Wees met sagmoedigheid beklee!
“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.”—KOLOSSENSE 3:12.
1-3. Wat het die apostel Paulus in Kolossense 3:12-14 oor sagmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe gesê?
JEHOVAH gee sy volk die allerbeste figuurlike kleredrag. Trouens, almal wat sy guns wil hê, moet geklee wees met ’n kledingstuk wat sterk vesels van sagmoedigheid het. Hierdie eienskap is vertroostend omdat dit druk in gespanne situasies verminder. Dit dien ook as ’n beskerming, want dit weer tweedrag af.
2 Die apostel Paulus het mede- gesalfde Christene aangespoor: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Die tydvorm van die Griekse woord wat met “beklee julle” vertaal word, dui op iets wat met dringendheid gedoen moet word. Gesalfdes, wat uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes was, moes nie versuim om hulle met eienskappe soos sagmoedigheid te beklee nie.
3 Paulus het bygevoeg: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kolossense 3:13, 14). Liefde, sagmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe maak dit moontlik dat Jehovah se Getuies “in eenheid saam woon”.—Psalm 133:1-3, NW.
Sagmoedige herders is nodig
4. Ware Christene dra ’n figuurlike kledingstuk wat van watter eienskappe geweef is?
4 Ware Christene strewe daarna om ‘hulle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, dood te maak’ en hulle strewe daarna om van enige kledingstuk wat bestaan uit toorn, woede, boosheid, laster en skandelike taal ontslae te raak (Kolossense 3:5-11). Hulle lê “die oue mens” (of, “die ou persoonlikheid”, NW) af en beklee hulle met ’n gepaste uitrusting, “die nuwe mens” (of, “die nuwe persoonlikheid”, NW) (Efesiërs 4:22-24). Hulle nuwe kledingstuk, wat geweef is van innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid help hulle om probleme op te los en ’n godvrugtige lewe te lei.—Mattheüs 5:9; 18:33; Lukas 6:36; Filippense 4:2, 3.
5. Wat omtrent die manier waarop die Christengemeente funksioneer, maak dit ’n plesier om ’n deel daarvan te wees?
5 Mense wat in hierdie wêreld as suksesvol beskou word, is dikwels hard, selfs wreed (Spreuke 29:22). Hoe verkwikkend anders is dit tog onder Jehovah se volk! Die Christengemeente funksioneer nie soos party mense ’n handelsonderneming bestuur nie—op ’n doeltreffende maar ongevoelige manier wat mense ongelukkig kan maak. Dit is eerder ’n plesier om ’n deel van die gemeente te wees. Een rede is dat sagaardigheid ’n aspek is van die wysheid wat deur Christene oor die algemeen aan die dag gelê word en veral deur manne wat bekwaam is om medegelowiges te onderrig. Ja, vreugde is die resultaat van onderrigting en raad wat deur aangestelde ouere manne gegee word wat onderrig “met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort”.—Jakobus 3:13, NW.
6. Waarom moet Christen- ouere manne saggeaard wees?
6 Die gees, of oorheersende gesindheid, van God se volk vereis dat manne wat met toesig oor die gemeente toevertrou word saggeaard, redelik en simpatiek moet wees (1 Timotheüs 3:1-3). Jehovah se knegte is soos saggeaarde skape, nie soos eiesinnige bokke, steeks donkies of wrede wolwe nie (Psalm 32:9; Lukas 10:3). Omdat hulle skaapgeaard is, moet hulle met sagmoedigheid en teerheid behandel word (Handelinge 20:28, 29). Ja, God verwag dat ouere manne sagmoedig, goedhartig, liefdevol en geduldig teenoor sy skape moet wees.—Esegiël 34:17-24.
7. Hoe moet ouere manne ander onderrig of diegene help wat geestelik siek is?
7 As “’n dienskneg van die Here” moet ’n ouere man “vriendelik wees teenoor almal, bekwaam [wees] om te onderrig en . . . kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie” (2 Timotheüs 2:24, 25). Christenherders moet tere besorgdheid toon wanneer hulle diegene probeer help wat geestelik siek is, want die skape behoort aan God. Ouere manne moet hulle nie behandel soos ’n huurling hulle sal behandel nie, maar hulle moet saggeaard wees, soos die Goeie Herder, Jesus Christus.—Johannes 10:11-13.
