Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 5/1 bl. 16-21
  • ‘Let op Jesus’ terwyl wêreldonheil nader

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Let op Jesus’ terwyl wêreldonheil nader
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Let op Jesus’
  • Vertroue op ons Hoëpriester
  • Die Voleinder van ons geloof
  • Bybelboek nommer 58—Hebreërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bring offers wat Jehovah behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe Jesus Christus ons kan help
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 5/1 bl. 16-21

‘Let op Jesus’ terwyl wêreldonheil nader

“Heilige broeders, . . . let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, . . . Jesus.”—HEBREËRS 3:1.

1, 2. Hoe kan ons baat vind by ’n antieke onheil wat in Rome gedenk word?

IN ROME kan jy grafiese getuienis vind van ’n onheil—’n onheil wat ’n groot uitwerking op jou lewe behoort te hê. In die antieke Romeinse Forum staan die Boog van Titus ter herdenking van generaal Titus se verowering en vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. ’n Reliëf op die boog toon hoedat geboeide Jode gedwing word om oorlogsbuit uit hulle stad te dra.

2 As Christene kan ons baat vind by daardie onheil deur tydige Bybelraad te ondersoek wat klaarblyklik sowat nege jaar voor daardie vernietiging geskryf is. Dit is in die boek Hebreërs, wat die apostel Paulus aan Hebreeuse Christene in Jerusalem en Judea geskryf het.

3. Wat het die Hebreeuse Christene in Jerusalem se situasie bemoeilik?

3 Ons broers aldaar het destyds in ’n baie moeilike situasie verkeer. Hoewel dit gelyk het of Rome ten volle in beheer van Judea was, was baie Jode opstandig (Handelinge 5:36, 37). Stel jou die geweldige druk voor wat sulke Jode uitgeoefen het op Jesus se volgelinge wat nie saam met die Jode teen Rome kant wou kies nie omdat hulle “nie van die wêreld” was nie (Johannes 17:16). Nog ’n rede waarom die Hebreeuse Christene vervolg is, was die Jode se meerderwaardigheidsgevoel omdat hulle deur God gekies is, hulle ’n party tot die Wetsverbond was en ’n vorm van aanbidding gegee is waarin Levitiese priesters en offerandes ’n rol gespeel het.

4. (a) Waarom kan daar gesê word dat Jesus aan “die voleinding van die tye” verskyn het? (b) Wat het Jesus aangaande daardie voleinding voorspel?

4 Die Joodse tydperk—met sy tempelofferandes, priesters, feeste en Sabbatte—het eers ná die Messias se offerdood geëindig (Galasiërs 3:24, 25; Kolossense 2:13-17). Paulus kon gevolglik skryf dat God se Seun “een keer in die voleinding van die tye (stelsels, NW]” as ’n mens verskyn het (Hebreërs 9:26, NTP; 1:1). Met die vernietiging van die tempel sou daardie voleinding onteenseglik duidelik wees. Toe Jesus daardie vernietiging voorspel het, het sy dissipels gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees?” (Mattheüs 23:37-24:3). Jesus het geantwoord dat daar oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes en ’n omvattende Koninkrykspredikingswerk sou wees voordat die einde kom (Mattheüs 24:4-14; Lukas 21:10, 11). Daardie woorde is bewaarheid in die geslag tussen die tyd toe Jesus die profesie uitgespreek het en die tyd toe Paulus Hebreërs geskryf het. Christus het ook ’n ‘groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af nie gewees het nie’ vir Jerusalem voorspel (Mattheüs 24:21). Die vernietigende verdrukking wat Jerusalem in 70 G.J. getref het, was ongeëwenaard en onherhaalbaar vir daardie stad. Tog was dit slegs ’n kleinskaalse vervulling. Waarom? Omdat ’n “groot verdrukking” vir die hele wêreld in die verre toekoms sou plaasvind.

5. Hoekom sal daar nog op ’n groter skaal ’n “groot verdrukking” wees?

5 Die feite bewys dat Jesus se profetiese woorde ’n groter, ’n belangriker vervulling tydens sy “koms en . . . die voleinding van die wêreld” sou hê (Mattheüs 24:3). Openbaring hoofstuk 6, wat dekades na Jerusalem se verdrukking geskryf is, het ook oorlog, hongersnood en siekte voorspel. Dit sou veel meer as Judea raak, want Openbaring het gesê dat die oorlog “die vrede van die aarde af” sou wegneem (Openbaring 6:4). Wêreldverwikkelinge sedert die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 toon dat ons lewe in die voleinding van die huidige goddelose stelsel wat ’n hoogtepunt in ’n “groot verdrukking” sal bereik. Hierdie verdrukking sal goddeloosheid van die aarde af uitwis en die weg vir ’n paradys onder die heerskappy van God se koninkryk baan.

6. Wat toon dat die boek Hebreërs met ons tyd in gedagte geskryf is?

6 Die boek Hebreërs wys reg tot in ons dag. Paulus het daarin geskryf dat Christus destyds in die hemel gewag het “totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete” (Hebreërs 10:13). Die boek praat ook van die tyd “wanneer [God] weer die Eersgeborene in die wêreld inbring”a (Hebreërs 1:6). Dit is nou! Die getuienis toon dat Christus koningskap ontvang het en teen God se vyande in die hemel opgetree het (Openbaring 12:7-12). Christus het sy aandag op die bewoonde aarde gevestig daar hy onsigbaar teenwoordig is. Soos Jesus voorspel het, sal ons dus binnekort die kritieke verwydering van God se vyande van ons aardbol af beleef. Watter raad bevat Hebreërs gevolglik vir ons?

‘Let op Jesus’

7, 8. Waarom het Hebreërs gepas die aandag op Jesus gevestig?

7 Paulus het veral die aandag op Jesus gevestig. Hy het geskryf: “Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dit: Ons het so ’n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele” (Hebreërs 8:1). Waarom was dit veral gepaste raad vir Christene wat aan die voleinding van ’n stelsel gelewe het?

8 Verdraaide beskouings van Jesus het al lank bestaan. Die eerste-eeuse Jode was trots op die feit dat hulle afstammelinge van Abraham was, ’n godsdiens beoefen het wat deur Moses gegee is en priesters in die geslag van Aäron gehad het. Hulle het bes moontlik gedink: ‘Hierdie Jesus van Nasaret is sommer ’n Galilese timmerman se seun.’ Hulle het selfs die Seun van God daarvan beskuldig dat hy ’n Samaritaan was wat van die duiwel besete was (Johannes 7:52; 8:39-41, 48; 9:24, 28, 29). God het Hebreeuse Christene gevolglik wyslik aangespoor om ‘op Jesus te let’, omdat ’n regte, gebalanseerde beskouing van en verhouding met die Seun van God daardie Christene sou help om getrou te bly.

9. Wat maak die raad om ‘op Jesus te let’ vandag gepas, maar waarteen moet ons waak?

9 Die goddelike raad in Hebreërs is ook vir ons nuttig omdat valse en verdraaide beskouings van Christus nog steeds volop voorkom. Anders as Jesus se Joodse teenstanders wat hom verneder het, oordryf baie mense vandag sy rol. Hulle kerke beweer dat Jesus deel van ’n drie-enige God is en dat die Vader, Seun en Heilige Gees gelyk is. Maar wie kry die meeste aandag? Jesus. Hy word op die voorgrond gestoot, en die Vader agter in die skadu gedruk. Dit bied ’n uitdaging aan ware Christene. In Johannes 14:28 het Jesus gesê dat sy Vader groter is, en Psalm 83:19 sê dat “U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde”. Maar ons moet nie oorreageer op die verdraaide beskouings van Jesus en onbewustelik sy ware posisie kleineer nie. Net soos in die geval van die Hebreeuse Christene sal ’n gebalanseerde en akkurate taksering van Jesus van onskatbare waarde wees terwyl ons die toekoms tegemoetgaan.

10. Wat toon Hebreërs oor Jesus se posisie?

10 Die boek Hebreërs open deur die aandag op Christus se voortreflike posisie te vestig. Hy is nou ’n verheerlikte gees, “die ewebeeld van die wese van God”. Dit impliseer nie dat die Vader en die Seun een persoon of een god is nie, want Hebreërs 1:3 (NTP) voeg by dat Jesus “gaan sit [het] aan die regterhand van die Majesteit [“van God”, Today’s English Version] in die hoë hemel”. Tekste soos Hebreërs 2:10 en 5:5, 8 toon ook dat Jehovah hoër as die Seun is. Christus het nietemin nou “’n voortrefliker naam [posisie of reputasie] . . . as [die engele]”.—Hebreërs 1:4.

11. (a) Hoe behandel God se engele Jesus Christus? (b) Hoe moet ons Hebreërs 1:6 verstaan?

11 Net soos die getroue engele moet ons ook Christus se verhewe posisie erken. Waar Hebreërs 1:6 uit Psalm 97:7 (Griekse Septuaginta) aanhaal, sê dit: “Al die engele van God moet Hom aanbid.” Volgens ander vertalings moet die engele “neerval voor”, “neerbuig voor” of “hulde bewys” aan die Seun.b Die verband dui daarop dat dit beteken dat selfs die engele aan Jesus hulde bewys as God se vernaamste verteenwoordiger en verhewe Seun. Hulle besef dat hy “met heerlikheid en eer gekroon” is en gesag oor die toekomstige wêreld ontvang het.—Hebreërs 2:5, 9.

12. Waarom is dit belangrik dat ons ag gee op Jesus se woorde?

12 Watter uitwerking moet dit op ons hê? Nadat Paulus getoon het dat Jesus voortrefliker as die engele is, sê hy: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1). Soos die Hebreeuse Christene geweet het, het die Jode baie lank aandag geskenk aan God se Woord of Wet soos dit deur Moses gegee is. Dit is baie noodsaakliker dat ons aandag skenk aan goddelike leiding wat deur Jesus voorsien is.

13. Hoe kan Christene baat vind deur ag te gee op Jesus se woorde? Lig dit toe.

13 Dink, ter stawing hiervan, aan wat Jesus Christus gesê het oor die nodigheid om te vlug wanneer Jerusalem deur leërs omsingel is (Lukas 19:43, 44; 21:20-24). Die Romeine het opstandige Jerusalem in 66 G.J. omsingel, maar toe om ’n onverklaarde rede teruggetrek, waarna die Christene uit die stad gevlug het. Hulle gehoorsaamheid aan Jesus het hulle lewens gered toe die Romeine in 70 G.J. teruggekeer en onheil gebring het. Kom ons leer ’n les hieruit: Met ’n wêreldonheil voor die deur, kan jy jouself afvra: ‘Gee ek noukeurig ag op Jesus se woorde? Toon die hoeveelheid tyd wat ek aan ontspanning wy, my gesindheid teenoor my werk of onderneming, of my beskouing van wêreldlike geleerdheid byvoorbeeld dat ek ag gee op Jesus se woorde in Lukas 12:16-31?’

14. (a) In watter opsig is Jesus die ‘Vernaamste Bewerker van redding’? (b) Hoe is Jesus “volmaak”?

14 Hebreërs 2:10 (NW) noem Jesus die ‘Vernaamste Bewerker van redding’. Dit is eerstens die geval ten opsigte van gesalfde Christene wat sy “broeders” is (Hebreërs 2:11-17). Maar almal wat hoop op lewe op ’n paradysaarde maak ook op hom staat vir redding. Paulus het geskryf: “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem ’n hoëpriester” (Hebreërs 5:8-10). Jesus was natuurlik ’n volmaakte gees, en op aarde was hy fisies volmaak. Maar met die oog op sy rol as ons priester moes Jesus in ’n ander sin volmaak word. Op aarde het hy opleiding—opvoeding, dissipline en die beproewing van sy gehoorsaamheid selfs tot die dood toe—ontvang om hom as ’n barmhartige en simpatieke hoëpriester te volmaak.

Vertroue op ons Hoëpriester

15. Waarom vind ons dat die boek Hebreërs so baie oor priesters sê?

15 Wanneer jy Hebreërs lees, kan jy sien dat dit baie oor priesters sê. Dit is om ons begrip van en waardering vir die “Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus” te vergroot (Hebreërs 3:1). Paulus verduidelik: “Elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan, om gawes en offers vir die sondes te bring” (Hebreërs 5:1; 8:3). ’n Groot deel van die Wetsverbond het die feit beklemtoon dat mense sondaars is. Dit is waarom priesters, wat ook offers gebring het om vir hulle eie sondes versoening te doen, offerandes ten behoewe van die mense gebring het. Maar die diereoffers wat keer op keer herhaal is, het nie sonde weggeneem of enige van die mense volmaak gemaak nie (Hebreërs 7:11, 19, 27; 10:1-4, 11). Dit bewys dat ’n nuwe verbond nodig was, tesame met ’n nuwe offerande en ’n nuwe hoëpriester.—Jeremia 31:31-34.

16. Hoe oortref die priester Jesus Israelitiese priesters?

16 Dit is wat ons in Christus het. Jesus, wat afgeskadu is deur Melgisedek, wie se afkoms nie in die Bybel aangegee word nie, het nie ’n priester geword omdat hy van Levi of Aäron afgestam het nie. God het hom regstreeks aangestel (Hebreërs 7:1-3, 15-17; 5:5, 6). As God Jesus as hoëpriester goedkeur, kan ons mos ons volle vertroue in hom stel, nie waar nie? Daarbenewens sal hy nie binnekort doodgaan en vervang moet word soos dit die geval met priesters onder die Wet was nie. Hy kon ’n laaste offer, sy eie liggaam, bring; dit was volmaak, en die offer sou nooit herhaal hoef te word nie. Christus ons hoëpriester het die waarde van sy lewensbloed hemel toe geneem en dit voor God aangebied. Hy is nog steeds daar en dien as ’n priester ten behoewe van ons.—Hebreërs 9:24-28; 10:12-18.

17. Hoe word ons gehelp deur Jesus as hoëpriester te hê?

17 Ons kan ons hoëpriester vertrou terwyl ons die komende wêreldonheil tegemoetgaan. Anders as die offerandes onder die Wet, kan Christus se volmaakte offerande ten volle vir ons sondes versoening doen. Daarbenewens kan dit ons “gewete reinig van dooie werke [goddelose strewes van die verlede sowel as persoonlike pogings om onsself voor God te regverdig] om die lewende God te dien” (Hebreërs 9:14; 10:1-4). Ons moet saamstem dat ’n rein gewete voor God van onskatbare waarde is wanneer ons in ’n moeilike situasie is en onder druk verkeer (Hebreërs 10:19-22). Ons kan ook op ander maniere behae skep in die feit dat Jesus ’n permanente hoëpriester in die hemel is.

18. Waarom was dit en is dit goed om te weet dat ons hoëpriester simpatiek is?

18 Die boek Hebreërs verseker ons dat Christus ’n simpatieke priester is. Jy kan jou voorstel watter besluite die Hebreeuse Christene moes neem en met watter probleme hulle te kampe gehad het in die patriotiese klimaat van Jerusalem terwyl hulle hulle voorberei het om te vlug en hulle huise, familielede en werk agter te laat. Tog was hulle nie heeltemal op hulle eie nie. Paulus het geskryf: “Ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” Hoe vertroostend moes dit tog vir hulle gewees het, en in die laaste dae van hierdie stelsel moet dit ook met ons die geval wees! Met so ’n simpatieke hoëpriester kan “ons barmhartigheid . . . verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:15, 16). Dit maak nie saak watter beproewing ontstaan nie, hy kan “dié help wat versoek word”.—Hebreërs 2:17, 18.

Die Voleinder van ons geloof

19, 20. Hoe is Jesus die ‘Voleinder van ons geloof’?

19 Ons geloof is spesifiek by die saak betrokke terwyl ons ‘op Jesus let’. Nadat Paulus gepraat het van “die sonde wat ons so maklik omring—gebrek aan geloof—sê hy dat ons ‘die oog gevestig moet hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof’ (Hebreërs 12:1, 2). Waarom is dit noodsaaklik gedurende die voleinding van die huidige stelsel?

20 Vanaf sy eerste profesie in Genesis 3:15 wys die Bybel op die Christus. Hy is die middelpunt van baie dinge wat in die Bybel voorspel en afgebeeld is. Baie van die aspekte van die Mosaïese Wet wat in die boek Hebreërs gemeld word, was “’n skadubeeld van die weldade wat sou kom” (Hebreërs 9:23; 10:1, NTP). Maar “die werklikheid is Christus” (Kolossense 2:17, NTP). Ja, Jesus se geboorte, aardse bediening, offerdood, opstanding en priesterdiens in die hemel voleindig of volbring al die profesieë, beelde en patrone aangaande hierdie dinge.

21. In watter bykomende sin is Jesus vandag die ‘Voleinder van ons geloof’?

21 Hoewel Paulus Christus as die ‘Voleinder van ons geloof’ kon herken, het ons vandag meer rede om dit te doen. Ons sien die groter vervulling van Jesus se woorde oor die ‘teken van sy koms en die voleinding van die wêreld’ (Mattheüs 24:3). Daarom het ons geloof ’n vaster grondslag. Verlossing tot in “die toekomstige wêreld” is ook soveel nader as in Paulus se dag. Laat ons dan voortgaan om te let op Jesus, die Voleinder van ons geloof, vol vertroue dat God “’n beloner is van die wat Hom [in geloof] soek” (Hebreërs 2:5; 11:6). Soos die volgende artikel sal toon, kan die boek Hebreërs ons help om die nodige geloof en Christelike beskouing te hê sodat ons in ’n posisie is om die wonderlike beloning te ontvang.

[Voetnote]

a Kyk “Vrae van lesers”, bladsy 31.

b Paulus het die Griekse woord proskynéo gebruik wat volgens The Greek-English Lexicon of the New Testament (Bauer, Arndt, Gingrich) “slaan op die gebruik om ’n mens voor ’n persoon neer te buig en die voete, die soom van sy kleed, die grond te soen” (1 Samuel 24:9; 2 Konings 2:15). Dit kan ook “aanbid” beteken, en dit is hoe party Bybels in Hebreërs 1:6 lui. Indien dit hier die korrekte betekenis is, beteken dit klaarblyklik ’n relatiewe aanbidding, ’n aanbidding van Jehovah God deur sy verheerlikte Seun.—Vergelyk Openbaring 14:7; The Watchtower van 15 November 1970, bladsye 702-704.

Kan jy verduidelik?

◻ Hoe kom ons situasie ooreen met dié van die Christene aan wie die boek Hebreërs geskryf is?

◻ Waarom moet ons ’n gebalanseerde beskouing van Jesus hê en op sy woorde ag slaan?

◻ Waarom sê Hebreërs baie oor offerandes en priesters?

◻ Hoe voel jy oor Jesus as Hoëpriester en Voleinder van die geloof?

[Venster op bladsy 18]

HULDE of AANBIDDING

ln Hebreërs 1:6 kan die Griekse woord proskynéo beteken:

1. ’n Eerbiedige huldeblyk, soos om ‘neer te buig’, aan Jesus as die een wat deur Jehovah God vereer en verheerlik is

2. Die aanbidding van Jehovah God deur middel van sy vernaamste verteenwoordiger, sy Seun Jesus

[Prent op bladsy 19]

Jesus het ’n offer gebring met duursamer waarde as dié wat die priesters by die tempel geoffer het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel