Hoe dringend is ons tye?
“Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my [Jesus se] Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mark. 13:13.
1. Watter verdrukking het Jesus vir God se volk voorspel, teenoor wie is dit vervul, en hoe?
AS DEEL van sy aangrypende profesie oor “die voleinding van die wêreld” het Jesus gesê: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word terwille van my Naam” (Matt. 24:9). Teenoor watter enkele volk is hierdie woorde in hedendaagse tye vervul? Teenoor die Christengetuies van Jehovah! Onder alle godsdiensgroepe is hulle die enigstes wat aangeval is deur die Nazi’s, die Kommuniste, die militêre diktatorskappe en selfs die sogenaamde demokratiese lande rondom die wêreld.
2. Hoe het Jehovah se Getuies in Afrika die geskil onder die oë gesien? (Ps. 37:39).
2 Tydens onlangse jare het die onwrikbare geloof van die Malawiese Getuies in die aangesig van moorde, verkragtings, aanrandings en gevangesetting die respek en bewondering van nie alleen hulle geestelike broers nie, maar van vryheidbewuste mense oral afgedwing. Hoewel die situasie in Malawi effens verbeter het, is daar berigte van toenemende vervolging uit ander Afrikalande.
Een nuwe nasie het al sy burgers beveel om politieke kentekens te dra. In ’n ander land het ’n valse “broer” die gemeente op die nag van die Gedenkmaal verraai sodat die polisie die vergaderplek omsingel het. Maar om die een of ander rede het hulle hulle op die agterste ingang toegespits. Toe daar alarm gemaak is, het die Getuies gevind dat die voordeur onbewaak is, sodat almal behalwe twee in staat was om te ontsnap en koers gekies het die nag in. Hierdie twee Christene is wreed geslaan, maar hulle geloof was onwrikbaar en hulle het ’n uitstekende getuienis in die hof gelewer.
In ’n ander land is lojale Getuies wat geweier het om ’n patriotiese slagspreuk te skreeu geslaan en uit hulle statte verdryf. Daar is spottend vir hulle gesê: Julle kan gaan waar julle wil, selfs na julle Jehovah toe.” Dit het hier al hoe moeiliker geword om te reis, en reisende opsieners is in hegtenis geneem. Daar is egter geen gebrek aan geestelike “voedsel” in die gevangeniskampe nie. Hierdie geteisterde Getuies sien selfs daarna uit om vanjaar se “Seëvierende Geloof”-Byeenkomste te geniet.
Uit nog ’n Afrikaland kom die berig dat 22 Getuies in hegtenis geneem is, valslik van politieke bedrywigheid aangekla is, verskriklik geslaan is, tot op hulle onderklere na uitgetrek is en ’n maand lank in hierdie halfnaakte toestand opgesluit is. In nog ’n ander land is drie doodgeslaan, en verskeie ander is ter dood veroordeel weens die neutraliteitsgeskil; hulle het appèl teen hierdie vonnis aangeteken. In nog ’n Afrikaland het ’n Koptiese priester valse aantygings gemaak dat Jehovah se Getuies by Midde-Oosterse politiek betrokke is, en dit het daartoe gelei dat 13 manlike en 20 vroulike Getuies, waarvan een swanger was en ’n ander een ’n klein dogtertjie by haar gehad het, in die tronk opgesluit is.
3. Hoe betoon Jehovah se volk hulle geloof?
3 Hoewel daar hier veral na onlangse gebeure in Afrika verwys is, het talle ander lande op aarde Jehovah se Getuies aan bande gelê sodat dit moeiliker geword het om die gereelde predikingswerk te doen en Christenbyeenkomste te hou. Sendelinge is uit ’n aantal lande verban, en dit word moeiliker om sendelinge na nuwe gebiede te stuur. Dit is presies soos Jehovah deur sy profeet Jeremia voorspel het: “Hulle sal teen jou veg.” En dit is presies wat hulle doen! Maar ten spyte van bittere propaganda en vervolging gaan Jehovah se volk voort om ’n deeglike getuienis te lewer. Hulle stel hulle volle vertroue in Jehovah se belofte: “Maar [hulle sal] jou nie oorwin nie; want Ek is met jou . . . om jou uit te red.”—Jer. 1:19.
“NET SOOS DIE DAE VAN NOAG”
4. Waarom kon Noag volhard? (Jak. 1:2-4).
4 Die aartsvader Noag het besonder moeilike tye beleef. Sy spesiale taak om vir die sondvloed voor te berei het moontlik oor ’n tydperk van 60 jaar gestrek—ongeveer solank as wat ons al in hedendaagse tye God se opgerigte koninkryk verkondig. Al was “die aarde . . . verdorwe voor die aangesig van God, en . . . vol geweld”, kon Noag volhard, want hy het sy geloof aan die werk gesit. Net soos Jehovah se Getuies van hedendaagse tye het hy aangehou om ywerig as ’n “prediker van geregtigheid” te dien.—Gen. 6:11; 2 Pet. 2:5.
5, 6. (a) In watter opsigte stem Noag se dag met ons s’n ooreen? (b) Waarin moet Christene opgaan, en waarom?
5 Maar die meeste mense was destyds net soos die mensdom vandag is. “Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggevee het nie.” Lukas se weergawe van hierdie woorde van Jesus lui:
“Hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.”
Vandag gaan ’n eendersdenkende, goddelose wêreld die kritieke globale “groot verdrukking” tegemoet!—Matt. 24:21, 37-39, NW; Luk. 17:26, 27.
6 Beteken die woorde van Jesus wat hierbo aangehaal is dat dit verkeerd sal wees vir Christene om in hierdie laaste dae te eet, te drink en te trou? Nee, Jesus het dit nie gesê nie. Dit is gepas om goeie voedsel en drank in matige hoeveelhede te geniet. Die huwelik is eweneens God se reëling vir die mensdom. Wat Jesus gesê het, was dat ons nie hierdie dinge as die allerbelangrikste lewensbedrywighede moet beskou en so daardeur in beslag geneem word dat daar nie tyd vir geestelike belange is nie (1 Pet. 4:3; 1 Kor. 7:8, 29). Ons moet eerder ons lewens so beplan dat ons voorkeur gee aan die groot werk om ‘hierdie evangelie van die opgerigte koninkryk as ’n getuienis te verkondig’ voordat die einde kom.—Matt. 24:14.
“NET SOOS DIT OOK GEBEUR HET IN DIE DAE VAN LOT”
7. Watter dringendheid het in Lot se dag ontstaan?
7 Toe Abraham en Lot as God se getuies op aarde gedien het, het Jehovah hulle gewaarsku oor sy oordeel teen Sodom en Gomorra. Daar kon nie eens 10 regverdige manne daar gevind word nie! Terwyl Jehovah se engele voorberei het om die voorspelde vernietiging te veroorsaak, het Lot herhaaldelik die manne wat aan sy dogters verloof was, aangespoor: “Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad verwoes.” Net soos mense van hierdie onsedelike wêreld het daardie aanstaande skoonseuns die goddelike waarskuwing as ’n blote grap beskou. Maar daar was geen tyd om te verspil nie. “Die engele [het] by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.”—Gen. 19:14, 15.
8. (a) Watter “ongeregtigheid” het gelei tot die vernietiging van Sodom en Gomorra? (b) Waarom moet dit vandag ’n waarskuwing vir ons wees?
8 Wat was daardie “ongeregtigheid”? Dit het die geslagsverdorwenheid ingesluit wat so ’n integrerende deel van die lewe in talle stede van hierdie hedendaagse wêreld is dat dit selfs op die verhoog en silwerdoek verheerlik word. “Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle . . . [het] gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop.” “Hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou”, sonder enige gedagte aan God se geregtigheid. Hulle het geheel en al in hulle selfsugtige lewenswyse opgegaan. En wat het met hulle gebeur? Daar “het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig”. Jesus het gewaarsku dat hy ’n soortgelyke oordeel gaan voltrek wanneer hy binnekort as “die Seun van die mens” geopenbaar word.—Gen. 19:24-26; Luk. 17:28-30; Jud. 7.
9. Wat moet ons nou dringend doen, en hoe kan ons beskerming vind?
9 Mag ons soos die regverdige Lot wees en Jehovah se oordeelsboodskap vir ons dag as dringend beskou. En laat ons nie soos Lot se vrou wees nie, maar laat ons eerder waak teen die neiging om vol begeerte terug te kyk na die materiële voordele van hierdie gedoemde wêreld (Luk. 17:31, 32). As ons geheel en al opgaan in die doen van God se wil vir vandag, sal dit vir ons ’n beskerming wees. Onthou, dit was in verband met Lot se verlossing dat Petrus gesê het: “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word.”—2 Pet. 2:6-9.
“’N KRAGTIGE GETUIENIS”
10. (a) Wat moes dringend gedoen word toe Jesus en sy apostels op die aarde was? (b) Hoe, en met watter doel, het Jesus sy dissipels opgelei?
10 Toe Jesus en sy apostels op aarde was, was dit noodsaaklik dat ’n kragtige getuienis in daardie dag van oordeel gegee moes word. Jesus self het getoon hoe daardie werk gedoen moes word; hy het naamlik “die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig”. Die 12 apostels en ander, vroue inkluis, het hom vergesel. Met watter doel? Dit was sodat hy hulle kon oplei om hulle lewens rondom hulle diens aan God te bou. Hulle sou aldus ook die waarskuwing oor die komende vernietiging van die Joodse “stelsel van dinge” kon rig en die verdrukte mense kon vertroos. Daarbenewens sou dit hulle help om hulle met die Christelike persoonlikheid te beklee en in hulle lewe dieselfde regverdige, lojale eienskappe aan die dag te lê wat hulle in hulle Meester waargeneem het.—Matt. 9:35-10:15; Luk. 8:1, 2; 9:1-6; 10:1, 13-15; Ef. 4:24.
11. Hoe het die dissipels getoon dat hulle hulle les goed geleer het?
11 Daardie vroeë dissipels het hulle les goed geleer. Hulle het opgegaan in ywerige Koninkryksdiens en medelydend na die mense gegaan waar hulle hulle ook al aangetref het—by die markte en ander openbare plekke, in die sinagoges (volgens die gewoonte van daardie tyd) en by hulle huise. Selfs toe hulle deur vervolging verstrooi is, het hulle net eenvoudig voortgegaan en “die woord van die evangelie verkondig”.—Hand. 5:42; 8:4; 16:13; 17:17.
12. Watter soort getuienis is in die dae van die apostels gelewer, en met watter gevolg?
12 Teen die einde van baie jare van ywerige predikingswerk kon die apostel Paulus vir sy mede-ouere manne sê: “Ek [het] niks agtergehou . . . van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus” (Hand. 20:20, 21). Die woorde “kragtig” en “met krag” verskyn herhaaldelik in die boek Handelinge in verband met die dringende getuienis wat deur die apostels en hulle medewerkers gelewer is (Hand. 2:40, NW; 8:25; 10:42; 20:24; 23:11; 28:23). Wat was die gevolg van daardie “kragtige” getuienis? Gemeentes gelowiges het opgeskiet en gedy waar die “goeie nuus” ook al verkondig is. En wanneer reisende opsieners hulle besoek het om hulle in hulle diens te bemoedig, is die gemeentes versterk. Hulle “is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal”.—Hand. 15:36-16:5.
13. Watter oordeel het Jehovah in die eerste eeu voltrek, maar waarom het die Christengemeente voortbestaan?
13 Ter vervulling van die waarskuwing wat deur Jesus en sy dissipels gerig is, het Jehovah mettertyd ’n oordeel aan daardie “verkeerde geslag” Jode voltrek, die geslag wat “die Leidsman tot die lewe”, die Here Jesus Christus, gedood het (Hand. 2:40; 3:15). Hoe het die Christengemeente gevaar—daardie klein groepie wat met soveel dringendheid gehoorsaam was aan hulle Meester se bevel om “hierdie evangelie van die koninkryk . . . [te] verkondig . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis”? Toe die einde wel gekom het, het hulle daadwerklike geloof vir hulle redding beteken. Hulle volharding is beloon.—Matt. 24:13-16.
WAAR IS ONS IN DIE LOOP VAN GEBEURE?
14. Tot watter mate is die “goeie nuus” vandag vergelykenderwys verkondig, en met watter welslae?
14 Weer eens is die “goeie nuus” tydens die klimaks van die eeu, “verkondig . . . in die ganse mensdom onder die hemel” (Kol. 1:23). Maar vandag beslaan die predikingsveld die hele “wêreld”, onder andere die ryke van die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide”, asook talle ander lande in Afrika, die Amerikas, Asië, Australasië en die eilande van die see. Dit kon slegs met die hulp van Jehovah se gees wees dat so ’n aardom-vattende getuienis in die kort bestek van sowat 60 jaar gegee kon word. En nuwes stroom nog steeds na Jehovah se organisasie! Die gebied is veel groter as in die dae van die apostels, toe dit minder as 40 jaar geduur het om die finale waarskuwing aan die verstrooide Joodse volk te rig.
15. Waarom is “die vier winde” van Openbaring 7 vasgehou?
15 Maar waar presies is ons in die loop van gebeure? Openbaring hoofstuk 7 sê vir ons. Hier het die apostel Johannes “vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou”. Dit is winde van vernietiging, want mettertyd gaan hulle ‘die aarde en die see en die bome beskadig’. Maar eers moet die “diensknegte van onse God” op hulle voorhoofde verseël word. Destyds in 1914, toe ‘die koninkryk van die wêreld die eiendom van hulle Here [Jehovah] en van sy Christus geword het’, het hierdie diensknegte verlang dat die einde moes kom, dat hulle by hulle Here in die hemel versamel kon word. Maar nee—Jehovah het nog vir hulle ’n werk gehad wat hier op aarde gedoen moes word. Daarbenewens moes hulle self gesuiwer en voorberei word vir hulle toekomstige priesterlike diens in Christus se koninkryk van 1 000 jaar. Die “vier winde van die aarde” is dus ’n tyd lank vasgehou.—Openb. 7:1-4; 11:15, vgl. NW.
16. Watter ander groep het daarby baat gevind omdat die engele ‘die winde vasgehou het’, en watter hoop het hulle?
16 Weens sy groot barmhartigheid en goedertierenheid het Jehovah hierdie “diensknegte” in sy geestelike Israel, “die Israel van God”, in ’n wonderlike werk ten behoewe van ’n ander groep gebruik—“’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Nadat al 144 000 lede van geestelike Israel met hulle diens in die hemele begin het, moet die ‘koninkryk van onse Here en van sy Christus’ steeds oor die mensdom hier op aarde heers. Sedert die middel van die dertigerjare van hierdie eeu het hierdie “groot menigte” dus sy verskyning gemaak, sodat daar vandag meer as tweemiljoen persone is wat daarna uitsien om voortdurend as aardse onderdane van die Koninkryk te dien. Hulle is die kern van die “nuwe aarde”, ’n regverdige mensegemeenskap, wat vir ewig onder die soewereiniteit van Jehovah God gaan lewe (Openb. 7:9, 10; 21:1, 3-5; 2 Pet. 3:13). Maar die engele hou steeds ‘die vier winde van die aarde vas’. Waarom?
17. Waarom gaan die engele voort om ‘die winde vas te hou’?
17 Dit kan net wees omdat Jehovah nog werk vir sy getuies hier op aarde het. Nog meer lede van die “groot menigte” moet versamel word. Die opkoms van miljoene persone by die viering van die Gedenkmaal tydens onlangse jare, tesame met die bestendige vermeerdering in die aantal Getuies in talle lande in Asië, eilande en Katolieke lande van Europa toon dat die insamelingswerk nog nie klaar is nie. Dit is noodsaaklik dat al die lede van Jehovah se volk hulself reg tot by die einde van hierdie goddelose stelsel in sy diens inspan.—Mark. 13:10; Ef. 5:15, 16.
18. (a) Watter sifting vind klaarblyklik nou plaas? (b) Waarom moet ons noukeurig aandag skenk aan Paulus se vermaning in 2 Korinthiërs 13:5?
18 Net soos daar gedurende die dekade na 1914 ’n groot sifting onder die gesalfde oorblyfsel was, lyk dit of daar nou ook ’n sifting plaasvind onder party wat bely dat hulle lede van die “groot menigte” is. Die woorde van die apostel Paulus is veral in hierdie kritieke tye op ons almal van toepassing: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Kor. 13:5). Waardeer ons werklik ons toewyding aan Jehovah—die baie intieme verhouding wat ons met hom het, en wat moontlik gemaak is deur Jesus se offerande? Waardeer ons die eenheid wat ons met die Vader en met die Seun geniet in hierdie grootse werk wat ons bevoorreg is om in hierdie uur te doen? Dien ons weens opregte liefde vir Jehovah en vir ons naaste? Of is ons beweegrede bloot om ‘heelhuids af te kom’ van die oorlog te Armageddon? Gaan ons, indien ons lede van die “groot menigte” is, aanhou om God “dag en nag” reg tot by die “groot verdrukking” te dien? Of gaan ons ons waaksaamheid verslap en Satan toelaat om ons met die genietinge, die onsedelikhede of die sorge van die lewe te oorweldig?
19. (a) Waarom kan ons bly wees dat die engele ‘die winde’ tot nou toe ‘vasgehou het’? (b) Hoe kan ons vandag tred hou met die vooruitgang van God se organisasie, soos getoon deur 2 Korinthiërs 13:11?
19 Die vier engele gaan nie vir ewig die vier winde van die aarde ‘vashou’ nie. Ons kan bly wees dat hulle dit tot nou toe gedoen het, en dat dit die redding van miljoene mense tot gevolg sal hê. Maar tyd is vinnig besig om te verstryk. Ons moet lewendig en wakker bly en voortdurend met God se organisasie op die aarde voortbeweeg. Hoe aangenaam is dit tog om ’n lid te wees van die enigste wêreldwye broederskap wat vrede geniet en wat eensgesind Jehovah se naam in hierdie kritieke tye loof! Om tred te hou moet ons soms dalk ons gesindheid of beskouing verander. Maar laat ons altyd gereed wees om dit nederig te doen, sodat ons met dringendheid kan dien en steeds die vreugde kan smaak wat ons met al die lede van God se volk deel. Paulus het vermaan: “Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.”—2 Kor. 13:11.
[Prent op bladsy 10]
‘HULLE SLAAN GEEN AG DAAROP NIE’ Net soos in die dae van Noag en van Lot word die meeste mense se tyd so deur die daaglikse lewensaangeleenthede in beslag geneem dat hulle die dringendheid van die tye ignoreer