8. Wat het met die saggeaarde Moses gebeur, en waarom?
8 ’n Ouere man kan dit soms moeilik vind om ’n sagmoedige gees te behou. “Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Maar toe die Israeliete in Kades ’n watertekort gehad het, het hulle met Moses rusie gemaak en hom daarvan beskuldig dat hy hulle uit Egipte uit en in ’n dorre woestyn ingelei het. Ondanks alles wat Moses sagmoedig verdra het, het hy oorhaastig harde woorde gebruik. Hy en Aäron het voor die volk gestaan en die aandag op hulleself gevestig, en Moses het gesê: “Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?” Toe slaan Moses die rots twee maal met sy staf, en God het “baie water” vir die volk en hulle diere daaruit laat kom. Jehovah was ontevrede omdat Moses en Aäron Hom nie geheilig het nie, en daarom het Moses nie die voorreg gehad om die Israeliete in die Beloofde Land in te lei nie.—Numeri 20:1-13; Deuteronomium 32:50-52; Psalm 106:32, 33.
9. Hoe kan ’n ouere man se sagmoedigheid getoets word?
9 ’n Christen- ouere man se sagmoedigheid kan ook op verskillende maniere getoets word. Paulus het Timotheüs byvoorbeeld gewaarsku dat daar iemand kon wees wat “verwaand” is en “’n sieklike sug na twisvrae en woordestryd” het. Paulus het bygevoeg: “[Daaruit] ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is.” Die opsiener Timotheüs moes nie hard optree nie, maar moes ‘van hierdie dinge wegvlug’ en “die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid” najaag.—1 Timotheüs 6:4, 5, 11.
10. Waaraan moes Titus die gemeentes herinner?
10 Al moet ouere manne sagmoedig wees, moet hulle vas staan vir wat reg is. Titus was so en het diegene wat met gemeentes in Kreta omgegaan het daaraan herinner om “niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys” (Titus 3:1, 2). Titus het getoon waarom Christene saggeaard teenoor almal moet wees deur die aandag te vestig op hoe sagmoedig en liefdevol Jehovah al was. God het gelowiges nie gered weens die een of ander regverdige daad wat hulle verrig het nie, maar as gevolg van sy barmhartigheid deur Jesus Christus. Jehovah se sagmoedigheid en geduld beteken ook vir ons redding. Hedendaagse ouere manne moet ook, soos Titus, gemeentes daaraan herinner om onderdanig aan God te wees en Hom na te volg deur ander met sagmoedigheid te behandel.—Titus 3:3-7; 2 Petrus 3:9, 15.
Sagmoedigheid rig die verstandige raadgewer
11. Hoe moet raad volgens Galasiërs 6:1, 2 gegee word?
11 Sê nou ’n figuurlike skaap het oortree? Paulus het gesê: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus” (Galasiërs 6:1, 2). Raad is doeltreffender as dit met ’n sagmoedige gees gegee word. Al probeer ouere manne iemand wat kwaad is raad gee, moet hulle selfbeheersing aan die dag lê, en besef dat ‘’n sagte tong ’n been kan breek’ (Spreuke 25:15, NW). ’n Sagte woord kan iemand wat so hard soos ’n been is, laat versag en deur sy hardheid breek.
12. Hoe help ’n sagmoedige gees ’n raadgewer?
12 Jehovah is ’n saggeaarde Onderrigter, en die sagmoedige manier waarop hy onderrig, is doeltreffend in die gemeente. Dit geld veral wanneer ouere manne dit nodig vind om diegene wat geestelike hulp nodig het raad te gee. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Wie is wys en verstandig onder julle? Hy toon deur sy voortreflike gedrag sy werke met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort.” Sagmoedigheid spruit voort uit respek en dankbaarheid vir die “wysheid van bo” wat gepaardgaan met beskeie erkenning van jou eie beperkinge. ’n Sagmoedige en nederige gees verhoed dat die raadgewer skadelike aanmerkings en foute maak, en dit maak sy raad makliker om te aanvaar.—Jakobus 3:13, 17, NW.
13. Hoe beïnvloed “’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort” die manier waarop raad gegee word?
13 “’n Sagmoedigheid wat by wysheid behoort”, laat nie toe dat ’n raadgewer onbedagsaam kortaf of ongevoelig is nie. Maar besorgdheid oor vriendskap of om iemand se goedkeuring te hê, moenie maak dat ’n ouere man mooi broodjies bak pleks van sagmoedig reguit raad te gee wat uit God se Woord kom nie (Spreuke 24:24-26; 28:23). Die raad wat Amnon by sy neef gekry het, was wat hy wou hoor, maar dit het hom sy lewe gekos (2 Samuel 13:1-19, 28, 29). Hedendaagse ouere manne moet dus nie Bybelbeginsels verwater om iemand se gewete te sus nie, want dit kan sy lewe in gevaar stel. Soos Paulus moet ouere manne hulle nie daarvan weerhou om “die hele raad van God [aan ander] te verkondig nie” (Handelinge 20:26, 27; 2 Timotheüs 4:1-4). ’n Ryp Christenraadgewer lê godvrugtige vrees aan die dag en gee regverdige raad met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort.
14. Waarom moet ’n ouere man versigtig wees om nie namens ander besluite te neem wat hulle eintlik self moet neem nie?
14 Sagmoedigheid wat met hemelse wysheid gepaardgaan, sal ook verhoed dat ’n ouere man kwaai eise stel. Hy moet ook besef dat dit onverstandig en onvanpas is dat hy namens ander besluite neem wat hulle eintlik self moet neem. As ’n ouere man namens ander besluite neem, sal hy verantwoordelik wees vir die gevolge, en hy sal ook skuld dra as dit slegte gevolge het. ’n Ouere man kan die aandag vestig op wat die Bybel sê, maar as daar geen skriftuurlike wet oor ’n saak is nie, moet ’n mens se eie oordeel en gewete bepaal wat jy gaan doen of nie gaan doen nie. Soos Paulus gesê het: “Elkeen sal sy eie pak dra” (Galasiërs 6:5; Romeine 14:12). Maar iemand wat raad soek, kan gehelp word om die regte besluit te neem as ’n ouere man vrae vra wat hom sal help om in ooreenstemming met die tekste te redeneer wat verband hou met die keuses wat hy het.
15. Wat behoort gedoen te word as ’n ouere man nie die antwoord op ’n vraag ken nie?
15 As ’n ouere man nie die antwoord op ’n vraag ken nie, moet hy nie net ter wille van sy reputasie ’n antwoord gee nie. ’n Sagmoedigheid wat by wysheid behoort, sal hom daarvan weerhou om te raai en moontlik ’n verkeerde antwoord te gee wat later verdriet kan veroorsaak. Daar is “’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek”. (Prediker 3:7; vergelyk Spreuke 21:23.) ’n Ouere man moet alleenlik “spreek” wanneer hy die antwoord op ’n vraag ken of wanneer hy genoeg navorsing gedoen het om ’n korrekte antwoord te gee. Dit is verstandig om vrae oor spekulasie onbeantwoord te laat.—Spreuke 12:8; 17:27; 1 Timotheüs 1:3-7; 2 Timotheüs 2:14.
Die waarde van baie raadgewers
16, 17. Waarom is dit gepas dat ouere manne mekaar raadpleeg?
16 Gebed en studie sal ouere manne help om vrae te beantwoord en taai probleme op te los, maar ’n mens moet onthou dat planne “slaag wanneer daar baie raadgewers is” (Spreuke 15:22, NAV). Om ander ouere manne te raadpleeg, het ’n waardevolle kombinering van wysheid tot gevolg (Spreuke 13:20). Nie alle ouere manne het ewe veel ondervinding of Bybelkennis nie. Daarom sal ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort ’n ouere man met minder ondervinding beweeg om ouere manne met meer kennis en ondervinding te raadpleeg, veral wanneer hulle ’n ernstige saak moet hanteer.
17 Wanneer ouere manne gekies word om ’n ernstige saak te hanteer, kan hulle in vertroue hulp soek. Moses het “bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat”, gekies om hom te help om vir die Israeliete reg te spreek. Al was hulle ouere manne, het hulle nie soveel kennis en ondervinding soos Moses gehad nie. Daarom het hulle “die moeilike sake . . . na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek” (Exodus 18:13-27). Ouere manne wat vandag ’n moeilike saak hanteer, kan dus met reg die hulp van ervare opsieners soek as dit nodig is, al neem hulle self die finale besluit.
18. Wat is die deurslaggewende faktore wat verseker dat regte besluite geneem word in die hantering van regterlike sake?
18 Die Joodse Misjna sê dat die erns van die saak bepaal het hoeveel regters in Israel op die dorpshof gesit het. Baie raadgewers is werklik waardevol, hoewel getalle alleen nie ’n waarborg is dat reg sal geskied nie, aangesien die meerderheid verkeerd kan wees (Exodus 23:2). Die deurslaggewende faktore wat verseker dat regte besluite geneem word, is die Skrif en God se gees. Wysheid en sagmoedigheid sal Christene beweeg om hulle hieraan te onderwerp.
Getuig met sagmoedigheid
19. Hoe help sagmoedigheid Jehovah se volk om vir ander te getuig?
19 Sagmoedigheid help Jehovah se knegte ook om vir mense van verskillende geaardhede te getuig (1 Korinthiërs 9:22, 23). Omdat Jesus met sagmoedigheid onderrig het, was nederige mense nie vir hom bang soos vir die hardvogtige godsdiensleiers nie (Mattheüs 9:36). Sy sagmoedige handelswyse het natuurlik “skape” aangetrek, nie goddelose “bokke” nie (Mattheüs 25:31-46; Johannes 3:16-21). Al het Jesus kragtige woorde teenoor bokagtige geveinsdes gebruik, moet Jehovah se Getuies sagmoedig wees wanneer hulle God se oordeelsboodskappe verkondig, omdat hulle nie dieselfde insig en gesag as Jesus het nie (Mattheüs 23:13-36). Wanneer hulle hoor hoe die Koninkryksboodskap met sagmoedigheid verkondig word, ‘word almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe het gelowiges’, soos die skaapgeaardes wat Jesus gehoor het.—Handelinge 13:48, NW.
20. Hoe trek ’n Bybelstudent voordeel daaruit as hy met sagmoedigheid onderrig word?
20 ’n Mens kry goeie resultate as jy met sagmoedigheid vir ander getuig en hulle onderrig op grond van logika, Bybelbeginsels en waarheid. “Heilig die Christus as Heer in julle hart”, het Petrus geskryf, “altyd gereed om jou te verdedig voor elkeen wat ’n rede verlang vir die hoop wat in jou is, maar doen dit met sagmoedigheid en diepe agting” (1 Petrus 3:15, NW). ’n Student wat met sagmoedigheid geleer word, kan op die materiaal konsentreer sonder dat ’n ongevoelige, stryerige gesindheid sy aandag aftrek of hom moontlik selfs laat struikel. Bedienaars wat, soos Paulus, met sagmoedigheid onderrig, kan sê: “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie” (2 Korinthiërs 6:3). Selfs teenstanders reageer soms goed op diegene wat met sagmoedigheid onderrig.
Sagmoedigheid word van almal vereis
21, 22. Hoe strek sagmoedigheid alle lede van Jehovah se volk tot voordeel?
21 Christelike sagmoedigheid moet nie aangeplak word bloot om diegene wat buite Jehovah se organisasie is te beïndruk nie. Hierdie eienskap is ook noodsaaklik in verhoudings tussen lede van God se volk (Kolossense 3:12-14; 1 Petrus 4:8). Gemeentes word geestelik opgebou wanneer saggeaarde ouere manne en bedieningsknegte in eenheid saamwerk. Dit is belangrik dat elkeen in Jehovah se volk sagmoedigheid en ander godvrugtige eienskappe aan die dag lê, want daar is “een wet” vir almal.—Exodus 12:49; Levitikus 24:22.
22 Sagmoedigheid dra by tot die vrede en geluk van God se volk. Daarom moet dit deel uitmaak van die weefstof van eienskappe waaruit die kledingstukke bestaan waarmee alle Christene by die huis, in die gemeente en elders beklee is. Ja, alle knegte van Jehovah moet met sagmoedigheid beklee wees.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom moet Christen- ouere manne saggeaard wees?
◻ Hoe word die verstandige raadgewer deur sagmoedigheid gelei?
◻ Wat is die waarde van baie raadgewers?
◻ Waarom is dit voordelig om met sagmoedigheid te onderrig?
[Prent op bladsy 17]
Jehovah se volk is skaapgeaard en moet met sagmoedigheid behandel word
[Erkenning]
Garo Nalbandian
[Prent op bladsy 19]
Sagmoedigheid stel Jehovah se volk in staat om vir mense van verskillende geaardhede te getuig