Lewe ons werklik in die “Laaste dae”?
BETEKEN hierdie eeu van geweld dat ons nou in die “laaste dae” lewe? Diegene wat hierdie vraag in alle opregtheid stel, sal ’n bevredigende antwoord kry. Maar ander vra met ’n verkeerde beweegrede, en van hulle skryf die apostel Petrus: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van [die Here Jesus Christus se] wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Pet. 3:3, 4). Vandag se goddelose wêreld wemel van sulke spotters met die Woord van God—op sigself ’n aanduiding dat ons in die “laaste dae” lewe.
Petrus vestig die spotters se aandag op die vernietiging van die wêreld van Noag se dag deur die vloed, en voeg dan by:
“Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord [van God] as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Pet. 3:5-7).
Die regeringsmagte en mensegemeenskap van hierdie goddelose wêreld staar presies so ’n vernietiging in die gesig. Maar kan ons werklik seker wees dat ons nou in die “laaste dae” lewe?
BEWYS VAN DIE “LAASTE DAE”
Die apostel Paulus sê vir ons dat “daar in die laaste dae swaar tye sal kom” en voeg dan by:
“Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sender natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.”
Paulus sê dan vir ons om ons van sulke mense af te keer (2 Tim. 3:1-5). Sien ons nie hoedat hierdie gebrek aan ware liefde, hierdie “ek eerste”-gesindheid vandag dwarsoor die wêreld beklemtoon word nie? Dit dra baie tot die kritieke probleme van die tye by.
Hierdie materialistiese, wêreldse gees bedreig selfs die Christengemeente. Dit is weens hierdie rede dat Jesus se halfbroer Jakobus welgestelde persone waarsku om nie weelderig of vir sinlike genot te lewe nie en vir hulle sê dat, hulle iets soos vuur weggelê het in die laaste dae’ (Jak. 5:1-5, vgl. NW). “Die laaste dae” is dus nie die tyd vir ware Christene om die genotsugtige weë van ’n wêreld wat van God vervreem is na te jaag nie.
Ons het in die vorige artikel gesien dat ’n eeu van totale oorlogvoering en terreur in die jaar 1914 op aarde begin het. Min sal daaraan twyfel dat 1914 ’n ongeëwenaarde keerpunt in menseaangeleenthede was, “’n begin van die smarte”, soos Jesus dit beskryf het. Ja, ’n “begin”, en Jesus se groot profesie wat in Mattheüs hoofstukke 24 en 25, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 opgeteken is, beskryf in besonderhede die ongeëwenaarde ellendes wat die mensdom sedert 1914 beleef het: oorloë, voedselskaarstes, aardbewings, pessiektes, verskriklike dinge, ongeregtigheid, liefdeloosheid, vrees, benoudheid. “Die gruwel van die verwoesting”, wat ook in Openbaring 17:3, 8 as “’n skarlakenrooi dier” geïdentifiseer word, het ook sy verskyning gemaak, eers as die Volkebond en later as die Verenigde Volke, maar dit het die mensdom nie van ’n uitweg voorsien nie.—Matt. 24:15, 16; Dan. 11:31.
Christus se volgelinge moes hierdie ellendes saam met die res van die wêreld verduur. Christene het ook bykomende ontberinge beleef, soos deur Jesus in sy profesie beskryf: regsverhore, geseling, haat en vervolging. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is hulle vervolg en verdruk, selfs in demokratiese lande. Voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog was hulle die skyf van die Nazi’s, Fasciste en Sjintoïste se haat. Meer onlangs het Kommunistiese Europa en ’n aantal radikale Afrikalande hulle gal kwytgeraak op die Getuies. Maar, Christene, skep moed! Al hierdie dinge het plaasgevind “sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus”.—1 Pet. 1:7.
’N STERK BEWYS
Oortuigende bewys dat ons nou in die “laaste dae” lewe, word gevind in die werk wat die Here Jesus Christus sedert die noodlottige jaar 1914 op hierdie aarde gerig het. Dit is ter vervulling van daardie deel van sy groot profesie wat in Mattheüs 24:14 opgeteken is:
“En hierdie evangelie [goeie nuus] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
Verderaan in hierdie selfde profesie het Jesus beskryf hoe hierdie werk dwarsoor die aarde onder sy leiding en die leiding van die heilige engele van die hemel gedoen sal word:
“Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.”
Die regverdige “skape”-klas kry die ewige lewe, maar die ondankbare “bokke” word vir ewig vernietig.—Matt. 25:31-46.
In die “laaste dae” moet daar gevolglik ’n groot, wêreldwye getuienis oor Christus se inkomende koninkryk gelewer word. Is so ’n getuienis sedert 1914 te sien? Beslis! Hedendaagse geskiedkundiges het die feit geboekstaaf dat Jehovah se Getuies die aarde met hulle predikingswerk oordek het. En met watter gevolg? Teen 1977 het hulle 4 831 823 111 Bybels en publikasies wat die Bybel verduidelik in 210 tale versprei, Christendissipels van meer as tweemiljoen persone in 216 lande en gebiede gemaak en miljoene ander deur middel van gratis Bybelstudies in hulle huise vertroos. Hierdie werk wat verrig is ter vervulling van Jesus se profesie, is waarlik ’n sterk bewys dat ons voorwaar in die “laaste dae” lewe.
“DIE EINDE VAN DIE DAE”
Ander Bybelprofesieë, veral Jesaja hoofstuk 2 en Miga hoofstuk 4, verwys na “die einde van die dae”. Die getuienis van hierdie twee profete is so te sê identies, en dit word ongetwyfeld vir nadruk herhaal. Kyk wat sê Miga 4:1, 2:
“Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy wee kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”
Met pragtige beeldspraak beskryf die profeet dus hoe Jehovah se geestelike tempel—sy huis van aanbidding—in die wêreld se eindtyd bo alle vorme van mense-aanbidding, ja, “bo die heuwels”, verhef word. Mense van alle nasionaliteite stroom na Jehovah se huis van aanbidding waar hulle deur hom geleer word en leer hoe om in sy weë van geregtigheid te wandel. Daar is slegs een tyd in die mens se geskiedenis wanneer persone “uit alle nasies en stamme en volke en tale” rondom die aardbol in die enige aanbidding van die ware God verenig is (Openb. 7:9). Hierdie profesie aangaande “die einde van die dae” word vandag voor ons oë onder die Christengetuies van Jehovah vervul.
Die profesie het vandag egter ’n ander betekenisvolle vervulling. En wat is dit? Luister na hierdie verdere woorde:
“Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Miga 4:3.
Word daar vandag van swaarde pikke gesmee? Die wêreldse nasies doen dit beslis nie! Hulle hou aan om hulself te bewapen, en nie net met swaarde en spiese nie! Hulle hoop steeds aaklige wapens vir massa-uitwissing op in bewapeningsprogramme wat buite beheer raak. Die moontlikhede is verskriklik. In New York se “Times” van 6 Junie 1978 het Richard J. Barnet geskryf:
“Òf ons verander die reëls waarvolgens al die groot moondhede speel—deur ernstige, aansienlike ontwapening, beperking op die aantal basisse, op globale wapenverkeer, op geheime operasies—òf die spel wat ons speel, sal in ons dag op kernoorlog uitloop.” Daar is egter in ons dag ’n volk wat nie deelneem aan daardie “spel” nie. Dit is die internasionale groep wat as Jehovah se Getuies bekend staan. Indien hulle sou ‘leer om oorlog te voer’, sou dit hulle teen hulle Christenbroers in ander dele van die wêreld in die veld bring. Hulle verkies om liefde vir mede-Christene en vir die hele mensdom aan te kweek, en aldus het hulle ’n aandeel aan die vervulling van Miga se profesie. Die Getuies se neutraliteit het respek afgedwing in talle dele van Afrika, in Ierland, in Libanon en ander plekke waar godsdiens die mense in militante faksies verdeel het. Omdat hulle konsekwent ‘van hulle swaarde pikke smee’, selfs onder die druk van vervolging, word Jehovah se volk gekenmerk as diegene wat hierdie profesie “aan die einde van die dae” vervul.
Gelukkig is daar “aan die einde van die dae” een volk op aarde wat dwarsoor die wêreld in ’n band van liefde verenig is en wat vasbeslote is om nie volgens die “gode” van sektariese godsdiens te wandel nie, maar in die kosbare naam van ‘Jehovah hulle God’, en dit vir ewig (Miga 4:5). Hulle glo vas, op grond van vervulde profesie, dat ons in die “laaste dae” lewe en dat “die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag” om die goddelose stelsel wat nou God se aarde beheer, te vernietig, net soos Petrus dit beskryf het. Hulle slaan dus naarstiglik ag op die vermaning:
“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas.”—2 Pet. 3:10-12.
Daardie “dag” sal nie ’n einde maak aan hulle ‘wandel in die naam van Jehovah hulle God’ nie, want hulle verwag om dit vir ewig te doen. In afwagting van Jehovah se wonderlike voorsiening van ’n nuwe orde doen hulle dus hulle bes om waardig te wees om daardie heerlike tyd binne te gaan. Hulle rooskleurige hoop word uitgedruk deur Petrus se verdere woorde:
“Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet. 3:13).
Dit is ’n ware hoop, ’n huidige hoop, want al die getuienis bewys dat ons vandag werklik in die “laaste dae” van die teenwoordige wêreldstelsel lewe. Dit is noodsaaklik dat ons dit besef.
[Prent op bladsy 7]
Nog nooit tevore is persone uit alle nasies rondom die aardbol verenig in reine aanbidding wat op die Bybel gegrond is nie