Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 9/15 bl. 10-15
  • Jehovah verdien ewige lof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah verdien ewige lof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se grootheid is ondeurgrondelik
  • Prys Jehovah se werke
  • Loof Jehovah vir sy goedheid
  • Jehovah is barmhartig
  • Gunsgenote prys Jehovah
  • Jehovah se grootheid is ondeurgrondelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Loof Jehovah se heilige naam!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Loof Jehovah, ons God!
    Sing vir Jehovah
  • “Jehovah is groot en baie lofwaardig”
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 9/15 bl. 10-15

Jehovah verdien ewige lof

“Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.”—PSALM 145:2.

1. Waarom het Dawid baie redes gehad om Jehovah te loof?

JEHOVAH se lojale kneg Dawid het baie redes gehad om God te loof. Hierdie beroemde koning van eertydse Israel het van Jehovah se grootheid en goedheid geweet en besef dat Sy koningskap ewigdurend is. Die Allerhoogste het lof verdien omdat hy die begeerte van alles wat lewe versadig en omdat hy barmhartig is teenoor sy getroue knegte.

2. (a) Hoe is Psalm 145 gerangskik? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

2 Dawid het in die 145ste Psalm sulke lof aan God gebring. Hierdie psalm is ’n akrostigon waarvan elke vers met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin, hoewel een letter (noen) uitgelaat is. Die alfabetiese rangskikking was waarskynlik ’n geheuehulp. Psalm 145 loof Jehovah, soos die volgende woorde toon: “Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd” (Psalm 145:2). Maar watter uitwerking kan hierdie psalm op ons hê? Wat kan dit vir ons verhouding met God doen? Kom ons bespreek eers verse 1 tot 10 om uit te vind.

Jehovah se grootheid is ondeurgrondelik

3. Wat is ons, soos Dawid, aan ‘ons God, die Koning’ verskuldig, en waarom?

3 Dawid was ’n koning, maar hy het Jehovah se soewereiniteit oor hom erken en gesê: “o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd” (Psalm 145:1). Jehovah se Getuies verhef God se naam met soortgelyke eerbied en loof hom wêreldwyd. Ons lewe word verryk as ons aan hierdie werk deelneem. Soos Dawid, is ons gehoorsaamheid en onderdanigheid aan Jehovah as ‘ons God, die Koning’ verskuldig. En waarom nie? Hy is die “Koning van die ewigheid” (Openbaring 15:3, NW). Daarbenewens stel die Grotere Dawid, Jesus Christus, wat sedert 1914 van die hemelse berg Sion af heers, vir ons ’n voortreflike voorbeeld van onderdanigheid aan Jehovah, die Ewige Koning.

4. Hoe kan ons ‘God se Naam loof’?

4 Dawid het gesê dat hy ‘God se Naam sou loof’. Hoe is dit vir ’n blote mens moontlik? Wel, om iemand te loof, beteken onder meer om goed te praat van hom. As ons God se naam loof, toon dit dat ons hom en sy heilige naam, Jehovah, innig liefhet. Ons kla nooit oor God nie, vind nooit fout met hom nie en trek nooit sy goedheid in twyfel nie. Alleenlik as ons daardie gesindheid het, as ons ons aan Jehovah toegewy het en ons onkreukbaarheid as sy gedoopte Getuies handhaaf, kan ons saam met Dawid sê dat ons ‘God se naam vir ewig sal loof’. As ons ons in die liefde van God bewaar, sal ons die gawe van die ewige lewe ontvang en Jehovah gevolglik vir ewig kan loof.—Judas 20, 21.

5. Watter uitwerking moet die begeerte om Jehovah “elke dag” te loof op ons hê?

5 As ons ons Lewegewer werklik liefhet, sal ons saam met Dawid sê: “Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd” (Psalm 145:2). Hoe doelloos sal ’n dag tog wees as ons God nie loof nie! Mag ons nooit so besig of so bekommerd oor materiële dinge wees dat ons nalaat om goed te praat van ons hemelse Vader of om daagliks tot hom te bid nie. Jesus het geïmpliseer dat ons elke dag moet bid toe hy in die modelgebed gesê het: “Gee ons elke dag ons daaglikse brood” (Lukas 11:3). Baie voltydse dienaars loof God daagliks terwyl hulle aan die Christenbediening deelneem. Maar ons hart moet ons, ongeag ons omstandighede, beweeg om God elke dag op die een of ander manier te loof. En dink net! As Jehovah se toegewyde Getuies met die hoop op die ewige lewe, het ons die wonderlike vooruitsig om sy naam vir ewig te loof.—Johannes 17:3.

6. Waarom is Jehovah “baie lofwaardig”?

6 Ons het beslis rede om God heeldag lank te loof, want Dawid het bygevoeg: “Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik” (Psalm 145:3). Jehovah is so groot dat hy weergaloos is, en sy soewereiniteit is absoluut. Babiloniese koning Nebukadnesar moes erken: “Daar is niemand wat [God se] hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Daniël 4:34, 35). Jehovah “is vreesinboesemend bo alle ander gode” (Psalm 96:4, NW). Dit is geen wonder dat hy “baie lofwaardig” is nie. Trouens, geen woorde van lof is te verhewe wanneer Jehovah geloof word nie! Hy verdien onbeperkte, ewige lof.

7. Wat bewys dat God se ‘grootheid ondeurgrondelik is’?

7 Jehovah se “grootheid is ondeurgrondelik”. Ongeag hoe groot hy liggaamlik is, sy grootheid berus op die soort God wat hy is. Ja, die dinge wat hy geskep het, is te wonderlik vir ons om te verstaan, en ons is self “wonderbaar gemaak” (Psalm 139:14, NW; Job 9:10; 37:5). Buitendien, hoe verhewe is Jehovah God se optrede tog! Hy doen sy beloftes getrou gestand en onthul sy voornemens liefdevol. Maar ons sal nooit alles van God weet nie. Ons sal tot in alle ewigheid kan groei in kennis van hom, sy skepping en sy voornemens.—Romeine 11:33-36.

Prys Jehovah se werke

8. (a) Hoe het “die een geslag” Jehovah se werke “by die ander” geprys? (b) Hoe sal ons kinders aanbidding van Jehovah beskou as ons hulle van sy werke en dade leer? (c) Wat het die gesalfde oorblyfsel as ’n vreugdevolle “geslag” gedoen?

8 Soveel kan gesê word om ons ondeurgrondelike grote God te loof dat Dawid beweeg is om te sê: “Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade” (Psalm 145:4). Opeenvolgende geslagte van die mensdom het Jehovah se werke geprys en sy dade oorvertel. Wat ’n voorreg is dit tog om hierdie dinge aan diegene met wie ons tuisbybelstudies hou mee te deel! Ons kan hulle byvoorbeeld vertel dat God alles geskep het (Genesis 1:1–2:25; Openbaring 4:11). Ons kan praat van sy magtige dade toe hy die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos het, hulle gehelp het om Kanaänitiese vyande te oorwin, hulle in eertydse Persië teen volksmoord beskerm het, en nog baie meer (Exodus 13:8-10; Rigters 4:15; Ester 9:15-17). En spoor dit ons nie aan om ons kinders van Jehovah se werke en dade te vertel nie? As ons ons kinders hiervan leer en hulle sien hoe ons God blymoedig dien, sal hulle waarskynlik sy aanbidding as ’n vreugde beskou en grootword met ‘die vreugde van Jehovah as hulle vesting’ (Nehemia 8:10, NW; Psalm 78:1-4). Die gesalfde oorblyfsel maak een vreugdevolle “geslag” van Jehovah se Getuies uit wat God se werke prys by die “groot menigte”, deel van die geslag wat die Paradysaarde sal bewoon.—Openbaring 7:9.

9. Waarvan kan ons seker wees terwyl ons oor God se werke en magtige dade nadink?

9 As ons oor God se werke en magtige dade nadink, word ons selfs verder daarvan oortuig dat Jehovah “sy volk ter wille van sy grote Naam nie [sal] verwerp nie” (1 Samuel 12:22; Psalm 94:14). Ons kan kalm en vol vertroue wees dat “die vrede van God” ons harte en ons sinne sal bewaar wanneer ons beproewinge, ontberinge en vervolging moet verduur (Filippense 4:6, 7). Hoe gepas is dit dus tog dat ons ander van ons liefdevolle, beskermende hemelse Vader vertel!

10. Wat tel onder Jehovah se “wonderbare dade”, en hoe word ons bevoordeel as ons daaroor peins?

10 Ons moet tyd daaraan bestee om oor Jehovah se majesteit en werke te peins, want Dawid het bygevoeg: “Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade” (Psalm 145:5). God se majesteit is vreesinboesemend en sonder gelyke (Job 37:22; Psalm 148:13). Dawid het gevolglik oor die glorieryke prag van Jehovah se majesteit gespreek. Hy het ook gespreek oor God se “wonderbare dade”. Hierdie dade sluit die uitoefening van goddelike geregtigheid in deurdat hy sondaars vernietig en die godsaliges bewaar, soos met die Vloed gebeur het (Genesis 7:20-24; 2 Petrus 2:9). As ons oor sulke sake peins, verstewig dit ons verhouding met Jehovah en stel dit ons in staat om ander van sy majesteit en wonderbare dade te vertel. Jesus is gedurende 40 dae in die woestyn versterk om versoeking te weerstaan deur te peins oor die dinge wat as gevolg van die geopende hemel onder sy aandag gebring is (Mattheüs 3:13–4:11). Daarna het hy met ander oor Jehovah se majesteit en wonderlike werke gepraat.

11. (a) Waarom het skrik op die bewoners van Jerigo geval? (b) Met watter gees praat Jehovah se Getuies oor God se “vreeslike dade” en sy “grootheid”?

11 Wanneer ons van God se majesteit en dade praat, spoor ons ander aan om daaroor te praat. Dawid het gesê: “En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel” (Psalm 145:6). Ragab het gepraat van die skrik wat op die inwoners van Jerigo geval het toe hulle hoor hoe Jehovah die Israeliete by die Rooi See gered en hulle die oorwinning oor twee Amoritiese konings gegee het. In Jerigo is daar seker heelwat oor sulke “vreeslike dade” gepraat (Josua 2:9-11). En die “groot verdrukking” wat ophande is, sal beslis vreesinboesemend wees (Mattheüs 24:21). Maar dinge wat so skrikwekkend is vir mense wat van God vervreem is, boesem “die vrees van die HERE”, ’n gesonde eerbied vir hom, by regskape harte in (Spreuke 1:7). Jehovah se Getuies praat met so ’n eerbiedige gees oor betonings van God se mag. Trouens, die groot Wonderdoener is die hoofonderwerp van gesprekke tussen die gesalfdes en hulle aardse metgeselle! En selfs vervolging verhinder hulle nie daarvan om ander van hierdie dinge en die “grootheid” van Jehovah te vertel nie.—Handelinge 4:18-31; 5:29.

Loof Jehovah vir sy goedheid

12. Wat laat Jehovah se goedheid as ’t ware by ons “uitstroom”?

12 God verdien nie net weens sy grootheid lof nie, maar ook weens sy goedheid en geregtigheid. Daarom sê Dawid: “Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid” (Psalm 145:7). Jehovah se goedheid is so groot dat ons vreugdevolle uitinge daaroor “laat uitstroom”. In die Hebreeus word die beeld geskep van water wat by ’n fontein uitborrel. Mag ons dankbare lof aan God dus soos ’n stroom uitborrel (Spreuke 18:4). Israel het, tot hulle groot geestelike skade, van Jehovah se goedheid vergeet (Psalm 106:13-43). Maar laat ons hart oorloop van sulke dankbaarheid dat ander hulle sal bekeer wanneer hulle hoor hoe goed Jehovah vir sy toegewyde Getuies is.—Romeine 2:4.

13. Watter uitwerking moet blyke van goddelike geregtigheid en regverdigheid op ons hê?

13 Mag blyke van goddelike geregtigheid en regverdigheid ons ook laat jubel. As ons so voel, sal ons nie net God se Koninkryk eerste soek nie, maar ook sy geregtigheid. Ons sal altyd wil hê dat ons gedrag Jehovah moet loof. Ja, ons sal gereelde Koninkryksverkondigers wees wat oorvloedig is in God se diens. Ons lof aan Jehovah sal nooit in ’n stille graf begrawe wees nie.—Mattheüs 6:33; 1 Korinthiërs 15:58; Hebreërs 10:23.

Jehovah is barmhartig

14. Watter bewys is daar dat Jehovah “genadig en barmhartig” is?

14 Dawid het verdere prysenswaardige eienskappe van God opgenoem en gesê: “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Psalm 145:8). God is genadig omdat hy heeltemal goed en vrygewig is (Mattheüs 19:17; Jakobus 1:5). Hy doen goeie dinge selfs vir diegene wat hom nie dien nie (Handelinge 14:14-17). Jehovah is ook barmhartig, medelydend, “gedagtig dat ons stof is”. Hy verag nie ’n verslae hart nie en hy handel nie met ons na ons sondes nie maar is veel genadiger as die liefdevolste mensevader (Psalm 51:19; 103:10-14). As die grootste blyk van genade het hy selfs sy geliefde Seun gestuur om vir ons te sterf sodat ons met God versoen kan word en sy goedgunstigheid werklik kan smaak!—Romeine 5:6-11.

15. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah God “lankmoedig” en “groot van goedertierenheid” is?

15 Ons hemelse Vader is lankmoedig. Hy tree nie in blinde woede op nie. Jehovah is ook “groot van goedertierenheid”. Hier dui die Hebreeus op goedheid wat uit liefde spruit en aan ’n voorwerp verbind word. Dit volhard totdat die doel met betrekking tot daardie voorwerp verwesenlik is. ’n Alternatiewe vertaling is “lojale liefde”. God se goedertierenheid, of lojale liefde, word onder meer getoon deur dade van bevryding, bewaring, beskerming, verligting van ontberinge en verlossing van sonde deur die losprys (Psalm 6:5; 25:7; 31:17, 22; 40:11; 61:8; 119:88, 159; 143:12; Johannes 3:16). Die feit dat Jehovah Armageddon nie direk na die “oorlog in die hemel” gebring het nie, stel menigtes in staat om redding te verkry, ’n groot blyk van goddelike goedertierenheid.—Openbaring 12:7-12; 2 Petrus 3:15.

16. Hoe het Jehovah getoon dat hy “vir almal goed” is?

16 In die lig van God se barmhartigheid, kan daar gesê word dat hy ruimhartig is. Dawid het verklaar: “Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:9). Ja, God was goed vir die Israeliete. Trouens, “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheüs 5:43-45). Jehovah het in Eden ’n “saad” belowe wat ’n seën sou wees. Later het hy vir Abraham gesê: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself sekerlik seën” (Genesis 3:15; 22:18, NW). En in hierdie “tyd van die einde” is God se goedheid so groot dat enigiemand kan ‘kom en verniet van die water van die lewe kan neem’ (Daniël 12:4; Openbaring 22:17). Jehovah is bereid om aan alle intelligente skepsele goed te doen, en sy goedheid moet ons altyd nader aan hom laat kom.

17. In watter sin is Jehovah se ‘barmhartighede oor al sy werke’?

17 Jehovah se “barmhartighede is oor al sy werke” omdat hy oorvloedig in die behoeftes van mense en diere voorsien. Hy is die een “wat voedsel gee aan alle vlees” (Psalm 136:25; 147:9). God eer nie die rykes en verag die verdruktes nie, hy verheerlik nie die trotses en versmaai die nederiges nie, hy verhoog nie die dwase en verneder die verstandiges nie. Sondige mense maak so, maar nie ons barmhartige hemelse Vader nie (Psalm 102:18; Sefanja 3:11, 12; Prediker 10:5-7). En hoe groot is God se barmhartigheid, goedheid en goedertierenheid tog om redding moontlik te maak deur die losprysoffer van sy geliefde Seun!—1 Johannes 4:9, 10.

Gunsgenote prys Jehovah

18. (a) Hoe “loof” God se werke hom? (b) Wanneer moet ons beweeg word om Jehovah te loof?

18 God verdien lof uit alle oorde. Soos Dawid gesê het: “Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U” (Psalm 145:10). God se skeppingswerke “loof” hom, net soos ’n huis wat goed gebou is die bouer tot eer strek en ’n pragtige vaas die vaardige pottebakker wat dit gemaak het. (Vergelyk Hebreërs 3:4; Jesaja 29:16; 64:8.) Jehovah se skeppingswerke is so wonderlik dat dit engele en mense beweeg het om hom te loof. Engeleseuns van God het gejuig toe hy die aarde geskep het (Job 38:4-7). Dawid het gesê dat ‘die hemele die eer van God vertel, en die uitspansel die werk van sy hande verkondig’ (Psalm 19:1-6). Ons kan Jehovah met reg loof wanneer ons ’n valk in die lug sien sweef of ’n gasel oor ’n grasbedekte heuwel sien hardloop (Job 39:29; Hooglied 2:17). Lof is gepas wanneer ons oeste insamel of ’n ete saam met vriende geniet (Psalm 72:16; Spreuke 15:17). Ons wonderlik ontwerpte liggame kan ook uitinge van dankbare lof aan God uitlok.—Psalm 139:14-16.

19. Wie is die “gunsgenote”, en wat doen hulle?

19 Vandag prys Jehovah se geesgesalfde “gunsgenote” op aarde hom. Hulle praat goed van hom en wil graag sien dat sy wil geskied, op die aarde net soos in die hemel (Mattheüs 6:9, 10). Terwyl die gesalfdes ander van God se wonderlike werke vertel, reageer die groot menigte in toenemende getalle. Hulle dien ywerig saam met die gesalfde gunsgenote as Koninkryksverkondigers. Beweeg dankbaarheid jou om gereeld tot eer van God aan hierdie werk deel te neem?

20. (a) Hoe sal Jehovah se naam geheilig word? (b) Watter vrae oor Psalm 145 bly oor vir bespreking?

20 As Jehovah se Getuies loof ons God soos Dawid gedoen het. Dit is vir ons sake van die allergrootste belang om Jehovah se heilige naam te heilig en te loof. Aangesien God se naam deur God se Koninkryk geheilig gaan word, is hierdie Bybelse leerstelling van die Koninkryk ’n vername kenmerk van die goeie nuus wat ons verkondig. Verskaf Psalm 145 geestelike lig in hierdie verband? Wat sal ons bespreking van die res van hierdie psalm toon? Op watter ander maniere bewys dit dat Jehovah ewige lof verdien?

Wat is jou kommentaar?

◻ Hoe kan ons Jehovah se naam loof?

◻ Wat is van God se lofwaardige werke?

◻ Hoe sal ons optree as ons Jehovah se goedheid waardeer?

◻ Op watter maniere het God sy barmhartigheid betoon?

[Prent op bladsy 12]

Vertel jy jou kinders van Jehovah se magtige dade, soos godvrugtige ouers in eertydse Israel gedoen het?

[Prent op bladsy 15]

Soos ’n huis wat goed gebou is sy bouer tot eer strek, bring Jehovah se skeppingswerke eer op Hom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel