“WAAK”
“Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.”—Matt. 26:41.
1, 2. (a) Onder watter omstandighede het Jesus vir sy apostels gesê: “Waak”? (b) Maar hoe het die apostels gereageer?
BY WATTER geleentheid het Jesus daardie woorde gebesig? Dit was ten tye van die grootste krisis in sy lewe op aarde—net voordat hy verraai, in hegtenis geneem, verhoor en tereggestel is. Daardie dag was die allerbelangrikste in mensegeskiedenis. Die gebeure wat ophande was, sou tot die redding van die hele mensdom lei. Op daardie dag sou Jesus sy lewe opoffer. As ’n Seun wat getrou tot die einde toe gedien het, sou hy in staat wees om aan sy Vader verslag te lewer met sy sterwenswoorde: “Dit is volbring!”—Joh. 19:30.
2 Wat het Jesus se apostels egter gedoen? Hulle het so pas saam met hulle Meester geëet toe hy die Gedenkmaal van sy dood ingestel het. Hoewel hulle nie die betekenis daarvan gesnap het nie, het hulle geweet dat dit ’n baie ernstige geleentheid was. Maar terwyl hy daar in die tuin van Getsemane gebid het, het hulle aan die slaap geraak! Hy het vir hulle gesê: “My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.” Nie net een keer nie, maar drie keer het hy egter teruggekeer en hulle aan die slaap gevind. Toe dit die derde keer gebeur, het Jesus uitgeroep: “Op ’n tyd soos hierdie slaap en rus julle! Kyk! Die uur is naby.” En daardie oomblik was sy vyande op hom!—Matt. 26:36-47, vgl. NW.
3. (a) Waarom is dit nou die allerbelangrikste tyd om wakker te bly? (b) Waarom sal versuim om op Openbaring 16:15 ag te slaan rampspoedig wees?
3 Vandag staan ons op die drumpel van nog ’n groot gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom—die “groot verdrukking”, wat sy hoogtepunt sal bereik in “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon (Matt. 24:21; Openb. 7:14; 16:14, 16). Dit is nou die tyd der tye om wakker te bly! En nogtans waarsku die einste profesie wat die naderende oorlog beskryf dat daar persone gaan wees wat dalk nie wakker gaan bly nie. Hierdie waarskuwing is ingevoeg tussen die vermelding van “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” en “Armageddon”. Dit is die Here Jesus Christus self wat die waarskuwing rig: “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.” Diegene wat vandag in die priesterlike diens van God is, asook die “groot menigte”, moet oppas dat hulle nie hulle herkenningsklere verloor nie. En waaraan word hulle vandag as God se knegte herken? Dit is immers aan hulle ywerige werke, wanneer hulle met mense by hulle huise en in openbare plekke praat, en aan die toepassing in hulle lewens van dieselfde goeie Christelike beginsels wat hulle by ander aanbeveel. Indien ’n dienskneg van God geestelik aan die slaap sou raak, sou hy hom groot skande op die hals haal. Hy sal ontdoen word van sy identiteit as ’n getuie van die ware God. Op die vooraand van “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” sal dit rampspoedig wees.—Openb. 16:14-16.
BEVEG GEESTELIKE LOMERIGHEID
4. Wat is vandag die grootste bedreiging vir die wêreldstelsel?
4 Toestande op aarde was nog nooit gevaarliker nie. Politieke leiers erken hierdie feit. Anargie en geweld neem rondom die aarde toe. Selfs uit die wêreldlike standpunt gaan die huidige stelsel van dinge vinnig agteruit, en loop dit die gevaar om binne afsienbare tyd vernietig te word. Maar wat is God se beskouing van hierdie stelsel? Jehovah sê dat hy dit gaan verbrysel terwyl dit nog ’n ‘gevestigde saak’ is (Dan. 2:44, 45). Dit sal gou moet gebeur, want dinge gaan so vinnig agteruit in hierdie eeu van geweld en terreur.
5. Wat het Jesus beklemtoon toe hy gepraat het van “die voleinding van die wêreld”?
5 Die Here Jesus Christus het duidelik voorspel wat in ons dag gaan gebeur. In hierdie profesieë het hy herhaaldelik beklemtoon hoe nodig dit vir ons is om wakker te bly. Hier is ’n paar van die dinge wat hy gesê het, soos op verskillende plekke berig is:
“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.”—Matt. 24:42.
“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”—Matt. 24:44.
“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.”—Matt. 25:13.
“Julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.”—Mark. 13:23.
“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.”—Mark. 13:33.
“Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar . . . kom nie.”—Mark. 13:35.
“Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!”—Mark. 13:37.
“Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom.”—Luk. 12:37.
“Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”—Luk. 12:40.
“Pas op . . . dat . . . dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan.”—Luk. 21:34-36.
6. Wat het Jesus beklemtoon in verband met die dinge “wat gou moet gebeur”?
6 In sy finale openbaring aangaande die dinge “wat gou moet gebeur”, beklemtoon Jesus weer eens die skielikheid waarmee hy kom:
“Ek [kom] gou . . . Ek kom gou! Hou vas wat jy het.”—Openb. 2:16; 3:11.
“Kyk, Ek kom gou. . . . Ja, Ek kom gou” (Openb. 22:7, 20).
In antwoord op hierdie laaste betuigings van ons Meester, kan ons sekerlik almal saam met die apostel Johannes sê: “Amen, ja kom, Here Jesus!”
7. Waarom moet ons wakker bly?
7 Dit ly geen twyfel nie! Hierdie wêreld stuur vinnig op sy voorspelde einde af. Dit is in sy doodstryd. Daar word openlik gesê dat talle van die groot stede besig is om te sterf. Maar Jehovah sal hulle uit hulle ellende verlos voordat hulle hulle natuurlike dood kan sterf. Ons moet wakker bly, gereed op die groot dag wat deur so baie van Jehovah se profete beskryf is.—Jes. 2:12, 17; Jer. 30:7; Joël 2:11; Amos 5:18-20.
8. (a) Waarom moet ons Jehovah “verwag”? (Sef. 2:3). (b) Watter situasie in die V.V.O. verg waaksaamheid?
8 Die profeet Sefanja, wat ’n prins in die geslag van Dawid was, het gesê:
“Verwag My, spreek die HERE, op die dag wat Ek My gereed maak vir die buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!” (Sef. 3:8).
Die dag van Jehovah se “toom” is gevaarlik naby. Sedert 1914 het Jesus se groot profesie oor die “voleinding van die wêreld” nou sy merkwaardige vervulling in ons 20ste eeu gehad. Ons sien duidelik hoedat militaristiese elemente van daardie “gruwel”, die V.V.O., gereed staan om die ryk van die valse Christendom te verwoes. Die sosialistiese moondhede maak geen geheim daarvan dat hulle godsdiens haat nie—“die opium van die volk”, soos hulle dit noem. Dit ly geen twyfel nie! Op God se bestemde tyd sal die “horings” van die skarlakenrooi dier, die V.V.O., die wêreldryk van valse godsdiens—wat Jehovah se naam so lank al belaster —aanval om haar te vernietig en te verwoes.—Matt. 24:15; Openb. 17:3-6, 16.
9. Waarom sal die “groot verdrukking” ’n geloofbeproewende tyd vir God se volk op aarde wees?
9 Die “groot verdrukking” sal ongetwyfeld ’n geloofbeproewende tyd vir God se volk hier op aarde wees. Want die “tien horings” sal ook teen die Here Jesus Christus, wat “die Here van die here en die Koning van die konings” is, oorlog voer (Openb. 17:14). Hierdie aardse magte kan hom nie daar bo in die hemel bykom nie. Wie anders as sy getroue verteenwoordigers hier op aarde, en veral die oorblyfsel gesalfde getuies van Jehovah, sal hulle dus aanval? Maar hulle sal nie seëvier nie! “Die Lam sal hulle oorwin . . . en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.” Openbaring 19:11-21 verstrek besonderhede oor die oorwinning wat daardie “Koning van die konings en die Here van die here” oor die politieke moondhede op aarde gaan behaal.
DIE RUITERS IN DIE SAAL
10. Waarom kan ons seker wees dat Jesus ten behoewe van ons sal oorwin?
10 Die magtige oorwinnaar tydens Armageddon veg uit die hemel. Die apostel Johannes het ’n gesig gehad waarin hy Hom op ’n wit perd, die simbool van regverdige oorlogvoering, sien ry. Hy het gesê: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.” Daardie oorlog sal seëninge vir liefhebbers van geregtigheid meebring (Open. 19:11). Vroeër in Openbaring het Johannes ’n ander gesig van dieselfde ruiter met hierdie woorde opgeteken: “Ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openb. 6:2). Hier het ons dus die gesig van hoe Jesus in 1914 Koninkryksmag gekry het, nie as ’n hulpelose baba in ’n krip of as ’n lyk aan ’n paal nie, maar as die magtigste stryder wat ooit na die oorlog uitgetrek het (Openb. 11:15; Matt. 25:31). Ons kan absolute vertroue hê dat hierdie “Koning van die konings” ten behoewe van ons sal oorwin.
11. (a) Waarom is die ander ruiters van Openbaring 6 nie oorwinnaars nie? (b) Wat het die ruiter van die ‘vuurrooi perd’ gedoen, en sedert wanneer?
11 Daar is egter ander perderuiters in die gesig gesien. Daar word nie ’n woord gerep dat hulle oorwin nie, maar eerder dat hulle die mensdom teister. Dit is slegs die ruiter op die wit perd wat oorwin, want dit is geregtigheid wat saam met hom gaan seëvier. Maar wat het Johannes oor daardie ander ruiters gesê? “’n Ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee” (Openb. 6:4). Hier is ’n beskrywing van vurige, bloedige oorlogvoering van die soort wat die eerste keer in 1914 uitgebreek het in wat deur geskiedkundiges die “Groot Oorlog” genoem word. Maar die slagting was vier keer groter toe die “groot swaard” tydens die rampspoedige Tweede Wêreldoorlog, van 1939 tot 1945, geswaai is. En geweld bars steeds dwarsoor die aarde uit. Sedert 1914 was daar geen ware vrede terwyl die rooi perd steeds angswekkend voortgalop nie. Hoewel Jehovah se Getuies neutraal staan teenoor die gevegte, het selfs hulle regstreeks of onregstreeks gely weens die geweld, vervolging en ontbering wat gepaard gaan met hierdie wegneming van “die vrede van die aarde af”.
12. Wat beeld die derde ruiter af, en hoe raak dit God se volk?
12 Die waaksame Johannes het gesien hoedat nog ’n ruiter in die gesig in ry. “Kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem . . . hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie” (Openb. 6:5, 6). Hierdie derde ruiter stel hongersnood voor. En hongersnood gaan gepaard met voedselrantsoenering, soos tydens totale oorlogvoering. Daar is selfs ’n tekort aan die basiese benodigdhede, die koring en die gars. En die rykes raak senuweeagtig, want hulle vrees dat hulle luukse-artikels, soos ‘olie en wyn’, weggeneem sal word. Hierdie ruiter het sedert 1914 met verwoestende gevolge deur die aarde gery. Inflasie, pryse wat die hoogte inskiet, die wankelende geldstelsel en die energiekrisis staan almal in verband met sy blindelingse galop. Jehovah se volk moet hulle egter nie laat ontmoedig deur enige tekorte of ekonomiese ontberings wat hulle noodgedwonge tydelik moet verduur nie. Onthou, die ruiter op die wit perd is aan die voorpunt, en hy sal ’n einde aan sulke dinge maak.
13. Wat bring die vierde ruiter, met watter uitwerking op Jehovah se volk?
13 Maar daar verskyn nog ’n ruiter. Johannes beskryf hom: “Kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openb. 6:8). Hier is die laaste ruiter, en hy is ’n grusame, want hy bring verwoestende siekte na die aarde. Hy het na die Eerste Wêreldoorlog met ’n voorsprong weggespring toe hy sowat 20 miljoen mense met die Spaanse griep in 1918-1919 gedood het. En hierdie ruiter galop nog steeds voort. Ten spyte van prysenswaardige vooruitgang op die gebied van die geneeskunde, word die mensdom vandag nog steeds deur epidemies geteister. Die hoeveelheid pille en ander medisyne wat ingeneem word, skiet die hoogte in. Maar toenemende hartaanvalle, beroerte-aanvalle, kanker, veneriese siekte en talle ander kwale laat talle in die kloue van die doderyk of Hades, die gemeenskaplike graf van die hele mensdom, beland. Veral in hierdie “tyd van die einde” sê die doderyk of Hades (Sheol in Hebreeus) nie “Genoeg” nie (Spr. 30:15, 16). As mense wat aan siekte onderhewig is, het Jehovah se volk ook gely weens die dodelike rit van die vaal perd. Maar hulle weet wat die rede vir hulle liggaamlike siektes is, en is toegerus om blymoedig te volhard in die wete dat Jesus se losprys binnekort die uitwissing van al sulke epidemies—selfs die ruiter Dood self—tot gevolg gaan hê. Al word hulle die slagoffers van die doderyk of Hades (die graf) is hulle verseker van ’n opstanding in ’n regverdige nuwe orde.—Joh. 5:28, 29.
14. Waarom moet ons dankbaar wees oor hierdie gesig, en wat moet dit ons stimuleer om te doen?
14 Daar kan vandag duidelik gesien word dat die ruiters in die saal is. Totale oorlogvoering, voedselskaarstes, epidemies en grootskaalse afsterwing is nou die onheilspellende ervaring van die hele mensdom. Dit is slegs diegene wat met die geloofsoog kyk wat die wit perd, met die allesverowerende “Koning van die konings”, die bekroonde Boogskutter, sien. Hoe dankbaar moet ons tog wees oor hierdie geloofversterkende gesig! Dit moet ons stimuleer om baie bedrywig aangaande hierdie dinge te getuig. In hierdie opsig kan ons getrou aan ons opdrag vanaf Jehovah wees deur die voorbeeld van Jesus te volg, die een wat later “Getrou en Waaragtig”—“die getroue en waaragtige Getuie”—genoem is.—Openb. 3:14; 19:11.
MOENIE DAT JOU AANDAG AFGETREK WORD NIE!
15. Waarom moet ons God se Woord eerder as die mens se woord glo?
15 Die wêreld glo nie dat sy einde ophande is nie. Dit wil ons ook oorreed om dit nie te glo nie. Maar wie gaan jy glo—hulle woord of God se Woord? Dit is God se Woord wat duidelik toon dat ons in “die voleinding van die wêreld” lewe. Nie eens die kernwapens van die “god van die vestings”—wat deur die “koning van die Noorde” vereer word—kan staande bly voor die allesoorwinnende “Koning van die konings” nie.—Dan. 11:38, 45.
16. Watter goeie raad gee Paulus in Romeine 13:11, 12, en hoe kan ons reageer?
16 Die apostel Paulus gee goeie raad aan enigiemand wat dalk lomerig geword het wanneer hy sê:
“Die uur . . . [is] reeds daar . . . om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Rom. 13:11, 12).
Ons is goed bekend met die wapens van die lig, want dit is ons wonderlike voorreg om hulle te gebruik terwyl ons “hierdie evangelie van die koninkryk” as ’n getuienis in die hele aarde verkondig.—Matt. 24:14; Ef. 6:11-17.
17. Hoe kan ons “die werke van die duisternis” vermy?
17 Maar wat van “die werke van die duisternis”? Dit is die wêreldse werke, die dinge waarin materialistiese mense hulle verlustig, sonder enige gedagte aan God of sy weg van lig. Ons moet hulle dus vermy. “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie” (Rom. 13:13). Dit is die wêreldse dinge wat ons Christelike lewens en die gemeente sal binnesypel indien ons dit toelaat. Ons moet daarteen waak. In voorspoediger lande heg mense gewoonlik groot waarde aan ontspanning en materiële dinge. In talle plekke word die werkweek al hoe korter, die liefde vir genot des te groter, en druk word op God se volk uitgeoefen om soos die wêreld te word. Gaan ons hierdie uitdaging in die Christelike gees van opoffering die hoof bied?
18. Hoe sal dit ons beskerm indien ons op geestelike sake konsentreer?
18 Indien ons bedrywig in God se diens is en wakker bly vir geleenthede om daardie diens te verrig, sal ons geen tyd hê om verstrengel te raak in “brassery en dronkenskap” en in “ontug en ongebondenheid” nie. Indien ons Jehovah en sy diens liefhet en voorkeur daaraan gee, sal dit ons beskerm (Matt. 6:33). Met ons gedagtes op geestelike sake en op die verkryging van die vrug van die gees, sal ons nederig wees en begrip toon in ons verhoudinge met ons gesinne en met ons broers. Ons sal “twis en nydigheid” vermy.
19, 20. (a) Watter goeie voorbeeld het Jesus vir ons gestel? (b) Hoe sal gehoorsaamheid aan Romeine 13:14 ons tot voordeel strek?
19 Die apostel Paulus sê voorts: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14). Die Here Jesus Christus is voorwaar vir ons ’n wonderlike voorbeeld! Dwarsdeur sy bediening op aarde was hy wawyd wakker vir die wonderlike voorreg om Jehovah se wil te doen. Hy het nooit een oomblik afgewyk van sy heelhartige diens om sy Vader se naam aan ander bekend te maak nie. Hoe onselfsugtig en selfopofferend was hy selfs op die dag dat hy moes sterf deur elke beskikbare oomblik van sy oorblywende ure te vul met waardevolle, nodige instruksie aan sy dissipels! (Joh. hfste. 13 tot 17). Toe Jesus die einde aan die folterpaal nader, het hy die dwelmmiddel van die hand gewys wat sy pyn kon verlig. Hy wou by sy volle positiewe wees en end-uit sy onkreukbaarheid behou.—Matt. 27:34.
20 Mag ons almal gereken word onder diegene wat hulle ‘met die Here Jesus Christus beklee’ en sy voetstappe noukeurig volg (1 Pet. 2:21; Matt. 16:24, 25). Deur voorsorg te maak vir geestelike dinge, nie vleeslike dinge nie, kan ons net soos Jesus wawyd wakker in Jehovah se diens bly. Laat ons dus waak en ons lewens met Koninkryksdiens vul reg tot die uur dat die “Seun van die mens” kom om oordeel te voltrek. Ons sal ’n groot beloning ontvang!