Jongmense, ‘wat julle saai, sal julle maai’
DIT was ‘n roerende toneel. Jesus Christus het geweet dat sy aardse bediening besig was om ten einde te loop. Binnekort sou hy Jerusalem binnegaan, waar ‘n pynlike dood op hom gewag het.
Jesus het “groot menigtes” geleer, mense wonderdadig genees en sy dissipels vermaan terwyl hy nog tyd gehad het (Mattheüs 19:2-12). Voorwaar ‘n besige rooster! Sy dissipels het moontlik gedink dat hy te besig was om lastig geval te word deur “blote” kinders, wat na hom gebring is “dat Hy hulle die hande sou oplê en bid” (Mattheüs 19:13, vgl. NW). In elk geval, hulle het begin om die welmenende ouers van die klein kindertjies te “bestraf”.—Lukas 18:15.
Maar hoe het Jesus gereageer? “Maar toe Jesus dit sien, het Hy [die dissipels] dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën” (Markus 10:13-16). Hoe bly moes die ouers en daardie kinders tog nie gewees het nie!
Hierdie voorval toon die tere besorgdheid wat Jesus Christus teenoor jongmense het. Jesus se besorgdheid weerspieël weer Jehovah God se gesindheid volmaak. Dit was Jehovah wat liefdevol ‘n belofte van ‘n lang lewe ingesluit het in sy gebod dat jongmense hulle ouers moet eer (Exodus 20:12; Efesiërs 6:1-4). In die Mosaïese Wet het Jehovah daarbenewens spesiale voorsienings getref vir die geestelike onderrig van kinders (Deuteronomium 6:6, 7). Is jy ‘n ouer? Dan is die teer gevoelens wat jy vir jou kinders het slegs onvolmaakte weerspieëlings van die gevoelens wat getoon word deur “onse God en Vader, wat ons liefgehad het”.—2 Thessalonicense 2:16; Genesis 1:26.
Ernstige waarskuwings
Maar Jehovah God en Jesus Christus se geneentheid vir jongmense is nie sentimenteel nie. Dit sien nie oortreding deur die vingers nie (Spreuke 15:3). Die beginsel dat ‘net wat die mens (‘n jong persoon inkluis) saai hy ook sal maai’, kan nie deur teer gevoelens geloën word nie. Jongmense en ouers moet dit besef.—Galasiërs 6:7, 8.
Omdat Jehovah besorg is oor jongmense, het hy reguit waarskuwings aan hulle in sy Woord ingesluit, ‘n Geïnspireerde spreuk sê byvoorbeeld: “‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” Ja, growwe oneerbiedigheid deur jongmense kan hulle lewe kos!—Spreuke 30:17; vergelyk Exodus 21:15, 17.
Jehovah weet goed dat jongmense ‘n soort ‘kuddegees’ het. As jy ‘n jong persoon is, kan jy waarskynlik getuig van die groot druk wat jy ondervind om soos jou portuurs te praat, aan te trek en op te tree. As jou metgeselle goed is, kan hierdie portuurdwang voordelig wees. Maar as jy deur slegte invloed omring word, kan die gevolg inderdaad skadelik wees (Spreuke 13:20). Dit was om jongmense—trouens, al die mense van Israel—teen besoedeling deur slegte, opstandige invloede te beskerm dat die Mosaïese Wet die doodstraf in uiterste gevalle voorgeskryf het. Ja, ‘n koppige en wederstrewige seun moes om die lewe gebring word om ‘die kwaad uit hulle midde uit te roei’ (Deuteronomium 21:18-21). Israelitiese ouers wat hulle kinders teen verdorwe omgang wou beskerm, het ongetwyfeld daardie wet op prys gestel.
Die Bybel toon hoe sleg dinge presies kan word wanneer jongmense sonder dissipline saamkom. Jehovah se getroue profeet Elisa het ‘n bende jeugmisdadigers teëgekom terwyl hy van Jerigo na Bet-el gereis het. Hulle het hom uitgekoggel en groot oneerbiedigheid teenoor hom en sy profetiese amp getoon. “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep (2 Konings 2:23). Hiermee het hulle moontlik bedoel dat hy die aarde moes verlaat soos hulle gemeen het sy voorganger Elia gedoen het. In elk geval, hulle wou nie God se verteenwoordiger in die omgewing hê nie.
Elisa het hulle spot en beledigings ‘n ruk verduur. Die verhaal lui: “Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur.” Hoe moes die ouers van daardie kinders tog gewens het dat hulle hulle gedissiplineer het en vir hulle eerbied vir ouer persone geleer het! (2 Konings 2:24; Levitikus 19:32). Maar nou was dit te laat! Hulle het die oes van hulle versuim gemaai.
Wêreldse jongmense spot vandag gereeld met onderwysers, ouers en enigiemand in gesag. Televisiedraaiboekskrywers word dikwels groot bedrae betaal om kinders as slim en volwassenes as dom uit te beeld. Jong Christene word omring deur oneerbiedige persone en omgang wat potensieel sleg is. Ongelukkig is sommige hierdeur beïnvloed. Maar dit hoef nie met jou te gebeur nie. Kweek heilsame eerbied vir ouer persone en veral vir jou ouers aan.
‘n Woordjie aan ouers
As jy ‘n ouer is, moet die gesindheid en gedrag van jou kind vir jou ‘n saak van erns wees, want jy wil beslis hê dat jou kind ‘in die gees moet saai’. Ouers, hoe gedra julle jonger kinders hulle dus by vergaderinge van Jehovah se Getuies? Toon hulle die nodige eerbied vir ander? Hoe reageer hulle wanneer ouer persone met hulle praat? Beheer hulle hulself na afloop van die vergadering, of hardloop hulle in die Koninkryksaal rond? Hoe reageer jy as ‘n saalwagter jou daarop attent moet maak dat jou kinders ander steur of selfs ‘n gevaarlike situasie skep? Besef jy dat saadjies van oneerbiedigheid en wanordelikheid, wat nou verskoon word omdat jy meen dat jou kinders ‘te jonk is om van beter te weet’, later daartoe kan lei dat jy die bittere vrug van openlike opstandigheid maai?
Sulke vrae gee Christenouers inderdaad stof tot nadenke. Hulle moet hulle kinders dus deur woord en voorbeeld help om ‘in die gees te saai’.
Wees versigtig
As jy ‘n jong persoon is, moet jy jou persoonlik inspan om ‘in die gees te saai’. Dit verg versigtigheid en goeie oordeel in verskeie dinge, onder meer vermaak.
Sommige tienderjariges is byvoorbeeld beïnvloed deur die slegte omgang wat aangetref word in televisievervolgverhale. Hierdie programme is soos ‘n opleidings-kursus in vleeslike denke en die aankweek van verkeerde begeertes. Hoewel hierdie vervolgverhale eens geskryf is vir verveelde huisvrouens, word hulle nou al hoe meer op jongmense gemik. Jongmense, vra jul-self dus af: Is dit moontlik om na sulke dinge te kyk en steeds die Bybel se raad te volg: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie”? Onthou dat die apostel Johannes voorts gesê het: “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” As jy die ewige lewe wil hê, moet jy wêreldse begeertes verwerp.—1 Johannes 2:15-17.
As jy lief is vir hierdie vervolgverhale, is dit omdat jy die wêreld haat en geen deel daarvan wil wees nie? Of is dit omdat jy in die geheim na so ‘n lewenswyse hunker? Een jong Christin, ‘n voltydse bedienares, het haarself betrap dat sy na hierdie programme kyk en dink: ‘Wel, as ek nie hierdie onsedelike dinge kan doen nie, kan ek ten minste kyk hoe ander dit doen.’ Het dit al met jou gebeur? Watter soort saadjies word dan in jou hart gesaai? Wat kan jy verwag om in ‘n oomblik van swakheid of versoeking te doen?
‘Saai in die gees’
Jongmense, die wêreld maak dit baie maklik om ‘in die vlees te saai’. Daar woed ‘n stryd om die beheer van jou hart, en lydelike verset aan jou kant is nie genoeg nie. Die apostel Paulus het gesê: “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”—Galasiërs 6:8.
Daar is ‘n ou spreekwoord wat lui! ‘Aanval is die beste verdediging.’ As jy “die begeerlikheid van die vlees” in hierdie goddelose dae wil weerstaan, moet jy op die aanval bly! Saai met die oog op geestelike dinge. Maak jou hart so vol geestelike verwagtinge, planne en begeertes dat vleeslike begeertes verdring word.
Is daar ‘n verskil tussen jou doelwitte en dié van jou wêreldse klasmaats? Daar behoort te wees, indien jy in alle erns “in die Gees saai”. Baie van jou medeskoliere beplan waarskynlik om die skool te verlaat, ‘n betrekking te kry en baie geld te maak. Maar wat van jou? Met die oog op geestelike dinge kan jy gerus beplan om die voltydse diens te betree, moontlik met die hoop om eendag in ‘n Bethelhuis of as ‘n reisende opsiener of ‘n sendeling te dien.
Moenie tevrede wees om net saam te dryf en die wêreld se beskouing te huldig dat ‘jy jou godsdiens kan hê, solank jy dit op sy plek hou, en ook jou loopbaan kan hê’ nie. Met ‘op sy plek’ bedoel die wêreld heel onder aan die lys prioriteite in jou lewe. As jy so begin dink, sal jy binnekort probeer om twee here te dien, en Jesus sê vir ons dat niemand dit kan regkry nie.—Mattheüs 6:24.
Jy moet dalk nog ‘n hele paar jaar op skool deurbring. Maar dit is nooit te vroeg om geestelike saadjies in jou lewe te begin saai nie. Die vakke wat jy nou op skool kies, kan ‘n uitwerking op jou toekomstige voltydse diens hê as hulle jou kan toerus om later deeltydse sekulêre werk te kry.
Intussen kan jy jou daarop toelê om ‘n groot bydrae te lewer tot jou gesin se pogings om Jehovah saam te dien. Toon dat jy graag vir Christenvergaderinge voorberei en hulle bywoon. Konsentreer op wat by die vergaderinge gesê word en bespreek hierdie gedagtes daarna met jou ouers. Neem gereeld ywerig aan die veldbediening deel. Stel vir jou doelwitte in jou bediening, soos om ‘n tuisbybelstudie te hou, of om gedurende die somermaande hulppionierdiens te doen. Reageer vinnig op jou ouers se pogings om jou op te lei. Jongmense, saai julle in die vlees of in die gees? Wees eerlik met julself. Stel geestelike doelwitte en ‘saai nou in die gees’. Doen dit terwyl daar nog tyd is om die ewige lewe te maai!