Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 9/15 bl. 8-9
  • Die slotgebed in die bovertrek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die slotgebed in die bovertrek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se laaste gebed in die bo-kamer
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Jesus berei die apostels voor op sy vertrek
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Tree in ooreenstemming met Jesus se liefdevolle gebed op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Bybelboek nommer 43—Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 9/15 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Die slotgebed in die bovertrek

’N INNIGE liefde vir sy apostels het Jesus beweeg om hulle reeds te begin voorberei op sy naderende dood. Nadat hy hulle uitvoerig vermaan en bemoedig het, hef hy nou sy oë op na die hemel en bid tot sy Vader: “Verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik—soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.”

Wat ’n aangrypende tema lei Jesus hier in—die ewige lewe! Aangesien Jesus “mag oor alle vlees” gegee is, kan hy die voordele van sy losprysoffer ten bate van die hele sterwende mensdom aanwend. Nogtans gee hy “die ewige lewe” slegs aan diegene wat deur die Vader goedgekeur word. Jesus bou voort op hierdie tema van die ewige lewe terwyl hy verder bid:

“Dit beteken die ewige lewe, dat hulle voortdurend kennis inneem van u, die enige ware God, en van hom wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (NW). Ja, om redding te ontvang, moet ons kennis inneem van God sowel as van sy Seun. Maar meer as net kopkennis is nodig.

’n Mens moet hulle intiem leer ken en ’n begripvolle vriendskapsverhouding met hulle opbou. Jy moet soos hulle oor sake voel en dinge deur hulle oë sien. En ’n mens moet bowenal daarna strewe om hulle weergalose hoedanighede na te volg in die wyse waarop jy ander behandel.

Vervolgens bid Jesus: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Omdat hy tot hier toe sy aangewese werk volbring het en omdat hy seker is van sy toekomstige sukses, versoek hy: “Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” Ja, hy vra nou dat hy deur middel van ’n opstanding weer tot sy vorige hemelse heerlikheid herstel moet word.

Ter opsomming van sy vernaamste werk op aarde sê Jesus: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.” Jesus het God se naam, Jehovah, in sy bediening gebruik en getoon wat die regte uitspraak daarvan is, maar hy het selfs meer gedoen om God se naam aan sy apostels te openbaar. Hy het ook hulle kennis van en waardering vir Jehovah, sy persoonlikheid en sy voornemens verruim.

Jesus gee aan Jehovah die eer as sy Meerdere, die Een onder wie hy dien, en erken nederig: “Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.”

Jesus maak nou ’n onderskeid tussen sy volgelinge en die res van die mensdom as hy vervolgens bid: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het . . . Toe ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle . . . bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf”, naamlik Judas Iskariot. Op hierdie oomblik is Judas juis op pad om sy veragtelike daad van verraad teen Jesus te gaan pleeg. So vervul Judas onwetend die Skrif.

“Die wêreld het hulle gehaat”, bid Jesus verder. “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos ek nie van die wêreld is nie.” Jesus se volgelinge is in die wêreld, hierdie georganiseerde mensegemeenskap oor wie Satan heers, maar hulle is afgeskeie en moet altyd afgeskeie bly van die wêreld en sy goddeloosheid.

“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid”, is Jesus se volgende woorde. Hier noem Jesus die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte, waaruit hy voortdurend aangehaal het, “die waarheid”. Maar wat hy aan sy dissipels geleer het en wat hulle later onder inspirasie as die Christelike Griekse Geskrifte geskryf het, is eweneens “die waarheid”. Hierdie waarheid kan die mens heilig, sy lewe heeltemal verander en van hom ’n individu maak wat van die wêreld afgeskeie is.

Nou bid Jesus “nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in [hom] sal glo”. Jesus bid derhalwe vir diegene wat sy gesalfde volgelinge sal word, asook vir ander toekomstige dissipels wat nog tot die “een kudde” versamel sal word. Wat vra hy ten behoewe van hulle almal? “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; . . . sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.”

Jesus en sy Vader is nie letterlik een persoon nie, maar hulle is in alle opsigte eensgesind. Jesus bid dat sy volgelinge dieselfde eenheid moet geniet sodat “die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het”.

Ten behoewe van diegene wat sy gesalfde volgelinge sou wees, rig Jesus nou ’n versoek tot sy hemelse Vader. Waarvoor? “Dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld”, dit wil sê, toe Adam en Eva hulle eerste kind voortgebring het. Lank vóór dit het God sy eniggebore Seun, wat Jesus Christus geword het, liefgehad.

Ten slotte beklemtoon Jesus weer in sy gebed: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Die apostels het, deurdat hulle die naam van God leer ken het, ook persoonlik die liefde van God leer ken. Johannes 17:1-26; 10:16; Spreuke 8:22, 30.

▪ In watter sin het Jesus “mag oor alle vlees” ontvang?

▪ Wat beteken dit om kennis in te neem van God en sy Seun?

▪ In watter opsigte het Jesus God se naam geopenbaar?

▪ Wat is “die waarheid”, en hoe “heilig” dit ’n Christen?

▪ Hoe is God, sy Seun en alle ware aanbidders een?

▪ Wanneer was “die grondlegging van die wêreld”?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel