Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 3/1 bl. 3-5
  • Martelare vir hulle geloof!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Martelare vir hulle geloof!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hierdie slagting van onskuldiges?
  • Die afgryslike voorval
  • Wat van die oorlewendes?
  • Die waarheid en geloof seëvier
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die skuldiges boet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die raaisel van Kimbilikiti word ontrafel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Vervolg omdat hulle die waarheid verkondig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 3/1 bl. 3-5

Martelare vir hulle geloof!

DIT was baie vroeg op ’n Sondagoggend. ’n Gepeupel van sowat 500 mense het ’n huis in die stat Pangi, in die provinsie Kivu, Zaïre, omsingel. Christene wat rustig in die huis geslaap het, is ru wakker gemaak deur die geraas van die skare en die gehamer teen die deur. Die uitslag? Sewe Christenmans is na buite gesleep, genadeloos geslaan en gedwing om sewe kilometer na die stat Kilungulungu in die hartjie van die bos te stap.

Daar is hierdie vredeliewende Christenmans keel afgesny en is een vermink. Hulle liggame is in ’n rivierbedding begrawe nadat die water vir die geleentheid opgedam is. Later is die dam oopgemaak en het die rivier oor hulle gemeenskaplike graf gevloei en alle spore van hierdie afgryslike voorval uitgewis!

Waarom hierdie slagting van onskuldiges?

Hierdie slagting van getroue getuies van Jehovah was die klimaks van ’n vlaag vervolging wat in 1978 begin het in die deel van die Kivu-streek wat deur die Rega-stam oorheers word. Waarom het hierdie slagting plaasgevind? Omdat Jehovah se Getuies weier om hulle aan „Kimbilikiti” te onderwerp. Die leiers van hierdie voorouergodsdiens van die Waregas glo dat die Getuies die grootste bedreiging vir hulle hele stamstruktuur is en derhalwe uitgewis moet word.

Van 1978 tot 1983 is etlike Koninkryksale van Jehovah se Getuies deur fanatiese lede van hierdie kultus afgebrand. Hulle het talle Getuies gedreig, uit hulle huise verdryf en hulle besittings gekonfiskeer. Hulle het dikwels pogings aangewend om die Getuies deur middel van towery uit te wis. Aangesien nie een van hierdie metodes geslaag was nie, het die vervolgers hulle tot wrede massamoord gewend.​—Vergelyk Numeri 23:23.

Die afgryslike voorval

Maar kom ons beskou nou daardie gebeure op Sondag, 14 Augustus 1983, van naderby. As ons na die 1983 Yearbook of Jehovah’s Witnesses kyk, sien ons hoe gepas die teks en kommentaar vir daardie dag is! Die dag voor die moord op die sewe getroue Christenmans het die meeste lede van die gemeentetjie van Jehovah se Getuies in Pangi van omliggende statte geloop om hulle gewone Saterdagvergadering by te woon. Hulle het almal die nag daar oorgebly sodat hulle Sondagoggend daar kon wees vir hulle vergadering vir aanbidding. Sewe mense het in die huis van Kalumba Malumalu, ’n voltydse bedienaar en die presiderende opsiener van die gemeente, gebly. Daar was dus altesaam 11, as broer Malumalu, sy vrou en hulle 2 kindertjies bygetel word. Vyf ander het in die huis van broer Kikuni Mutege oornag.

Na Saterdag se vergadering het die Getuies ’n aangename aand om ’n vuur deurgebring waar hulle Koninkryksliedere gesing en ondervindinge vertel het. Hulle het opgemerk dat groepies mense met buitengewone reëlmatigheid verbygestap het, almal in die rigting van ’n stat twee kilometer van Pangi af. Hoe kon die Getuies geweet het wat daardie samekoms van hulle vyande sou beteken?

Omstreeks vyfuur die volgende oggend is die presiderende opsiener se huis deur ’n skare onder leiding van groephoof Mulamba Musembe omsingel. Hulle het geëis dat broers Kampema Amuri en Waseka Tabu hulle na die gemeenskapshoof (Katunda Banangozi) vergesel om „Salongo” (verpligte gemeenskapswerk vir die instandhouding van paaie, brue, en so meer) te verrig. Broer Kampema het beleef verduidelik dat hulle reeds met hoofman Katunda gereël het om die werk die volgende dag te doen. Maar die groephoof het hierdie antwoord as oneerbiedig beskou en beveel dat broer Kampema geslaan word. Dit is gevolg deur ’n bevel dat die ander broers geslaan word.

Op daardie stadium het die skare besef dat „pastoor” Kalumba Malumalu (die presiderende opsiener) teruggegaan het in sy huis. Hulle het almal teen die huis begin druk totdat hulle deur een muur gebreek het. Toe het ’n paar van hulle ingestorm om broer Malumalu te kry. In die daaropvolgende worsteling is die susters afgeknou, maar hulle en hulle kinders het daarin geslaag om by die plaaslike polisiehoof skuiling te vind.

Twee broers wat by die ander huis gebly het, het intussen ontvlug. Een van hulle (Hemedi Mwingilu) het in ’n halfklaar huis weggekruip en die voorval aanskou. Die ander broer (Lulima Kazalwa) het die bos ingevlug.

Uiteindelik is sewe broers gegryp, geslaan en met vasgebinde hande weggeneem. Hulle is gedurende die hele tog van vyf kilometer na die bos naby Kilungulungu deur hulle gevangenemers mishandel en geslaan. Hoewel die broers met hulle aankoms aldaar feitlik bewusteloos was, was hulle vasbeslote om nie hulle geloof prys te gee nie​—ondanks die feit dat hulle dood klaarblyklik ophande was. Hulle het die dood dapper en met waardigheid tegemoetgegaan, soos so baie ander getroue Christene in vervloë en hedendaagse tye.​—Mattheüs 24:9; Openbaring 2:10

Nog ’n broer, Amisi Milende, is kort daarna vermoor. Hy was weg op ’n besoek aan Kama, maar mans wat daarheen gestuur is, het hom gevange geneem, vasgebind en na Binyangi (15 kilometer van Pangi af) gebring om voor Kibonge Kimpili, ’n ander groephoof, te verskyn. Terwyl hulle op die hoof se aankoms gewag het, het hierdie ywerige Getuie een van sy neefs geestelik bemoedig en vir sy vervolgers gesê dat, hoewel hy gaan sterf, hy net op Jehovah God sou wag om hom op te wek op hierdie aarde wat ’n paradys gaan word. Hierdie getroue jongman is deur verskeie mans om die lewe gebring. Sy eie oom was medepligtig hieraan; hy was veral bitter omdat twee van sy seuns deur broer Milende se toedoen Jehovah se Getuies geword het. Trouens, hierdie twee seuns, Malala Ramazani en Akilimali Walugaba, was onder die sewe ander Getuies wat vermoor is!

Wat van die oorlewendes?

Hierdie verskriklike gebeure het gelei tot die dood van agt mans wat weduwees en wese agtergelaat het. Die oorlewendes en die ander plaaslike Getuies en belangstellendes het die skyf van intenser haat geword. Hulle moes eindelik na Kindu, die naaste groot dorp, vlug, en daar het die lede van die drie gemeentes van Jehovah se Getuies hulle goed versorg. Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Kinshasa het hierdie bedroefdes ook gehelp deur vir hulle klere, komberse en geld te stuur. Hierdie liefdevolle hulp is hoog op prys gestel en het ’n goeie getuienis vir ongelowige familielede en ander waarnemers tot gevolg gehad (Johannes 13:34, 35; Jakobus 1:27). Die regering het ook tussenbeide getree. Die skuldiges is in hegtenis geneem en regstappe is teen hulle gedoen.

Hierdie skokkende gebeure het talle vrae geopper. Watter soort godsdiens is Kimbilikiti? Watter soort opvattinge en gebruike kan tot sulke vervolging aanleiding gee? En waarom is slegs Jehovah se Getuies die skyf van sulke haat?

[Prent op bladsy 3]

Die stat Pangi

[Prent op bladsy 4]

Die pad na die teregstellingsplek

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel