Kry die volle waarheid!
“EK HET nog nooit daardie naam in my Bybel gesien nie”, het Francisco gesê. Die naam Jehovah het pas tevore in ’n bespreking met een van Jehovah se Getuies ter sprake gekom. Hy kon weliswaar nie die goddelike naam in sy Bybel, ’n 1969-uitgawe van die Portugese Almeida-vertaling, gesien het nie. Die naam Jehovah verskyn nie daarin nie. As ’n Brasiliaanse Katoliek woon Francisco gereeld die Mis op Sondae by en geniet hy dit om die Bybel in sy huis te lees. Maar die naam Jehovah was vir hom ’n raaisel.
Wie is God?
Die daaropvolgende week het die Getuie hom ’n ander uitgawe van die Almeida-vertaling gebring. Hulle het Psalm 83:18 in die twee uitgawes met mekaar vergelyk. En wat het hulle gevind? In daardie 1966-uitgawe lui hierdie teks: “U, aan wie die naam JEHOVAH alleenlik behoort, is die Allerhoogste oor die aarde”! Maar in die 1969-uitgawe word die term “HERE”, in plaas van “JEHOVAH”, gebruik. “Sien jy, hulle het iets hier verander”, het die Getuie gesê, en toe het hy gevra: “‘Here’ is beslis nie ’n naam nie, is dit?” “Nee”, het Francisco gesê. Hy het ietwat verontwaardig bygevoeg: “Hoe kon hulle dit doen?”
Dit het die weg gebaan vir ’n bietjie navorsing oor God se naam. Francisco het byvoorbeeld geleer dat Jehovah, volgens The Catholic Encyclopedia (1910), “die eienaam van God in die Ou Testament” is. Hy het ook geleer dat daardie naam byna 7 000 keer voorkom in die “Ou Testament”, wat hoofsaaklik in Hebreeus geskryf is. Geen vertaler het die reg om die eienaam Jehovah na die vae titel Here te verander nie. Francisco wou die waarheid oor die naam Jehovah weet, en hy het dit uit die Bybel gekry en deur middel van navorsing onder behoorlike leiding.
Wat is Jesus se posisie?
Soos die vorige artikel gemeld het, het wêreldse godsdienste talle waarhede verwater. Terloops, in hulle huis-tot-huisbediening het Jehovah se Getuies die geleentheid om vas te stel wat die mense glo. Dit kan natuurlik van plek tot plek verskil, maar sommige idees is algemeen. Byvoorbeeld, wanneer sommige huisbewoners gevra word: ‘Wie is God?’, sê hulle ‘Jesus’. Hiermee bedoel hulle dat Jesus die almagtige God is. Maar is hierdie idee die waarheid?
Oorweeg die volgende gedagtes. Jesus het tot sy Vader gebid: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Het jy opgelet dat Jesus nie van homself nie, maar van sy hemelse Vader as “die enige waaragtige God” gepraat het? Jesus se eertydse dissipels was dus reg toe hulle vir hom gesê het: “Waarlik, U is die Seun van God!” Jesus het self gesê: “Ek is die Seun van God.” Die waarheid is derhalwe dat Jesus nie die almagtige God is nie, maar dat hy die Seun van Jehovah God is.—Mattheüs 14:33; Johannes 10:36.
Wat hou die toekoms vir die aarde in?
Wat omtrent die toekoms van hierdie geslag en van die aarde? John F. Kennedy, wyle president van die Verenigde State, het in ’n toespraak voor die VV se Algemene Vergadering gesê: “Ons het die mag om hierdie geslag die beste geslag van die mensdom in die geskiedenis van die wêreld te maak—of om dit die laaste te maak.” Hedendaagse wêreldleiers huldig blykbaar dieselfde mening. Jehovah se Getuies hoor dikwels in hulle bediening dat die planeet Aarde aan die einde van die wêreld deur vuur of deur ’n kernoorlog vernietig sal word. Ter stawing van hierdie opvatting verwys sommige na Openbaring 21:1, wat lui: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”
Die Bybel gebruik dikwels die term “aarde” in figuurlike sin wanneer dit van die mensdom praat. ’n Voorbeeld is in Genesis 11:1, wat sê: “Die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.” (Sien ook 1 Konings 2:1, 2; Psalm 96:1.) In Openbaring 21:1 het “die eerste aarde” nie op hierdie planeet betrekking nie, maar op die goddelose mensegemeenskap wat vernietig sal word. Dit sal die weg baan vir die herstel van die Paradys op aarde (Lukas 23:43, NW; 2 Thessalonicense 1:6-9; Openbaring 21:4). En dit strook met die res van die Bybel, wat aandui dat die letterlike aarde nooit vernietig sal word nie. Psalm 104:5 sê byvoorbeeld dat God “die aarde gegrond [het] op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie”. (Vergelyk Prediker 1:4.) Jehovah het inderdaad ‘die aarde geformeer om vir ewig bewoon te word’.—Jesaja 45:18.
Waarom die volle waarheid kry?
Die voormelde gedagtes is net voorbeelde van dwaalbegrippe wat vandag so algemeen is. Maar wanneer ’n huisbewoner bereid is om te redeneer, soos wat met Francisco die geval was, is Jehovah se Getuies verheug dat dit die weg baan vir ’n insiggewende bespreking van Skriftuurlike waarhede.
As ’n mens nie die volle waarheid kry nie, kan die gevolge betreurenswaardig wees. Ter toeligting: Toe Jesus op die aarde was, is baie mense oortuig om te glo dat hy net nog ’n seun van Maria en Josef, slegs ’n voormalige timmerman van Nasaret, was. Gevolglik het hulle hul nie veel aan hom gesteur nie. In sekere mate was hulle reg. Jesus was die seun van Maria, wat deur middel van die heilige gees verwek is. Hy was die aangenome seun van Josef, en hy was wel voorheen ’n timmerman (Markus 6:3). Maar was dit die volle waarheid oor hom? Nee! Hy was niemand anders nie as die Messias en die toekomstige “Koning van die konings”! (Openbaring 17:14; Lukas 1:32-35; Handelinge 2:36). Omdat hulle nie die volle waarheid oor Jesus gekry het nie, het baie mense ’n eenmalige voorreg verbeur—om persoonlike omgang met Jesus op aarde te geniet.
Soek na die volle waarheid
Die stad Berea (wat nou Véroia genoem word) in eertydse Macedonië is welbekend by Bybellesers vanweë die prysenswaardige gesindheid van sy eerste-eeuse inwoners. Wat was daardie gesindheid? Die verslag sê: “Hulle het die woord [wat die apostel Paulus verkondig het] met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” Die gevolg? “Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ’n groot aantal, vroue en manne.”—Handelinge 17:11, 12.
Die gesindheid van God se eertydse profete was net so lofwaardig. Hulle het “deeglik en noukeurig ondersoek ingestel” na die redding wat deur die Messias sou kom (1 Petrus 1:10, NAV). God het hulle pogings geseën. Dit is dus duidelik dat daar geen kortpad is nie. Om die volle waarheid in die Bybel te kry, moet ’n mens leerstellings voortdurend navors en noukeurig ondersoek!
Jy wonder dalk: ‘Waar moet ek begin?’ Nadat sy ’n paar Christelike publikasies gelees het, het een vrou wat in Brasilië woon, geskryf: “Ons [sy en haar man] het gou besef dat ons meer van daardie soort kennis nodig het om die antwoorde te kry op die baie vrae wat ons het . . . Asseblief, hoe kan ek ’n Bybel en ander boeke kry wat my sal help om meer oor ons hemelse Vader te weet?” Sy was op die regte spoor: om die Bybel saam met waarheidsgetroue Bybelse lektuur te lees. As jy ook die volle waarheid wil kry, moet jy jou hart vir Jehovah God ontvanklik maak en hom om hulp vra. En let asseblief op hierdie bemoedigende woorde: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel.”—Jakobus 1:5, 6.
Miljoene mense bespreek die Bybel saam met Jehovah se Getuies en stel sodoende deeglik en noukeurig ondersoek in na die waarheid. Dit beteken die ewige lewe om sulke juiste kennis van die ware God en van Jesus Christus in te neem en toe te pas (Johannes 17:3). Jy kan ook hierdie wonderlike seën geniet as jy deeglik ondersoek instel en die volle waarheid kry.
[Prent op bladsy 7]
Die volle waarheid oor Jesus was dat hy die Messias was, nie net ’n timmerman nie