar hulle ook al op hierdie gewelddadige aarde dien. Mag dit jou ook onderskraag sodat jy hierdie eeu van terrorisme kan oorleef tot in ‘’n nuwe aarde waarin geregtigheid gaan woon’.—2 Pet. 3:13.
[Voetnoot]
a U.S. News & World Report, 22 Mei 1978, ble. 35, 36.