Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 5/1 bl. 12-15
  • Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe—Maar hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe—Maar hoe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vier vereistes
  • ’n Doeltreffende leerhulp
  • Dit spoor mense aan om die waarheid te gehoorsaam
  • Dit rig nuwes na die organisasie
  • Dit beklemtoon die Koninkryksprediking
  • Gebruik dit om ander te help
  • God se vreedsame nuwe wêreld—Jy kan daarin lewe
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat vereis God van ons?
  • Die Paradys
    Ontwaak!—2013
  • Hou Bybelstudies in die Paradys op aarde-boek
    Ons Koninkryksbediening—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 5/1 bl. 12-15

Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe—Maar hoe?

‘EWIGE lewe op aarde is net ’n onwerklike droom. Daar is geen manier waarop enigiemand dit kan doen nie.’

Jy het mense dit moontlik al hoor sê. Tog weet jy dat dit in die begin God se voorneme was dat gehoorsame mense vir ewig in ’n aardse paradys moes lewe. En God se voornemens bly nooit onvervuld nie! (Genesis 1:28; Jesaja 55:11). Sy Woord belowe baie duidelik: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

Dit is die aangrypende boodskap wat Jehovah se Getuies na mense bring wanneer hulle hulle tuis besoek. Die Koninkryk, met Jesus Christus as Heerser, sal toesien dat God se oorspronklike voorneme volbring word. Onder die regverdige bestuur van die Koninkryk sal hierdie aarde bewerk word om ’n pragtige paradys te word. Maar nie almal sal toegelaat word om op die paradysaarde te lewe nie. Daar is vereistes. Dit is redelik.—Mattheüs 6:10.

Dink ’n bietjie: Gestel jy was die eienaar van ’n pragtige huis omring deur netjiese tuine. Sou jy sommer enigiemand daar laat woon het? Nee, die persoon sou jou goedkeuring moes wegdra en aan jou vereistes moes voldoen. Wat vereis God van diegene wat vir ewig op sy paradysaarde wil lewe? Kom ons ondersoek vier basiese vereistes.

Vier vereistes

Jesus Christus het een van die eerste vereistes geïdentifiseer toe hy in gebed tot sy Vader gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Kennis van God en van Jesus Christus sluit kennis van God se voornemens met die aarde en van Christus se rol as die aarde se nuwe Koning in. Gaan jy sulke kennis inneem deur die Bybel te bestudeer?

Baie het die tweede vereiste moeiliker gevind. Dit is om God se wette te gehoorsaam, ja, om ’n mens se lewe te skik na die morele vereistes wat in die Bybel uiteengesit word. Dit sluit in dat ’n mens nie ’n losbandige, onsedelike lewe lei nie.—1 Korinthiërs 6:9, 10; 1 Petrus 4:3, 4.

’n Derde vereiste is assosiasie met God se kanaal, sy organisasie. God het nog altyd ’n organisasie gebruik. In Noag se dag het byvoorbeeld slegs diegene in die ark die Vloed oorlewe, en in die eerste eeu het slegs diegene wat aan die Christengemeente verbonde was God se guns geniet (Handelinge 4:12). Jehovah gebruik vandag eweneens slegs een organisasie om sy wil te laat geskied. Om ewige lewe in die aardse paradys te ontvang, moet ons daardie organisasie identifiseer en God as ’n lid daarvan dien.

Die vierde vereiste staan in verband met lojaliteit. God vereis dat voornemende onderdane van sy koninkryk sy regering ondersteun deur sy Koninkryksheerskappy lojaal by ander voor te staan. Jesus Christus het verduidelik: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld” (Mattheüs 24:14). Gaan jy aan hierdie vereiste voldoen deur vir ander van God se koninkryk te vertel?

Jy is moontlik deeglik bewus van hierdie vereistes. Maar baie mense is onbekend met God se voornemens en sy vereistes. Nou het ons ’n wonderlike instrument om sulke persone te help. Dit is die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Gebruik jy dit om ander te leer wat God van hulle vereis?

’n Doeltreffende leerhulp

Die nuwe Paradys op aarde-boek bevat kennis wat tot die ewige lewe lei. Dit bespreek belangrike Bybelwaarhede wat mense moet verstaan alvorens hulle hulle lewens aan Jehovah God kan toewy en hom op aanneemlike wyse kan dien. ’n Getuie van Ohio, V.S.A., het waardering vir hierdie nuwe Bybelstudiehulp uitgespreek en geskryf:

“In Junie het ek geen Bybelstudies gehad nie. Vandag het ek drie Bybelstudies en ek staan op die punt om ’n vierde te begin. Al drie Bybelstudies word uit hierdie nuwe publikasie gehou. Al drie is gereeld en opwindend. Die boek beantwoord die student se vrae saaklik en duidelik. . . . Ek kan nie genoeg ‘Dankie’ sê dat julle dit so maklik gemaak het om Bybelstudies te hou en ook omdat julle al die noodsaaklike aspekte dek wat nodig is sodat die student ’n blywende en hartgrondige waardering vir Jehovah en sy organisasie kan verkry nie.”

Die volgende brief wys ook op die boek se doeltreffendheid: “Ek het al drie Bybelstudies in hierdie boek begin en ek het gevind dat die boek baie goed is vir enige ouderdomsgroep. Ek het ’n studie met ’n vrou wat 83 jaar oud is, een met twee meisietjies wat 11 jaar oud is en een met ’n vrou wat 50 jaar oud is. Dit is ’n groot voorreg om verbonde te wees aan ’n organisasie wat presies weet wat nodig is om die meeste mense te help om van Jehovah en sy voornemens vir die aarde en die hele mensdom te leer.”

Dit spoor mense aan om die waarheid te gehoorsaam

’n Persoon moet nie net lewegewende kennis inneem nie, maar ook sy lewe na God se morele vereistes skik as hy vir ewig in die Paradys op aarde wil lewe. Die Paradys op aarde-boek help mense om dit te doen. Dit bevat nie alleen reguit raad oor sondes wat vermy moet word en oor hoe om dit te vermy nie, maar ook aansporing om te doen wat reg is. Die boek lê Satan se listige planne goed bloot. Dit beskryf ook duidelik die stryd wat die Christen moet voer om te doen wat reg is.

’n Sendeling van Jehovah se Getuies in Panama het byvoorbeeld geskryf oor ’n jong man wat die Bybel bestudeer: “Hy het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe die laaste week van Julie gekry. Sy moeder het dit vir hom by die ‘Koninkrykswaarheid’-Streekbyeenkoms in Hawaii gekry. By die Diensvergadering op Donderdag, 29 Julie, het hy my meegedeel dat hy opgehou rook het as gevolg van wat hy in die boek gesien het.

“Toe ek hom Vrydag vir sy tuisbybelstudie besoek het, het ek hom gevra om vir my te wys wat hom so beïndruk het. Hy het vir my die prent op bladsy 131 gewys wat bedrywighede uitbeeld wat deur God veroordeel word en wat deur onderdane van God se regering vermy moet word. ‘Kyk’, het hy gesê, ‘die sigaret beslaan twee hele blokkies!’ Toe het hy my aandag gevestig op die prent op bladsy 227 en die materiaal op bladsy 226 oor gebede om hulp wanneer ’n mens in die versoeking kom om te rook. ‘Dit het die deurslag gegee! Ek het vir Sunshine [sy dogtertjie] gesê om daar en dan van die sigarette ontslae te raak!’ So het sewentien jaar se rokery geëindig! Dit is onnodig om te sê dat ons die boek daardie aand met hom begin bestudeer het. Enige boek wat so kragtig is, moet nie op die rak bly lê nie.”

In ’n ander brief van waardering het een persoon geskryf: “Ek wil julle bedank vir die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Daardie publikasie het my gehelp om ’n groot fout te vermy.

“Een van my kollegas het my genader en my gevra om by hom te kom kuier. Ek het presies geweet wat hy in gedagte gehad het. Hoewel ek effens geskok was, het ek nogtans lus gevoel om te gaan, daarom het ek nie geantwoord nie. Die persoon het dus die besluit aan my oorgelaat en gesê: ‘Ontmoet my 4 nm. hier as jy wil kom.’

“Teen 3 nm. het ek nog steeds nie besluit wat om te doen nie. Ek het geweet wat dit aan my verhouding met Jehovah sou doen, maar ’n stemmetjie het aaneen vir my vertel dat niks sal gebeur nie. Ek het geweet dat ek myself verswak het tot die punt waar ek daarvoor wou swig deur daaraan te dink in plaas daarvan om dit uit my gedagte te ban —maar ek het nie heeltemal geswig nie.

“Net die aand tevore het ek die Paradys op aarde-boek gelees, en ek is baie beïndruk deur die hoofstuk ‘Die stryd om te doen wat reg is’ en die hoofstuk oor ‘Gebed’. Wel, in die boek sê dit dat jy nie tot Jehovah om krag moet bid nadat jy iets verkeerds gedoen het nie, maar wanneer jy in die versoeking kom. Omdat ek geweet het dat ek absoluut geen krag gehad het om myself te dwing om die persoon nie om 4 nm. te ontmoet nie, het ek Jehovah gevra om krag om my te verset. Ek het vir hom vertel presies hoe ek voel. My vurige gebed op sigself het my krag gegee. . . . Toe ek eindelik weer hierdie kollega raakgeloop het, was ek sterk genoeg om die regte Christelike standpunt in te neem en selfs ’n getuienis te gee. Nogmaals dankie vir daardie duidelike raad.”

Dit rig nuwes na die organisasie

Nog ’n noodsaaklike gebied wat deur die boek gedek word, is die nodigheid om God se sigbare organisasie te identifiseer en daarmee te assosieer, ’n Reisende bedienaar van Jehovah se Getuies het hieroor kommentaar gelewer: “Meer as 25 jaar lank al word ons aangespoor om ons Bybelstudente van die organisasie te leer en elke studie tyd af te staan om hulle van een aspek daarvan te vertel. Ek is so bly dat ’n hoofstuk hieroor by die studiehulp ingesluit is; verkondiger sowel as studente kan dit nou nie mis nie!”

Wel, hoofstuk 23, “God se sigbare organisasie”, toon duidelik hoedat Jehovah deur die eeue heen altyd ’n organisasie gebruik het. En die Paradys op aarde-boek beskryf die funksie van God se hedendaagse, sigbare organisasie en rig nuwelinge na daardie skuilplek. Nie alleen die vyf weeklikse vergaderinge van Jehovah se Getuies word kortliks bespreek nie, maar Bybelstudente word ingelig omtrent die organisasie se reëlings vir kringbyeenkomste en groot byeenkomste.

Dit beklemtoon die Koninkryksprediking

’n Persoon kan die waarheid ken wat lei tot ’n aardse paradys; hy kan ’n sedelike lewe lei; hy kan met God se organisasie assosieer; hy sal dalk nogtans nie in aanmerking kom vir lewe as ’n burger van God se regverdige nuwe stelsel nie. Wat ontbreek? Die persoon moet ook ’n voorstander van die waarheid wees. Hy moet ’n Koninkryksverkondiger wees! Die Paradys op aarde-boek bring hierdie gedagte algaande op ’n baie logiese, nuttige wyse tuis. Reeds in die 15de hoofstuk sê dit byvoorbeeld onder die tussenhofie “Lojaliteit aan God se regering”:

“Dit behoort ons nie te verbaas dat Jehovah God vereis dat sy onderdane sy Koninkryksregering lojaal moet ondersteun nie. Menseregerings vereis dieselfde van hulle burgers. Maar op watter spesiale manier wil God hê dat ons ons lojale steun moet gee? Deur die wapens op te neem om vir sy koninkryk te veg? Nee. Net soos Jesus Christus en sy vroeë volgelinge moet hulle eerder lojale woordvoerders vir of verkondigers van God se koninkryk wees (Mattheüs 4:17; 10:5-7; 24:14). Dit is Jehovah se wil dat almal moet weet wat sy koninkryk is en hoe dit die mensdom se probleme gaan oplos. Het jy al vir jou familielede, vriende en ander vertel van die dinge wat jy uit God se Woord geleer het? Dit is God se wil dat jy dit doen.”

Gebruik dit om ander te help

Net soos vorige Wagtoring-publikasies bevat hierdie boek Bybelwaarhede wat tot ’n aardse paradys lei. Ons spoor jou aan om dit noukeurig te lees en te bestudeer. Gebruik dit dan om ander te help om te voldoen aan die vereistes om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe.

Bied gerus die boek aan diegene wat jy in jou daaglikse bedrywigheid teëkom, soos ambagsmanne of bure wat na jou huis kom. By die byeenkomste van Jehovah se Getuies die afgelope somer het diensmeisies in motelle sowel as ander mense die boek gesien en vir Getuies gevra hoe hulle ’n eksemplaar kan bekom. Ja, mense sien die mooi omslag en die duidelike titel Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe en hulle wil die boek hê. Hou dus ’n voorraad byderhand om by mense te laat wanneer die geleentheid hom voordoen. Moenie van jou familielede vergeet nie. Sorg gerus dat hulle almal ’n eksemplaar kry.

[Prent op bladsy 14]

Die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe is waarlik ’n uitstekende leerhulp om nuwe Bybelstudies mee te hou

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel